
Van pakstoor na die Saint Helena Museum
Soms dink ’n mens nie twee maal na oor internasionale gedenkdae nie. Maar in 2025, met Internasionale Museumdag op 18 Mei, staan ek in die museum op Saint Helena-eiland in die Suid-Atlantiese Oseaan en besef opnuut hoe belangrik dit is om te onthou. Alles wat vir hierdie eiland kosbaar is, het binne die vier mure van ’n ou pakstoor ’n rusplek gekry – met die oseaan, skeepsvaart en visvang as die goue draad.
Vanjaar staan ek enkele weke voor die 2026-vieringe in ’n ou, koel geboutjie in Copala in Concordia, Meksiko.
Vanjaar se tema was “Museums wat ’n verdeelde wêreld verenig”. Dit beklemtoon museums se potensiaal om as brûe oor kulturele, sosiale en geopolitieke gapings op te tree en sodoende dialoog, begrip en vrede wêreldwyd te bevorder.
Drie jaar gelede het ek in ’n soortgelyke klipgeboutjie in Ysland gestaan: die Westfjords-streeksmuseum in Ísafjörður.
Wat my opval, is dat hierdie kultuurskatte in die hande van jong mans lê: Adam Sizeland in Jamestown (Saint Helena), Gunnar Smári Rögnvaldsson in Ísafjörður en Bravan Jimenez in Copala, Concordia. Al drie help bou aan die toekoms deur die verlede korrek aan te teken.
Hoewel duisende kilometers uitmekaar, is hulle nader aan mekaar as wat hulle besef.
Meksiko

Museo Regional de Concordia
In die skilderagtige dorp Copala in die Sinaloa-streek van Meksiko lê die Museo Regional de Concordia (MURCO): ’n kultuurskat wat die ryk geskiedenis en siel van sy mense bewaar. Die dorp dateer uit 1565 toe die Spanjaarde ’n nedersetting gestig het nadat silwer en goud in die berge gevind is.

Bravan Jimenez
Hierdie museum is ’n lewende historiese monument. Bravan Jimenez verwelkom ons by die deur en vertel dat die gebou in 1888 deur kolonel Ricardo Carricarte opgerig is en meer as ’n eeu lank as die plaaslike tronk gedien het.
“Waar gevangenes eens agter tralies gesit het, stap besoekers vandag vrylik rond om die streeksgeskiedenis te bewonder,” vertel hy.

Ou implemente uit die tronk se geskiedenis
In 2010 is die tronk gesluit en na ’n omvattende restourasieproses om die perseel in ’n kulturele sentrum te omskep, het MURCO op 17 Januarie 2015 geopen. Die gebou behou oorspronklike elemente soos die swaar ysterreëlings en ’n sentrale binnehof, wat ’n unieke atmosfeer en ’n unieke museumervaring skep.
Die museum beskik oor ses kamers wat die geskiedenis van Concordia chronologies vertel, van die pre-Spaanse era tot die moderne tydvak.

Van die opgrawings en gereedskap wat gebruik is
Die versameling van 396 stukke sluit antieke gereedskap van die inheemse bevolking, tradisionele kleredrag, handgemaakte meubels en ’n uitgebreide fotoargief in.
Die doel daarvan is om die identiteit van die mense van Concordia te beskerm.
Jy kan alles in netjiese borde teen die mure en binne vertoonkaste lees, of saam met hom deurstap en na sy vertellinge luister.
Ek vra hom watter waardevolle historiese items uitgestal word. Hy noem antieke gereedskap en artefakte van die inheemse bevolking, tradisionele kleredrag, handgemaakte meubels (waarvoor Concordia bekend is) en ou huishoudelike gereedskap, asook ’n uitgebreide argief van historiese dokumente en foto’s wat die daaglikse lewe, argitektuur en belangrike historiese gebeure van die dorp vasvang.
“MURCO is veel meer as net ’n statiese museum; dit funksioneer as die kulturele hartklop van Concordia. Benewens die permanente uitstallings, bied die museum gereeld tydelike kunsuitstallings, boekbekendstellings, historiese praatjies en opvoedkundige werkswinkels vir die plaaslike jeug aan.
“Dit bied ’n intieme blik op die identiteit van Sinaloa. Dit herinner ’n mens daaraan hoe ’n plek van afsondering en straf omskep kan word in ’n baken van kennis, kuns en gemeenskapstrots.”
Na ons insiggewende kuier saam met Bravan, stap ons eers by die historiese Barok-styl kerk Parroquia de San Sebastián (Sint Sebastiaan-kerk) in, voor ons ’n tradisionele middagete by El Granero Restaurant – wat sedert 1881 sake doen – gaan geniet.
Alles hier is horingoud en jy moet jou trap ken om nie jou enkel op die ou plaveisel te swik nie!
Saint Helena
Die ryk, stormagtige geskiedenis van hierdie afgeleë eiland vind sy tuiste in die Saint Helena Museum. Die verhaal van hierdie merkwaardige instelling weerspieël die eiland se eie reis deur die eeue – van ’n strategiese skeepshawe tot ’n historiese ballingskapoord.

Saint Helena Museum
Die instelling se oorsprong dateer uit 1854 met ’n vroeë openbare museum, wat bekend was vir eksotiese items, soos ’n seeslang en ’n vlieënde akkedis.
Later is kleiner museums gestig, waaronder een by Plantation House (die goewerneurswoning) en selfs Longwood House, om Napoleon Bonaparte se ballingskap te gedenk. Uiteindelik is Longwood House self in ’n volwaardige, selfstandige museum omskep om die Franse keiser se ballingskapjare te gedenk.
Lees gerus meer daaroor hier: https://voertaal.nu/aan-die-voete-van-napoleon-se-doodsbed/

'n Model van van Jacob’s Ladder
Erfenisbewaring het in 1979 werklik vlamgevat met die stigting van die Saint Helena Erfenisstigting. Nadat hul eerste tuiste in Broadway House te klein geword het, het die regering die ou 18de-eeuse kragstasie (Old Power House) in Lower Jamestown beskikbaar gestel. Dit is geleë aan die voet van die ikoniese 699 trappe van Jacob’s Ladder.
Op 21 Mei 2002 – die eiland se 500ste herdenking – is die nuwe museum amptelik geopen. As jy die trappe suksesvol geklim het, kan jy ’n welverdiende stempel by die museum kry.
Vandag bewaar die museum sensitiewe artefakte ten spyte van beperkte hulpbronne. Baie van die artefakte kom van skeepswrakke.

Houtsnywerk deur Boere-krygsgevangenes
Die argief bevat foto’s, video’s en unieke skatte soos skeepswrakoorblyfsels en houtsnywerk deur Boere-krygsgevangenes wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1900–1902) op die eiland aangehou is. Jy kan ook hul grafstene elders op die eiland gaan besoek en mens voel onverwags geraak deur dié direkte verbintenis met jou land.

Adam Sizeland
Adam Sizeland wys ons van sy gunstelinge uit die versameling en los ons om self te ontgin. Die slawerny-uitstallings is omvattend en fassinerend.
Toekomstige planne sluit in om die aangrensende Public Works Department-gebou in te lyf om die museum, biblioteek en nasionale argiewe in ’n omvattende kultuursentrum te verenig.
So met al die oplees oor die skepe en hoe na aan die see die mense is, is ek honger. Twee mense wat van skepe, reis en goeie kos weet, is Maureen en Stephen Biggs van Farm Lodge Country Hotel, wat vroeër hul lewens op die RMS Saint Helena geslyt het.
Die RMS Saint Helena het twee primêre roetes gehad: ’n gereelde diens tussen Kaapstad en Saint Helena, met gereelde pendeldienste na Ascension Island. Af en toe het dit Walvisbaai, in plaas van Kaapstad, ook bedien. Daar was ook jaarliks reise na Tristan da Cunha (tot 2004) en hulle het ook Portland, Dorset twee keer per jaar besoek en dan ook by die Spaanse hawens van Vigo en Tenerife aangedoen.
Met die koms van die lughawe en weeklikse vlugte, is die skip verkoop en baie mense wat vir jare daarop gewerk het, moes elders heenkome soek. Farm Lodge Country Hotel, geleë op ’n 10 hektaar voormalige plantasieplaas met ’n Georgiaanse plaashuis wat in ongeveer 1670 gebou is as ’n Oos-Indiese Kompanjie-huis, is die Biggs-egpaar se ander heenkome.
Hulle het vir meer as 25 jaar op die skip gewerk. Maureen was teen die einde van haar tyd op die skip die assistent-hoteldiensbestuurder.
Steve en Maureen se huis is ’n museum op sigself. Die mure is oortrek met memorabilia van bekende besoekers, foto’s uit Steve se kinderdae en sy jarelange diens in die Britse vloot.
Benewens die huis se geskiedenis, is daar soveel interessante meubelstukke, waaronder Napoleon Bonaparte se chez lounge en sy wynverkoeler. Albei uit swaar soliede hout gemaak. Steve het albei restoureer en wys hulle met trots aan besoekers uit en nooi gul dat jy jou moet verbeel jy is die koningin of keiserin en vlei jouself neer!
Hul unieke drie- tot vyfgang-spyskaart – met die meeste van die produkte wat op die perseel gekweek word, insluitend hul eie Arabiese koffie van 450 koffiebome – bied ’n ervaring wat nie misgeloop moet word nie!
Dis ’n wonderlike terugreis in tyd – buite die mure van ’n museum – om daar by hulle te kuier.
Ysland
Die Westfjords-streeksmuseum (Byggðasafn Vestfjarða) in Ísafjörður is geleë in Neðstikaupstaður, die oudste behoue dorpskern in Ysland.

Die Westfjords-streeksmuseum
Die vier oorblywende houthuise is deur Deense handelaars gebou: Krambúðin (1757), Faktorshúsið (1765), Tjöruhúsið (1781) en Turnhúsið (1784), wat vandag die museum huisves. Dit spog met drie verdiepings en ’n toring met ’n ou loergat waarmee die handelsbestuurder destyds skepe dopgehou het.
Tjöruhúsið is die bekende seekosrestaurant, waar jy soos eeue gelede aan lang gemeenskaplike tafels kuier.
Die museum fokus op die streek se maritieme erfenis, visserye en die kuslewe.

Gunnar Smári Rögnvaldsson
Gunnar Smári Rögnvaldsson wys ons rond. Op wit lapskerms speel ou argieffilms uit die 1900’s wat ’n verstommende blik gee op hoe mense 1 000 jaar gelede op hierdie onherbergsame eiland oorleef het.
Op die eerste vloer kan jy ou klere aantrek en selfies neem en in die hoek ’n interessante film kyk oor die geskiedenis van Ysland se vissers.
Die idee vir die museum het in 1939 by Bárður G Tómasson ontstaan om ’n ou bootmodel te restoureer. Die museum is in 1941 amptelik gestig met Bárður as eerste voorsitter.
“In 1947 het die stadsraad van Ísafjörður en die distrikskomitees beheer van die museum oorgeneem. Dit was egter eers in die vroeë 1970’s, met die grootskaalse restourasie van die historiese terrein Neðstikaupstaður, dat die museum sy permanente tuiste gevind het. Die museum het uiteindelik op Sjómannadagurinn (Vissermansdag) in 1988 sy deure geopen.”

Die toneeltjie neem jou terug na die sestigs in Skandinawië.
Die museum beskik oor ’n ryk versameling artefakte wat nou verbonde is aan die dorpe in die Westfjords. Die uitstallings sluit bootenjins, modelle, ou duikpakke, visgerei en tegniese toerusting in. Unieke skatte wat deur duikers naby ou skeepswrakke in die fjorde gevind is, word ook uitgestal.
Die museum het twee unieke projekte: bootbewaring en ’n trekklavier-versameling. Ou bote word streng tot hul oorspronklike, seevaardige toestand gerestoureer om tradisionele vaardighede aan die jeug oor te dra. En wat in 2008 begin het met ’n skenking deur Ásgeir S Sigurðsson en Messíana Marsellíusdóttir van 140 trekklaviere, het gegroei tot meer as 190 instrumente, insluitend ’n seldsame eksemplaar uit 1830.
Die museum is slegs in die somer oop en lok duisende besoekers – baie van luukse passasierskepe soos Norwegian Cruise Line, wat my in Meksiko laat beland het.
’n Plaaslike teatergroep in nasionale kleredrag vermaak mense deur die vroeë 19de-eeuse lewe uit te beeld, en sedert 2002 word ’n jaarlikse soutvisfees gehou. Hul resepteboek met plaaslike soutvisresepte is ’n heerlike soewenier.
By al drie plekke is kos – en veral vis – onlosmaaklik deel van die geskiedenis. Hoe lekker dus om na elke besoek by die dorp se bekendste – en historiese restaurant – te kon gaan eet.
Kitsfeite
- Besoek www.museumofsainthelena.org/ vir meer oor die Saint Helena Museum in Jamestown en vind by https://www.concordia.gob.mx/551-murco/ meer oor die museum in Copala, Meksiko uit. By https://www.nedsti.is/ kan jy meer leer oor die Westfjords-streeksmuseum in Ísafjörður.
- Norwegian Cruise Line (NCL) doen by honderde stede regoor die wêreld aan op al sewe kontinente – van Ysland tot Alaska; Jokohama tot Casablanca; en New York tot Ushuaia. Meksiko was vir ons ’n belewenis. Vir al die interessante Meksikaanse dorpe wat jy danksy die vaarte op hul luukse skepe kan besoek, loer by https://www.ncl.com/no/en/cruise-destinations/mexico-cruises
Foto’s: Clifford Roberts (Canon R6)

