Jy is op pad êrens heen, maar jy weet nie wat jy agterlaat nie – jy begryp nie daardie deel nie. Jy vertrek, kom elders aan en ontdek jy het in ’n sekere sin nooit weggegaan nie; die ander plek leef voort. Die onderhandeling tussen hierdie prosesse is iets wat vermoedelik nooit eindig nie.
Aan die woord is Abdulrazak Gurnah in ’n onlangse gesprek getiteld “Home & exile” wat die akademikus Awam Amkpa met hom op die Africa in the World-fees gevoer het. Gurnah is die Nobelpryswenner vir Letterkunde van 2021.
Africa in the World hervat
Hierdie fees, wat vanjaar die tweede keer aangebied is, het grootliks in die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studies (Stias) plaasgevind waar Gurnah in 2022 die jaarlikse lesing vir geesteswetenskappe van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika (ASSAf) gelewer het. (Lees ’n verslag van die lesing hier.) Dit is ook hier waar hy aan sy mees onlangse roman, Afterlives, gewerk het.
Africa in the World bied ’n platform vir van die voorste denkers en doeners uit verskeie sektore uit Afrika en elders, mense wie se idees die potensiaal het om groot probleme op die vasteland op te los en wat dienooreenkomstig moontlikhede verken wat wegstuur van ou dogmas, vooroordele en “aanvaarde waarhede”.
’n Internasionale gehoor is opnuut na die fees genooi, waar ’n verskeidenheid temas, onderwerpe en gesprekke gedek is, van onderwys en tegnologie tot die vereistes vir en uitdagings van goeie regering op die vasteland, die bydraes van die diaspora en die rol van politieke wil om positiewe verskille in samelewings te bewerkstellig. (Lees ook ’n artikel oor die afgelope Africa in the World-fees hier.)
Die Africa in the World-fees het van 12 tot 16 September plaasgevind en is vanjaar hervat nadat die Covid-regulasies sprekers van elders verhinder het om na Suid-Afrika te kon reis. Die fees se stigter en gasheer is Dele Olojede, ’n internasionaal gerekende joernalis van Nigerië en die eerste ontvanger van die Pulitzer-prys uit Afrika.
Maniere om wêreldbeskouings in kaart te bring
Opmerklik op die fees en in die gesprek wat Amkpa en Gurnah gevoer het, was die verkenning van wat alles ’n invloed uitoefen op die lewe op die vasteland en die belangrike rol wat die diaspora in die vertolking daarvan speel.
Amkpa is, soos Gurnah, ’n kenner van soorte skryfwerk waarin postkoloniale dinamieke en gepaardgaande ervarings verken word. Gurnah, oorspronklik van Zanzibar, het tot sy aftrede aan die Universiteit van Kent, Brittanje, letterkunde doseer. Amkpa, oorspronklik van Nigerië, is ’n professor in drama en sosiale en kultuuranalise aan die Universiteit van New York (NYU) en dekaan van kunste en geesteswetenskappe aan NYU in Abu Dhabi. Hy het saam met Gunja SenGupta, ’n geskiedenisprofessor aan die Brooklyn College in New York, die boek Sojourners, sultans and slaves: America and the Indian Ocean in the Age of Abolition and Empire geskryf. Gurnah se verhale het hulle die nodige verwysings en inspirasie gebied vir hoe om hul verhaal te benader, het Amkpa gesê.
Daar is veel te sê oor die omgewing van Zanzibar, die wêreld waar Gurnah in 1948 gebore en getoë is, oor die eeue lange kruispunt wat dit is vir kulture, waaronder die Arabiese, Duitse en dié van Brittanje, het Amkpa gesê, en genoem dat hy en SenGupta op soek was na maniere om uiteenlopende geskiedenisse saam te trek en dat hulle daarvoor veral uit Gurnah se werk kon put.
Dit was dan ook belangrik om ’n manier te vind om dié deel van die wêreld se maniere van vertel op te roep in sy eie skryfwerk, het Gurnah gesê. “Ek beskou stories as dinge wat ’n beeld van die wêreld uitdruk.” Die wyse waarop mense aan mekaar stories vertel in ’n gemeenskap, maak van stories ’n manier om te sê dít is die wêreld, dít is hoe ons dit sien, het hy verduidelik.
Dit beteken nie daardie verhale is objektief beskou waar of akkuraat nie. Wat vir Gurnah belangrik is, is dat dit wys hóé die wêreld vir iemand lyk. Die proses en stories waarvolgens mense se wêreldbeelde vorm kry, was iets wat hy by sy skryfwerk wou inbring en verken.
Rondom tuiste
Karakters se verlange om iets te word oor tyd en ruimtes heen is ’n aspek van Gurnah se skryfwerk wat Amkpa opgeval het. Is die idee van ’n tuiste vir Gurnah die plek wat hy verlaat het of waar hy homself weer aanmekaargesit het?
Vir Gurnah is tuiste nie net die plek waar jy gebore is of waar jy tans woon nie, maar ’n konsep wat deur ervarings en herinneringe gevorm word. “Die vraag na wat ’n tuiste beteken, is ’n vraag wat ek veronderstel mense aan hulself stel, maar dis ook ’n vraag waarmee mense gekonfronteer word. Soms is mense verontwaardig as jy hulle vra waar hulle vandaan is. Ek is nié. Maar mense neem aanstoot en ek veronderstel dit is só omdat so iemand wil sê dít (hier en nou) is waar ek bly – waarom vra jy my daardie vraag? Ek ag dit wel ’n regverdige vraag.
"Selfs diegene wat dit as ’n moeilike vraag ervaar, sal vroeër of later sê hul ouers is van Ciprus of waar dan ook, wat dalk die eintlike vraag is wat jy wil stel. Dit is nie dat jy nie hiér behoort nie, maar vertel my van jou ander bande. En ek dink dit is erger vir mense uit plekke wat tevore gekoloniseer was om hierdie vraag te beantwoord.”
Dit is sy waarneming dat mense glad nie versigtig is as hulle sê hul ouers is byvoorbeeld Russiese vlugtelinge of Pools nie. Hy meen dit het iets te make met hoe ver die ander tuiste is wat betref kultuur, geografie en afstand. Op die keper beskou, hang dit af van wat iemand met hierdie vraag bedoel, het Gurnah gesê.
Maak jy hom in die middel van die nag wakker, sou hy sê sy tuiste is Zanzibar, maar wanneer hy sê hy gaan die week ná die fees huis toe na waar hy woon, bedoel hy die Verenigde Koninkryk. “Dit hou vir my geen konflik in nie,” het hy gesê.
“Op sekere maniere maak dit saak waar ek gebore is. Ek sou dit haat as iemand sou sê ek behoort nie daar (Zanzibar) nie. Insgelyks sou ek dit haat as ek probeer terugkeer na Engeland en iemand dáár sou sê ons wil jou nie hier terug hê nie. Albei plekke is my tuiste.”
Mense wil hierdie boeke in hul eie tale lees
Vir Gurnah is een van die grootste vreugdes ná die Nobelprys die toename in vertalings van sy werk. Amkpa het vertalings in onder meer Swahili en Arabies uitgesonder.
“Baie mense kan Engels lees. Maar hulle wil hierdie boeke in hul eie tale lees, dus wil hulle dit vertaal hê," het Gurnah gesê. "Die vertalings wat my die meeste verbaas het, is Oezbekistans en Baskies. In Indië is daar soveel verskillende tale. Dáár is daar verskeie vertalings. Dis wonderlik om te weet mense wil werke in hul eie tale lees.”
Isolasiepolitiek
Amkpa het hom gevra na die ironie dat kinders van immigrante in Europa en Amerika nou teen immigrasie gekant is.
Gurnah is dit met hom eens en het dit “verbasend en onverklaarbaar” genoem. “In die geval van die Britse premier (Rishi Sunak) en minister van binnelandse sake (Suella Braverman) is hulle albei mense wie se ouers na die Verenigde Koninkryk gegaan het as soorte vlugtelinge. “Die enigste rede hoekom hulle nie ten volle vlugtelinge was nie, had met die tydsberekening van wetgewing indertyd te make,” het Gurnah verduidelik. “As hulle daardie reise in die daaropvolgende tyd sou afgelê het, sou hulle dieselfde ervaring gehad het as diegene wat tans toegang tot die land probeer belet word. Dit is net so moeilik om te begryp hoe hulle so onmenswaardig optree. Die taal wat hulle hieroor gebruik, kriminaliseer die behoefte aan veiligheid of welstand, asof dit immoreel sou wees.”
Aankomste en aanpassings
Gurnah het ook sy persoonlike ervaring van aankoms en aanpassing gedeel. Hy het Zanzibar as 18-jarige drie jaar ná ’n revolusie in dié land verlaat. Hy het na Engeland gegaan om daar ’n nuwe lewe te begin bou.
Die klimaat van onversetlikheid en afsondering wat Zanzibar indertyd gekenmerk het, skryf Gurnah vandag toe aan die regering wat tóé vriendskapsbande met die eertydse Sowjetblok gehad het.
“Die veiligheidsraadgewers van die regering was van Oos-Duitsland. Jy kon nie ’n paspoort (uit Zanzibar uit) kry nie. Jy kon nie weggaan nie. Jy kon, om watter redes ook al, nêrens heen gaan nie, behalwe as hulle (die regering) jou nie daar wóú hê nie. In daardie geval is jy summier uit die land gesit. As jy die land wou verlaat, sou jy dit onwettig moes doen deur die nodige papiere op die een of ander manier te bekom. Jy sou wees wat ons nou ’n asielsoeker noem en dit het beteken jy kon nie teruggaan nie. Sommige mense het verdwyn toe hulle probeer terugkeer het. Ons weet nie wat van hulle geword het nie.”
Gurnah onthou die aanvanklike aanpassing in Brittanje as ’n moeilike tydperk. "Jy‘s 18 jaar oud. Jy het nie geld, vaardighede óf geleerdheid nie. Jy het selfs nie baie verstand as jy 18 is nie. En dan moet jy goed maar net uitpluis.”
Beskrewe realiteite
Gurnah het vir 35 jaar klas gegee aan die Universiteit van Kent in Canterbury terwyl sy literêre oeuvre gegroei het. Amkpa het gevra oor sy dubbele rol as skrywer en letterkundedosent van veral postkoloniale letterkunde. Gurnah het te kenne gegee dit het hom soos ’n handskoen gepas. “My hele volwasse lewe het ek daaraan gewy om as ’n akademikus én skrywer te werk. Dit was een van die dinge waaroor ek kan sê: Dit wérk. Dit was wonderlik en moontlik om albei te kon doen.”
Gurnah se belangstelling in letterkunde en die vertolking van postkoloniale ervarings het sedert sy skooljare verder as die kurrikulum gestrek. Hy was op skool in die dekoloniseringsjare van Afrika, die vroeë sestigs tot die middel van daardie dekade. Boeke wat hulle tóé gelees het, onthou hy, was The African Queen, moontlik ’n storie deur Conrad, King Solomon’s mines.
“Maar in daardie tydperk het werke van ander skrywers ook na vore getree – boeke soos Chinua Achebe (Nigeriese skrywer en akademikus) se Things fall apart en Ngũgĩ wa Thiong’o (Keniaanse skrywer en akademikus) se vroeë boeke, waaronder Weep not, child. Ons het húlle begin lees.
“Toe ek op universiteit was, het ek nóg van hierdie werke studeer uit eie keuse, nie omdat dit deel van die kurrikulum was nie, want hulle wás nie. Tog het ek gevind dat ons (mense van Zanzibar) nie daar was nie, nie in die (beskrewe) realiteite nie.” Die tekort aan herkenbare verhale oor die lewe in Afrika aan die Indiese Oseaan-kant van die vasteland het Gurnah aangevuur om self daaroor te skryf.
Die ryk en ingewikkelde wêreld aan die Indiese Oseaan
Amkpa het hom gevra ná die beeld van die lewe aan die Indiese Oseaan, in die lig daarvan dat Engelstalige Afrika-letterkunde telkens die Atlantiese Oseaan in kaart bring.
“Ek dink nie daar is ’n beter rede vir ’n skrywer as om te sê jy sien iets, maar dis nie dáár nie, en om dan daaroor te skryf.” Hy bestempel die wêreld aan die Indiese Oseaan-kant van Afrika as “’n ryk en ingewikkelde wêreld, goed om van te weet.”
In Gurnah se romans is hy as skrywer gesteld op die geskiedenis, iets wat van hom op ’n manier ’n historikus maak, het Amkpa opgemerk.
“Ek hou daarvan om te dink dat historiese romans oor ons tyd handel, eerder as dat hulle ons iets vertel van die verlede. Maar ek het geen besware daarteen as daar na my verwys word as iemand wat oor geskiedenis skryf nie,” het Gurnah gesê.
Hy het ’n veranderende beskouing van Oos-Afrika toegelig deur te verwys na argeologiese opgrawings wat reeds vir dekades op Zanzibar aan die gang is. In hierdie uitgrawings is reeds artefakte ontdek van om en by die sesde eeu nC wat bewyse bied van transaksies van verskillende dele van die Indiese Oseaan. Hierdie artefakte toon dat die rol van Zanzibar véél wyer strek as wat tot op hede vermoed is, het Gurnah gesê. “Hierdie geskiedenisse strek soveel verder terug as wat ons eenmaal gedink het. Die verbintenisse strek oor die kontinent en oseane.”
Buro: MvH