Bevorder ons patriotisme of paternalisme?

  • 0

Gebeure in ons land die afgelope tyd laat ’n mens wonder oor die betekenis van patriotisme. En dalk ook oor paternalisme. ’n Heel eenvoudige definisie van patriotisme bevat “vaderlandsliefde” as kern – en dié liefde word uitgeleef deur “toewyding”, “gehegtheid” en “lojaliteit”. Dit veronderstel dat jy altyd in die beste belang van die land sal optree; niks sal doen wat jou land se beeld nadelig sal beïnvloed nie, of afbreuk sal doen aan die waardes wat deur die land voorgestaan word nie.

Die besoek in Februarie vanjaar deur ’n afvaardiging van die Solidariteit Beweging en AfriForum aan Washington is aan hierdie toets onderwerp. Uit regeringskringe veral – en ook wyer – is skerp kritiek teen die beweging uitgespreek omdat hul afvaardiging kwansuis die land se naam sou gaan slegmaak. In sommige gevalle is die besoek selfs as ’n daad van hoogverraad bestempel.

Maar die afvaardiging se argument was dat hulle juis na Amerika gegaan het in die belang van die land – nie slegs ter wille van sektariese belange, naamlik die beskerming van Afrikaners se grond- en kultuurregte nie. Om aan te haal uit die sogenaamde Washington-memorandum:

Die Solidariteit Beweging, wat Solidariteit en AfriForum insluit, besoek die VSA, nie net om ’n toekoms vir Afrikaners te verseker deur steun vir hul saak te werf nie, maar ook om die ooglopende diskriminasie wat teen minderheidsgroepe plaasvind, uit te wys.

Pertinent ook die volgende stelling:

Die doel van die besoek is egter nie om die bande tussen Suid-Afrika en die VSA te verswak nie, maar eerder om die ANC te verswak.

Hierna het dit bekend geword dat die DA, ’n senior lid van die RNE, ook (stilweg) ’n besoek aan Amerika gebring het; in hul geval was die beweegrede om die diplomatieke of bilaterale bande tussen Suid-Afrika en Amerika te help herstel. ’n Nadraai van dié besoek was die afdanking van die DA-LP Andrew Whitfield as adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging omdat hy die oorsese besoek sonder pres Cyril Ramaphosa se toestemming onderneem het.

’n Derde afvaardiging, bestaande uit Corné Mulder (VF Plus-leier), Theo de Jager (president van die landbou-organisasie SAAI) en Gerhard Papenfus (bestuurshoof van die werkgewersorganisasie Neasa), het Amerika meer onlangs besoek. Ook hulle het, soos die Solidariteit-groepering, die boodskap teruggebring dat die administrasie van pres Donald Trump wil hê Suid-Afrika moet afstand doen van rasgebaseerde (regstel)wetgewing. “Oor ons dooie liggaam!” was die spreekwoordelike reaksie hierop vanuit ANC en regeringskringe: Regstelling is ’n noodsaaklike intervensie om die (ras)ongelykhede van die verlede om te keer, het hulle ontsteld teruggekap.

Die aantyging teen bogenoemde groepe dat hulle “onpatrioties” sou opgetree het, veronderstel dat elke landsburger die land se wette onkrities moet aanvaar – selfs al ervaar die groep dit as nadelig teenoor die eie – en dat hulle beslis nie hulp in ’n ander land moet gaan soek nie. Wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat Trump reeds die verwelkomingstapyt vir die groepe uitgerol het deur sy eie uitsprake op sosiale media en in ander forums oor wat hy beskou as die verskriklike dade wat in Suid-Afrika teen Afrikaners en ander rasminderhede gepleeg word. ’n Harde slag vir die regering was Trump se besluit om die land met 30%-handelstariewe te laat boet en dat daar tot nog toe nie ’n teenvoeter hiervoor gevind kon word nie, ondanks die boodskap wat uitgestuur word dat onderhandelings “vorder”. Feit van die saak is dat die regering steeds nie behoorlik teen die “Afrikaner-ervaring” kon argumenteer nie – selfs al was Trump se aannames dalk oordrewe, soos dat ’n “menseslagting” hier plaasvind – maar almal weet tog dat daar genoeg verhale vertel kan word van minderhede in die algemeen se beleefde ervaring van marginalisering.

Wat ook nie geïgnoreer kan word nie, is die klem wat byvoorbeeld daarop gelê is dat Afrikaners in die algemeen se versugting nie is om landuit te vaar nie, maar hier te bly – in ’n Suid-Afrika wat vir almal voorsiening maak, soos wat die 1994-ooreenkoms bepaal. Die (aanvanklike) 49 Afrikaners wat Trump se aanbod van versnelde vlugtelingstatus aanvaar het, het in wisselende mates oortuig met die redes wat hulle vir hul besluit aangevoer het. Dit bly hul volste reg om vir hulself en hul gesinne ’n toekoms te kies wat hulle meen beter is as wat hulle in ’n – sal ’n mens sê – “liefdelose” vaderland ervaar het.

Niemand kan egter stry oor die vergrype, vernedering en onderdrukking wat in die verlede teen die swart meerderheid gepleeg is nie; dat regstelling moet geskied, is ’n morele verpligting. Hoe dit gedoen kan word sonder om ’n nuwe soort diskriminasie te pleeg, is egter ’n vraagstuk wat nie genoegsaam onder die loep kom nie – en waarom nie? Moontlik omdat mag heel dikwels tot ’n bepaalde soort arrogansie of eiewysheid aanleiding gee en die (steeds maar ANC-oorheerste) regering nie soveel daarin belangstel om na ander voorstelle te luister nie.

Om dan terug te keer na die definisie van patriotisme. Hoe ironies is dit nie dat dieselfde regering wat ander van “onpatriotiese” handelinge beskuldig en ’n prominente (voormalige regerende) party wat – soos genoem – selfs “hoogverrraad” spuug, hulself skuldig maak aan optredes wat deur sommige as sodanig beskou sou kon word. In hierdie verband, kom ’n lys aksies – of, omgekeerd, nie-optrede – ter sprake: gebrekkige misdaadbekamping (bepaald in die geval van plaasaanvalle en bendegeweld in bruin gebiede); ’n skynbare verdraagsaamheid teenoor voortslepende nástaatskapingskorrupsie in die openbare sektor; en bedrieglike gebeure soos Ramaphosa se gesteelde Phala Phala-miljoene in dollar wat (onverklaard) in ’n rusbank op sy wildsplaas versteek was. Hiervoor word ’n paar aangeklaagdes tans verhoor, maar tot sover het alle wetstoepassingagentskappe vir Ramaphosa van enige “misstap” vrygespreek.

’n Ander kwessie is natuurlik Suid-Afrika se buitelandse beleid wat daartoe neig om die land meer in die geselskap te plaas van sommige van Amerika se geswore vyande – China, Iran, om twee te noem – ten koste van ’n stewige(r) band met dié (steeds) magtigste moondheid in die wêreld.

Wat my bring by die verwysing na paternalisme in die inleiding van hierdie artikel. Kerkbode het dit eens soos volg gedefinieer: “Paternalisme dui op ’n ‘vaderlike’ optrede waardeur die een deur die ander op ’n bevoogdende en kontrolerende manier behandel en ‘minderjarig’ gehou word.” Straks wil die regering (en ANC) dan hê – en is dit die norm by alle state? – dat landsburgers in alles wat hulle doen, moet optree in ooreenstemming met wat die regering tevrede sal stel: “Doen wat ons sê; dink soos ons wil hê.”

Paternalisme, as ’n mens so daaraan dink, vereis dan eintlik ’n oneerlike, ’n soort gemaakte patriotisme.

  • Belangeverklaring: Die skrywer is uitvoerende voorsitter van die burgerregte-organisasie Kaapse Forum, ’n susterorganisasie van AfriForum.
Lees en kyk ook:

Waaroor is die wêreld bekommerd?

Elders gesien: Die Tref-en-Trump-slag

“Wie (se fout) is ek?” Mymeringe (nee, stukkies) oor identiteit

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top