Daar kan weer aansoek gedoen word vir die Van Ewijck-Stigting se Prestasie-prys van R100 000. Dit is ’n prys vir bewese prestasies wat reeds gelewer is en verband hou met die doelstellings van die Stigting, naamlik om die kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland in die ruimste sin te bevorder. Dit sluit alle vertakkinge van die kunste of wetenskap in.
Aansoeke vir die prys asook vir beurse en projekte moet voor 21 November gerig word aan: Die Sekretaris, Van Ewijck Stigting: e-pos: vanewijck@uysandkie.co.za (webwerf ewijckstigting@co.za).
Die toekenning vir 2024 het gegaan aan Eep Francken en Olf Praamstra vir hul monumentale publikasie Geen land voor dromen, geschiedenis van de Zuid-Afrikaanse Nederlandse literatuur (2023) asook hul ander publikasies en akademiese bydraes op die betrokke terrein.
Agtergrond
Die Stigting is in Kaapstad gevestig en bevorder al vir ’n geruime tyd kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika. Die trustfonds, in 1978 gestig deur Sippo Johan Van Ewijck van de Bilt (1902-1979), het oor jare heen bestendig gegroei danksy goeie beleggings op die plaaslike aandelebeurs. Van Ewijck was ’n Nederlandse sakeman wat vir ongeveer 40 jaar afwisselend in Suid-Afrika en Nederland gewoon het. Hy het egter ’n besondere liefde vir Suid-Afrika gekoester. Hy en sy vrou, TT van Ewijck, was eienaars van onder andere die Binnehuis-winkels in Kaapstad en Somerset-Wes wat gehalte-meubels verkoop het.
Die eerste vergadering van die Trustees van die Van Ewijck-Stigting is op 3 Maart 1980 gehou. By dié geleentheid was die volgende persone teenwoordig: HC Sandrock (voorsitter, prokureur en vriend van die Van Ewijcks), Van Ewijck, AJ Boëseken (bekende historikus), MA Bax-Botha (kultuurhistorikus) en Roy Pfeiffer (hoogleraar in Afrikaanse taalkunde). Die Raad van Trustees bestaan uit ’n aantal plaaslike Nederlands- en Afrikaanssprekende kundiges, tans onder andere Wium van Zyl, Chris van der Merwe, Peter Hesseling, Sonja Loots, Mathilda Burden, Harry Molenaar, Gawie de la Bat, Andries Visagie, Christianne Bouwens, Cyrille van der Geijn.
Die egpaar Van Ewijck het ’n waardevolle versameling van blou-en-wit Oosterse porselein, Hollandse silwer-, koper- en glasware, en meubelstukke – waaronder ’n sewentiende-eeuse kussingkas – in Kaapstad opgebou. By die terugkeer van mevrou Van Ewijck na Nederland in 1981, is hierdie versamelstukke aan die destydse Suid-Afrikaanse Kultuurhistoriese Museum (tans die Slawelosie en deel van die Iziko-Museums) geskenk. Van 1981 tot 2003 is dit in ’n ruim lokaal op die eerste vloer, bekend as die Hollandse Kamer of die Van Ewijck van de Bilt-Kamer, uitgestal.
Die fokusarea van die Stigting is veral die bewaring van die Nederlandse kultuur-erfenis in Suid-Afrika; die bevordering van die belange van Nederlandse of Suid-Afrikaanse verenigings met doelstellings wat ooreenstem met dié van die Stigting; en die toekenning van beurse en stipendia aan Suid-Afrikaanse universiteite en tegnikons. Navorsers wat in ’n rigting studeer of werk wat ooreenstem met die uitgangspunte van die Stigting, kan ook in aanmerking kom vir befondsing. Daarby geniet behoeftige, bejaarde Nederlanders wat in Suid-Afrika woon, ook onderskraging van die Stigting.
Instellings en organisasies wat gereeld deur die Stigting ondersteun word, sluit in: die Nederlandse Bibliotheek in die SASNEV-gebou in Pinelands, die Stigting VOC, die Stichting Nederlandse School te Kaapstad, Vers Indaba. Meer onlangse skenkings sluit in die Libertas-koor, die Tracing History Trust, die Kaapstadse Simfonie Orkes en die S-A Huis in Nederland. Die Afrikaanse leerstoel by die Universiteit van Amsterdam word deur die Stigting gesubsidieer. Vlugkoste word dikwels deur die Stiging gedra wanneer musici aan meesterklasse in Nederland gaan deelneem of wanneer navorsers na Nederland reis vir projeknavorsing. Ook die reiskoste van verskeie Nederlandse gassprekers op plaaslike konferensies is deur die Stigting betaal.
Talle ander organisasies het baat gevind by die Stigting. Die Genootskap Nederland-Suid-Afrika is oor die jare gehelp om groepsbesoeke van Nederlandse studente aan Suid-Afrika, en omgekeerd, moontlik te maak. Aan die destydse Suid-Afrikaanse Biblioteek (tans die Nasionale Biblioteek, Kaapstad) is geld beskikbaar gestel vir die restourasie van waardevolle Nederlandse boeke in sy Van Dessin-versameling. Toe die Koninklijke Bibliotheek in Den Haag mikrofilmkameras vir die verfilming van Suid-Afrikaanse koerante aan die Suid-Afrikaanse Biblioteek geskenk het, het die Stigting ingestaan vir die vervoer daarvan na Kaapstad. Die ZASM-Gedenkhuis in Pretoria is gedeeltelik met fondse van die Stigting gerestoureer. Aan die Nederlands Cultuurhistorisch Instituut by die Universiteit van Pretoria is gereeld bydraes gemaak vir die aankoop van Nederlandse boeke. Die publikasie van tientalle besondere boeke is ook in die verlede deur die Stigting moontlik gemaak. Hieronder resorteer Dan Sleigh se Die Buiteposte van die VOC, die Codex Witsinii wat deur Iziko-Museums gepubliseer is, verskillende boeke van Karel Schoeman, en die vertalings van Afrikaanse boeke in Nederlands deur Riet de Jong-Goossens.
Hierdie opsomming is nie naastenby volledig nie, maar gee ’n indruk van die belangrike bydrae wat die Van Ewijck-Stiging die afgelope dekades gelewer het om die Nederlandse kulturele erfenis in Suid-Afrika te bewaar en te bevorder. Die werksaamhede van die Stigting is ’n huldeblyk aan die nagedagtenis van meneer en mevrou Van Ewijck wat met hulle visioenêre blik – en ruim erflating – alles moontlik gemaak het.
Lees ook:
Persverklaring: Van Ewijck Stigting Prestasieprys 2024 toegeken
Persverklaring: Van Ewijck Stigting Prestasieprys 2023 toegeken

