Ace Magashule moet op die rooi tapyt verskyn

  • 0

Die omstrede sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, is deur die ANC aangesê om binne die volgende week voor die party se integriteitskomitee te verskyn.

Verskeie koerante het Donderdag berig oor ’n brief wat in hierdie verband aan Magashule gestuur is.

IOL berig dat hulle in besit is van die brief. Die brief, wat na bewering aan lede van die media gelek is, sê die integriteitskomitee het gehoop Magashule sou reeds Saterdag voor die komitee verskyn.

Aangesien daar reeds ’n vergadering van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) vir die naweek geskeduleer is, is hy versoek om enige tyd wat hom volgende week pas, voor die komitee te verskyn. Hy is aangesê om te bevestig wanneer hy beskikbaar sal wees.

Ook die Daily Maverick het Donderdag berig oor die komitee se versoek aan die voormalige Vrystaatse premier, oor wie se kop daar ’n swaard van beweerde korrupsie hang. Die koerant het breedvoerig aangehaal uit die brief wat glo aan hom gestuur is.

Die joernalis Ferial Haffajee van die Daily Maverick het getwiet dat die tafel gedek is vir ’n lewendige spesiale antikorrupsievergadering van die party se NUK-vergadering.

Volgens Haffajee moet Magashule onder andere vrae beantwoord oor uitlatings wat hy tydens ’n TV-onderhoud gemaak het. Hy het verlede maand aan Newzroom Afrika gesê hy sal nie bedank of sy pos ontruim as gevolg van verskeie bewerings teen hom oor beweerde korrupsie toe hy premier van die Vrystaat was nie.

Daar was die afgelope tyd uit verskeie oorde druk op die ANC om teen Magashule en ander hoëprofiellede van die party wat van korrupsie beskuldig word, op te tree. Die party het onlangs self erken dit staan in die beskuldigdebank en in ’n verklaring gesê hy hang sy kop in skaamte daaroor.

Daar word berig dat die NUK se spesiale vergadering die naweek ook sal aandag gee aan die voormalige burgemeester van eThekwini, Zandile Gumede, wat op borgtog uit is vir ’n korrupsiesaak wat verband hou met ’n tender van miljoene rand en desnieteenstaande in KwaZulu-Natal se wetgewer ontplooi is.

President Cyril Ramaphosa het intussen gesê dit is skandelik dat korrupte mense voordeel trek uit fondse wat bestem was om burgers teen die koronaviruspandemie te beskerm. Ramaphosa het Donderdag vrae in die Nasionale Vergadering daaroor beantwoord. Hy sê hy besef dat Suid-Afrikaners en parlementslede woedend is oor die plundering van COVID-19-fondse. Volgens hom het die regering verskeie maatreëls ingestel om nie net sulke misdade te ondersoek en te vervolg nie, maar ook om korrupte aktiwiteite te verhoed. Hy sê die Spesiale Ondersoekeenheid het magtiging om enige bewerings wat verband hou met die misbruik van COVID-19-fondse te ondersoek.

Die President het egter ’n vraag gesystap oor of hy van mening is dat Zandile Gumede ’n lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer moet wees. RSG berig die vraag is twee keer deur die tussentydse leier van die DA, John Steenhuisen, gevra. Ramaphosa het volgehou dat die saak deur die ANC hanteer word.

Die Nasionale Mynwerkersunie (NUM) het hulle in ’n mediaverklaring by die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, biskop Thabo Makgoba, geskaar wat gesê het politici wat na bewering geldmaak met korrupsie tydens COVID-19, is besig met volksmoord.

Die NUM sê in hul verklaring korrupsie is ’n politieke probleem en dit verg ’n politieke oplossing. Daarom steun hulle president Ramaphosa se brief vroeër die week waarin hy sê lede van die ANC oor wie se kop daar ’n wolk van beweerde korrupsie hang, moet hul poste ontruim en nie wag totdat alle regsprosedures uitgeput is nie.

Lees ook 

ANC gekap omdat lede wegkom met korrupsie

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top