Afrikaans: ’n skat vir Germaanse taalkundiges in die buiteland

  • 0

Die derde Afrikaans Grammar Workshop het vanjaar op 30 September en 1 Oktober in Amsterdam plaasgevind, met die Zürich Workshop on Afrikaans Linguistics kort op sy hakke (4 en 5 Oktober).

Met 32 aanbiedings van deelnemers uit meer as sewe lande, insluitend Amerika, Brittanje, Duitsland en Rusland, het hierdie werkwinkels gesorg vir die uitwisseling van verskeie en uiteenlopende idees oor Afrikaans en die Afrikaanse taalkunde. Al die takke van linguistiek, insluitend sintaksis, fonetiek en fonologie, morfologie en pragmatiek, het by hierdie besonderse geleenthede aan bod gekom waar generativiste en funksionaliste koppe bymekaar gesit het oor temas wat strek van kindertaalverwerwing tot korpuslinguistiese metodes.

Afrikaans se besonderse waarde as taalkundige skatkis is keer op keer by hierdie werkwinkels uitgelig. Daar is ’n menigte male, vanuit verskillende oorde, op gewys dat Afrikaans vernuwend optree en ten spyte van ʼn skynbaar Germaanse grammatika die beperkinge en persepsies van taalteorieë oorskry. Ten spyte van die noue bande tussen Afrikaans en haar Wes-Germaanse susterstale – veral Nederlands – het Afrikaans se ryk oorsprongsinvloede soos Maleis, Portugees en die Khoi-Khoin-tale tot gevolg dat Afrikaans se grammatika soveel onverwagse geure soos ʼn goeie bak brijani inhou. Selfs Patagoniese of Namibiese Afrikaans wil hulle nie soos egte Germaanse dames gedra nie en die gevolg is dat Afrikaans dikwels as verwysingspunt gebruik word om op vernuwing te wys en nuwe teorieë te toets.

Die taalkunde is egter nie al wat vernuwend by hierdie werkwinkels was nie. Weens reisbeperkinge is beide werkwinkels aanlyn sowel as fisies aangebied. Die vernuwende wisselwerking tussen die twee metodes kaats ʼn vernuwende blik op die moontlikhede wat virtuele geleenthede inhou. By die Afrikaans Grammar Workshop is gebruik gemaak van ʼn kamera wat sentraal in die lesingslokaal geplaas is. Hierdie kamera het die vermoë om die hele vertrek virtueel uit te saai en ook op individuele deelnemers te fokus  wanneer hul ʼn vraag vra of kommentaar lewer. Die gevolg is dat virtuele deelnemers by die verrigtinge in die lesingslokaal betrek word asof hulle deel daarvan is.

By die werkwinkel in Zürich is daar van studente met tablette gebruik gemaak om tydens pouses virtuele deelnemers in kontak te bring met deelnemers in die lesingslokaal. Hierdie vindingryke oorbrugging van die grense tussen virtuele deelnemers en deelnemers wat fisies teenwoordig is, het dit moontlik gemaak vir gesprekvoering om ook tydens die gemaksbreuke plaas te vind.

Die positiewe lig waarin hierdie werkwinkels Afrikaans geplaas het, resoneer vanuit verskillende oorde. Terugvoer uit Amerika vat die deelnemers se ervaring vas: “I’m so glad that this workshop exists, and I’m especially grateful that they were able to adapt this one to a hybrid format given the global health crisis. This is the most amazing opportunity to learn more about Afrikaans from so many different linguistic perspectives, as well as connect with other researchers from around the world!”

’n Russies deelnemer het op haar beurt die waarde van hierdie werkwinkels vir haar toekomstige navorsing beklemtoon: “I find the conference really interesting and I have learned a lot about Afrikaans. It would surely be great if I could have attended on site, but apart from minor problems, the hybrid form has worked really well. I work mostly on German and English but I have done a lot of cross-Germanic comparison in my research. I am starting my new project on relative clauses in West Germanic next year and Dutch and Afrikaans are also to be included.”

Vanuit Suid-Afrika word die waarde van hierdie werkwinkels vir die toekoms van Afrikaans nie misken nie: “Hierdie gebeurtenisse is belangrik vir taalkundiges van regoor die wêreld om idees oor Afrikaans met mekaar te deel, en dit speel natuurlik ook ’n belangrike rol in die uitbou van Afrikaans as wetenskaps- en onderrigtaal.”

Die toekoms van Afrikaans is nou verweef met die funksies daarvan. Internasionale werkwinkels soos die Afrikaans Grammar Workshop en Zürich Workshop on Afrikaans Linguistics speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling en uitbou van plaaslike en internasionale bewusmaking van en belangstelling in Afrikaans. Daarom wil ek graag die lof besing van die individue en organisasies wat hierdie werkwinkels moontlik maak, naamlik die Meertens Instituut, VivA, die Universiteit van Michigan, die Universiteit van Zürich en die Zuid-Afrikahuis (wat die Afrikaans Grammar Workshop met ’n besonderse virtuele toer van hul argief afgesluit het).

Lees ook op LitNet:

Revisiting the end of the world: an interview on language identity and displacement (Naomi Meyer, Andries Coetzee, Nick Henriksen)

Taal en migrasie: ’n onderhoud met Andries Coetzee (Naomi Meyer, Andries Coetzee)

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top