............
“Afrikaanse skole presteer ook uitstekend as dit by B-graad-toelating kom. Byna die helfte (49,9%) van leerders in Afrikaanse skole kry toegang tot dié verdere studiegeleentheid.”
............
Afrikaanse skole se uitslae van verlede jaar se matriekeksamen dien as inspirerende voorbeeld van die rol wat moedertaalonderrig in leerders se prestasie speel.
So sê die Skoleondersteuningsentrum (SOS) in hulle verslag van 2019 se matriekeksamens. Die SOS is ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand gerig op versterking van Afrikaanse onderwys op alle fronte.
Die doel van die verslag is om ’n kritiese blik op die eksamenuitslae te werp, met spesifieke verwysing na die prestasie van Afrikaanse skole.
Foto: Pixabay.com
Vir die doeleindes van die verslag word alle skole wat Afrikaans Huistaal as skoolvak aanbied, as Afrikaanse skole beskou. Dit sluit dus alle Afrikaans enkelmedium-, parallelmedium- en dubbelmediumskole in. Dit sluit ook Engelse skole in wat Afrikaans Huistaal aanbied
Afrikaanse skole het in die afgelope matriekeksamen ’n slaagsyfer van 87,1% behaal teenoor die nasionale slaagsyfer van 81,3%.
Volgens die verslag is daar in Suid-Afrika inderwaarheid twee uiteenlopende realiteite in onderwys. Aan die een kant is daar 10-20% skole wat eilande van uitnemendheid is, waarvan Afrikaanse skole deel uitmaak. Aan die ander kant is daar ’n groot persentasie swak-funksionerende skole wat misluk in hul doel om leerders op die uitdagings van die toekomstige werkplek voor te brei. Ten spyte van talle uitdagings vaar Afrikaanse skole in Suid-Afrika steeds uitstekend op alle terreine.
Toppresterende skole in Suid-Afrika – waaronder die meeste Afrikaanse hoërskole – het in 2019 nie net ’n indrukwekkende aantal onderskeidings gelewer nie, maar handhaaf ook ’n gesonde gemiddeld.
Afrikaanse skole presteer ook uitstekend as dit by B-graad-toelating kom. Byna die helfte (49,9%) van leerders in Afrikaanse skole kry toegang tot dié verdere studiegeleentheid. Dit beteken dat Afrikaanse skole verantwoordelik is vir 18% van die leerders wat toegang tot B-grade verkry. Afrikaanse skole verteenwoordig slegs 10,2% van die totale groep skole.
............
“Afrikaans is naas Xhosa die taal waar die persentasie onderskeidings die hoogste is.”
............
Die feit dat Afrikaanse skole 13% meer graadtoelatings as die nasionale gemiddeld oplewer, bewys volgens die verslag dat Afrikaanse skole ’n reusebydrae tot die intellektuele kapitaal van die land lewer en dus talle toppresteerders oplewer wat goeie kandidate vir verdere studie is.
Daar is 616 754 voltydse leerders ingeskryf vir die 2019 Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen, maar slegs 504 303 het die eksamen geskryf. Dit beteken dat 112 451 (18,2%) kandidate wat ingeskryf het, nie vir die eksamen opgedaag het nie. SOS sê hierdie feit benadeel die geloofwaardigheid van die gunstige slaagsyfers. Indien die 112 451 leerders wat tussen Januarie en November “verdwyn” het, by druipelinge getel word, is die nasionale slaagsyfer vir 2019 slegs 66,5%
Hoewel Afrikaanse leerders slegs 10,05% van die totale getal matrikulante uitmaak wat wiskunde as vak neem, dra dié groep by tot 32,1% van die onderskeidings in wiskunde. Afrikaanse leerders vaar dus meer as 300% beter as hul eweknieë in die res van die land.
Die verslag sê dit is betreurenswaardig dat 73% van alle leerders wat in 2019 matriek geskryf het, nie die voordeel kon geniet om die belangrikste eksamen van hul skoolloopbaan in hul moedertaal te kon aflê nie. Afrikaans is naas Xhosa die taal waar die persentasie onderskeidings die hoogste is. Dit getuig van die toewyding en gehalte van Afrikaans Huistaal-onderwysers.
Die Afrikaanse Hoër Meisieskool het weer die topposisie in Afrikaans Huistaal beklee met 131 onderskeidings (teenoor 101 in 2018), en 57,96% van dié matriekgroep het onderskeidings behaal.
Die volledige verslag kan hier gelees word.
Lees ook
Buro: MvH