
Die begraafplaas op Saint Helen lê tussen die digte bome in ’n rustige skuinste naby die kerkie.
Dis vanjaar 125 jaar sedert die eerste Boerekrygsgevangenes op Saint Helena-eiland gearriveer het en in Februarie 1901 het die laaste groot getalle daar gearriveer. Sover ek weet, het ek nie ’n direkte verbintenis met enige van die aangehoudenes gehad nie. Ek sou egter nooit kon raai hoe nou verweef my pad met dié gebeurtenis skielik in 2025 sou word nie.
Op nie minder nie as vyf geleenthede staan ek voor ’n monument wat die gestorwe krygers eer: eers by Laborie in die Paarl; toe op Graaff-Reinet in die Oos-Kaap; toe op die eiland self; en toe buite Groot Marico en Swartruggens in die Noordwes-provinsie.

By die wynlandgoed Laborie
Dis tydens ’n wynproe op die historiese wynlandgoed Laborie dat iemand noem van die monument tussen die wingerde. Op 17 September 2005 is ’n Anglo-Boereoorlog-monument onthul wat hulde bring aan die Kaapse Rebelle. Die plegtigheid is deur meer as 300 mense van oor die hele land bygewoon. Onder hulle was vyf verteenwoordigers van die familie Jabavu van die Oos-Kaap, almal regstreekse afstammelinge van die prominente swart Kaapse Rebel, John Ntengo Jabavu. Jabavu was teen die Britse imperialistiese oorlog gekant en het die Boeresaak ondersteun. Hy was later die stigter van die Universiteit van Fort Hare en ’n pionier vir swart bemagtiging.
Jy vra die sleutel by die herehuis en verken op jou eie tyd.
Drie maande later is ons op ’n historiese toer met David McNaughton van Karoo Connections, toe hy in die middel van ’n woonbuurt voor ’n indrukwekkende monument stop. In ’n dorp met meer as 220 nasionale monumente staan die een op die hoek van Donkin- en Somersetstraat baie mooi uit. Die monument is opgerig vir die Boeresoldate wat gesneuwel het in die stryd om vryheid en geregtigheid.
Die monument is uit marmer gemaak en kom uit Italië. Dis op 2 Desember 1908 deur generaal Grobler onthul en dra die Latynse inskripsie: “Dulce est pro patria mori” (Soet is dit om vir jou land te sterf). Die monument is in 1908 opgerig en herdenk die teregstelling van agt Boerekommandoleiers deur die Britte vir hoogverraad en in die geval van kommandant Gideon Scheepers, vir oorlogsmisdade. Scheepers is tereggestel in die droë rivierbedding van die Sondagsrivier in ’n gebied wat nou deur die Nqweba-dam bedek word, die ander kommandoleiers is in hul tuisdistrikte binne die Kaapkolonie tereggestel.
Ek lees later op Tripadvisor presies wat ek gevoel het: Die monument is eenvoudig, maar die boodskap is groot.
David vertel ook van die Gideon Scheepers-monument sowat 2 km buite die dorp op die Murraysburgpad.
Waar ek die naaste aan die gebeure voel, is egter toe ons op die eiland op die vlakte staan waar die Boere vir meer as twee jaar aangehou is.
Op 10 April 1900 het die eerste 514 Boerekrygsgevangenes aan boord SS Milwaukee in Jamesbaai gearriveer en drie dae later voet aan wal gesit.
Altesame 6 000 Boere sou vir twee jaar daar in twee kampe, Broadbottom en Deadwood Plain, gevange gehou word – 180 is daar oorlede. Die twis oor watter vlag – Transvaals of Vrystaats – gehys moes word, het tot twee aparte kampe gelei.
Wanneer ’n mens daar tussen die Boeregrafte staan en die name op die marmerobeliske lees, voel die verlede skielik naby – amper tasbaar.
Ek was totaal onvoorbereid op hoeveel Boereafstammelinge vandag nog op die eiland woon. Baie dra die vanne Boar, Borb of selfs Boer, verdraaiings wat met tyd ontstaan het, en identifiseer trots as deel van die diverse Saints-gemeenskap.

Stedson Stroud
Ons gids, Stedson Stroud, ’n bekroonde botanis en Member of the Order of the British Empire (MBE), ken die eiland se Anglo-Boereoorlog-geskiedenis uitstekend. Hy het die MBE ontvang vir sy werk om nuwe plantspesies te ontdek en verskeie wat voorheen as uitgesterf beskou is, weer te vind.

Die verlate Baptistekerk
Ons begin ons toer by die verlate Baptistekerk, wat in onbruik geraak het weens ’n krimpende bevolking. Stroud vertel dat die Katolieke Kerk die krygsgevangenes nie by dienste toegelaat het of bereid was om hulle van die kerk af te begrawe nie – hulle is as “vyande van die koning én heidene” beskou. Die Baptistegemeente daarenteen het die Boere verwelkom en hulle almal uit die kerk begrawe. Net ’n kort ent verder lê die grafte teen ’n steil koppie, elk netjies genommer.
Stroud lees verder uit sy notas: “Tydens die oorlog tussen 1899 en 1902 het die Britte sowat 20 000 Boere in konsentrasiekampe aangehou. Die toestande was haglik en daar is besluit om gevangenes na Bermuda, Indië, Ceylon en St Helena te stuur.
“Die goewerneur van die eiland, RA Sterndale, het voor hul aankoms ’n proklamasie uitgereik waarin hy die inwoners aangespoor het om die Boere hoflik te behandel – as dapper manne wat vir hul land geveg het. En só het dit ook gebeur: Toe die gevangenes verby die skare stap op pad na Deadwood, was daar geen spot of onbeskoftheid nie.
“Onder die eerstes wat gearriveer het, was die Boeregeneraal Piet Cronjé en sy vrou, Hester. Hulle is nie in tente gehuisves nie, maar in Kent Cottage, streng bewaak maar ordentlik behandel. Cronjé het op respek vir sy rang aangedring.”
Volgens hom was daar min ontsnappingspogings – die Boere het geweet die eiland is meer as 3 100 km van Kaapstad. Niemand is aan wanvoeding dood nie; sterftes was hoofsaaklik weens natuurlike oorsake of siektes wat op skepe ingebring is.
By die twee obeliske, wat in 1913 opgerig is, hang slotte van dié op persoonlike pelgrimstogte wat hul geskiedenis kom groet.

Uitstallings van die Boere se kreatiwiteit
Later sien ek in die eilandmuseum ’n foto van Boere voor St James Anglikaanse Kerk, waar hulle die eed van getrouheid aan die koning moes aflê om terug te keer huis toe. Party het geweier en op die eiland gebly.

Honderde boere op die plein voor die St James Anglikaanse Kerk in Jamestown
Ander het niks gehad om na terug te keer nie – hul families was dood, hul plase verwoes. Die museum het verskeie artefakte op uitstalling wat die Boere tydens hul gevangenisskap met knipmesse uitgekerf of met ruwe naalde geborduur het.
Terug op eie bodem gaan verken ons die Marico-distrik ten tyde van die Herman Charles Bosmanfees. Lees meer daaroor hier.

’n Monument vir die Boere wat in die Slag van Kleinfontein gesterf het
My geliefde kom met die inligtingboek in ons verblyf by Tala Manzi aangestap en sê ek sal nooit glo wat vandag presies 124 jaar gelede net hier anderkant die koppies gebeur het nie: die Slag van Kleinfontein op 24 Oktober 1901.

Die Ford
Soos die landskap uit die verkoelde kajuit van die Ford Everest XLT 2025-model 2.0L Bi-Turbo Diesel by ons verbygly, is dit moeilik om jou die moedige vegters se ontberinge in die hitte en droogte in te dink.
Toe ons in die veld voor die monument staan, jaag die motors op die snelweg verby en mens wonder hoeveel mense besef hoeveel bloed hier in die aarde ingesyfer het om die wêreld te maak wat dit vandag is. Die son bak ongenaakbaar op ons neer.
Terug op die dorp kuier ons by Egbert van Bart, broer van Martiens van Bart, voormalige redakteur van “Kultuur Kroniek” in Die Burger. Hy vertel dat sy oupa daar in die wit tentjies aangehou is. Die geskiedenis is deel van ons almal, wil dit voorkom.

Die Elandsrivier-museum
So met die gesels vra hy of ons al by Elandsrivier-museum op Swartruggens was.

Ter ere van die vlugtende vroue
Die Slag van Elandsrivier – een van die bekendste veldslae van die Anglo-Boereoorlog in die Swartruggens-omgewing – het van 4 tot 16 Augustus 1900 geduur. Die Elandsrivier-museum, op privaatgrond ingerig deur twee geskiedenisentoesiaste, het onlangs ’n nuwe monument ter ere van die vlugtende vroue van die oorlog bygekry.
Ons maak ’n afspraak en gaan lê besoek af.
By die museumafdraai verwelkom die stilte van die veld en die lae heuwels jou. Die terrein is oop en onbeskut – moeilik om te glo dat hier vir 12 dae lank oorlog gemaak is.
Peet Coetzee, navorser en skrywer, en Maarten Stols, op wie se plaas die museum ingerig is, se handdrukke is ferm.
In die eerste vertrek verduidelik Peet die verloop van die oorlog met behulp van ’n skaalmodel van die slagveld. Teen 1900 het die Britte se voorspoed begin draai, maar die Boere se moraal was laag en die Britte goed voorsien. Baden-Powell het Rustenburg beset en by die samevloeiing van die Elandsrivier en Doornspruit is ’n transitopos gevestig.
Op 3 Augustus 1900 was meer as 100 waens, 1 500 osse, 30 burgerlikes en sowat 505 soldate in die kamp. Die Britte het nie ’n aanval verwag nie en geen loopgrawe gegrawe nie. In die nag van 3 Augustus het generaal Koos de la Rey met 2 000 Boere en nege kanonne die pos omsingel. ’n Intense aanslag het gevolg.
Die verwagte hulp het nie vir die Britte voor 16 Augustus opgedaag nie. Van die meer as 1 540 trekdiere het net 211 oorleef.
Die museum bevat oorblyfsels, wapens, foto’s en die silwer kruise van gevalle soldate wat van ’n geplunderde begraafplaas gered is. Die monument vir die vlugtende vroue – vroue wat plase sien afbrand het, onder geweervuur gevlug het en hul gesinne moes beskerm sonder mans of hulp.
En veel nader aan my eie lyf: ’n Bejaarde vriendin, Ilse Spies, kom sit ’n koevert op my handpalm neer. Binne-in is ’n klein handgeborduurde stukkie lap en ’n naam uitgekerf in vermoedelik walvisbeen. Op die lappie staan: “God is liefde”, wat deur Ilse se oupa, Hendrik Johannes Joubert (gebore 6 Junie 1866), op St Helena geborduur is en uitgekerf is. Ilse en haar neef, Johan Joubert, wat op Kaap St Francis woon, weet nie veel meer van hul oupa nie. Johan het darem ’n skildery van oupa Hendrik en sy vrou, Maria Margaretha Elizabeth Joubert (gebore op Serfontein op 3 Julie 1871).
Hulle glo hul oupa moes destyds uit die Kaapkolonie Vrystaat toe getrek het, want hulle het al die jare op die plaas Rustfontein in die Bultfontein-distrik in die Vrystaat gebly. Die egpaar is op die plaas begrawe.
’n Kunstenaarsvriend wat weet hoe baie ek van mooi ougoed hou, wys my ’n pragtige houtkissie met ’n hartjie bo-op waarin die sleutel versteek is. “Dis my oupagrootjie se handewerk,” verklaar Joubert Stander. “Hy was ’n krygsgevangene op St Helena en het dit met sy knipmes gekerf.” Joubert se ma, Leonore, het die boksie by háár ma gekry. Maar dis ongelukkig sover hul kennis van die geskiedenis daaragter strek.
Ek dink terug aan die handgekerfde items in die St Helena-museum en hoe alles verbind is.
Net toe ek dink my eie 2025-reis met die Anglo-Boereoorlog is verby, beland ek by die bekendstelling van Nuuseum en hoor daar van die digitale uitstalling, Kampkrummels – die kulturele weerstand van krygsgevangenes op Sint Helena, 1899–1902. Lees meer oor dié digitale argief hier.
Met gebruik van ’n versameling kampkoerantjies en foto’s vanuit die NG Kerkargief Stellenbosch, gee die uitstalling ’n seldsame blik op hoe krygsgevangenes die isolasie van ballingskap deur handewerk, sang, sport en godsdiens verdryf het.
Saam met die kampkoerantjies is ’n fotoalbum en twee notaboekies met besonderhede van talle krygsgevangenes ook op die Nuuseum-webwerf te sien.
Die webwerf se inleiding tot die uitstalling lui as volg: “Tussen die doringdraad van twee afsonderlike kampe, Broadbottom en Deadwood, het daar ’n vasberade gemeenskap gevorm met ’n onwrikbare gevoel van identiteit, gebou op geloof, kameraadskap en kreatiwiteit. Met ’n kosbare versameling kampkoerantjies, naamlik Kamp Kruimels en De Krijgsgevangene, asook aangrypende foto’s, vertel hierdie uitstalling hoe die krygsgevangenes van Sint Helena hul ballingskap met pen, potlood, handewerk en liede besweer het.”
Die vredesverdrag wat die einde van die oorlog aandui, is op 31 Mei 1902 geteken en die eerste krygsgevangenes vertrek op 26 Junie 1902 aan boord die Canada na Kaapstad. Die laaste gevangenes verlaat die eiland op 21 Oktober 1902 aan boord die Golconda.
Dit voel of ek terug op die eiland is, weer die oneindigende oseaan van die vlaktes af sien en die desperaatheid van dié wat van hul geliefdes en hul geboortegrond weggevoer is, kan voel.
Die oorlog mag dalk 125 jaar gelede gewoed het, maar dis steeds deel van ons.
Kitsfeite:
- Besoek die digitale uitstalling by https://argief.nuuseum.media/uitstallings/kampkrummels-die-kulturele-weerstand-van-krygsgevangenes-op-sint-helena-1.
- Die Saint Helena-toerismeburo (https://sthelenatourism.com/) kan help met ’n bespreekte toer saam met Stedson, of bespreek direk by hom by +29063773.
- Bespreek jou besoek aan die Elandsrivier-museum en -monumente by Maarten by 082 556 8861 en as Peet beskikbaar is, sal hy self die toer begelei.
- As jy verder belangstel, kombineer die besoek met omliggende geskiedenisterreine in die Noordwes, sodat jy ’n groter gevoel kan kry van die Anglo-Boereoorlog in dié streek.
- Al die foto’s is geneem met die nuwe Canon- spieëllose R6. Sy tjoepstil sluiterspoed beteken aksiefoto’s kan geneem word tydens onderhoude, sonder om mense met die ewige gekliek-kliek te pla. Loer by www.canon.co.za.
- Ons het Noordwes-provinsie se slagvelde en monumente en die Paarl-monument met die nuwe Ford Everest XLT 2025-model 2.0L Bi-Turbo Diesel gaan verken. Dit was die perfekte plek om teen die hitte te skuil en die grondpaaie te navigeer. Loer by www.ford.co.za.
Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:
St Helena: bewaring kry nuwe betekenis op dié afgeleë eiland

