
Pieter-Dirk Uys op 80 (Foto: Stefan Hurter)
Tannie Evita Bezuidenhout – die bekende ambassadrise van Bapetikosweti – het op 28 September 90 geword en haar alter ego, Pieter-Dirk Uys, het 80 geword.
90 is dalk oud, maar vir hierdie tannie beslis nie koud nie. En vir Pieter-Dirk ’n mylpaal, maar beslis nie die eindstreep vir sy werk nie.
Evita Bezuidenhout het onlangs by die Toyota Stellenbosch Woordfees in die solovertoning, Evita@90, opgetree en sy sê sy word steeds gevier “as die bekendste wit vrou in Suid-Afrika.
“Evita glo ons moet die verlede onthou sodat ons die toekoms kan waardeer. As lid van die ANC wat vir versoening kook, moet Gogo Evita ook die TikTok-vrae van haar drie kleinkinders versigtig beantwoord. Sy glo ons het nie ’n kristalbol nodig om uit te vind wat vir ons voorlê nie. Die toekoms van ons demokrasie is seker – dis net die verlede wat onvoorspelbaar bly!”
Pieter-Dirk Uys is een van Suid-Afrika se bekendste satirikusse, dramaturge en politieke kommentators. Hy het sy loopbaan in die teater begin nadat hy drama aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer het, en het in die 1970’s bekendheid verwerf vir sy gewaagde, humoristiese kritiek op apartheid en politieke skynheiligheid.
Die skepping van sy beroemde alter ego het hom die kans gegee om kwessies van rassisme, seksisme en korrupsie met skerp humor en wysheid aan te spreek. Baie mense het begin glo dié tannie bestaan regtig.

Evita Bezuidenhout (Foto: Hentie van der Merwe)
Hy het talle bekroonde verhoogproduksies geskryf en opgevoer, insluitend Adapt or dye, Beyond belief, Evita’s Bossie Sikelela en The echo of a noise. Sy werk is internasionaal vertoon en hy het ’n belangrike rol gespeel in die gebruik van komedie as middel tot sosiale verandering.
Hy was ook aktief in opvoedingsprojekte oor Vigs-bewusmaking, en het duisende skole besoek om met jongmense oor veilige seks en vooroordeel te praat.
In Darling aan die Weskus het hy die Evita se Perron-teater gevestig – ’n gewilde kulturele trekpleister en sentrum vir vrye uitdrukking. Hy het ’n paar jaar gelede Evita se Perron verkoop, maar tree nog gereeld daar op. Dié museum en winkel is ’n raar blik in die donker tye van Suid-Afrika en baie jongmense staan verstom oor die tye wat was.

Pieter-Dirk Uys in sy argiewe besig om feite na te gaan. (Foto: Stefan Hurter)
Vir sy bydrae tot kuns en demokrasie het Pieter-Dirk verskeie toekennings en eredoktorsgrade ontvang, en hy bly ’n invloedryke stem vir humor, waarheid en inklusiwiteit in Suid-Afrika.
Ten spyte van sensuur gedurende die apartheidsjare, het hy ’n groot multikulturele aanhang opgebou. Hy was daardie een wat regdeur apartheid gesê het wat ander te bang was om te sê, al moes hy nou ’n rok en ’n pruik dra en deur tannie Evita Bezuidenhout dit sê, maar uit moes dit uit.
Hy help saam met sy vriende, Wim en Inge Visser, in 2003 om die Voorkamerfees op Darling die lig te laat sien en ’n paar naweke gelede is dit weer op die dorp gehou. Lees meer oor die fees hier.
Evita se Perron was een van die feesruimtes en hier het allerhande kleure, kulture, musiek- én haarstyle saam ge-jive op die ritme van marimba en trompet. Pieter-Dirk het met laringitis op sy rug in die bed gelê, maar sy gees was oral daar.
Hy twiet as @TannieEvita en het 135 100 volgelinge. Regdeur elke stormagtige gebeurtenis in ons land se geskiedenis, is die kwinkslae, vermanings en wyshede daar.
’n Paar jaar gelede het ek in ’n donker teater gesit en huil oor Pieter-Dirk se weerloosheid in Weerklink van ’n wanklank – ’n baie persoonlike toneelstuk wat deur sy lewe stap: die vrese en vreugdes van ’n jong seun wat in die 40’s en 50’s in Pinelands grootword. Sy pa, Hannes, vir wie hy bang is; ma Helga Bassel – sy vertroueling en veilige vesting – met haar herinneringe van ’n Berlyn voor dit vertroebel is deur politiek; sy suster, Tessa; en sy “Kaapse Vlakte-ma”, Sannie.
Helga was ’n Berlynsgebore Jood, pa Hannes ’n vierde geslag Belgiese Hugenoot. Helga was ’n Duitse konsertpianis wat in 1935 deur die Nazi’s uit die Reichsmusikkammer verban is, as deel van hul veldtog om Joodse kunstenaars te onderdruk. Sy vlug na Suid-Afrika en bring haar vleuelklavier saam; die einste klavier waarop Pieter-Dirk se suster, die befaamde konsertpianis, Tessa, leer speel het.
Hy het vertel van sy liefde vir Sophia Loren; ma Helga se selfmoord toe alles vir haar te veel word. Hy erken: “Jy herstel nooit daarvan nie.”
So gestroop was hy – geen masker van lipstiffie en oorbelle, ’n pruik of rok of hoë polvye; geen tannie Evita agter wie se veilige rokspante hy minder alleen kan voel nie.
Ek het gewonder of hy toe oorweeg het om uit te tree, of waarom dié weerlose eerlikheid? Maar genadiglik nie.

Pieter-Dirk Uys en sy vierbeen-kinders besing die nuwe dag se lof. (Foto: Stefan Hurter)
Sy webwerf is ’n hele kluis vol inligting, maar die swaar staaldeur staan wawyd oop en dis bloot ’n bêreplek van sy herinneringe; ’n elektroniese biblioteek oor wie hierdie man nou eintlik is en wat deur die jare al oor hom geskryf en gesê is. Op sy webwerf kan jy enige van sy tekste aflaai en lees. Hy vra dat jy dit met plesier doen, maar as jy dit wil opvoer, moet jy skryf vir toestemming.
Ek het hom ’n aantal vrae gevra en deel graag sy antwoorde.
Is daar ’n vertoning in jou ryke loopbaan wat vir jou uitstaan?
Alle opvoerings van Weerklink van ’n wanklank/The echo of a noise staan uit – maar elke gesels met my gehoor staan ook uit. Dis lewendig!
As jy kon teruggaan in tyd, wat sou jy wou verander in jou lewe?
Meer tale leer ken: Frans, Xhosa, Italiaans.
Is daar enige spyt in jou lewe?
Dinge wat ek te bang was om aan te pak.
Wat was die beste raad wat jy al ooit ontvang het en wat is die beste raad wat jy al aan ander gegee het?
Elke dag is ’n begin ... Om laat te wees vir ’n bestelling is om koers te verloor in ’n leeftyd.
Wat is die kosbaarste ding in jou lewe?
My ander helfte en die katte.
Hoe werk die oorskakeling na tannie Evita in jou kop en saam met wie bring jy eerder tyd deur – tannie Evita of Pieter-Dirk?
Ek spandeer maar 2% van my tyd aan haar, want sy is sedert 1978 deel van my aksie-biblioteek. En ek moes ook Pieter-Dirk Uys as ’n karakter skep. Spandeer 10 minute met hom per dag.
Hoeveel uitrustings het sy en hoe besluit jy wat haar voorkoms vir ’n spesifieke geleentheid gaan wees?
Ek dieet vir ’n vrou wat nie bestaan nie!
Hoe het die gedagte van tannie Evita by jou opgekom en hoe het jy haar begin voorstel in jou vertonings?
Sy was oorspronklik net ’n karakters soos die ander in my koffertjie – maar sy het op die regte tyd in my werk gekom as meer as net ’n punchline.
80 en 90 vir julle twee – wat lê voor, wat wil jy nog aanpak en hoe voel hierdie mylpale vir jou?
Dis net nommers. My jaar was altyd 365 dae – nou is my jaar twee dae: vandag en môre.
Wat in 2025 aan Suid-Afrika maak jou hartseer – jy het so lank geveg vir gelykheid en respek en menseregte. Is jy ontnugter of is daar tog verbetering?
Elke dag het sy ups en downs. Optimisme is altyd beter as vrees. Hoe kan jy bang wees vir iets waarvoor jy kan lag?
Hoe voel dit om die sukses van die Perron en die Voorkamerfees te sien; is dit waarop jy gehoop het?
Dis die hoogtepunt van my jaar. Toenadering van die beste gehalte.
Wat is een ding wat ons politici kan doen, wat ingrypende verandering in ons land sal meebring?
Pak op en gaan woon in ’n ander land!
Waarin sien ons jou volgende en waar? Enige oorsese reise in die kaarte?
Ek is elke naweek op my Perron-verhoog – het vier shows om mee te vermaak: Evita@90, Tannie Evita praat kaktus, A Christmas audience with Pieter-Dirk EISH, The Echo of a noise. Ek werk aan ’n nuwe stuk vir 2026: No AI – just me. En volume 4 van One man shows (in the shower with Zuma) is binnekort vrylik op my webwerf beskikbaar; werk ook aan Evita se outobiografie in Engels en Afrikaans. Oorsee sal moet wag, om die draai is belangriker.
