
Jan Mutton (voorsitter SASNEV en oudambassadeur vir België), Eureka Barnard (bestuurshoof en projekbestuurder van SASNEV), Peter ter Horst (nuwe voorsitter Zuid-Afrikahuis Amsterdam) en Jan Schinkelshoek (uittredende voorsitter Zuid-Afrikahuis Amsterdam) by die diktee
Die Tweede Diktee vir Afrikaans se finale ronde is Saterdag 10 Oktober 2026 tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees in die Adam Small-seminaarkamer gehou. Dis ’n inisiatief van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in samewerking met die Nederlandse Taalunie, Wes-Kaapse Onderwysdepartement en Penguin Random House en LAPA Uitgewers.
Vier uit die agt onderwysdistrikte was by die dikteefinaal teenwoordig en agt skole het deelgeneem. Swartberg Senior Sekondêr het al die pad van Caledon gekom.
Die diktee het die Week van het Nederlands amptelik afgeskop.
Die wenners is later dieselfde dag tydens die SASNEV-Borrel ná die finale ronde van die Groot Afrikaanse Diktee gekroon en het prysgeld ter waarde van R6 000 ontvang en ook boekpryse. Die vakadviseur wie se distrik die meeste inskrywings gehad het en die onderwyser met die meeste inskrywings het ook elk ’n boekprys ontvang.
Die wenner is Amé Breytenbach van die DF Akademie; Victor Gräbe, hoofseun vir 2027 van die Engels-medium Fairmont High School was tweede, en Euroy Treurnich van Christel House South Africa in Kaapstad was in die derde plek. (Lees meer oor die prysuitdeling by die SASNEV-Borrel hier.)
Jan Mutton (voorsitter SASNEV en oudambassadeur vir België) het aan leerders en gaste vertel: “Die Diktee is verlede jaar by SASNEV in Pinelands gehou, maar was vanjaar op uitnodiging deel van die amptelike Woordfees-program.
“Dié kompetisie is geskoei op die Groot Dictee der Nederlandse Taal wat sedert 1990 in Nederland en Vlaandere aangebied word.
“SASNEV het hierdie tradisie na Suid-Afrika gebring om 'n soortgelyke kultuur- en taalervaring te skep. Die eerste Diktee is op 4 Oktober 2025 gehou ter viering van Afrikaans 100 (100 jaar sedert Afrikaans as amptelike taal erken is) en die 60ste herdenking van die digter Ingrid Jonker se dood.”

Marieta Nel (hoofnasiener) en Immanuel Europa (senior kurrikulumbeplanner Afrikaans by hoofkantoor)
Al agt distrikte het aan die uitdunronde op 27 Mei vanjaar deelgeneem. Die teks is uitgestuur en opvoeders het toesig gehou terwyl die diktee afgelê is. Al die skrifte is deur die hoofnasiener, Marieta Nel, nagesien. Die beste 40 deelnemers is na die finaal genooi.
Altesaam 64 leerders het oorspronklik ingeskryf en Saterdag het 28 in die finale ronde meegeding.
Die diktee werk as volg: ’n Teks van 250 tot 300 woorde word verskeie keer voorgelees en leerders moet mooi luister en dit so akkuraat as moontlik neerskryf. In die proses word woordeskat, taalgebruik en kennis oor leestekens getoets – belangrike vaardighede vir tersiêre studie, die werksplek en die lewe.
Die leerder met die minste foute is as wenner gekroon.
Die kompetisie is gemik op graad 10-, 11- en 12-leerders van verskeie skole in die Wes-Kaap.
Jan het gesê taal bring mense bymekaar en bevorder wedersydse belangstelling en begrip tussen noord en suid, oos en wes. Om aandagtig te luister en dan ’n dikteeteks met pen en papier neer te skryf is ’n stimulerende oefening, veral teen die agtergrond van die vinnige gebruik van sosiale media en die maklike terugval op kunsmatige intelligensie.
“Om goed te skryf, goed te luister, is so belangrik. Ek weet daar is kunsmatige intelligensie. Dis maar ’n klein knoppie op jou rekenaar en jy kan enigiets vra.
“Maar uiteindelik is dit wat jy van elke woord gemaak het. Dit is wat jy met jou persoonlikheid, met die keuse van jou woorde, met die keuse van neologisme, ontleningswoorde, wat belangrik is en dit sal kunsmatige intelligensie nooit kon vervang nie.
“En wanneer julle vir 'n werk aansoek doen, sal daardie verskil wees diegene wat sy eie identiteit, sy eie persoonlikheid in sy werk kan verwoord.”
Jan het gesê Allison Matroos (Departement Afrikaans en Nederlands) het ’n paar maande gelede haar doktorsgraad by Stellenbosch-universiteit gekry. “Sy het al digbundels gepubliseer, sy skryf en sy is ’n regte rolmodel.
“So julle kan maar mooi luister na haar; sy self is ’n jong vrou wat al groot sukses gemaak het met haar taal. [...]
“’n Goeie taalbeheersing en korrekte taalgebruik verryk ’n mens se menswees en voeg waarde toe tot sowel die persoonlike as die professionele lewe."
Jan het daarop gewys dat die teks vir die tweede Diktee spesiaal deur die bekende outeur Nanette van Rooyen geskryf is. “Gewoonlik gee ons niefiksietekste vir mededingers, maar hierdie een is spesiaal vir julle geskryf. En boonop is Nanette een van ons gaste en sy sal self met julle gesels.”
Sy het leerders toegespreek en agtergrond oor reëls van die diktee gegee. “Dis belangrik dat jy die skrywer se naam reg spel, want die skrywer se naam is belangrik wanneer mens skryf. Sy het ook styl bespreek en byvoorbeeld gesê leerders moet goed luister, want as daar ’n nuwe sin is, beteken dit daar moet ’n punt en hoofletter volg. Sy het verder ook die belangrikheid van sinonieme en woordeskat beklemtoon.

Allison Matroos en Nanette van Rooyen
Die teks is daarna drie maal deur Allison Matroos vir leerders voorgelees. Nanette van Rooyen se teks verskyn net hierna.
- Foto’s: Clifford Roberts Canon R6
“Swyg” deur Nanette van Rooyen
Soggens, presies om ses, laai sy my af by die gym. Dit is nog donker. Sy lê haar hand teen my wang. Ek deins weg. Ek wag dat sy om die hoek verdwyn. Sy sal haar Jimny onder die afdak intrek tot presies sewe-uur. Intussen teken my pa blare. Dit is al wat hy doen.
Ek draai weg van die gym. Loop op met die kliptrappe na Chapmanspiek en begin draf. Die donker buitelyne van Hangberg aan die oorkant van die Baai lyk soos die bergprofiel van ’n man se gesig. Lang hare na agter. Neus geboetseer deur tyd. ’n Mond wat lag, maar wat bly skeur tot teen sy oor.
Vanuit ’n misbank oor die see dreun twee vistreilers hawe toe. Ek klouter oor die houtversperring. Waai vir die nagdronk seemanne. Maak trompet met my hande. Ululeer hulle. Die stuurman lê op sy toeter. Manskappe slinger binnegoed vir die meeue wat vis ruik en bedel.
Ek beweeg skuinslyf teen die steilte af. Tot die fynbos my trip. My lyf rolbos na onder. Enkelbeen splinter. Spier en senings flenters. My gesig tref rots en ysterklip. Ek bly lê.
’n Mond vol stukkende woorde.
Toe sien ek hom agter die rooi speldekussings: sy pels roesrooi gekamoefleer. Lang, sterk bene. Klein kop. Kelkore. Swart haarkuifies op die punte. Sis waarskuwend. Naels graaf in die grond. Kop skuur teen ’n boomstomp. Die skel reuk van pis. Die caracal. Die Kaapse rooikat!
Grawe selfoon uit my bra. Aktiveer Find my phone. Die caracal bly staar.
Minute groei arms.
Ma se lover ruik na mens toe hy my optel. Sy oë troos simpatiek. Ma vertrou hom om my te kom haal. Ek wys na die caracal, maar hy is weg. Wat agterbly, is die aardse reuk van muskus. En die spoor van alleen loop.
Lees ook:
SASNEV-borrel: Dit bruis en borrel in Afrikaans en Nederlands by Toyota Stellenbosch Woordfees 2026
