In Afrikaanse letterkunde word ons globale verbondenheid steeds meer sigbaar, sê Margriet van der Waal

  • 0

Die Suid-Afrikaanse akademikus Margriet van der Waal is sedert September verlede jaar besondere hoogleraar aan die Universiteit van Amsterdam (UvA). Sy het aan Willem de Vries van die Leerstoel vir Suid-Afrikaanse Literatuur, Kultuur en Geskiedenis en haar voornemens in hierdie verband vertel.

Margriet van der Waal (Foto: Dirk Gillissen, UvA)

Jy is reeds ’n ruk lank besondere hoogleraar aan die UvA. Wat beskou jy as die uitdagings van die leerstoel en die werksaamhede wat daarmee gepaard gaan?

Ek beklee nog nie so lank hierdie funksie nie: vanaf 1 September 2017. Die omvang van die aanstelling is slegs een dag per week, wat beteken dat ek vanaf September omtrent 20 dae amptelik aan die werk was vir die leerstoel. My voorganger, Ena Jansen, het die leerstoel lank beklee: omtrent 15 jaar (van 2001 tot 2016)! Een van die uitdagings is sekerlik hoe om alles wat ek graag wil doen, in een dag per week gedoen te kry!

Die ander uitdaging betref die soort funksie wat hierdie soort "bijzondere" leerstoele deels vervul, naamlik om ’n brug te slaan tussen die akademiese wêreld (die binnekant van die sogenaamde ivoortoring) en die wêreld daar buite. Die akademiese wêreld het soms ’n neiging om gesprekke binnenshuis te voer, maar dis belangrik om ook die gesprek buite die deur voort te sit. ’n Ander uitdaging betref die effek van afstand en konteks op die leerstoel: aan die een kant beskou ek dit as ’n groot voordeel om na Suid-Afrika te kan kyk vanaf ’n afstand (letterlik), maar ook figuurlik bestaan daar ’n soort afstand (’n ander konteks) wat ’n sekere soort produktiewe ruimte bied. Aan die ander kant is hierdie afstand ook problematies, omdat ’n mens nie ter plaatse is waar die dinge gebeur nie.

In watter mate speel Afrikaanstalige letterkunde ’n rol in jou kursus Suid-Afrikaanse Literatuur en Kultuur?

Aan die Universiteit van Amsterdam, die leerstoel se tuiste, is dit my voorreg om een vak (ongelukkig nie ’n hele kursus nie!) per jaar te gee wat op die een of ander manier verband hou met die leeropdrag: Suid-Afrikaanse literatuur, kultuur en geskiedenis. Afrikaanse letterkunde speel histories ’n baie groot rol in die leerstoel se taak: dit was oorspronklik die rede hoekom die leerstoel opgerig is. Aan die begin van die 20ste eeu was daar ’n sterk gevoel dat Afrikaans ’n nuwe loot was wat aan die "Dietse" boom ontwikkel het (’n soort nasionalistiese kultuurverwantskap tussen Nederland en Vlaandere). Die akademiese bestudering van die letterkunde van hierdie "nuwe" taal (Afrikaans) in Nederland het vanuit hierdie kultuurprojek ontstaan. Met tyd het hierdie "stamverwantskapsidee" behoorlik verander en dus ook die rol wat Afrikaanse letterkunde binne die leerstoel speel. Aan die begin van die 21ste eeu is die leerstoel se opdrag verruim om voorsiening te maak vir ’n meer inklusiewe benadering: Suid-Afrikaanse letterkunde, maar ook kultuur en selfs geskiedenis, alhoewel die uitgangspunt nog steeds Afrikaanse letterkunde is.

In die jaarlikse vak wat ek sal gee, gaan ek met studente ’n aantal Afrikaanse romans, aangevul met relevante Engelse romans en ander kulturele uitinge, soos films en skilderye en historiese bronne, bestudeer. Wat ek saam met studente wil ondersoek, is hoe mense in Suid-Afrika gereageer het op historiese ontwikkelinge in die land wat ’n invloed op die samelewing gehad het. Die meerstemmigheid van Suid-Afrikaanse ervarings is vir my hierby rigtinggewend.

Jy doseer ook aan die Universiteit van Groningen en is in verskeie vakrigtings werksaam. Wat bring die verskillende studieterreine na jou werk as besondere hoogleraar in Afrikaanse letterkunde (oftewel (Suid-) Afrikaanse letterkunde, kultuur en geskiedenis)? Wat vind jy van dié breë benadering waarbinne soveel invalshoeke moontlik is?

Toe ek destyds in Groningen my meestersgraad gedoen het, het ek blootstelling gekry aan politieke wetenskap, regsgeskiedenis en ekonomiese geskiedenis van die Europese integrasieproses. Met my eie agtergrond in Afrikaanse taal- en letterkunde het dit vir my duidelik geword dat ’n kykie oor die heining van tradisionele vakgrense inspirerend en insiggewend kan wees. Die gesprekke in politieke wetenskap, filosofie, sosiologie en antropologie, geskiedenis en kulturele geografie (om maar ’n aantal terreine te noem) kan baie nuttig wees en toegang bied tot verskillende invalshoeke om sin te maak van die kompleksiteit van ons bestaan. Dink maar aan die vrugbare gebruik van konsepte uit één vakgebied wat binne ’n mens se eie vakgebied aangewend word – die "ruimtelike draai" (spatial turn) wat vanuit (kulturele) geografie na literatuurstudie toe oorgewaai het en die "narratologiese draai" wat vanuit literatuurstudie nou ook in vakgebiede soos politieke wetenskap gebruik word, is voorbeelde hiervan.

In die Lae Lande is daar noue samewerking tussen universiteite wat gerig is op onder meer die studie van die Suid-Afrikaanse letterkunde en Suid-Afrika. Watter tendense in die (Suid-) Afrikaanse letterkunde beskou jy as groeipunte wat ook belangrik is in die Lae Lande?

Die veld van literatuur- en kultuurstudies is so ryk en divers op die oomblik! ’n Paar onderwerpe wat hier in Nederland baie aandag kry en wat aansluit by wat in Suid-Afrika gedoen word, is onder meer: mens-dier-verhoudings en die kritiese bevraagtekening van die grens of onderskeid tussen die twee kategorieë; die mens en ons impak op en ervaring van die omgewing; kritiese ondersoek en herinterpretasie van (pynlike) historiese periodes (in Nederland sien ’n mens dit veral by onderwerpe wat met die VOC-periode en slawerny te make het); rassisme en (wit) identiteit; meertaligheid / taal- en kultuurdiversiteit en kulturele identiteit. Verder is daar ook toenemend belangstelling vir die belang van eietydse en historiese transnasionale ervarings en transnasionale kontak (deur middel van byvoorbeeld ’n inisiatief soos Voertaal).

(As ’n voetnoot kan ’n mens miskien opmerk dat daar ook vanuit ander vakgebiede belangstelling is in Suid-Afrika. By verskillende universiteite en ondersoeksinstansies soos die Afrikastudiesentrum is sosiale wetenskaplikes werksaam wat met Suid-Afrikaanse projekte besig is. ’n Ander interessante inisiatief is ’n projek waaraan die Tegniese Universiteit van Delft en die Universiteit van Pretoria saamgewerk het, met finansiële ondersteuning van die Nederlandse Ambassade: Dutch Footsteps. Hierdie projek fokus op die oorblyfsels van die materiële erfgoed waaraan Nederlanders aan die einde van die 19de en die begin van die 20ste eeu in Suid-Afrika (veral die ou Transvaal) bygedra het. NZASM se spoorlyn is ’n goeie voorbeeld hiervan, asook ander infrastrukturele en argitektoniese oorblyfsels soos kantoorgeboue, spoorweghuisies en brûe.)

Amsterdam

Afrikaanse lesers het deur Nederlands toegang tot ’n wêreldtaal, en Nederlandse lesers kry insigte in Afrika en Suid-Afrika deur die Afrikaanse letterkunde. Watter aspekte van hierdie maniere van "inkyk op mekaar se wêrelde" is vir jou werk aan die UvA belangrik en hoekom?

 Die besondere, historiese bande tussen die twee lande en die twee tale bied ’n unieke kans om vergelykend te werk te gaan. Kennis van en insig in ander situasies as joune verbreed ’n mens se horison en kyk op die wêreld. Ek dink dat die ervaring in Suid-Afrika met diversiteit en sosiale transformasie belangrike insigte kan bied aan Nederlandse lesers en studente met betrekking tot die sosiale transformasie in hul eie land en binne die breër Europese konteks.

Watter rol speel die demokratiese revolusie van 1994 in jou keuse van temas? ’n Mens hoor dikwels dat persepsies oor Suid-Afrika en Afrikaans in Nederland nog sterk onder druk staan van die stryd teen apartheid.

Die woord "revolusie" impliseer ’n soort breuk met dit wat die revolusie voorafgegaan het. Daar was natuurlik ’n aantal breuke in Suid-Afrika gewees ná 1994: die nuwe Grondwet is miskien die belangrikste breuk met die apartheidsera. Maar terselfdertyd is daar baie kontinuïteite met die tyd van vóór 1994. Die kompleksiteit van sosiale verandering en hoe verskillend die sosiale verandering ervaar word, is wat ek graag aan studente sigbaar wil maak. Hierdie ervaring van die nalatenskap van apartheid, en die kompleksiteit van die huidige Suid-Afrika, is op die oomblik goed te sien in ’n uitstalling in Nederland met die naam "Tell Freedom", waar 15 jong Suid-Afrikaanse kunstenaars hul beelde van Suid-Afrika weergee.

Die narratief oor Nederland se betrokkenheid by die stryd teen apartheid is beslis nog aanwesig in die oopenbare diskoers en is ’n aanduiding van hoe Nederlanders na hulleself kyk. Maar dié verhaal word ook in twyfel getrek en krities bekommentarieer, soos ’n mens in die reaksies op die "Goede Hoop"-uitstalling verlede jaar gesien het. Wat veral opgeval het, was die kritiese reaksies oor die relatiewe gebrek aan ’n Suid-Afrikaanse perspektief op hierdie historiese periode en die spesifieke, niekritiese interpretasie van Nederland se betrokkenheid by Suid-Afrika.

Jy het in ’n stadium meer in die rigting van Europese studies klas gegee. Wat vind jy bring hierdie akademiese ervaring na die UvA-leerstoel (gegewe die aandag aan transnasionale studies)?

Ek gee nog steeds klas in die Europesestudiesprogram (Euroculture), waar ek saam met studente kyk hoe die veranderinge binne Europa en die effek daarvan op kulturele identiteit, onder andere as gevolg van die Europese integrasieprosesse, maar ook as gevolg van globalisering, migrasie, neoliberalisering en die invloed daarvan op die welvaartstaat, en so meer, tot uitdrukking kom in letterkunde, film en ander kulturele aktiwiteite (soos die instelling van ’n jaarlikse Europese kulturele hoofstad).

Die gedeelde element is sosiale transformasie en hoe mense daarop reflekteer en reageer. My ander onderwyservarings, naamlik met kunssosiologie en kultuurgeskiedenis, help sekerlik ook in hierdie verband. Met hierdie soort ervaring begin ’n mens ook in te sien hoe komplekse prosesse histories en andersins met mekaar verband hou – hoe die koloniale ervaring byvoorbeeld nog steeds ’n impak het op hoe ons dink oor wie ’n "Europeër" is en waar "Europa" is.

Postkoloniale studies is een van jou navorsingsterreine. Waar pas Afrikaanse letterkunde vir jou in binne hierdie navorsing?

Afrikaanse letterkunde is by uitstek deel van ’n kulturele argief wat vrugbaar gebruik kan word om insig te kry in hoe sosiale transformasie en verskuiwings in politieke en sosiale mag deur ’n spesifieke groep mense (byvoorbeeld sprekers van Afrikaans) ervaar is en ervaar word. Die leerstoel gee my die kans om in my eie navorsing (weer) meer aandag aan Afrikaanse literatuur te gee en te kyk hoe dié insigte bruikbaar kan wees om die veranderende sosiale werklikheid hier in Europa en Nederland te verstaan.

Watter insigte bied Afrikaanse eietydse letterkunde in die stryd om politieke en kulturele waarde in ’n globaliserende wêreld?

’n Interessante verskynsel is dat Afrikaanse literatuur toenemend ’n onderdeel is van navorsing en onderwys elders in die wêreld (dikwels in vertaling). Dit is ’n interessante ontwikkeling en ’n goeie korreksie op die feit dat Engelstalige letterkunde uit Suid-Afrika vroeër dikwels in die buiteland beskou is as die hele Suid-Afrikaanse letterkunde.

Die belangstelling in Afrikaanse letterkunde dui op die waarde van kuns om ons insig te bied in die pluraliteit en kompleksiteit van ervaring – die meerstemmigheid in Afrikaanse letterkunde laat dit veral sien.

In vandag se Afrikaanse letterkunde word ons globale verbondenheid steeds meer sigbaar. Eietydse Afrikaanse letterkunde speel nie slegs in Suid-Afrika af nie, maar ook elders in die wêreld. Ook verwoord hedendaagse literatuur ons eie planetêre verbondenheid en betrokkenheid met mekaar, en die feit dat globale ekonomiese en sosiale prosesse (dink maar aan die soort wêreld wat in misdaadromans beskryf word) ’n plaaslike effek het.

Watter plekke van kontestasie en/of kontras of ontmoeting tussen Afrikaans en Nederlands is belangrik in jou werk aan die UvA?

Wat vir my baie interessant is, is die volgehoue belangstelling vir Afrikaans en Suid-Afrika vanuit Nederland. Suid-Afrikaanse romans (in Afrikaans en Engels) word in Nederlands vertaal, besoekende Afrikaanse skrywers maak gereeld ’n draai in Nederland, en in die koerante word dikwels oor Suid-Afrika berig. Verder is kulturele aktiwiteite soos Week van die Afrikaanse Roman, Fees vir Afrikaans, en Winternachten plekke waar Afrikaans en Nederlands mekaar ontmoet. Baie fassinerend is ook die interkulturele samewerking tussen Nederlanders en Suid-Afrikaners, soos in die hip-hop-opera Afrikaaps, waaraan ook Nederlandse kunstenaars gewerk het toe die opvoering deur Nederland getoer het. Ander voorbeelde van samewerking is Herman van Veen se projek met Afrikaanse sangers en die musikale samewerking tussen jazzmusikante uit Soweto met die Nederlandse musikant Joep Pelt.

Jy is verantwoordelik vir ’n jaarlikse "collegereeks" oor Suid-Afrikaanse literatuur en geskiedenis vir studente van die UvA. Vertel asseblief kortliks van die mees onlangse reeks se tematiek en die ontvangs daarvan. Beplan jy enige simposia in hierdie verband?

Die eerste collegereeks (vak) het op 7 Februarie vir ’n groep bachelorstudente begin. Die tema hierdie jaar is ruimtelikheid en landskap en hoe die ervaring van ’n (veranderende) landskap betekenis gee aan identiteit en hoe hierdie prosesse in verskillende media neerslag gevind het (byvoorbeeld in literatuur, film en skilderye).

As afskop vir die leerstoel het ons in November 2017 by die Zuid-Afrikahuis ’n simposium georganiseer rondom die vraag hoe kuns ’n rol speel in die publieke domein. Dit is ’n tema wat ek graag verder wil uitwerk, want ek is baie geïnteresseerd in hoe kuns ’n rol speel in die publieke domein om kwessies van gedeelde publieke belang op ’n ander manier sigbaar en verstaanbaar te maak as wat hoofstroomdiskoerse (dikwels reduksionisties en populisties) dit dikwels doen: meer nuanse, meer kompleksiteit, en dikwels krities ten opsigte van ’n simplifiserende uitleg oor ons sosiale werklikheid.

Jy is in Groningen en Amsterdam betrokke by die projek North South Lines waarin kulturele bande tussen Afrika en Europa verken word. Watter insigte in hierdie gesprekke dra by tot jou werk aan die UvA? Hoe is Afrikaans geplaas om tot hierdie gesprek by te dra? Hoe hou jy kontak met kulturele en letterkundige ontwikkelinge in Suid-Afrika?

Dit is baie belangrik dat ons binne die universiteit in gesprek tree, of gesprekke fasiliteer, met ’n breë groep mense. Sulke gespreksmomente word onder meer deur North South Lines geskep. Die Zuid-Afrikahuis speel egter ook ’n baie belangrike rol as ’n soort kulturele ambassade vir Suid-Afrika waar mense bymekaar kom om oor Suid-Afrika en Nederland te praat, inligting te versamel en in aanraking te kom met die waardevolle versamelings in die argief en biblioteek. Ek sien die rol van Afrikaans (en dit wat in Afrikaans geskryf en gesê word) as ’n ryk bron waaruit geput kan word vir hierdie gesprekke.

Verder probeer ’n mens tydens persoonlike besoeke aan Suid-Afrika, in gesprekke met Suid-Afrikaners wat Nederland besoek, die lees van nuwe publikasies, die internet (veral inisiatiewe soos Voertaal en LitNet is baie waardevol in hierdie verband), koerante, vakkonferensies en vakpublikasies, ens volg wat in die land gebeur, nie net op kulturele en letterkundige gebied nie, maar ook breër.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top