Van Langa na die wêreld: die ritme van Dizu Plaatjies

  • 0

In 1974 was Dizu Plaatjies 16 jaar oud. Langa, met sy strate wat soms in die Kaapse mis verdwyn, was deel van die wêreld waarin hy grootgeword het. Vir ’n jong man met drome en ambisies was die Suid-Afrika van daardie jare egter ’n plek met min ruimte vir keuses en persoonlike ontwikkeling. Min sou hy kon vermoed dat hy dekades later in die einste Langa sou woon as professor Dizu Plaatjies – musikant, akademikus, navorser en bewaker van Afrika se musikale erfenis.(Volgens die familiegeskiedenis is die van Plaatjies afkomstig van ’n Nederlander wat Dizu se voorouers gehelp het om hul beeste terug te kry nadat dit deur die Britte in die Oos-Kaap gekonfiskeer is. Uit dankbaarheid het die hoofman glo sy stam se naam na Plaatjies verander.)

Dizu by sy huisateljee met ’n tradisionele “umrhubhe”

Dizu Zungula Mzikantu Plaatjies is in 1958 in ’n hospitaal in Kaapstad gebore. Twee weke later het sy ouers met hom na Pondoland verhuis. Hy keer egter later terug en voltooi sy skoolloopbaan in Kaapstad. Gedurende sy skooljare en later sou hy gereeld Pondoland toe reis om verder in die Xhosa-tradisies geskool te word.

Dit is gedurende hierdie tye in die hartland van die Xhosas dat hy die eerste keer kennis maak met baie van die tradisionele Afrikamusiekinstrumente, danse, sang en gesegdes. In daardie stadium het Dizu geen idee gehad dat hy eendag ’n musikant sou word nie. Hy vertel dat hy op skool graag ’n argitek wou word. Daardie plan is omvergewerp, aangesien die onstuimige politieke situasie in Suid-Afrika hom sou dwing om ver van die huis af te studeer. Soos baie ander jeug regoor die wêreld het hy en sy vriende ook in daardie tyd geluister na musiek-ikone van die 1960’s en 1970’s soos Jimi Hendrix, Joe Cocker en Grand Funk Railroad. Dizu het toe reeds getoon dat hy wel oor die talent beskik om musiek te maak – hoofsaaklik sing. Hy en ’n groep vriende, onder meer Brenda Fassie se broers, het met elke geleentheid in Langa as sangers opgetree. Hulle het enige geleentheid aangegryp – verjaardae, troues, tuiskomste, ens.

Met Amampondo wou ons geld verdien…

In 1979 stig hy en ’n paar vriende die Afromusiekgroep Amampondo, met hoofsaaklik slaginstrumente. Die doel van Amampondo in die begin was hoofsaaklik om ’n inkomste vir die lede te genereer. Daar was geen groot ambisie vir roem en rykdom nie.

Aanvanklik was hulle net straatmusikante wat in die strate van Kaapstad opgetree het. Hulle het Saterdae vroegggend met die trein na Kaapstad gereis en dan hulle instrumente in die strate oorkant die Goeie Hoop-sentrum opgestel. Hulle kon basies tot eenuur die middag speel en moes dan oppak en terug Langa toe, aangesien swart mense sonder ’n behoorlike werkspermit in hul bewysboek as onwettig in ’n sogenaamde wit gebied beskou is. Die polisie was ’n konstante bedreiging vir die musikante se inkomste en die groep het begin rondbeweeg in Groentemarkplein en omringende stegies.

Later het hulle al die pad na Seepunt en ou die Grand Bazaar-gebied gegaan. Daar het hulle pas goed gevestig geraak toe die polisie toeslaan en hulle verjaag omdat hulle kwansuis ’n hindernis vir mense in die onmiddellike omgewing was. Gelukkig ontferm een van die nabygeleë petrolstasie-eienaars hom oor hulle lot en nooi hulle om binne sy perseel op te tree.

In 1980 tree hulle die eerste keer binnenshuis op by die Scratch Club, wat bekend was as een van Afrika se vroeë reggae- en alternatiewemusiekklubs.

In hierdie tyd word hulle bestuur deur Bruce Gordon, ‘n joernalis by The Argus-koerant. Onder hom het hulle in 1983 hul eerste professionele musiekopname gemaak. Dit was ’n lewende opname wat in Kaapstadse Stadsaal opgeneem is. Later sou Donald Graham van Clarement Records dit verder voer en vir nog twee vrystellings sorg.

Dizu raak merkbaar emosioneel wanneer hy praat oor hulle ateljee-opnames en ook latere optredes toe hulle groot roem verwerf het. Eers kom die lag. Hulle het geen benul gehad wat ’n sound check is nie. Toe word hulle kontrakte aangebied en hulle moes op die stippellyn teken. Dizu vertel met trane in sy oë hoe hulle verkul is uit kopiereggelde en ander betalings. Dis iets waarmee hy tot vandag toe nog stoei.

Amampondo sou voortgaan om internasionale bekendheid te verwerf. In 1988 tree hulle by Nelson Mandela se 70ste-verjaarsdag-konsert by Wembley-stadion in Londen op. Ná Mandela se vrylating uit die gevangenis het hy hulle, volgens Dizu, as ambassadeurs van Suid-Afrikaanse musiek bevorder. In 1996 verteenwoordig hulle Suid-Afrika by die openingseremonie van die Olimpiese Spele in Atlanta. Die groep sou uiteindelik in 65 lande optree en werksessies aanbied – van Japan en Amerika tot Skandinawië.

Ons was ingeloop en het geen idee gehad van kontrakte nie.

In die vroeë 1980’s raak Dizu op ’n informele basis by die Suid-Afrikaanse Kollege vir Musiek (SAKM) aan die Universiteit van Kaapstad betrokke. Vir R96 per maand bied hy praktiese demonstrasies van Afrikamusiekinstrumente aan studente aan. Aanvanklik was dit om net weg te kom uit Langa, waar dinge baie onstuimig was. Hy kom egter hier ook in aanraking met opera en klassieke musiek. Later sou sy liefde vir opera oorspoel na sy huis en familie in Langa en die bure wat hom somtyds skeef aangekyk het oor sy musieksmaak!

’n Belangrike wending kom in 1992. Dizu is op daardie stadium in New York, waar hy met fondsinsameling besig was, toe professor James May hom terugroep Kaapstad toe vir ’n onderhoud vir ’n permanente akademiese aanstelling. May, ’n prominente musiekwetenskaplike en dekaan van die kollege, sien besondere potensiaal in hom. Hy moedig Dizu aan om sy akademiese kwalifikasies verder uit te bou. Wat as ’n informele betrokkenheid begin het, ontwikkel nou in ’n volwaardige akademiese loopbaan. Met die koms van demokrasie in 1994 en Dizu se betrokkenheid by die SAKM het Dizu se vlam vir Amampondo begin verdoof.

Met ’n van soos Plaatjies glo ek daar is net een ras …

As ’n musiekdosent het hy groot name afgerig, soos Jimmy Dludlu, Judith Sephuma en die saksofoonspeler Buddy Wells. Sy album Ubuntu – The Common String behaal reuse sukses met die vrystelling in 2015 en wen ’n Sama in 2016. Sy internasionale loopbaan laat mens wonder of hy nie, soos Johnny Clegg, soms groter bekendheid buite Suid-Afrika geniet as tuis nie – veral in Frankryk en ander dele van Wes-Europa.

Ná die onderhoud stap ons saam na die plaaslike kunssentrum in Langa. En almal ken vir Dizu. Selfs die skoolkinders.

Die man het ’n groot, warm hart. Wat ’n vyfminuutstappie moes wees, verander in ’n halfuur se oefening in menseverhoudinge. Almal word met die hand gegroet, en wanneer die vroue naderkom, word die Dizu-charm-kraan behoorlik oopgedraai!

Daarvan kan die vroue en kinders in sy lewe getuig!

Dizu is deesdae “afgetree”, maar “rus” is nie juis deel van sy woordeskat nie. Hy het steeds sy eie Afrika-ensemble, Ibuyambo, met wie hy van tyd tot tyd optree. Elke nou en dan besoek hy ook die SAKM om ’n handjie by te sit. Sy ateljee is vol tromme, mondboë en allerhande musiekinstrumente wat hy self maak. In die agterplaas hang beesvelle om verwerk te word. Vriende en kennisse kom daagliks by die huis inloer vir raad of om vir hom ’n instrument te wys.

Dis die oeroue ritme van Afrika wat steeds deur Dizu se are bruis.

  • Teks en foto’s: Stephen Fourie. Onderhoud gereël deur Jacky Lourens (www.getthepicture.co.za).
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top