Persverklaring en aankondiging: Wenner van die Van Ewijck Stigting se prestasieprys 2025

  • 0

Foto van Alfred Schaffer: Izak de Vries

Alfred Schaffer, digter en akademikus, is vanjaar se wenner van die Van Ewijck Stigting se prestasieprys vir die bevordering van die kulturele betrekkinge tussen Suid-Afrika en Nederland. Die prys beloop R100 000.

Schaffer is tans een van die bekendste Nederlandse digters en onder die literêre pryse wat hy daar reeds ontvang het, tel die PC Hooftprys vir sy hele oeuvre in 2021. Die prys word algemeen beskou as die hoogste eer vir ’n Nederlandse skrywer. Hy het ’n doktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad. Tans is hy senior lektor in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch en ook gasdosent in Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland.

Hy het die afgelope jare ’n groot rol gespeel by die uitnodiging van Nederlandse en Vlaamse skrywers na Suid-Afrika, waaronder Leonard Nolens, Stefan Hertmans, Tommy Wieringa en Saskia de Coster van wie werk uiteindelik in Afrikaans vertaal is. Van sy eie poësie is in Afrikaans vertaal deur Zandra Bezuidenhout en Daniel Hugo.  Self het hy Afrikaanse digters soos Ronelda Kamfer, Marlene van Niekerk en Antjie Krog vertaal en meegewerk aan publikasies oor die Afrikaanse letterkunde in die Lae Lande.

Lees ook:

Persverklaring: Prestasieprys van die Van Ewijck-Stigting weer beskikbaar 

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top