Ace Magashule se uurglas loop leeg

  • 0

Die volgende 30 dae gaan deurslaggewend wees vir die ANC en die verskillende faksies wat veg om beheer van die land se regerende party. Alles dui daarop dat die omstrede sekretaris-generaal, Ace Magashule, se uurglas uiteindelik besig is om leeg te loop.

Die vraag is hoe hy en sy ondersteuners die volgende maand gaan reageer nadat hy Maandagaand effektief die trekpas gekry het.

Ace Magashule (Fotobron: Gangster state – unravelling Ace Magashule’s web of capture deur Pieter-Louis Myburgh (Penguin Random House, 2019))

President Cyril Ramaphosa en diegene wat hom ondersteun het ’n deurslaggewende oorwinning behaal toe die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) besluit het Magashule moet binne 30 dae sy pos ontruim, anders sou hy geskors word.

Dieselfde reëling geld ook vir elke ander ANC-lid wat strafregtelik aangekla word van korrupsie of ’n ernstige misdaad. Die besluit volg na ’n stormagtige NUK-vergadering wat verlede Vrydag begin en tot na die naweek voortgeduur het. Daarmee het Ramaphosa sy greep op die ANC aansienlik versterk. Dit is slegte nuus vir diegene in die party wat vermoedelik van Ramaphosa ontslae wil raak.

Toe daar nie konsensus bereik kon word oor ’n voorstel dat diegene wat van korrupsie of ernstige kriminele oortredings aangekla is, binne sewe dae opsy moet staan nie, het die vergadering in chaos ontaard. Uiteindelik moes hulle verdaag sodat daar eers verder agter die skerms gekoukus kon word in ’n poging om tot ’n vergelyk te kom.

Daar is in ’n stadium selfs bespiegel dat Magashule se ondersteuners uit protes uit die NUK sou bedank as hulle nie hul sin kry nie. Die plan was glo om sodoende die NUK lam te lê en ’n vroeë leiersverkiesing af te dwing.

Uiteindelik het Ramaphosa en sy faksie die stryd gewen. Die enigste toegewing wat hulle gemaak het, is dat diegene wat opsy moet staan, 30 dae gegun word om met voormalige leiers te konsulteer. In effek beteken dit dat Ace Magashule met oudpresident Zuma kan beraadslaag oor wat hom nou te doen staan. Hy sal moet besluit of hy hom aan die NUK se besluit gaan steur en sy pos gaan ontruim en of hy gaan wag dat die party hom skors. In albei gevalle beteken dit ’n groot terugslag vir hom en die res van die Zuma-faksie.

Ramaphosa het dit baie duidelik gemaak dat die 30 dae nie beteken die besluit dat sekere mense opsy moet staan, hersien kan word nie. Die besluit is finaal, het Ramaphosa na die tyd in ’n toespraak aan die land benadruk.

Dit laat die vraag wat Magashule nou gaan doen en of hy nog enige kaarte in sy mou het om sy bas te probeer red. Dit lyk egter nie so nie. Sy uurglas is uiteindelik besig om leeg te loop binne die ANC se magstryd.

Indien hy sou weier om self sy kantoor te ontruim, is die tafel gedek vir ’n moontlike bloedige stryd tussen die opponerende faksies in die ANC wanneer hy geskors word, net soos destyds toe Julius Malema uit die party geskors is.

Die NUK het Maandagaand ook ’n paar stewige klappe uitgedeel na oudpresident Zuma sonder om hom by die naam te noem. Die vergadering het sy steun uitgespreek aan die Zondo-kommissie en hom gedistansieer van enige aanvalle op die regbank. Zuma het die afgelope tyd hewig uitgevaar teen beide die regbank en regter Zondo.

Mense soos Carl Niehaus wat oënskynlik verdeeldheid in die party saai om vermoedelik deur middel van die RET-veldtog steun vir Zuma te werf en vermoedelik die tweespalt onder MK-veterane aanpor se vlerke is ook geknip. ANC-lede is streng verbied om hulle verder met RET te assosieer of om die MK-naam te gebruik om faksiegevegte in die party aan te moedig.

Die ronde behoort sonder twyfel aan die Ramaphosa-kamp. Die veldslag is gewen, maar die oorlog duur voort. Die volgende 30 dae en daarna sal bepalend wees vir die koers wat die ANC gaan inslaan. Indien die Konstitusionele Hof boonop besluit Zuma moet tronk toe gaan omdat hy die hof geminag het, sal dit ’n verdere knuppel in die ANC-hoenderhok wees, selfs al sou dit dalk ’n opgeskorte vonnis wees.                                                                                                 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top