Afrikaans oorleef by US solank dit "redelikerwys doenlik" is

  • 0

Foto van Jean Oosthuizen: Izak de Vries; foto van die Universiteit Stellenbosch: https://www.sun.ac.za/Home.aspx

Die ink is nog skaars droog op die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe hersiene taalbeleid en die vonke spat reeds in alle rigtings.

Onder Afrikaanse belangegroepe is daar uiteenlopende reaksies op die Taalbeleid (2021) se goedkeuring wat vanaf 2022 geïmplementeer sal word. 

........

Die reaksies wissel van versigtige optimisme tot ’n algehele verwerping van die nuwe taalbeleid. Volgens skeptici is dit nóg vis nóg vlees, en so helder en deursigtig soos modderwater.

.........

Die reaksies wissel van versigtige optimisme tot ’n algehele verwerping van die nuwe taalbeleid. Volgens skeptici is dit nóg vis nóg vlees, en so helder en deursigtig soos modderwater.

Die proses vir die hersiening van die Taalbeleid (2016) is in Oktober 2020 van stapel gestuur. Die doel van die taalbeleid is om taalgebruik in alle aspekte van die universiteit te reël, te bestuur en oorsigbestuur daaroor uit te oefen. Die drie grondbeginsels van die Taalbeleid (2021) bepaal dat die US meertaligheid as ’n hulpbron beskou; dat taal toegang moet verbreed en sukses moet ondersteun; en dat die beleid en die implementering daarvan pedagogies verantwoordbare leer en onderrig moet fasiliteer.

Met ’n poging tot groter klem op meertaligheid en die versekering dat Afrikaans en Engels steeds die primêre tale van onderrig aan die US is, het die universiteit sy nuwe, hersiene taalbeleid verlede week met ’n oorweldigende meerderheid van 159 stemme teen 17 in die senaat en 21 stemme teen 3 in die universiteitsraad goedgekeur.

In wese verskil dit weinig van 2016 se omstrede taalbeleid wat selfs in die Konstitusionele Hof gaan draai het.

Tydens ’n inligtingsessie verlede Vrydag het die universiteit aangevoer dat die kernverskuiwing in die hersiene taalbeleid ’n groter klem en waardering vir meertaligheid verteenwoordig. Die inligtingsessie is onder andere bygewoon deur Deresh Ramjugernath​ (viserektor: leer en onderrig), wat self besig is om sy meertaligheid uit te brei deur Afrikaans aan te leer. Hy moes die vergadering vroeër verlaat om sy Afrikaans-klas by te woon.

​Volgens Taalbeleid (2021) bly die universiteit verbind tot die gebruik van die Wes-Kaap se drie amptelike tale, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa.  

.......

Daar is egter ’n vrywaringsklousule ingebou wat nie misgekyk kan word nie. Die woorde “waar redelikerwys doenlik” kom nie minder nie as 16 keer in die dokument voor wanneer Afrikaans ter sprake is. Hoe lank sal dit nog “redelikerwys doenlik” wees om in sekere modules in Afrikaans klas te gee aan die US en wie gaan daaroor besluit? is ’n vraag waaroor baie mense wonder.

.......

Daar is egter ’n vrywaringsklousule ingebou wat nie misgekyk kan word nie. Die woorde “waar redelikerwys doenlik” kom nie minder nie as 16 keer in die dokument voor wanneer Afrikaans ter sprake is. Hoe lank sal dit nog “redelikerwys doenlik” wees om in sekere modules in Afrikaans klas te gee aan die US en wie gaan daaroor besluit? is ’n vraag waaroor baie mense wonder.

Die Afrikaanse Taalraad waarsku tereg op Twitter van ’n kantelpunt wat Afrikaans op Stellenbosch in die gesig staar. Dit is daardie punt waarna die gebruik van Afrikaans as taal van onderrig nie meer “redelikerwys doenlik” of  “reasonably practicable” gaan wees nie.

In hierdie opsig is AfriForum Jeug reg wanneer hulle kommer uitspreek oor die vermindering van die Afrikaanse aanbod. Meertaligheid word nie bevorder wanneer die Afrikaanse aanbod verminder word nie.

.......

In hierdie opsig is AfriForum Jeug reg wanneer hulle kommer uitspreek oor die vermindering van die Afrikaanse aanbod. Meertaligheid word nie bevorder wanneer die Afrikaanse aanbod verminder word nie.

........

Volgens die universiteit se taalbeplanning sal die Engelse aanbod in stand gehou word ten einde volle toeganklikheid tot die US te bewerkstellig vir akademies verdienstelike voornemende en huidige studente wat verkies om in Engels te studeer.

Wat die Afrikaanse aanbod betref, moet dit volgens die hersiene taalbeleid slegs so bestuur word dat toegang tot die US gehandhaaf word vir studente wat verkies om in Afrikaans te studeer, en moet Afrikaans verder ontwikkel word as ’n onderrigtaal waar dit “redelikerwys doenlik” is.

Álles gaan afhang van hoe die nuwe taalbeleid geïmplementeer word, sê die Taalraad in hulle reaksie. En dit is presies daar waar die tekkie die teer tref. Wie besluit wat is “redelikerwys doenlik” as daar nie by almal ’n wil is om dit wat wel doenbaar is, te wíl doen nie?

........

Wollige frases soos “waar redelikerwys doenlik” help nie om die diepgewortelde agterdog betreffende die US se verbintenis tot Afrikaans te besweer nie. 

.........

Wollige frases soos “waar redelikerwys doenlik” help nie om die diepgewortelde agterdog betreffende die US se verbintenis tot Afrikaans te besweer nie. 

Volgens die Afrikaanse Taalraad is die US se nuwe taalbeleid beter as sy voorganger, maar bevat dit steeds te min vir Afrikaans én Xhosa. Volgens die Taalraad moet en kan die US ’n beter balans tussen internasionalisering en plaaslike taal en kultuur vind.

“Dít sal reguit en saaklike gesprek verg,” sê die Taalraad.

Die Taalraad se punt is geldig. In die verlede het die US dikwels te veel taalbesluite op eie stoom geneem wanneer daar oor praktiese taalsake besluite geneem moes word sonder om al die rolspelers daarin te ken of hulle te betrek.

Tydens verlede week se inligtingsessie het dit voorgekom of daar wel ’n kentering gekom het in dié verband. Daar blyk  ’n groter bereidwilligheid te wees om ’n oop gesprek oor taal te voer en verskillende belangegroepe daarby te betrek.

Hoe ernstig die universiteit daaroor is, sal net die tyd leer. “The proof of the pudding is in the eating thereof,” lui die Engelse spreekwoord mos.

Selfs diegene by US wat die afgelope maande gestoei het om 2016 se omstrede Taalbeleid te hersien, gee toe dat meertaligheid ’n uiters komplekse saak is. In die woorde van Leslie van Rooi, taalwoordvoerder van die US, is dit  ’n morsige besigheid en iets waaroor daar voortdurend gestoei sal word.

.......

Selfs diegene by US wat die afgelope maande gestoei het om 2016 se omstrede Taalbeleid te hersien, gee toe dat meertaligheid ’n uiters komplekse saak is. In die woorde van Leslie van Rooi, taalwoordvoerder van die US, is dit  ’n morsige besigheid en iets waaroor daar voortdurend gestoei sal word.

.........

Voeg daarby die emosies wanneer daar oor taal gepraat word en die tafel is gedek vir nog vele stormagtige stoeigevegte en vuurwarm debatte oor die plek van Afrikaans as hoëronderrigtaal aan die US.

Aan die een kant is daar die universiteitsowerhede wat steeds probeer wegkom met woordgimnastiek deur herdhaaldelik gebruik te maak van frases soos “waar redelikerwys doenlik” en hoop dat dit genoegsame verbintenis is tot die gebruik van Afrikaans en van Xhosa. 

Die olifant in die vertrek bly egter steeds die onwilligheid van sekere rolspelers om dit wat wel “redelikerwys doenlik” is, in die praktyk te laat realiseer. Skeptici sien dit met reg as ’n verskoning om die universiteit nog verder te verengels, want dit is die maklikste van die verskillende opsies om te volg.

Die uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk, Danie van Wyk, het aan LitNet gesê hoewel hy graag sou wou sien dat die nuwe taalbeleid gelyke status aan Afrikaans en Engels verleen, verwelkom hy die groter klem wat daar wel op meertalligheid geplaas word.

........

Die uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk, Danie van Wyk, het aan LitNet gesê hoewel hy graag sou wou sien dat die nuwe taalbeleid gelyke status aan Afrikaans en Engels verleen, verwelkom hy die groter klem wat daar wel op meertalligheid geplaas word.

........

DAK Netwerk beywer hulle onder andere vir die holistiese ontwikkeling en groei van agtergestelde Afrikaanssprekendes en bestaan uit leiersfigure uit verskillende sektore van die samelewing.

Van Wyk sê die US sal in die komende maande met valkoë dopgehou word om te sien hoe die taalbeleid in die praktyk implementeer word. “Ek sê nie Stellenbosch se universiteit moet weer net Afrikaans word nie. Maar ons is bekommerd dat die universiteit besig is om al hoe meer te verengels ten koste van Afrikaans.” Hy is ook nie daarvan oortuig dat daar genoeg gedoen word om Xhosa te bevorder nie.

Die universiteit bevind hom dus pens en pootjies in die middel van hierdie komplekse en inderdaad morsige debat tussen diegene wat hunker na die dae toe Stellenbosch se universiteit oorwegend Afrikaans was, diegene wat die universiteit heeltemal wil verengels en die derde groep wat die moeilike middeweg van werklike meertaligheid wil stap.

Mens moet ook nie naïef wees en dink almal wat op die pro-Afrikaanse wa klim, doen dit omdat hulle die wa vir Afrikaans deur die drif wil help trek nie. Te veel politieke opportuniste het reeds op daardie wa geklim net om stemme te werf. Hier hang die DA se onderrok waarskynlik die verste van almal uit.

Hoe ’n politieke party wat in beheer is van ’n oorwegend Afrikaanse provinsie ’n vinger kan wys na die US terwyl hulle self weinig of niks doen om Afrikaans te bevorder nie, weet nugter alleen. Terwyl instansies soos Solidariteit, AfriForum en die Vryheidsfront Plus se webwerwe almal volledig Afrikaans en Engels is, soek mens tevergeefs na enige Afrikaans op ’n DA-webwerf. Selfs die Wes-Kaap se DA-beheerde munisipaliteite, waarvan die inwoners oorwegend Afrikaans is, se webwerwe is almal net Engels. So ook die DA-beheerde wetgewer in die Wes-Kaap se Hansards. Intussen is die Hansards van provinsies soos die Vrystaat en KwaZulu-Natal onder die ANC se beheer in al drie die amptelike tale van daardie provinsies beskikbaar.

Navrae hieroor aan die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, Leon Schreiber, en die DA-leier John Steenhuisen, val op dowe ore. Enige navrae daaroor aan die party se hoofkantoor word ook doodgewoon geïgnoreer.

Terwyl politici soos Schreiber die US in ’n persverklaring beskuldig van “lafhartige” optrede en “gedienstigheid” teenoor die ANC en allerhande byvoeglike naamwoorde gebruik om sy punt te stel, is daar ander stemme en belangegroepe wat hoop om met groter takt en oorredingsvermoë daarin te slaag om te sorg dat Afrikaans sy man op US bly staan. Woorde wek, maar voorbeelde trek.

........

Wat Afrikaans nodig het om sy status as hoëronderrigtaal te beskerm, is nie mense of organisasies wat soos taalbulle in porseleinwinkels instorm nie. Afrikaans benodig mense en instansies wat met ’n ferm hand maar ‘n koel kop sorg dat daar doeltreffende verantwoordbaarheidsmeganismes daargestel word wanneer die US se hersiene Taalbeleid aanstaande jaar geïmplementeer word.

..........

Wat Afrikaans nodig het om sy status as hoëronderrigtaal te beskerm, is nie mense of organisasies wat soos taalbulle in porseleinwinkels instorm nie. Afrikaans benodig mense en instansies wat met ’n ferm hand maar ‘n koel kop sorg dat daar doeltreffende verantwoordbaarheidsmeganismes daargestel word wanneer die US se hersiene Taalbeleid aanstaande jaar geïmplementeer word.

Vergeet maar daarvan dat Afrikaans weer die dominante taal sal wees. Fokus liewer op meertaligheid en die behoud van Afrikaans waar dit nog moontlik is, en help so om te sorg dat dit “redelikerwys doenlik” sal bly om ten minste op Stellenbosch in Afrikaans te studeer.

https://www.litnet.co.za/category/menings/universitysa/

Lees ook:

https://www.litnet.co.za/konstitusionele-hof-wys-weer-hy-dien-engelse-kolonialisme-danie-van-wyk-reageer-op-hofbeslissing/

https://www.litnet.co.za/n-onderhoud-met-danie-van-wyk-nuwe-voorsitter-van-die-dak-netwerk/

https://www.litnet.co.za/n-ope-brief-aan-wim-de-villiers-aangaande-sy-bestuur-se-voorgestelde-taalbeleid/

https://www.litnet.co.za/die-besluite-teen-afrikaans-die-en-us-geskiedkundig-en-n-onreg/

https://www.litnet.co.za/gelyke-kanse-afrikaans-die-sondebok/

https://www.litnet.co.za/marlene-van-niekerk-stellenbosch-university-language-debate/

https://www.litnet.co.za/speech-by-david-jantjies-at-the-dak-meeting-with-the-sahrc/

https://www.litnet.co.za/is-afrikaans-aan-die-us-n-spyker-ryker-in-haar-doodskis/

https://www.litnet.co.za/die-us-se-tweede-konseptaalbeleid-van-2021-maskerspele-of-groeiende-paleisrevolusie/

https://www.litnet.co.za/persverklaring-enkele-dae-oor-om-op-tweede-konsepweergawe-van-us-se-hersiene-taalbeleid-2016-kommentaar-te-lewer/

https://www.litnet.co.za/baqonde-boosting-the-use-of-african-language-in-education-an-interview-with-bassey-antia/

https://www.litnet.co.za/dak-netwerk-language-submission-a-petition-to-the-minister-of-higher-education/

https://www.litnet.co.za/universities-south-africa-usaf-colloquium-the-challenges-in-the-implementation-of-the-new-language-policy/

 

 

Buro: NM
  • 0
Top