Vooraf moet ek sê dat my gebaretaalvaardighede verweer en versteen is. Maar wanneer ek geleentheid kry om meer te hoor oor enige navorsing oor gebaretaal, is ek die ene ore. Hierdie stuk is dus geskryf deur ’n belangstellende buitestaander en nie deur ’n kenner of navorser nie.
In Januarie tydens ’n kongres in Stellenbosch het Myriam Vermeerbergen ’n lesing gegee oor Vlaams Gebarentaal oftewel VGT. Ek het dit besonder interessant gevind. Twee vrae het in my kop gedraai: Hoe lyk die situasie in Wallonië en wat gaan aan in Suid-Afrika?
Ek sê by voorbaat jammer as ek nie alles kan onthou wat Vermeerbergen gesê het nie. Die vraag van die Vlaamse regering was eenvoudig: Is VGT ’n taal? Navorsing is gedoen en ja, VGT is ’n taal. Dit klink miskien logies dat Gebaretaal ’n taal is, maar daar is baie mense wat nie so dink nie. Soortgelyke navorsing, as ek reg onthou, is ook om dieselfde redes in Wallonië gedoen met die Franse variëteit van Gebaretaal, genoem Langue des signes de Belgique francophone (LSFB).
Toe ek jonger was, het ek Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) geleer, insluitend die grammatika daarvan. Vir my is dit dus logies dat Gebaretaal ’n taal is, afgesien van variasie en dialekte. Destyds was daar verskeie variasies van Gebaretaal in Suid-Afrika, insluitend Afrikaans, Engels, Venda en St Vincent Gebaretaal (St Vincent is ’n skool vir dowes). Signed English word hier buite rekening gehou, omdat dit gebare is wat Engelse grammatika volg. Die verskille tussen hierdie variëteite is/was groot in vele gevalle. Iemand wat Engelse Gebaretaal in Kaapstad gebruik het, sou dalk nie suksesvol kon kommunikeer met iemand wat Johannesburgse Engelse Gebaretaal gebruik nie.
Ek weet helaas nie wat die situasie tans is in Suid-Afrika nie, maar ek glo nie dat dit veel anders is as toe ek jonger was nie. Gebaretaalnavorsers kan my reghelp as ek verkeerd is. Julle kan my dan ook vertel of daar steeds so ’n groot verskil tussen Johannesburgse en Kaapse Engels is.
’n Soortgelyke maar minder gekompliseerde situasie kom in België voor met 5 variëteite van VGT. Hierdie 5 variëteite is streeksdialekte en nie verskillende tale nie. Taalvariasie gebeur konstant in gesproke taal (soos Plat Antwerps, West-Vlaams, of Amsterdams in Nederlands). Iemand wat goed Nederlands kan praat, kan met inspanning Plat Antwerps verstaan, want dit is ’n variasie van Nederlands. Dieselfde kan nie oor Koreaans gesê word nie, omdat dit ’n ander taal is. Dit is hoe die situasie tans is met VGT en sy variëteite.
Vermeerbergen het my ook vertel dat LSFB nou verwant (en soms dieselfde is) as VGT. Omdat België ’n federale staat is, is daar dus hierdie (politiese) skeiding tussen VGT en LSFB. Of hierdie twee variëteite twee tale sou kan word, weet ek nie. Dit sou wel interessant wees om te sien hoe die situasie ontwikkel.
Dis anders hier in Suid-Afrika omdat daar in Suid-Afrika verskillende gebaretale is. Ons het natuurlik ook 11 amptelike gesproke tale in vergelyking met die drie gesproke tale van België. Daar is ook minderheidstale in Suid-Afrika, soos byvoorbeeld die Khoisan tale, Oerdoe en vele ander. Die situasie is dus meer kompleks hier as in België, maar kan ons iets leer uit die situasie in België?
In België word daar baie navorsing gedoen oor Gebaretaal. Daar is ’n VGT sentrum en ’n VGT korpus. Jy kan VGT op universiteit neem as vak. Myns insiens is ons nie te ver agter België op akademiese vlak nie.
By NWU en WITS kan jy SAGT studeer. Daar is ook kursusse in Gebaretaal by ander instansies. Ek weet nie of daar ’n SAGT korpus is nie, maar daar is ’n woordeboek by realsasl.com. Ongelukkig kan ek nie kommentaar lewer oor die akkuraatheid of kwaliteit van die woordeboek nie, maar dis beslis meer hulpbronne as wat daar destyds was.
Die internet het die verspreking van ’n woordeboek van hierdie aard makliker gemaak, omdat die lemmas as video’s weergegee word. Dis beter as die destydse illustrasies wat soms nie besonder duidelik was nie. Jy kan ook natuurlik gebaretaal noteer met die SAMP metode. SAMP staan vir “shape, area, movement and position”. Dit is ’n langsame proses. Uiteindelik het plakkate met foto’s die lynsketse vervang, maar dit was die laaste innovasie wat ek beleef het. Ek het verdwyn uit die wêreld van die dowe. Ek het vir ’n wyle teruggekeer toe ek een jaar by Joburg Pride ’n groep dowes raakgekuier het. Ons het lekker gesels, maar dit was dit.
Ek het Vermeerbergen se lesing baie geniet. Ek het ook besef dat ek veel meer weet van Neerlandistiek as van Gebaretaal. Niks fout nie. Ons kan nie almal alles weet nie. Dit sou vreeslik vervelig wees.
Ek wou werklik op ’n stadium ’n tolk word maar dit het nie gebeur nie. Ek het nou die geleentheid om dalk ’n gesprek te begin oor Gebaretaal in Suid-Afrika, België, Nederland en dalk die ganse wêreld. Dit klink dalk ambisieus, maar ek wil nie die meisie wat ’n tolk wou word, teleurstel nie. Sy wil steeds alles weet van Gebaretaal af.

