Breyten schrijven #32: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Tom Dreyer

  • 0

Door het oog van de dichter is de titel van een gesprekkenreeks over de literaire nalatenschap van Breyten Breytenbach (1939-2024) en de impact op het schrijverschap van hedendaagse Afrikaans-, Engels- en Nederlandstalige dichters. Najaar 2026 verschijnt de bundel Postumiteiten voor Breyten in Zuid-Afrika, waarin de dialogen worden gebundeld. In een tweede deel met dialogen komen Breytenbach-navorsers aan het woord. Tot vandaag zijn afleveringen gepubliceerd met Joan Hambidge, Alfred Schaffer, Marlise Joubert, Antjie Krog, Louis Esterhuizen, Bernard Odendaal, Ilse van Staden, Andries Bezuidenhout, Diana Ferrus, Hein Viljoen, Pieter Madibuseng Odendaal, Klara du Plessis, Charl-Pierre Naudé, Nkateko Masinga, Erwin Mortier, Marius Crous, Gilbert Gibson, Heilna du Plooy, Alwyn Roux, Kleinboer, H.J. Pieterse, Zandra Bezuidenhout en Churchil Naudé.

De inleidende tekst met een toelichting bij de opzet van de gesprekkenreeks over de literaire erfenis van Breyten Breytenbach kan hier worden gelezen: https://versindaba.co.za/2026/01/21/yves-tsjoen-postumiteiten-voor-breyten/. In totaal komen veertig dichters aan het woord. De gespreksgenoten ontvangen allen dezelfde vijf vragen over hoe zij zich in hun schrijfwerk verhouden tot het oeuvre van Breytenbach.

...
Hierdie vermoë om grense te oorskry, om vanuit ’n partikulêre vergestalting ’n grenslose ruimte te betree, voel vir my na ’n wesenskenmerk van poësie.
...

YT: Tom, is in het lyrisch werk van Breytenbach voor jou een afzonderlijke bundel of zelfs een esthetische fase aan te wijzen die om een specifieke reden jouw uitgesproken voorkeur geniet? De schrijver heeft in drie omvangrijke delen zijn verspreid gepubliceerde bundels samengebracht: Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964-1975, Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975-1983 en Die singende hand. Versamelde gedigte 1984-2014. Welke Breytenbach is voor jouw dichterlijke loopbaan betekenisvol gebleken? Verkies je het vroege werk of de ‘late style’ in Breytenbachs lyriek? Zou je zelf gewagen van een bepaalde literaire invloed, dus een moment of zelfs een gedicht dat jouw dichterschap in enigerlei mate mee heeft gestuurd?

TD: Die Breytenbach wat my eerste aangeraak het, was die vroeë werk, spesifiek die gedigte uit sy Paryse jare. My eerste ontmoeting was ’n paar snarsies oor die lippe van ’n Afrikaans-onderwyser: die maer man met die groen trui, die langwerpige kop wat gedigte fabriseer, die sluwe bitter eende in die reën. Hierdie was ’n ander soort Afrikaans. Ek onthou die winderige Gordonsbaai-naweek toe Die ysterkoei moet sweet die eerste keer oor my pad gekom het: die kraakbeen en die klotsel bloed in pypies wat Breyten ombou tot ’n toring, ’n landskap, ’n hele ontologie van verlange, die hart as argitektuur, liefde as ekspedisie oor windkaal heuwels. Hierdie soort ding het my destyds al ontroer: dat die intieme en die kosmiese nie in twee verskillende gedigte hoef te wees nie. Dit was die eerste kraak wat Breyten in my gemaak het.

Nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde was die eerste Breytenbach-bundel wat ek self gekoop het, en gelees het met die trots en erns van eienaarskap. Ek was nog ’n student en het puur myself op ’n klip in die Eersterivier aan daardie bundel oorgegee. Ek onthou nog hoe dit later donker geword het rondom my.

Ek dra die eerste reëls van die openingsgedig met my saam – daardie “die ware landskap is een van rus”, daardie “alles is ontplooiing”. Die volle beweging van die ‘Inleiding’ het my aangestaan: dat die gedig kan begin by landskap van rus en beweeg na “ek nood iemand / om hart, hand, droom, gebroke geheue aan na te laat”, dat die plaaslike kan uitmond in die absolute, dat geografie verlange kon word. Nou, jare later, draai my eie skrywerskap om ’n soortgelyke spil – die verlange na verse wat tegelyk naby én ver kan wees, grondgebonde én kosmies, sonder om die een ter wille van die ander op te offer.

En natuurlik was die kwaliteit van Breyten se taal ’n opstopper. Die blote woord Kamiljoen, die naam van een van sy skrywersgedaantes, was al bekoorlik – daardie drie lettergrepe wat suggesties dra van galjoen vermeng met kabeljou, van dermiljoen, en vermiljoen, en kaballah, en kameleon, noem maar op, ’n ware verkleurmannetjie van ’n woord. En nou kom nog ’n reël deur die jare na my toe terug: die slotreël van ’n gedig waar Kamiljoen oor ’n glimmende wit emaljebad buk om onthoof te word. “Kamiljoen droom ’n rooi spieël” — geweld so mooi verwoord, dit het gevoel soos ritueel, daar in die Eersterivier, iets wat beleef word eerder as net gelees.

Die latere Breytenbach – Die singende hand-fase, of gedigte soos ‘daar is geen tyd’ uit Die windvanger – het ek eers veel later na behore waardeer: die sereniteit, die gewilligheid om die vers onvoltooid te laat, om in ’n enkele reël soos “tyd is die verskietende komeet / van geheue” die hele problematiek van verganklikheid te laat rus sonder om dit op te los. Later sou hierdie kalmte ook tot my spreek, maar dit was die vroeëre Breytenbach, argeloos, roekeloos, wat my eerste gegryp het.

YT: Naast de expliciete maatschappijkritische poëzie zijn er de gedichten waarin de verbeelding van Afrika vorm krijgt, de vele liefdesgedichten, de lyriek waarin verval, verrotting en de dood bepalende motieven zijn, het nomadische Middenwereld-discours, de Zenboeddhistische gedichten. Is er een facet in Breytenbachs poëzie dat je met bijzondere belangstelling of affiniteit hebt gelezen?

TD: Ek het nog altyd ’n swakte gehad vir sy liefdesgedigte, vir sy beliggaming van die abstrakte. By hom is die liefde altyd fisies, selfs brutaal teenwoordig, maar terselfdertyd strek dit uit na iets groter: na politiek, na dood, na die vraag na wie ons is. Kyk byvoorbeeld na ‘nagmaal’, uit Die ysterkoei moet sweet: die geliefde se slapende liggaam word ’n altaar, maar ’n altaar wat reeds besig is om te vergaan – “in jou knabbel jou karkas reeds”. Die beweging “neem / eet / drink / leef” keer die nagmaalsformulier om en skep ’n soort erotiek van sterflikheid – ’n ritueel waarin liefde en ontbinding een word, die sakramentele en die sensuele. In my eie liefdesgedigte – soos ‘simbiont’ of ‘hooglied’ uit my Brief op veertigduisend voet wat eersdaags verskyn, waag ek my hand aan iets soortgelyks, weliswaar met ’n ander register: die biologiese en die chemies-kosmiese in plaas van die teologiese.

’n Faset van Breyten se surrealistiese visie wat my bly fassineer, is die manier waarop onversoenbare werklikhede gelyktydig op die bladsy bestaan sonder dat die gedig ’n uitweg bied. In ‘nagmaal’ loop daar in hakies ’n tweede parallelle wêreld – die liggaam reeds besig om te ontbind, kraaie reeds in die maag – terwyl die hoofteks die slapende geliefde nog beskryf as “delikate blom van polsende ivoor”. Dit is nie metafoor nie: die twee werklikhede bestaan gelyk eerder as opeenvolgend. Hierdie is natuurlik slegs een draad in die groter weefsel van Breyten se surrealisme: die droomlogika wat sonder kennisgewing oorneem, die metamorfose van liggaam in landskap, die spreker van ‘Vers as boodskapper’ wat selfs na sy dood voortgaan om lief te hê (sien latere bespreking). Ensovoort, ensovoort. Surrealisme by Breytenbach voel vir my nie na tegniek nie, maar na wêreldsiening – en een wat ek kan bewonder sonder om dit te kan of noodwendig te wil nadoen.

Want hier kan ek byvoeg: in my eie werk stuur ek merendeels bewustelik weg van hierdie soort surrealistiese versnelling. Breyten se beelde ontvlam vinnig, byna sonder voorbereiding – hul eie sonderlinge logika sleur die leser voort voor hy of sy nog kan besluit of hulle wil saamgaan. Ek bou verse wat stadiger detoneer. Ek probeer die kosmiese dra deur wetenskaplike en tegniese beelding – infrarooi, ruimtevaart, kwantumfisika, terwyl ek tog deurgaans die aarde in sig hou. Die impuls is bes moontlik soortgelyk as by Breytenbach, maar die gravitasiekrag is anders. Die gespook gaan minder snel by my om.

YT: De schrijver heeft zich uitgedrukt in beschouwende en lyrische teksten. Daarnaast hield hij publieke toespraken, schreef zijn Notes from the Middle World, de trilogie met ’n Seisoen in die paradys, The True Confessions of an Albino Terrorist en Return to Paradise. De literaire genres waarin de schrijver zich uitsprak en een beeldrijk universum creëerde, zijn onlosmakelijk met elkaar verbonden, wat ook over het schilder- en tekenwerk kan worden gezegd. Welke teksten kunnen jou begeesteren en welke leeservaring verbind je met particuliere teksten in het oeuvre?

TD: The True Confessions of an Albino Terrorist het my byna soveel geraak as die gedigte, hierdie teks wat weier om hom in ’n enkele genre te laat vasmaak. Dit is gevangenis-memoir, politieke getuienis, meditasie en poëtiese fragment tegelyk. Opvallend vir my was die paradoks van ’n skrywer wat in uiterste isolasie skryf en tog op elke bladsy die indruk wek van iemand wat die hele wêreld in sy kop ronddra. Breytenbach beskryf self hoe hy in die donker geskryf het, sonder die moontlikheid om terug te lees of te bepeins: “You have to let go. You must follow. You allow yourself to be carried forward by the pulsation of the words as they surface in the paper. You are the paper”. Die liggaam word papier, die intellek word uitgeskakel – en tog ontstaan daar iets wat die mure oorleef. Die sel word nie net ’n plek van opsluiting nie, maar ’n soort mentale landskap wat voortdurend uitbrei – juis omdat die skrywer niks anders het as die pulsasie van woorde nie.

Hierdie vermoë om grense te oorskry, om vanuit ’n partikulêre vergestalting ’n grenslose ruimte te betree, voel vir my na ’n wesenskenmerk van poësie. ’n Bondige voorbeeld kom in Breyten se  ‘Vers as boodskapper’ waar hy “deur gegrendelde poorte en getraliede vensters” na die geliefde in Rome skryf: die vers self word al wat deur die mure kan beweeg – letterlik die boodskapper. Die titelvers van my nuwe bundel, en ek skat die bundel self, is eweneens ’n boodskap aan ’n beminde, ’n uitreik onder omstandighede waar ander kommunikasie onmoontlik is.

Ek kan nie voorgee om te weet hoe ’n persoonlike geskiedenis soos Breyten s’n aan ’n mens se lyf sit nie, maar hierdie vermoë van poësie om ’n gegewe persoonlike gesitueerdheid te oorspan, en lyne te span vanaf die self na ander en selfs na ander potensiële selwe is iets wat ek ook al as digter aangevoel het. 

In Notes from the Middle World formuleer Breyten die idee van die skrywer wat tuis raak in die tussenruimte – nie hier nie, nie daar nie, maar in die spanning self. Wat my tref is hoe hy hierdie Middelwêreld nie as ballingskap beskryf nie, maar as ’n produktiewe toestand: die plek tussen tale, tussen lande, tussen identiteite, word ’n kreatiewe habitat eerder as ’n gemis. Dit is in hierdie tussenruimte waar poësie ontspring, en die krag daarvan is deels ontleen aan dit wat nie volledig gesê kan word nie. Ek skat my eie verse vanuit vliegtuie of telefoonhokkies of MRI-skandeerders word ten minste gedeeltelik deur Breyten se Middelwêreld geïnformeer. 

YT: Hoe heb je zelf het werk van Breytenbach leren kennen? Welk beeld bewaar je van de kennismaking en is het in de loop van het leesparcours eventueel gewijzigd? Welke rol dicht je Breytenbach toe met betrekking tot het Afrikaans, dat hij een “bastertaal” noemde – een creoolse taal en vooral als een taal van Afrika zag?

TD: Ja, daardie klip in die Eersterivier was die toneel van my mees oorrompelende Breytenbach-kennismaking. Dertig jaar later is ek, op bykans dieselfde plek, deur ’n swerm bye oorval. Ek het pad toe gevlug, waar ’n man in ’n wit bakkie in ’n ommesientjie langs my stilgehou het. Selfs deur ’n waas van bye kon ek sy groen trui sien, en die klein kajuit wat my na meer herbergsame terrein sou dra. In sekere buie probeer ek nou onthou hoe die man se gesig gelyk het. Maar dalk is sy woorde “Kom, klim in”, bo die bye-gezoem, die beter manier om hom te onthou.

En dit is wat Breyten vir my gedoen het: hy het my deur sy Afrikaans bereik, deur my dit anders as voorheen te laat hoor en verstaan. Dat “bastertaal” byvoorbeeld geen belediging is nie, maar ’n raak beskrywing van hoe Afrikaans werk: as ’n taal wat altyd al ’n mengsel, ’n gesprek, ’n botsing is. In ‘’n brief van hulle vakansie’ skryf Breyten in een asemteug van “die eelte van my vader”, van “die lugoë van my ma”,  van “ingelegde perskes (albertas) op die rak” — en dan, in ’n enkele reël van “bokser dokter boer / ’n kaptein en ’n held ’n indoena tussen grysaards”. Ek twyfel of hierdie lys in ’n ander taal so goed sou werk: die spanning tussen “boer” (met sy ondergrond van Boer teen Brit), die “indoena”, die Afrikaner-erfenisheld – dit is die bastertaal in aksie: ’n taal wat sy eie innerlike konflikte met hom saamdra. Hierdie vermenging van die skynbaar disparate is ook iets wat ek in my eie verse probeer: dit kan lekker raak om Afrikaans, Nederlands, Engels, wetenskaplike terminologie, ruimtevaartnomenklatuur en straattaal saam te roer en te sien wat gebeur.

Maar die bastertaal-idee sou vir my later ook ’n ander dimensie bykry: dit is nie net ’n taal wat uit botsing gebore is nie – dit is ook ’n taal tussen ander kwynende tale. Breyten skryf in een van die essays in Notes from the Middle World van ’n verborge taal wat in China se Hunan-provinsie deur en vir vroue geskep is. In beide Nou in Infrarooi en Brief op veertigduisend voet verwys ek na Katrina Esau, die laaste spreker van die Khoisan-taal n!uu. Hierdie verwysings lees hopelik as meer as eksotika, as ’n herinnering dat taal self ’n uitsterwingsgeskiedenis kan hê. Breytenbach se “bastertaal” is nie net 'n erfenis van tale wat saamgesmelt het nie – dit is ook ’n erfenis van tale wat nie oorleef het nie. Hierdie besef gee vir my sy taalpolitiek ’n ekstra skerp rand: om Afrikaans as ’n Afrika-taal op te eis, is ook om te erken wat in die proses van sy wording verlore gegaan het.

Afrikaans is vir Breytenbach iets wat vlieg, iets met migrasiepatrone, bewegend oor ’n warm kontinent. Dit voel vir my na ’n beter opsomming van sy taalkonsepsie as ’n teoretiese formulering. Soos ek ouer word waardeer ek steeds meer sy insig dat Afrikaans ’n Afrika-taal is – nie ’n Europese taal wat per abuis hier beland het nie. Moontlik het hy dit nie altyd toegepas met die konsekwentheid wat so ’n formulering vereis het nie – hy bly ’n skrywer wat deur die wêreld se blik ook veel na homself kyk – maar hy het die uitdaging duideliker uiteengesit as haas enige ander digter.

YT: Kun je in een paar zinnen het grensverleggende en zelfs de iconische betekenis van de dichter Breytenbach onder woorden brengen? Of anders gezegd: hoe zou je zelf voor toekomstige lezers van Breytenbach, in Zuid-Afrika en elders, de poëzie aanbevelen? 

TD: Enkele dae voor Breytenbach se dood het ek ’n gedig ‘liefs nie rooiborsduiwe’ geskryf, opgeneem in Brief op veertigduisend voet. Dit is ’n ietwat aspris en dwarstrekkerige gedig, maar dit is gebou op die feit dat Breyten die woord rooiborsduif sinoniem gemaak het met die liefdesvers, dalk die liefde self. Ek het allermins ’n voorbode gehad van sy komende dood, maar die samevalling het iets onverwags gedoen: dit het die gedig terugwerkend ’n afskeid gemaak wat ek nie van plan was om te skryf nie. Dis dalk wat ek uiteindelik oor sy werk kan sê: Breytenbach word ’n digter wat jou reeds voor sy dood in die rou laat – nie deur die feit van sy sterwe nie, maar deur die volheid van wat hy agtergelaat het.

Dit is ook my antwoord op die vraag hoe ’n mens sy werk aanbeveel. Breytenbach het ’n reservoir van beelde geskep wat ons, sonder om dit altyd te weet, gebruik en sal bly gebruik. ’n Rooiborsduif het meer geword as ’n voël. ’n Ysterkoei is nou iets wat sweet. Ons peusel in Afrikaans in ons igloo’s, en ons verf ons sinkende skepe blou. Digters plant veertjies en wag vir kêk-kôk hoenders om op te kom. Breyten het ons beeldwêreld verbreed op ’n manier wat onomkeerbaar is – en dit is iets wat ’n leser voel nog voor hy dit kan formuleer.

Vir lesers buite Suid-Afrika sou ek dalk aanraai om te begin by Om te vlieg of Lotus of natuurlik Nege landskappe. En ek sou sê: let op die klank eerder as die politieke lading, luister eers voor jy die betekenis probeer vaspen. Die res sal volg. Want hier is ’n digter wat die spanning van sy eie bestaan iets universeel gemaak het. Hy is nie slegs te verstaan as ’n Suid-Afrikaner in ballingskap nie, maar as iemand wat die menslike toestand van verstrooiing, van tuisteloosheid, van die soeke na ’n taal vir die onuitspreeklike – met ongewone presiesheid en skoonheid vasgevang het.

liefs nie rooiborsduiwe

moenie my van rooiborsduiwe vertel nie
daai vet rooi rosette op die lapelle van die lug
moenie noem dat hulle mooiweer bring of briewe
of verduidelik hoe hul skaduwees
oor leiklipstoepe strek nie
ek weet reeds te veel van rooi-geringde oë

vertel my eerder van jou hande
jou rougeskropte kneukels
en deure wat geswel het in die raam
vertel my van die yskas se gerittel
in die huis waarin jy grootgeword het
en lig wat onhoudbaar roer oor jou plafon

onthou veral die afwesigheid
van enigiets selfs rofweg soos ’n duif
en vergeet vir eers van hul vlerke
of dinge wat vlerke weg kan vat
vertel my liewer wat gebly het:
die wit koors van kamers
die fietsie wat jy nooit sou kry nie
die woorde wat jy enduit moes verbeel

en los die duiwe vir die toemaar-toemaar van die lug

Lees ook:

Breyten schrijven #31: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Churchil Naudé

Breyten schrijven #30: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Zandra Bezuidenhout

Breyten schrijven #29: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met H.J. Pieterse

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top