La venue de l’avenir op die Europese Filmfees, ’n kort bespreking

  • 0

La venue de l’avenir
Europese Filmfees

Frankryk / België
Regisseur: Cédric Klapisch
Skrywers: Cédric Klapisch, Santiago Amigorena
Met: Suzanne Lindon, Abraham Wapler, Vincent Macaigne, Julia Piaton, Zinedine Soualem, Claire Pommet
Genre: Komedie, drama
Lengte: 2h 04min (124 min)
Taal: Frans met Engelse byskrifte
Jaar: 2025

La venue de l’avenir is Frankryk se inskrywing op vanjaar se Europese Filmfees hier in Suid-Afrika en een van net vier wat gestroom word vir dié van ons wat nie naby die groot sentra woon, of nie self na ’n grootskerm kan gaan kyk nie.

Ek gaan nie ’n vreeslike lang stuk hieroor skryf nie, want dis goeie, ligte vermaak wat nie tot die dood geanaliseer moet word nie.

Die een ding wat ek wil noem, is dat die Engelse titel Colours of time, wat oral (ook op die filmfees se blad en op IMDb) verskyn, ’n swak vertaling is. ’n Korrekte vertaling van die Franse titel sou wees Die aankoms van die toekoms. Dít sit ’n baie ander spin op hierdie skynbaar ligte film. Gaan kyk dit en geniet die talle verwysings na moderniteit en die toekoms. Neem dan ook die film se inhoud en vra: Waarheen is ons op pad? Of: Wat het ons verloor wat moontlik eenvoudiger was in die verlede?

’n Slim verhaal, goed aangebied

Die film begin in die hede. ’n Aantal mense word deur prokureurs genader weens ’n vervalle huis wat op ’n stuk ongebruikte grond staan ’n paar uur van Parys af. Hulle is geïdentifiseer as die oorlewende familie van die oorspronklike eienaar. Die idee is dat die munisipaliteit die grond by die oorlewende familie wil koop, die stukkende huis wil sloop en ’n winkelsentrum daar bou.

Die familielede, wat nie van mekaar weet nie, stuur vier mense om na die huis te gaan kyk.

Daar is ’n jong fotograaf en filmmaker, ’n veel ouer onderwyser, ’n transportingenieur en ’n byeboer. Hulle is totaal uiteenlopend, ken mekaar nie, maar het nou ’n familieplig om gou na die huis te gaan kyk en namens die familie die verkoop van die perseel deur te haak.

Die huis is erg verwaarloos en duidelik nie meer bewoonbaar nie, maar daar is nog persoonlike artefakte in. Dit is veral die briewe, foto’s en ’n enkele skildery wat die vier ondersoekers se aandag trek.

Ek wil nie te veel oor die res van die speurtog vertel nie, want dit is waar die hedendaagse pret begin. Behalwe nog net dit: Nader na die einde van die film word ’n hallusinaat gebruik deur ’n paar van die hedendaagse karakters. Dit bring ’n oulike metateks na die film. Die kyker moet maar self die oomblik ervaar en dit geniet (en beoordeel).

Die verlede

Ek gee niks weg nie deur te vertel dat ons ook ’n oorspronklike bewoner van die huis en haar vriende leer ken. Op hierdie manier kry ons ’n baie goeie blik op veral Parys ongeveer ’n eeu gelede.

Let op na veral historiese figure wat mens word: Verskeie impressionistiese skilders tree uit die verf, as ek nou ’n stoute metafoor mag gebruik. Vir die fotograwe maak Félix Nadar ’n buiging, en hoe.

Ek dink dit is belangrik om te noem dat Nadar (wie se regte naam Gaspard-Félix Tournachon was) histories ’n baie belangrike rol gespeel het in die byeenbring van die impressioniste. Daar is ’n toneel wat ’n uitstalling van die vroeë impressioniste uitbeeld. Vir diegene wat iets van Nadar se lewe weet, is dit ’n lekker stukkie historiese fiksie. Sou julle niks weet oor Nadar en sy vriende nie, kan julle steeds die film geniet.

Gaan lees dan gerus ’n bietjie oor hulle, sou ek aanbeveel, as julle belangstel. Die film is lig, maar werk op goeie navorsing.

Aktrises

Ek vermoed heelwat mans en vroue sou verlief kon raak op Adèle, die onskuldige meisie met die sterk ken. Sy word gespeel deur Suzanne Lindon. Ek hoop ons gaan nog meer van haar sien in die toekoms.

Dan is daar, in die hede, die sangeres Fleur. Dié aktrise se naam is Claire Pommet. Doen ’n bietjie moeite om na haar musiek te luister; dit is op verskillende stromingsplatforms beskikbaar. Die film maak dit duidelik dat die karakter nie ’n cliché is nie. Ek dink dat diegene wat Pomme se musiek luister, dalk oor die mense self sou kon saamstem. Dis goeie, ligte musiek wat sy maak.

Brose inhoud

Ek gaan ’n laaste klein eiertjie lê. Op die trein is daar ’n bespreking oor digitale inhoud. Die woordspelings wat gebruik word, kom nie heeltemal duidelik oor in die Engels nie.

Inhoud in Frans is contenu. Maar die woord tenu sou vertaal kon word as broos in Afrikaans, iets wat dalk ’n sagte lig op van die verdere tonele sou kon skyn.

La venue de l’avenir is ’n ligte film wat fyn kyk na die brose skeidslyn tussen vandag en gister, maar ook na dit wat môre se mense van vandag sou weet.

Lees ook:

Carice van Houten smeul in A family op die Europese Filmfees

Tiago Guedes’s Aquí is a masterclass in changing one art form into another

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top