SASNEV Ontbytborrel was veel meer as netwerkgeleentheid

  • 0

Woorde: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts

Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) Ontbytborrel, wat Sondag die Week vir Nederlands op ’n hoë noot afgesluit het, was veel meer as net ’n netwerkgeleentheid tussen Suid-Afrikaners, Nederlanders en Belge. SASNEV het by hierdie Toyota Stellenbosch Woordfees-geleentheid aangekondig dat dit aanstaande week die hele Ingrid Jonker-argief van die Literatuurmuseum in Den Haag na Stellenbosch bring, waar dit ’n tuiste in die universiteitsbiblioteek sal hê. Dit sluit in “handschriften, typoscripten, agenda’s, brieven en persoonlijke documenten van de Zuid-Afrikaanse dichter Ingrid Jonker”. Die digitale weergawe is reeds aanlyn by die Literatuurmuseum beskikbaar.

Die Hofmeyrsaal in Kerkstraat is oorspronklik die CJV Saal genoem en gebou vir die Christelike Jongelingen Vereeniging (CJV). Die Kerkraad van die Moederkerk het die klassisistiese saal, met sy pilare en Griekse fronton, hernoem na die man wie se Bybelklasse aanvanklik tot die oprigting van die gebou in 1900 gelei het, naamlik NJ Hofmeyr – een van die eerste twee professore van die Stellenbosse kweekskool. Dis hoofsaaklik gebruik as ’n lokaal vir vergaderings van die debatverenigings en massavergaderings van die studente. Dis dus heel gepas dat hierdie ontbyt, waar debatte oor kulture en tale heen plaasvind, hier gehou is.

Die vonkeloggend het gesprankel met Kleine Zalze Cap Classique-borrels.

Die eerste Suid-Afrikaanse direkteur vir Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, Susan Coetzee-Van Rooy, is ook aan gaste voorgestel. Haar termyn het pas begin.

Eureka Barnard (bestuurshoof en projekbestuurder van SASNEV) en Susan Coetzee-Van Rooy (nuwe direkteur van Zuid-Afrikahuis in Amsterdam) klink ’n glasie op haar aanstelling.

Jan Mutton (voorsitter: SASNEV en oud-ambassadeur vir België) het die oggend amptelik geopen en gesê dis ’n spesiale geleentheid in die jaar wat Afrikaans amptelik 100 jaar oud is en om by die Toyota Stellenbosch Woordfees weer bande met vennote en vriende en borge te versterk.

Jan Mutton (voorsitter: SASNEV en oud-ambassadeur vir België) spreek die gehoor toe.

Mari Lategan (Curro Holdings) en Jan Mutton (voorsitter: SASNEV en oud-ambassadeur vir België)

SASNEV se missie en visie is die bekendstelling van die kulturele gebeure in die Lae Lande en hulle doen dit deur middel van woord, prosa en poësie met boekbekendstellings, literêre praatjies en besoeke van oorsese skrywers. “So, die woord is vir ons baie belangrik.”

Hy het drie hoofprojekte van SASNEV uitgelig, waaronder die versameling van meer as 350 vertaalde literêre werke in Nederland en Vlaandere in Afrikaans. Sommige werke dateer terug tot die vroeë 19de eeu. Dis by SASNEV in Pinelands, Kaapstad beskikbaar, waar die pas-afgelope eerste Diktee vir Afrikaans, wat die Week vir Nederlands afgeskop het, plaasgevind het. Lees meer hier.

Die belangrikste en derde projek is ook groot nuus: die repatriëring van die hele Ingrid Jonker-argief. Dit kom na 40 jaar terug van Nederland na Suid-Afrika en sal aanstaande week arriveer. SASNEV is die fasiliteerder, inisiatiefnemer en befondser van dié projek.

Die fisiese versameling van haar werke sal by die Stellenbosch-universiteit se biblioteek gehuisves word en sal wêreldwyd digitaal beskikbaar wees. Hy het gesê in Ingrid Jonker se geval is beide vorme belangrik, aangesien haar poësie van die sestigerjare haar ’n ikoniese figuur gemaak het. Dis belangrik dat die fisieke werke ook terugkeer na Suid-Afrika.

“Ons het twee jaar aan hierdie projek gewerk en is dankbaar dat ons deel kon wees van die proses om haar werk ‘huis toe’ te bring.”

SASNEV bring Ingrid Jonker se argief uit Den Haag na ’n nuwe tuiste by die Universiteit Stellenbosch Biblioteek.

Christelle Webb-Joubert van RSG en Mimi Seyffert-Wirth van die US Biblioteek wat voortaan die Ingrid Jonker-argief gaan huisves

Die repatriëringfunksie word amptelik op 22 November gehou. Hy sê SASNEV-projekte sou nie moontlik gewees het sonder goeie vennote nie en hy gee graag geleentheid aan twee belangrike vennote om hul gedagtes te deel: Nicolas Vandeviver van die Belgiese ambassade en Jan Schinkelshoek (voorsitter: Zuid-Afrikahuis, Amsterdam).

Die vennote in hierdie kruisbestuiwing tussen kulture

Nicolas Vandeviver van die Belgiese ambassade

Vandeviver het sy toespraak in Afrikaans begin, maar verduidelik dat hy baie Afrikaanse woorde nog nie verstaan nie, soos spog, en toe hy uitvind wat dit beteken (sjiek, luuks, eksklusief, fancy), is hy baie bly om ook eksklusief te voel by dié funksie.

Hy het Vlaandere se betrokkenheid en ondersteuning in Suid-Afrika op die gebied van kultuur en linguistiek benadruk. Hy het Frank Keizer en Frederik de Backer verwelkom, twee skrywers – een in Nederland gebore en aktief in Vlaandere en een in Vlaandere gebore – wat deel is van die Jakes Gerwel Stigting en Passa Porta, ’n internasionale literatuurhuis in Brussel, se residensie, die 2025-Brussel tot Karoo-residensie. Maar wat hul residensie uniek maak, is dat hulle nie hier is om ononderbroke te skryf nie, maar om met maatskaplike kwessies te werk, met mense in gemeenskappe en ander skrywers uit Suid-Afrika. Ons het ’n kulturele aksieplan – die enigste land waarin ons so iets het – wat ons gebruik om dialoog aan te moedig, samewerking en kultuuruitreiking te bewerkstellig.

Nicolas Vandeviver van die Belgiese ambassade, Frank Keizer en Frederik de Backer, deel van die Jakes Gerwel Stigting-residensie

Theo Kemp (uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting), Jana Hattingh (uitvoerende hoof van die Suidoosterfees), Gillian Mitchell (Suidoosterfees, Spesiale Projekte), Astrid de Vos (uitvoerende trustee: Dagbreek Trust) en Johan Koornhof

Hy is ook baie bly dat die vonkelontbyt op die laaste dag van die Week van Nederlands plaasgevind het – ’n instelling wat internasionaal gevier word. Hy het vertel van die werk wat onder studente en jongmense gedoen word, alles om nouer skakeling tussen die lande te bevorder.

Sy laaste punt was die heropening van The Old Town House Museum in Kaapstad, wat vir meer as ’n dekade gesluit was. Dit huisves die Michaelis-versameling – die grootste versameling Nederlandse/Vlaamse kuns uit die 16de en 17de eeu buite Europa en Noord-Amerika.

“Dis ’n indrukwekkende versameling en met die heropening gee dit ons kans om weer iets nuuts te doen met die versameling. Dit gee ons die geleentheid om deur die ou meesters en moderne kunstenaars te reflekteer op die ou dialoog en dit krities te benader. Ons weet dit was ’n bloeitydperk vir Nederlandse/Vlaamse kuns en ons moet trots én krities wees.

“Dis krities dat ons hierdie dialoog voer.”

Jan Schinkelshoek (voorsitter: Zuid-Afrikahuis, Amsterdam) gesels meer oor alle vennootskapsprojekte.

Jan het voorts in sy toespraak aan gaste vertel: “Dit voel weer soos die ou dae. Vir die eerste keer in twee jaar is ons terug in persoon, van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, by die Woordfees – die kultuurfees in Stellenbosch wat al hoe meer bekend raak. Dit voel asof ons nog nooit weg was nie ...

“Dit het geleidelik ’n tradisie geword dat ons hierdie wonderlike geleentheid gebruik om ons kontakte in Suid-Afrika te hernu, die situasie te besin, nuwe en vars idees in te samel en ons samewerking te versterk – hoofsaaklik natuurlik met ons suster-organisasie SASNEV.

“Dit is meer as roetine, meer as ’n werksbesoek. Hierdie wonderlike onthaal alleen demonstreer dit, ’n werklik warm en hartverblydende verwelkoming, georganiseer deur SASNEV.

“Dit voel soos die huis. Soos om tussen vriende te wees.”

Die Konsul-Generaal van België in Kaapstad Nicolas Fierens Gevaert, Jan Schinkelshoek (voorsitter: Zuid-Afrikahuis, Amsterdam) en Wium van Zyl (Van Ewijk Stigting)

Ilzebet O (Woordfees-koördineerder), Ilzemarie Knoetze (Woordfees-direkteur), Chris Mostert (internasionale belegger) en Annie Mostert (stilis)

Hy het vertel dat vorige besoeke weens die pandemie deur die mat geval het en hoewel hulle met tegnologie deur Studio SASNEV baie gesprekke kon bewerkstellig, is dit “steeds kaal, koud [...]. Sulke kommunikasie via nulle en ene – dis wat ons dit in Nederland noem – is te yl”.

Jan het Susan Coetzee-Van Rooy, professor in linguistiek aan die Noordwes-Universiteit, amptelik aan die gehoor voorgestel en gesê dis ’n werk wat sy vanaf hierdie somer kombineer met die bestuur van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, nadat Angelie Sens aangedui het dat sy vroeg wil aftree.

Hy het gesê haar aanstelling wys hoe die kaarte in Amsterdam gestapel is. “Die feit dat ons ’n Suid-Afrikaanse direkteur aangestel het – vir die eerste keer! – wys hoeveel ons bereid is om te belê in die langdurige verhoudings tussen ons lande: Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika.

“Ons begin ’n nuwe hoofstuk in ’n ou boek. Ons gaan voort waar ons opgehou het, op ’n nuwe bladsy.

“Baie het tussen ons lande verander; dit verander steeds en dit sal nog ’n geruime tyd aanhou verander – teen ’n vinnige tempo. Ou patrone verkrummel, klassieke netwerke krimp, nuwe verhoudings ontstaan, nuwe geleenthede bied hulself aan. Beide hier en daar, beide daar en hier.

“Daarom, miskien meer as ooit tevore, sal dit van kardinale belang wees dat ons mekaar vind, en mekaar aanhou vind. Dit sal waarskynlik die grootste uitdaging vir die komende jare wees: Hoe bereik ons ​​mekaar?

“Dit kom alles neer op uitwisseling.”

Hy het vertel dat daar reeds baie werk gedoen is om hierdie uitruiling te bewerkstellig met werk op verskeie vlakke van die samelewing en hoe hy en Susan reeds Suid-Afrika platgereis het. “Ons luister aandagtig. Wat ons tot dusver opgemerk het, is dat mense van alle kante na geleenthede soek, nuwe maniere om te skakel, om nuwe kanale te smee, nuwe verbindings te bou: van universiteite tot kulturele organisasies, van die ambassade tot ’n rugbyklub. Hoe organiseer ons dit – kommunikasie, verbinding en kombinasie? Hoe vorm ons meer intensiewe uitruiling?”

Shawna-Leze Meiring (Penguin Random House SA), Susan Coetzee-Van Rooy (nuwe direkteur van Zuid-Afrikahuis in Amsterdam) en Marieta Nel (Lapa Uitgewers)

Jan het gesê hy is opgewonde om Susan se nuwe aanslag hieroor te ervaar. “Ons kernmissie sal natuurlik onveranderd bly. Ons is die Nederlandse huis met ’n warm hart vir Suid-Afrika, vir die Afrikaanse taal en kultuur. En ons sal so bly.

“Maar – soos ek halfpad deur hierdie reis gesê het – bied baie geleenthede hulself aan om daardie missie uit te brei, te versterk en te vernuwe. Om weg te breek van die verlede, om nuwe paaie na die toekoms te verken. Om nuwe perspektiewe oop te maak.

“Is dit nie wat ons samewerking, die samewerking tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika, nodig het nie?”

Hy het ’n heildronk ingestel op samewerking.

Jan Schinkelshoek (voorsitter: Zuid-Afrikahuis, Amsterdam) lig ’n glasie vonkelwyn op samewerking tussen die drie lande.

Die oggend is afgesluit met voorlesings van die werke van joernaliste en digters Frank Keizer en Frederik de Backer, voor almal oor croissants en vonkelwyn gekuier het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top