Persverklaring: Neerlandistiekdag 2026 en die Alfred Schaffer-erelesing

  • 0

  • Marius Crous: Omdat het zo normal lijkt, oor die poësie van Alfred Schaffer
  • Mustafa Stitou in onderhoud met Chandé van der Westhuizen
  • Gedigvoorlesings deur Mustafa Stitou, Marius Crous en Naidene Lottering

In samewerking met die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) bied die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) vanjaar weer ’n Neerlandistiekdag aan. Dié geleentheid, met ’n baie indrukwekkende program, vind plaas op die oggend van Saterdag 19 September by SASNEV.

Die voorlopige program sluit in as die hoogtepunt van die dag die driejaarlikse Alfred Schaffer-erelesing wat deur Marius Crous gelewer word. Buiten natuurlik vir Alfred Schaffer, is die eregas vir die dag die Nederlandse digter Mustafa Stitou. Chànde Frania Van Der Westhuizen dosent van die UWK sal ’n onderhoud met Stitou voer, waarna poësievoorlesings deur Stitou, prof. Crous (’n mede-digter) en die ander uitgenodigde gas, Naidene Lottering, sal volg.

Die Neerlandistiekdag is ’n jaarlikse instelling en feestelike byeenkoms in Suid-Afrika wat die bande tussen die Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse taal-, letterkunde en kultuur vier en versterk. Dit word ten nouste ondersteun deur die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) in samewerking met die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) en die internasionale Nederlandse Taalunie.

Die Alfred Schaffer-erelesing is ingestel om die Suid-Afrikaanse Neerlandistiek te bevorder en te vier. Hierdie driejaarlikse lesing is deur die SAVN in die lewe geroep, en die eerste uitgawe is in 2023 in samewerking met SASNEV aangebied. Die lesing fokus op die akademiese en kulturele bestudering van die Nederlandse taal- en letterkunde in Suid-Afrika, asook die skakel met Schaffer se eie werk. Gevolglik sluit die inhoud ten nouste aan by sy kreatiewe skryfwerk, vertalings en akademiese navorsing. Deur hierdie inisiatief word die literêre en akademiese bande tussen Suid-Afrika, Namibië, Nederland en Vlaandere versterk.

Dit is vir SASNEV ’n groot voorreg om vanjaar weer by die Neerlandistiekdag en die Alfred Schaffer-erelesing betrokke te wees. Hoewel die dag hoofsaaklik op studente gerig is, is daar ook plek vir SASNEV se gaste. RSVP asseblief vroegtydig om jou plek te verseker.

19 September 2026 10:00-12:30
SASNEV in Pinelands
RSVP info@sasnev.co.za

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top