Die paleisrevolusie in die ANC kan straks op die spits gedryf word met die hoogs omstrede sekretaris-generaal Ace Magashule, wat vir die hoeveelste keer in die spervuur is binne die ANC.
Ace Magashule (Fotobron: Gangster state – unravelling Ace Magashule’s web of capture deur Pieter-Louis Myburgh (Penguin Random House, 2019))
Dit volg nadat die ANC se werkkomitee Maandag besluit het die bewerings moet ondersoek word dat Magashule betrokke was by die stigting van ʼn nuwe politieke party kort voor die verkiesing.
News24 berig dat oudpresident Kgalema Motlanthe aan die hoof sal wees van die ondersoek. Daar word beweer Magashule het as senior ANC-lid en sekretaris-generaal van die party ʼn direkte rol gespeel in die stigting van die African Transformation Movement (ATM).
Daar word reeds geruime tyd in die media bespiegel dat Magashule ʼn direkte aandeel gehad het in die totstandkoming van die ATM. Die doel van die party, wat uit lojale ondersteuners van oudpresident Jacob Zuma tot stand gekom het, was glo onder andere om die ANC onder die leierskap van president Cyril Ramaphosa te verswak.
Die Sunday Times het vroeër vanjaar berig dat selfs die nuwe party se naam deur Magashule uitgedink is. Die ATM het die bewerings vroeër as fopnuus bestempel en gesê die bewerings word deur Ramaphosa-ondersteuners aangemoedig.
Die ATM, wat ook die steun van kerkleiers geniet wat lojaal is aan Zuma, was voor die verkiesing in die nuus toe hulle glo die hoop uitgespreek het dat Zuma openlik by hulle sou aansluit. Die omstrede sakeman Mzwanele Manyi is die hoof van die ATM se beleidstrategie.
Maandag is berig dat die ANC se top-6 die bewerings in so ʼn ernstige lig beskou dat die besluit om dit amptelik te ondersoek reeds geruime tyd gelede geneem is.
Een van News24 se bronne het aan die nuusagentskap gesê die bewerings teen Magashule kom op bewerings van verraad neer.
Die ATM het in die afgelope verkiesing twee setels in die parlement verower.
Volgens Netwerk24 het die ANC se werkkomitee Maandag op ʼn vergadering besluit dat die bewerings ondersoek moet word. “Ons het saamgestem dat Kgalema die saak dringend moet ondersoek. Dit is verraad indien iemand daarby betrokke is terwyl hy steeds ʼn lid van die ANC is,” het een van die bronne volgens Netwerk24 gesê. Die uitkoms van die werkkomitee se vergadering sal glo volgende Dinsdag met die nasionale uitvoerende komitee (NUK) bespreek word.
City Press het reeds meer as ʼn week gelede berig dat Magashule op ʼn vergadering van die ANC se NUK oor die kole gehaal is oor sy beweerde bande met die ATM en dat die party dit gaan ondersoek.
Magashule bevind hom reeds geruime tyd midde-in die faksiegevegte binne die ANC. Die politieke ontleder Ralph Mathekga het aan die radioprogram Power Drive gesê berigte oor die ondersoek na Magashule se beweerde betrokkenheid by die stigting van die ATM dui op die toenemende spanning binne die ANC.
Die aankondiging van die ondersoek volg ook kort op die hakke van teenstrydige uitlatings wat Magashule gemaak het oor die rol van die Reserwebank wat tot verdere spanning in die ANC gelei het. Mathekga meen die ondersoek is slegs ʼn nuwe episode in die groter stryd wat binne die ANC woed en ʼn plan om Magashule te neutraliseer.
Buro: MvH