Door het oog van de dichter is de titel van een gesprekkenreeks over de literaire nalatenschap van Breyten Breytenbach (1939-2024) en de impact op het schrijverschap van hedendaagse Afrikaans-, Engels- en Nederlandstalige dichters. Najaar 2026 verschijnt de bundel Postumiteiten voor Breyten in Zuid-Afrika, waarin de dialogen worden gebundeld. In een tweede deel met dialogen komen Breytenbach-navorsers aan het woord. Tot vandaag zijn afleveringen gepubliceerd met Joan Hambidge, Alfred Schaffer, Marlise Joubert, Antjie Krog, Louis Esterhuizen, Bernard Odendaal, Ilse van Staden, Andries Bezuidenhout, Diana Ferrus, Hein Viljoen, Pieter Madibuseng Odendaal, Klara du Plessis, Charl-Pierre Naudé, Nkateko Masinga, Erwin Mortier, Marius Crous en Gilbert Gibson. Deze zestiende aflevering presenteert een interview met academica, dichter en vertaler Heilna du Plooy.
De inleidende tekst met een toelichting bij de opzet van de gesprekkenreeks over de literaire erfenis van Breyten Breytenbach kan hier worden gelezen: https://versindaba.co.za/2026/01/21/yves-tsjoen-postumiteiten-voor-breyten/. In totaal komen veertig dichters aan het woord. De gespreksgenoten ontvangen allen dezelfde vijf vragen over hoe zij zich in hun schrijfwerk verhouden tot het oeuvre van Breytenbach.
...
Ek het geweldige hoë waardering vir sy hele oeuvre, des te meer omdat, terwyl sy werk altyd onmiddellik herken kon word as gevolg van sy unieke styl, denkwyse en metaforiese rykheid, hy homself voortdurend vernuwe het.
...
YT: Heilna, is in het lyrisch werk van Breytenbach voor jou een afzonderlijke bundel of zelfs een esthetische fase aan te wijzen die om een specifieke reden jouw uitgesproken voorkeur geniet? De schrijver heeft in drie omvangrijke delen zijn verspreid gepubliceerde bundels samengebracht: Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964-1975, Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975-1983 en Die singende hand. Versamelde gedigte 1984-2014. Welke Breytenbach is voor jouw dichterlijke loopbaan betekenisvol gebleken? Verkies je het vroege werk of de ‘late style’ in Breytenbachs lyriek? Zou je zelf gewagen van een bepaalde literaire invloed, dus een moment of zelfs een gedicht dat jouw dichterschap in enigerlei mate mee heeft gestuurd?
HDP: Wat die verskillende periodes of fases in Breytenbach se oeuvre betref, kan ek om eerlik te wees nie ’n spesifieke voorkeur aandui nie. Om myself te kontroleer, het ek nou weer al drie die versamelbundels deurgeblaai en dele herlees. Ek het geweldige hoë waardering vir sy hele oeuvre, des te meer omdat, terwyl sy werk altyd onmiddellik herken kon word as gevolg van sy unieke styl, denkwyse en metaforiese rykheid, hy homself voortdurend vernuwe het. Dit is asof sy gedigte en selfs van die prosageskrifte tap uit ’n omvattende kaleidoskopiese arsenaal van metafore en taalvorme, herkenbaar maar tog telkens weer nuut. My waardering vir die hele oeuvre is waarskynlik deels daaraan toe te skryf dat ek as dosent al sy werk moes ken om hom as digtersfiguur aan studente te kon bekendstel.
Wat my skryfwerk betref, dink ek nie dat ek as digter direk deur hom as digter beïnvloed is nie. My eie werk is meestal meer gestroop en op persoonlike vlak lewe ek ook in ’n ander denkmilieu as hy. Dit doen egter nie afbreuk aan my bewondering vir hom nie, inteendeel, en dit het ek in my gedigte wat oor hom en sy werk handel probeer toon. Maar ek is deeglik bewus daarvan dat daar heelparty Afrikaanse digters is in wie se werk mens Breytenbach kan terugvind. Natuurlik soos ook die stemme van ander ouer digters. Dit is immers een van die merktekens van ’n groot digter dat daar van so ’n persoon ’n uitstraling sal uitgaan.
Ek het nog altyd doelbewus so wyd as moontlik gelees as dit by die digkuns kom, ou geskrifte, die klassieke digters, nuwe digters, vertaalde gedigte en verder gedigte in al die tale wat ek ken – dit is nie baie nie, hoofsaaklik Afrikaans, Engels (Brits, Amerikaans en Australies), Nederlands en Duits, en Frans met behulp van ’n woordeboek. Ek lees Breyten vir die vreugde van die poësie en die poëtiese kwaliteit van die prosa, maar gewis ook vir die diepe besinning en insig wat daar uit sy werk spreek. In die betrokke gedigte of prosa (wat as littérature engagée beskou kan word), is hy skerp en sy insig belangwekkend en aangrypend juis omdat sy poëtiese hantering van taal terselfdertyd salwend werk en ’n mens intrek. Hy is dus vir my meer van ’n imago as totale digterspersoonlikheid en kunstenaar as wat sy werk my direk beïnvloed het.
YT: Naast de expliciete maatschappijkritische poëzie zijn er de gedichten waarin de verbeelding van Afrika vorm krijgt, de vele liefdesgedichten, de lyriek waarin verval, verrotting en de dood bepalende motieven zijn, het nomadische Middenwereld-discours, de Zenboeddhistische gedichten. Is er een facet in Breytenbachs poëzie dat je met bijzondere belangstelling of affiniteit hebt gelezen?
HDP: Soos ek gesê het, is ek ’n Breytenbach-aanhanger in die volle sin van die woord. Ek het eenkeer ’n lesing van George Steiner bygewoon waarin hy gesê het as mens regtig van ’n skrywer hou, dan lees jy al sy werk, die beste en selfs die minder goeie werke in die oeuvre. Slegs dan kan jy regtig die skrywer se gedagtewêreld leer ken en hom/haar verstaan. Dit bly my altyd by in my hantering van skrywers en is vir my deel van die respek wat mens aan veral ’n groot digter verskuldig is.
Maar, as ek moet kies, geniet ek die liefdesgedigte intens (iewers skuil ’n romantikus!) asook die werk oor Afrika in gedigte en prosawerk. Hy verstaan Afrika, hy het Afrika lief, hy maak Afrika uniek vir sy lesers sonder om blind te wees vir die probleme wat Suid-Afrika en die hele kontinent ervaar. Hy sien die groter prent, maar ook, soos byvoorbeeld in Dog Heart die detail van klein mense en klein dorpe en individue se lewens.
YT: De schrijver heeft zich uitgedrukt in beschouwende en lyrische teksten. Daarnaast hield hij publieke toespraken, schreef zijn Notes from the Middle World, de trilogie met ’n Seisoen in die paradys, The True Confessions of an Albino Terrorist en Return to Paradise. De literaire genres waarin de schrijver zich uitsprak en een beeldrijk universum creëerde, zijn onlosmakelijk met elkaar verbonden, wat ook over het schilder- en tekenwerk kan worden gezegd. Welke teksten kunnen jou begeesteren en welke leeservaring verbind je met particuliere teksten in het oeuvre?
HDP: Breytenbach se konsep van die Middelwêreld, ’n derde ruimte van bestaan, is vir my besonder ryk en soos wat ek self ouer word, al hoe meer. Daar sit ’n grondige lewensinsig en oorlewingskuns daarin wat uiters waardevol is op persoonlike en kollektiewe vlak. Maar omdat ek self skilder (as toegewyde amateur), boei Breytenbach se skilderwerk my uiteraard. Trouens, die verband tussen skilder en skryf realiseer by hom, net soos in die poësie, in die metaforiese aard van sy skilderwerk. Tegnies kan hy vanselfsprekend bykans fotografies getrou skilder en daar is sulke werke, maar die belangrikste eienskap van die skilderye is hoe daar betekenis gegenereer word deur die metaforiese verband tussen disparate en selfs onverwante beelde. Dit gee aan die skilderye metaforiese skopus en stimuleer die verbeelding van die kyker.
Vir my is dit ook belangrik om die skilderye en die gedigte saam te bekyk, omdat dit ’n invalshoek is wat besondere insig in sy kreatiewe werkwyse bied. Breytenbach het self gesê (op verskillende plekke en by verskillende geleenthede) dat skilder en skryf vir hom absoluut verwant is en inderwaarheid deel is van dieselfde kreatiewe proses. Hy noem homself “the dubious mule, the mutinous dude or the duelling mouse”. Veral die herhaling en variasies in representasies van die self dui op ’n proses wat gerig is daarop om nuwe ruimtes te open wat weer met nuwe inhoud gevul kan word. Vir hom is die kwessie van identiteit in skryf en skilder albei sentraal en sy identiteit berus op ’n kontinue proses van selfvernuwing. Hierdie selfvernuwing van die digterspersoonlikheid is een van die aspekte van sy werk wat ek die meeste bewonder.
YT: Hoe heb je zelf het werk van Breytenbach leren kennen? Welk beeld bewaar je van de kennismaking en is het in de loop van het leesparcours eventueel gewijzigd? Welke rol dicht je Breytenbach toe met betrekking tot het Afrikaans, dat hij een “bastertaal” noemde – een creoolse taal en vooral als een taal van Afrika zag?
HDP: Ek het Breytenbach uiteraard as student leer ken aangesien sy eerste bundels verskyn het in die tyd wat ek studeer het. Maar dan gaan hy nooit weer weg nie en in my doseerwerk was hy uiteraard altyd meer as belangrik. Hy het inderdaad getoon dat Afrikaans onbeperkte moontlikhede het in die hande en mond van ’n werklik begaafde digter en hierin sluit hy aan by ’n hele aantal Afrikaanse digters. Omdat hy ook hoofsaaklik in die buiteland gewoon het, was hy nie blootgestel aan tydelike en verbygaande taalmodetjies nie en sy taalgebruik het ’n soort klassieke waardigheid. Hy is een van die groot uitvoerprodukte van Suid-Afrika en in sy wyer betrokkenheid by Afrika, ook van die kontinent.
YT: Kun je in een paar zinnen het grensverleggende en zelfs de iconische betekenis van de dichter Breytenbach onder woorden brengen? Of anders gezegd: hoe zou je zelf voor toekomstige lezers van Breytenbach, in Zuid-Afrika en elders, de poëzie aanbevelen?
HDP: Een van die dominante temas in Breytenbach se werk is sy bemoeienis met identiteit. Dit gaan egter nie om ’n opgeblase selfbeheptheid nie, allermins, want hierdie identiteit is dié van ’n verkleurmannetjie, van ’n lugspieëling, veranderend en ontglippend. Hierdie denkwyse en insig is van onskatbare waarde vir mense in ’n land soos Suid-Afrika met sy geskiedenis van oorlewing van groepe tussen mekaar wat telkens lei tot te strakke selfbeelde en selfhandhawing. Die noodsaak van aanpassing is ook ononderhandelbaar in die omstandighede van die meeste Afrikaanstaliges. Daarin is Breytenbach se werk en sy lewe ’n navolgenswaardige voorbeeld. Sy kritiese denke en skerp oog kyk niks mis nie, maar wel sonder om ooit die liefde vir sy mense en sy herkoms heeltemal prys te gee. As kunstenaar is sy volgehoue kreatiewe aktiwiteit, in verskeie genres en media, vir ander kunstenaars ook ’n voorbeeld en ’n inspirasie. As jy wil skryf, moet jy skryf en as jy wil skilder, moet jy skilder.
Om Breytenbach te lees, is veral vir ongeoefende poësielesers moeilik. My raad sou wees, moenie probeer om elke woord en reël te verstaan nie, lees net en laat die woorde en die metafore oor jou heen rol, die klank en die ritme en verbeeldingrykheid daarvan. Uiteindelik sal jy die toonaard en die segswyses leer ken en begin begryp. Elke groot skrywer verdien toegewyde lesers en met toewyding sal die digter se werk vir jou ontsluit word.
’n Taal en ’n kultuur kan net dankbaar wees vir Breyten Breytenbach,’n begaafde mens wie se werk in die kollektiewe geheue sal voortleef.
Lees ook:
Breyten schrijven #24: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Gilbert Gibson
Breyten schrijven #23: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Marius Crous
Breyten schrijven #22: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Erwin Mortier

