
Beste voornemende deelnemer
Dankie vir jou belangstelling in die Jongerenprojek. Hierdie dokument bevat al die belangrike inligting betreffende die beplande reis in 2027.
Vir vinnige toegang tot die aanlyn aansoekvorm: https://forms.gle/BMWpeCwVTbXAQHDAA
1. Agtergrond: Die Jongerenprojek (JP)
Die Jongerenprojek (JP) vind sedert 1976 jaarliks plaas. Die program roteer om die beurt – een jaar lê deelnemers uit Nederland en Vlaandere besoek af aan Suid-Afrika en Namibië, waarna ’n ander groep Suid-Afrikaners en Namibiërs die daaropvolgende jaar in die Lae Lande ontvang word. Die JP is in kern ’n uitruilprogram waardeur daar gepoog word om deelnemers ’n begrip te gee van die onderliggende verhouding wat daar tussen die Lae Lande en Suider-Afrika bestaan – soos in die besonder vergestalt word in die taalbande tussen Nederlands en Afrikaans. Die hoop is om ’n wedersydse begrip en waardering vir die Europese en Suider-Afrikaanse kulture te ontwikkel, omdat deelnemers deur hulle sustertale relatief maklik kan kommunikeer en sodoende mekaar se wêrelde – en die gedeelde geskiedenis daarvan – kan ontdek.
Tydens die toer bly die studente by gasouers en in koshuise, en besoek organisasies en instansies wat ’n diepgaande kennismaking met die Lae Lande verseker. Die voertaal is Afrikaans en Nederlands – die Nederlandse taalgebied vorm so op ’n relatief eenvoudige manier ’n venster op Europa.
In die verlede het die JP begin in Vlaandere met ’n somerskool, waar in lesings oor die Lae Lande se ekonomie, politiek, letterkunde en regsstelsel ’n raamwerk geskep word. Besoeke aan dorpe en stede, asook fietstogte is hierby ingesluit. Tydens die daaropvolgende weke het die studente by gasouers in verskillende Vlaamse en Nederlandse stede gebly. Voorbeelde van items wat tipies by die program ingesluit word sluit in: besoek aan ’n Nederlandse skool en/of universiteit, museums, die parlement, gesprek by ’n vakbond, besoek aan ’n polisiekantoor, speurtog deur Amsterdam, lesings, kulturele aktiwiteite, vrye tyd, ens.
In Nederland en Vlaandere word die program georganiseer deur die Stichting Zuid-Afrika Huis en die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuur Stichting. In Suid-Afrika word die reëlings behartig deur die Jongerenprojeknetwerk.
Die Jongerenprojeknetwerk (JPN)
Die JP-Netwerk is ’n organisasie wat meestal uit alumni wat die JP meegemaak het bestaan, en daarmee getaak is om die Suid-Afrikaanse aflewering van hierdie uitruilprogram te reël. Hierdie verantwoordelikhede sluit in die samestelling, organisering en uitvoering van die program, die fasilitering van gasouers, en skakeling met belanghebbende partye met die oog op befondsing van die program.
Visie
Om deelnemers ’n begrip te gee van die onderliggende verhouding wat daar tussen die Lae Lande en Suider Afrika bestaan – soos in die besonder vergestalt word in die taalbande tussen Nederlands en Afrikaans.
Die hoop is om ’n wedersydse begrip en waardering vir die Europese en Suider-Afrikaanse kulture te ontwikkel, en gemeenskaplikheid tussen Suid-Afrika, Namibië, Nederland en België te bevorder deur middel van ’n reis:
- met ’n sterk akademiese komponent; en
- wat deur skakeling met uiteenlopende organisasies/instansies ’n veelheid van perspektiewe aan reisigers bied.
Missie
Om ’n begrip vir die herkoms, huidige wese en verdere ontwikkeling van Afrikaans as taal en kultuur (of kulture), die sosiale, politieke en ekonomiese ruimtes waarin Afrikaans uitgeleef word en die verhoudinge wat Afrikaans en Afrikaanssprekendes met ander taal- en kultuurgroepe in Suid-Afrika het, te fasiliteer. Dit word gedoen deur:
- Deelnemers aan Afrikaans in al sy variasies en Afrikaanssprekendes (bruin, swart, wit, eerstetaal, tweedetaal, ens.) bekend te stel.
- Deelnemers aan die verskillende en dinamiese mediums, plekke en kontekste waardeur en waarin Afrikaans in Suider-Afrika geleef, gestudeer, gewerk en gevier word, bloot te stel.
- Konstruktiewe, kritiese gesprekke rondom historiese en aktuele kwessies rakende Afrikaans, Afrikaanssprekendes en hulle kontekste te fasiliteer.
2. Deelname en aansoekprosedure
Deelnemers
Kandidate wat aansoek doen om aan die program deel te neem moet geregistreer wees by ’n hoëronderwysinstelling en moet reeds hulle tweede studiejaar geslaag het.
Die voertaal van die toer is Afrikaans en Nederlands. Deelnemers moet Afrikaans in so ’n mate magtig wees (basies op die vlak van huistaal), dat hulle Nederlands sal kan verstaan ten tye van die toer.
Datums
Die JP-reis word beplan vir Junie/Julie 2027 en die vasgestelde datums sal so spoedig moontlik gekommunikeer word. Dié datums is onderhewig aan die beskikbaarheid van vliegtuigkaartjies. Die sluitingsdatum vir die aansoekprosedure is 12 Maart 2027.
Aansoek
Deelname geskied by wyse van aansoek en keuring deur die JPN se uitvoerende komitee. ’n Motiveringsbrief (maksimum drie bladsye), ’n bondige CV (maksimum twee bladsye + akademiese rekord + bewys van registrasie) en ’n verwysingsbrief van ’n personeellid by die bepaalde instelling moet die aansoekvorm vergesel wat by die volgende skakel beskikbaar is: https://forms.gle/BMWpeCwVTbXAQHDAA
Kostes
Die deelnemersfooi is vasgestel op R 30 000. Dit sluit in:
- vlugte vanaf O.R. Tambo na Brussel/Amsterdam en terug;
- alle vervoer en verblyf ter plekke,
- die meeste etes,
- toegangsfooie en kostes vir aktiwiteite wat in die program opgeneem is.
Die volgende uitgawes word nie ingesluit nie:
- visumkostes (eventueel paspoort),
- vervoer na en van O.R. Tambo, en
- sakgeld.
Hierdie kostes (vervoer van buite Gauteng/O.R. Tambo toe uitgesluit) sal tussen R 5 000 en R10 000 beloop.
Daar word voorgestel dat studente self vir borge soek (bv. vanaf hulle tersiêre instelling of verwante instellings). Daar is egter bepaalde befondsingsmoontlikhede, en die JPN-keuringskomitee is bereid om verdienstelike kandidate op aanvraag by te staan in hierdie verband.
3. Kontakbesonderhede
Vir navrae kontak:
- Shawna-Leze Meiring (ondervoorsitter): +27 84 302 9756 / navrae@jpnsa.co.za / jpnetwerksa@gmail.com
- DJ Cloete (voorsitter): +27 83 389 8000 / navrae@jpnsa.co.za / jpnetwerksa@gmail.com
- Voltooi die aansoekvorm by die volgende skakel: https://forms.gle/BMWpeCwVTbXAQHDAA
Vriendelike groete
DJ Cloete
Voorsitter: Jongerenprojeknetwerk

