"Afrikaanse poësie vertel stories van ons land en taal": ’n onderhoud met Carla Botha

  • 0

My tuiskantoor, klaskamer en werkspasie gedurende COVID-19.

Carla Botha staan met haar voete (vóór COVID-19) op twee vastelande, maar haar diep liefde vir woorde en Afrikaans anker haar. Sy werk tans by New York University in Abu Dhabi, waar sy voltyds klasse aanbied in akademiese skryfwerk, asook ’n gemengdeliteratuurklas. Sy is ook die stigter van Ons Skryf Afrikaans op sosiale media en het nog baie planne vir die platform om Afrikaans te help bevorder.

Sy is besig met haar doktorale studie aan die Universiteit van Amsterdam en gesels met Cliffordene Norton daaroor en deel van haar gedigte.

Wat het jou PhD-navorsingsonderwerp geïnspireer?

Ek het nog altyd ’n sagte plek gehad vir Afrikaans en Afrikaanse digkuns. Op hoërskool het ’n hele paar van my Afrikaans-onderwysers my brein verkwik met die lees van prosa en poësie. Ene meneer Potgieter het ’n saadjie geplant met Totius se “Repos ailleurs”, en deur die loop van vyf vlietende hoërskooljare het ’n paar ander mentors die plantjie aanhou water gee. Dit het my gebring tot waar ek so ongeveer twee jaar gelede uit die bloute (na ek my meestersgraad voltooi het) besluit het dat ek akademies meer wil weet! Ek is van nature baie nuuskierig en dit was heel moontlik die deurslaggewende “doodskoot” wat gelei het tot my navorsingsonderwerp.

Wat hoop jy om met hierdie navorsing te bereik?

Ek hoop om meer lig te werp op hoe veranderend die landskap van kreatiewe skryfkuns binne Afrikaanse poësie is. Dis ’n aanhoudende kreatiewe proses wat oneindig nuwe sienings en stories vertel van ons land en taal – veral wanneer mens dieper begin kyk en lees oor ons verskeie ou en nuwe digters van die afgelope vyf dekades.

Hoe sou jy na afloop van die studie jou bevindinge prakties wou toepas?

Sjoe! Dit klink so wonderlik ... die pad is nog lank! Eendag, na afloop van my studie, hoop ek om deur middel van akademie, en deur middel van kreatiewe skryfwerk, die idee van landskap (letterlik en metafories) meer te kan deel in werkswinkels, praatjies en hopelik in my eie skryfwerk ook.

Rembrandtplein in sentraal-Amsterdam met sonsondergang.

Leleme le tee ga se la lekana
/ Een taal is nooit genoeg nie.

                                               Mag God ons mense beskerm. 
Nkosi sikelel’ iAfrika. Morena boloka setjhaba sa heso.
God seën Suid-Afrika.
God bless South Africa.
Mudzimu fhatutshedza Afurika. Hosi katekisa Afrika.
(Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika)

Nes Malema is ek 
’n kind van Limpopo

dumêla                   het ek probeer                   
om nóg ’n taal te leer

O kae?
Ke gona wena okae?

Ouma is vlot in vele                   
Afrika-tale, ek wou ôk

Aowa!
Ke a leboga!

Sou ek skaars ’n taxi kon vra                   
vir rigting of plek

Ke go hlolosetše
Ke a go rata

Breek ’n hart dan net in een taal                   
wanneer nóg ’n Afrika-kind groet? 

Wat is vernuwend van jou navorsing?

Ek hoop en glo die tydperk en skrywers wat ek ondersoek, sal lei tot ’n opwindende nuwe kykie na Afrikaanse poësie binne die raamwerk van die verlede en die hede. Dis nog ’n onophoudelike ontdekkingstog wat kort-kort nuwe idees en moontlikhede laat opvlam.

Jou navorsing fokus op Suid-Afrikaanse digkuns. Wie is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse digter? Watter Afrikaanse gedig kan jy herhaaldelik lees, en dieselfde emosies ervaar as toe jy dit die eerste keer ontdek het?

Dis omtrent nou ’n catch-22-vraag! As ek sê Ingrid Jonker, dan klink dit half clichéagtig, en as ek sê Krog of Breytenbach, dan mag dit dalk oorkom of ek myself beperk tot die meesters. Ek dink my brein geniet Krog se werke, my hart lief Jonker en my gebeendere sidder as ek Breytenbach lees. Elkeen van die digters beklee ’n spesiale plek in my ontdekkingstog na Afrikaanse digkuns.

’n Gedig wat ek herhaaldelik kan lees, is ongetwyfeld “Bitterbessie dagbreek” deur Ingrid Jonker – ek sê dié gedig soms vier tot vyf maal op ’n dag op in my kop en die woorde vang my steeds onkant. Die hartseer toon wat elke keer deurskemer in dit wat sy sê maar ook nie sê nie, die ewige soeke. Die eenvoud en terselfdertyd die trefkrag van die gedig is seldsaam en verstommend.

Kloveniersburgwal waar die Bushuis/Oost-Indisch Huis geleë is.

Waarom het jy besluit om by die Universiteit van Amsterdam te studeer? Vertel ons meer van jou ervaringe by die universiteit.

UvA bied my die geleentheid om voltyds te kan werk en terselfdertyd te spook en spartel met my navorsing. Ek is ongelukkig nie meer jonk nie, en finansieel sou dit ’n dilemma wees as ek nou weer voltyds op ’n kampus moes gaan sit. 

Ek sou bittergraag ’n voltydse PhD-student wou wees en al my tyd afstaan aan die skryf van my studie, maar dié paadjie is nie vir ons almal beskore nie. UvA is ongelooflik georganiseerd en baie ondersteunend. Ek kan eerlikwaar sê ek voel (en is) verskriklik bevoorreg om by UvA verder te kan studeer.

Universiteit van Amsterdam, waar ek die meeste van my besoeke aflê.

Tyd loop uit

“If you’re alive, you should wave your arms about, leap in the air, make noise, laugh and talk to people, because life is the exact opposite of death.”  – Paulo Coelho

Polka-dot reën verkleur laatmiddag se warm sypaadjie.
Soms is die verlede nes die hede — altyd aanwesig.

Die Psychology-tydskrif raai         
mens aan om op die hede te fokus.           
Carpe diem!

Teen 6:49 PM kondig nabye moskee sononder aan,
dis elke dag se bede. Vergewe my. Ek sukkel
met die hede, die nuus, die alewige stryd vasgevang

in my truspieël, vertoon dit wat verby is stowwerig-           
grys, asof ’n smerige venster wat mens wil toe-wasem

met warm asem en skoonvee, een laaste maal           
net om beter te kan sien.

Een finale terugblik voor nag die dag verorber                   
in verlede tyd,         
het + ge-.

Hoe voltooi jy jou studie, siende dat jy in Abu Dhabi werk? Virtueel of woon jy soms fisiese klasse by?

Ek pendel tussen Abu Dhabi en Amsterdam, maar dit was voordat COVID-19 toegeslaan het. Omdat ek werksaam is in Abu Dhabi, is die verwagting dat ek so elke agt tot twaalf weke akademiese kursusse of gesprekke bywoon, asook met my navorsingstoesighouer(s) vergader. Op die huidige stadium is omtrent alles aanlyn – vergaderings, sosiale interaksies, werkswinkels ... Dit het voordele, maar ook nadele. Daar is altyd die tydsverskil om aan te dink, en natuurlik mis my voete die smal strate en koue weer van Amsterdam.

Nieuwe Zijde – een van die buurte in die stad met heelwat besienswaardighede.

Jy is ook die stigter van Ons Skryf Afrikaans op sosiale media. Wat het hierdie projek geïnspireer?

Ons Skryf Afrikaans (OSA) het begin as Ek Skryf Afrikaans, waar ek gehoop het om my eie kreatiewe skrywes en skryfidees te deel, maar dit het effens in die hek geduik heel aan die begin omdat ek nie baie aktief op die blad was nie.

Nieuwe Zijde – een van die buurte in die stad met heelwat besienswaardighede.

Op nóg ’n volmaan aand

Verlore vlieswolkies wil-wil vat 
aan die maan se oorvol silwer pens. Ek dink

heelaand aan jou stem; hoe jy REALLY sê 
elke keer as iets jou verbaas. REALLY

so volrond en bittermooi. ’n Konvokasie van 
duisende woorde uitgeruil nes blink

albasters tussen beste maats. Maar almal 
weet beste maats baklei ook soms. Hoeveel keer

het ons? Woorde gebraak tussen twee 
fone en vier oë. Annus horribilis!

Te laat het ons agtergekom om verskoning 
te vra is nie gom of pleister nie, dit heel nie

’n kapot hart nie. In laatnag stap ek voort 
onder maanlig, ’n labirint van skerppunt-klippe,

dooie jellievisse, laagwater wat my enkels omhels. 
Die wind het gaan skuinslê, branders breek teer.

Niemand is meer lus vir baklei nie. Tot die 
vlieswolkies het verdwyn. REALLY.

Ek het toe herbesin en besef daar is ’n tekort aan ’n Afrikaanse blad waar almal welkom voel ongeag taalvermenging, sosiale status, geleerdheid, ouderdom ... Ek wou ’n tuiste skep vir die taal waar almal iets prettigs kon vind of leer en ontdek. 

Deesdae staan OSA al amper op 45 000 volgers en groei nog daagliks, wat ’n riem onder die hart is. Ek is ’n bietjie minder aktief op die blad, met te veel ysters in die vuur, maar Irene Fischer wat Ek is nog hier gepubliseer het in 2016, staan nou meermale aan die hoof en stuur van sake. Dit was wonderlik om iemand te vind wat net so ’n groot passie vir die taal het en bereid was om saam met my die onbekende aan te pak op sosiale media, veral omdat sosiale media deesdae so ’n onvergeeflike en taai platform is. 

Wat hoop jy om in die volgende 5–10 jaar met die projek te bereik?

Ek hoop om eerstens my navorsing te voltooi in die volgende vyf jaar! En wie weet, dalk is daar plek vir ’n akademiese publikasie in die toekoms. Afrikaans raak al hoe meer globaal en ek glo ons taal se moontlikhede en potensiaal is oneindig. 

Oudezidjs Voorburgwal, in die middel van Amsterdam.

  • Foto’s: verskaf

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top