Die eerste Afrikaanse diktee en ’n spookskip se koloniale skadu

  • 0

Die afgelope naweek het ’n stuk geskiedenis in Kaapstad ontvou toe die eerste amptelike Diktee vir Afrikaans plaasgevind het, ’n gebeurtenis wat nie net taalvaardigheid vier nie, maar ook die ryk en soms ingewikkelde kultuurgeskiedenis van Afrikaans en Nederlands belig het.

’n Taaltradisie uit Nederland het nuwe lewe in Suid-Afrika gekry toe die diktee op Saterdag 4 Oktober 2025 deur die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (Sasnev) in samewerking met die Nederlandse Taalunie aangebied is vir graad 10- en 11-leerders. Hierdie spellingkompetisie is geskoei op die beroemde Groot Dictee der Nederlandse Taal, wat sedert 1990 ’n kulturele instelling in Nederland en Vlaandere is.

Dit was vir jare ook ’n televisiegebeurtenis wat in die Eerste Kamer in Den Haag opgeneem is. Bekende deelnemers uit Nederland en Vlaandere het deelgeneem, insluitend prominente figure en gekwalifiseerde lede van die publiek. Sedert 2018 word dit via radio uitgesaai, met luisteraars wat ook tuis kan saamskryf. Die radioweergawe het 40 deelnemers: 20 prominente gaste en 20 luisteraars wat deur die program Taalstaat gekies is. Die kompetisie toets korrekte spelling en taalvaardigheid, en die teks word dikwels deur bekende skrywers geskryf. In 2024 was dit byvoorbeeld Wim Daniëls.

Waar ander Afrikaanse kompetisies soos dié van WOW en die ATKV fokus op spel en taalgebruik, bring die diktee ’n unieke element van luistervaardigheid en akkuraatheid. ’n Teks van 250–300 woorde word drie keer voorgelees – die eerste twee kere vir luister en die derde keer vir neerskryf. Die leerder met die minste foute wen, en daarmee word ’n ou vaardigheid weer geslyp: om met konsentrasie te luister en met presisie te skryf.

Die teks vir vanjaar se eerste Afrikaanse diktee is deur Izak de Vries geskryf en het gefokus op die honderdjarige viering van Afrikaans as amptelike taal, met ’n poëtiese verwysing na Ingrid Jonker wat 60 jaar gelede oorlede is. Die voorleser was die bekende akteur Hein Poole. 

Hein Poole (foto: Marieta Nel) en Izak de Vries (foto: Theo Rossouw)

Die kompetisie het leerders van verskeie Wes-Kaapse skole gelok. Pryse van R3 000, R2 000 en R1 000 is deur die Nederlandse Taalunie beskikbaar gestel vir die topdrie-deelnemers.

50 graad 10- en 11-leerders van die Wes-Kaap het sake uitgespook om die drie pryse wat deur die Nederlandse Taalunie geborg is, in te palm. Die drie leerders wat met die louere weggestap het, is Amé Breytenbach van Hoërskool DF Malan en Genevieve en Angelique Myburgh van Hoërskool Durbanville.

Kathie Viljoen van Penguin Random House, Marieta Nel van Lapa Uitgewers en Immanuel Europa en Melanie Delport van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het gehelp met die beoordeling.

Marieta Nel van Lapa Uitgewers aan die woord (foto: Jean Oosthuizen)

Slegs die eerste 60 inskrywings met ’n maksimum van drie leerders per skool is vir vanjaar se kompetisie aanvaar, waarvan sowat 40 opgedaag het.

Die kompetisie is deur Sasnev gereël en moontlik gemaak met finansiële steun van die Nederlandse Taalunie saam met verskeie genote, naamlik die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, Penguin Random House en Lapa Uitgewers, die Afrikaanse Taalraad, Zuid-Afrikahuis en die Willem de Zwijger Stichting, en Voertaal as mediavennoot.

Die uitgewer Nicol Stassen van Protea Boeke het vyf boeke geskenk aan vyf gelukkige leerders wat die diktee bygewoon het.

Die diktee is voorafgegaan deur ’n openbare lesing van die Nederlandse wisseldosent, Agnes Andeweg. Haar lesing se tema was “Koloniale sporen van de Vliegende Hollander”. Andeweg is ’n Nederlandse literatuurwetenskaplike wat spesialiseer in kulturele herinnering, koloniale geskiedenis en die rol van literatuur in identiteitsvorming.

Die inisiatief het ook die ondersteuning geniet van instansies en platforms soos die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, Voertaal, Penguin Random House, Lapa Uitgewers en Zuid-Afrikahuis. Dit is ’n voorbeeld van hoe internasionale samewerking taalbewustheid en kultuurtrots kan bevorder.

Andeweg se lesing het die Week van het Nederlands in Suid-Afrika ingelui en was ’n intellektuele reis deur die koloniale geskiedenis van Nederland, gesien deur die lens van ’n spookverhaal, en is gevolg deur ’n gesprek met digter Alfred Schaffer.

Die Vlieënde Hollander is die legendariese spookskip wat nooit ’n veilige hawe bereik nie, maar is meer as net ’n grieselige verhaal. Volgens Andeweg funksioneer dit as ’n kultuursimbool wat koloniale mag, nasionalisme en nostalgie belig. Sy het verduidelik hoe hierdie mite oor eeue heen hervertel is in literatuur, toerisme, musiek en selfs kommersiële produkte, en hoe dit in sommige gemeenskappe soos Terneuzen ’n plaaslike identiteit gevorm het.

Andeweg se navorsing wys hoe sulke verhale dikwels die donkerder aspekte van kolonialisme, naamlik onderdrukking, uitbuiting en magstrukture, versag of ignoreer. Die Vlieënde Hollander word dus ’n romantiese simbool van ontdekking en avontuur, terwyl die werklikheid van koloniale geskiedenis dikwels in die skadu bly.

Die kombinasie van die Diktee vir Afrikaans en Andeweg se lesing het ’n kragtige boodskap gestuur dat taal nie net ’n instrument is nie, maar ook ’n draer van kultuur, geskiedenis en identiteit wat gemeenskappe saam kan bind.

Agnes Andeweg in gesprek met Alfred Schaffer (foto: Jean Oosthuizen)

Terwyl jong leerders hul spelling slyp, kon hulle ook deel word van ’n groter gesprek oor wie ons is, waar ons vandaan kom en hoe stories gevorm word wat ons wêreldbeeld vorm, selfs deur dié van spookskepe. Afrikaans het nie net ’n diktee gekry nie, maar ook ’n podium waarop jong stemme, ou verhale en nuwe perspektiewe mekaar kon ontmoet.

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top