Agter die skerms: Kaapse kunstenaars werk saam in grendeltyd

  • 0
Bespreek hier kaartjies. Hierdie aanlyn vertoning duur tot 30 November 2020 om 23h59

Ek kon in daardie eerste vergadering, vroeg in Mei, reeds die energie en die tasbare behoefte om weer te skep waarneem onder ons. En dit was deurentyd aanvoelbaar in die proses, veral op die dag toe ons die Stabat Mater verfilm het vroeg in Julie. Vir die uitvoerende kunste was dit sedert Februarie/Maart onmoontlik om enige vorm van kuns te skep of inisieer. Wanneer teaters sou oopmaak, was op daardie stadium baie onduidelik. Dus, toe ons hoor dat daar nou geleentheid sou wees om saam te werk en ’n klassieke stuk op die planke te kry, was daar dadelik ’n wil om ’n weg te vind. Ek reken dié einste energie en behoefte om te skep was presies wat hierdie projek so spesiaal en emosioneel gemaak het vir alle betrokkenes. 

Die verhoog was basies soos ’n skaakbord waarbinne die twee sangers, 10 orkeslede en ses dansers moes beweeg. (Foto: Anelia Loubser)

Die dansers was Kirstel Paterson (hoofdanser), Gemma Trehearn, Mandla Mokoen, Jan Kotze, Nicolas Laubscher, Miles Carrott (Foto: Anelia Loubser)

Die kreatiewe wiele het begin draai toe Suid-Afrika se vlak 4- en 3-regulasies toegelaat het dat die uitvoerende kunste deelneem aan produksies wat vir plaaslike uitsendings geskep word. Matthew Wild en sy span by Kaapstad Opera wou ’n medewerkingsprojek aanpak wat in isolasie geskep kon word, spesifiek vir plaaslike uitsending. Erik Dippenaar van Camerata Tinta Barocca is toe betrek, asook Debbie Turner van Cape Town City Ballet. Die oplossing was die eenmalige opname vir plaaslike uitsending. Dewet van Rooyen en sy span by Wyrd Films (waarvan ek deel is) het die opname behartig. Vier organisasies, een produksie.

Die idee was om ’n musiek-en-dans-teaterproduksie op te voer en dan te verfilm om ’n produk te skep wat die kyker laat voel dat hy of sy op die verhoog is. 27 minute van musiek, sang en ballet wat jou as’t ware insluk en in die ervaring meevoer. Wat die produksie so anders gemaak het, is dat dit ’n verhoogstuk is, maar ook nie. Dis eerder ’n verhoog binne ’n stel, of ’n stel bo-op ’n verhoog – dis hoe ons agter die kameras daaraan moes dink. Dis die kamera wat jou op reis neem ín die teaterervaring en jou wys wat daar is om te sien. Jy, die kyker, is op die verhoog, in die musiek; jy kyk die danser of sanger in die oë.

Nou, in retrospek, stem ons saam dit was vir ons almal ’n andersoortige en onvoorspelbare projek met baie eerstes. Onder normale omstandighede sou ’n projek van hierdie skaal maande neem om te organiseer. En dit sou in persoon gebeur. Maar nou moes alles natuurlik aanlyn plaasvind – logistieke beplanning, oefening, koreografie, al die kreatiewe prosesse tot en met kleedrepetisies een tot twee weke voor die klankopname.

Matthew het in ons eerste aanlyn ontmoeting vertel hoe lank hy al loop met die gedagte om die Stabat Mater, die klassieke werk van Pergolesi wat handel oor Maria se swaarkry tydens Jesus se kruisiging, te verwerk na ’n dans-en-musiek-teaterproduksie. Met die oog op die pandemie wat wêreldwyd ellende saai, was Matthew se visie nou juis om iets te skep wat poog om die traumatiese ervarings van mense te versinnebeeld. Die vervreemding, verwydering, verval, rou. 

Dewet van Rooyen van Wyrd Films het die kameraregie en kinematografie behartig. (Foto: Anelia Loubser)

Die koreograaf, Mthuthuzeli November (wat terloops dié jaar met ’n Laurence Olivier-toekenning bekroon is), het dansers vanuit Londen via Zoom geleer. Daar was ses dansers altesaam en twee van hulle het tydens die inperking saamgebly, wat ’n duet moontlik gemaak het (tot Mthuthuzeli se groot verligting). Die dansers was begelei deur twee sangers van Kaapstad Opera, Brittany Smith (sopraan) en Ané Pretorius (mezzosopraan), en tien orkeslede van Camerata Tinta Barocca.

Ek het met ’n paar van die belangrike rolspelers gesels om te hoor wat agter die skerms gebeur het en hoekom die projek vir so baie van ons ’n kosbare ervaring was.

Marí Stimie [vervaardiger, Kaapstad Opera], hoe was die ervaring vir julle agter die skerms?

“Agter die skerms” het ’n hele nuwe betekenis gekry in dié tyd! Ons Covid-protokol is reeds gedurende Mei deur ’n interne taakspan geskryf – met die oog op die eerste paar filmprojekte. Ons het in Erin Hall ingetrek vir die klankopname, gewapen met kophoogte-perspexskerms, bokse vol maskers, handreinigers, en baie warm water en seep. Gedistansieerde kostuum-“fittings” en algemene kostuumhigiëne was byvoorbeeld ook moeiliker as gewoonlik.

In ’n kollaboratiewe opset is die grootste uitdaging dikwels om verhoudinge te bestuur, vanaf die agtersitplek, en sonder om op enigiemand se tone te trap of op hul senuwees te werk. In hierdie geval, en ten spyte van die omstandighede (of dalk as gevolg daarvan), was dit eerlikwaar glad nie nodig nie! 

Hoe was die saamwerk met ander vervaardigers en kreatiewe spanne?

Slim kollaboratiewe en veral interdissiplinêre projekte is my kos! Die verhouding tussen Kaapstad Opera en Tinta Barocca is ’n gevestigde en ’n gemaklike een. Die bande tussen ons en die Kaapstadse balletgeselskap is ook oor die jare goed gevestig. Die twee artistieke direkteure, Debbie Turner en Matthew Wild, was gretig vir saamwerk, en die Stabat Mater was – soos die eindproduk wys – die perfekte keuse vir die tyd. 

Wat was julle verwagting van ’n filmprojek wat ook ’n eerste was vir julle wat onder normale omstandighede uitsluitlik in die teater werk?

Matthew Wild se artistieke konsep was duidelik en eenvoudig: striking in its simplicity en ’n hoogs gepaste vergestalting van die musiek. Die musiek weer is asemrowend, en ’n hoogs gepaste vergestalting van die tydgees. Dit was nie moeilik om jou ’n pragtige en roerende stuk werk in jou geestesoog voor te stel nie. En danksy die artisties sensitiewe en algeheel fantastiese redigering deur Dewet het die eindproduk alle verwagtinge oortref.

Die dansers en sangers se kostuums is ontwerp en gemaak deur Maritha Visagie van Kaapstad Opera. (Foto: Wyrd Films)

Maritha Visagie [hoof van produksie, Kaapstad Opera], hoekom maak projekte soos hierdie julle opgewonde?

Die geleentheid wat dit ons gee om buite ons gewone “borrel” te werk, die geleentheid tot vernuwing, maak my opgewonde. Dit bly natuurlik lekker om aan standaard-repertoire-opera te werk en in tradisionele teaters – ons ken die omgewing, die moontlikhede en beperkinge. Maar die huidige uitdaging van sosiale afstandhouding het ons gedwing om in ’n kort tydjie ’n klomp nuwe rigtings in te slaan en om nuwe, opwindende produksiemoontlikhede raak te sien. 

Brittany Smith [sopraan, Kaapstad Opera], hoe was voorbereiding en ervaring as sanger?

Glo dit of nie, ek moes vir ’n paar weke repeteer in my kar voor ons huis voor ons almal saam later begin repeteer het. My ouers en my suster het aanlyn van die huis af gewerk, so ek moes myself verder afsonder ter wille van hulle.

Die mees skrikwekkende deel was toe Matthew gesê het ons moet sonder bladmusiek sing. Mens hoor byna nooit van ’n Stabat Mater wat gesing word net op geheue nie. Maar ek en Ané (Pretorius) kon dit regkry omdat ons ons musikale instink gevolg en vertrou het.

Hoe was die algehele ervaring? 

Ek besef ons het eintlik geen idee gehad wat om te verwag nie. Dit was vir my en Ané ’n splinternuwe ervaring. Om te sing sonder ’n gehoor, en met ’n paar kameras wat vir jou kyk. Matthew het van die begin af genoem dis basies ’n musiekvideo en ons moet die konneksie met die dansers vir die kamera probeer wys.

Matthew en almal betrokke het só hard baklei vir hierdie produksie om te gebeur. Almal was so honger om weer musiek saam te maak, saam te werk en te skep. Die oomblik toe ons in ons kostuums was die eerste keer en die ballerinas gereed was met hulle dansskoene aan, was ek baie oorweldig. Ek het, om die waarheid te sê, begin huil. Ek kon nie glo ek gaan weer die kans kry om te sing in ’n spasie saam met ander mense nie. Dit was asof ons weer besef het wie ons is en wat ons moet doen as kunstenaars.

Ek was net so uiters dankbaar vir die geleentheid om weer te kan sing.

Refiloe Olifant, ’n barokviolis van Camerata Tinta Barocca. (Foto: Wyrd Films)

Erik Dippenaar [kunsdirekteur en musiekleier, Camerata Tinta Barocca], hoe was dit vir jou om aan hierdie projek te werk?

Ek was werklik die heeltyd bekommerd oor die uitvoerbaarheid hiervan. Ek het bly dink ons pak te veel aan, en ek kon nie dink hoe ons dit gaan maak werk nie. Ek het voor die pandemieregulasies byna nooit vergaderings aanlyn gehad nie. Dit was vir my ’n nuwe ervaring om myself oor ’n skerm uit te druk!

Die repetisieproses was ook uiteraard baie moeiliker as enige vorige projek en daar het konstant nuwe uitdagings kop uitgesteek. In voorbereiding moes die lede van my orkes elkeen in afsondering voorberei, soveel anders as waar ons normaalweg weekliks saam sou oefen. Ons het op daardie stadium mekaar maande laas gesien.

Toe ons uiteindelik saam kon begin repeteer, moes die spelers en die sangers in die vertrek óf met maskers of met skerms aan oefen, of baie ver van mekaar staan. Gewoonlik staan ons lekker kompak om die klanke te laat saamsmelt – veral met die klankopname.

Ons is nie ’n simfonieorkes nie, so ek dirigeer nie, ek lei met my lyf. Om dit te doen maak ons oogkontak en volg ek mense se asemhaling. Ek kon dit natuurlik nie doen as elkeen van my spelers ’n masker aan het nie, en ons moes nuwe maniere van interaksie kry om voor te berei hiervoor. Boonop begelei ek my orkes op ’n kamerorrel wat ons geleen het van die Universiteit van Kaapstad. Die orrel was agter slot en grendel in dié tyd en dit was ’n groot palawa om dit uit te kry!

Ek is baie trots dat ons te midde van al hierdie hindernisse ’n produk van hierdie kwaliteit kon skep. Ek het weer besef hoe belangrik dit is om saam met mense te werk wat jy vertrou.

Die grootste les vir jou in die proses?

Dit was op vele vlakke ’n baie slegte paar maande, veral vir die uitvoerende kunste, maar as daar een ding is wat ek dink ons moet behou uit hierdie moeilike tyd, is dit die bereidwilligheid om saam te werk. Ek het ervaar hoe mense net oop is om saam te werk en oop kaarte speel om iets te maak werk.

Ek dink dit maak die breër uitvoerende gemeenskap sterker, en ek hoop ons onthou dit in die toekoms.

Nicole D'Oliveira, ’n barokviolis van Camerata Tinta Barocca. (Foto: Wyrd Films)

Mthuthuzeli November [koreograaf], hoe het jy te werk gegaan om die koreografie te behartig oor Zoom?

Die hoeveelheid werk wat hierin gegaan het, was nogal intens. Vir my as koreograaf is dit natuurlik altyd beter in persoon. Ek was nooit seker of die dansers die informasie wat ek probeer oordra, reg gaan interpreteer nie. En dan is daar natuurlik die saak van verskillende internetspoed by elke danser, wat veroorsaak dat iemand elke nou en dan sal vries en dan moet ons herhaaldelik oor begin. Hulle het met tye gelyk soos springmielies was skiet! Ek het later video’s van elke beweging opgeneem en vir elke danser gestuur om seker te maak hulle weet presies hoe om dit te interpreteer en hoe die tempo en ritme moet lyk.

Dit het baie beteken dat ek vir Debbie Turner en Matthew volkome kan vertrou. Ek het geweet hulle sal op die dag die dansers ondersteun as ek nie daar kan wees nie.

Wat was vir jou moeilik in die proses van koreografie en die danse skep vir die Stabat Mater? 

Om beperk te wees tot 2 X 2-meterblokke was regtig aaklig. As dansers is ons gewoond aan spasie en die absolute vryheid van beweging. Ons gebruik gewoonlik soveel van die spasie as moontlik met die mees ekstreme bewegings. Ek dink wat hierdie projek my geleer het, is dat daar baie te sê is vir minimum beweging, of net bewegings van die hande, of selfs, geen beweging hoegenaamd nie. Dit het my ’n nuwe perspektief gegee op wat koreografie is.

Wat was jou inspirasie vir die bewegings wat jy ingesluit het?

Dit was van die begin af vir my belangrik dat ek en Matthew dinge dieselfde sien. Hy wou iets skep wat spreek van die era en tyd waaroor Stabat Mater handel. Ons wou ook daardie gevoel van vasgevang wees in ’n klein spasie versinnebeeld. Dít, en daai gevoel van verlies. Ek het meer begin lees oor Stabat Mater en was veral geïnspireer deur die prent van die oorspronklike albumvoorblad. Ek het veral gelet op mense se posture en hoe hulle hulleself “gedra” het, die manier waarop hulle sou staan. Ek wou hê die dans moet dit reflekteer – en ook hoe ons almal opgesluit en alleen is tuis.

Ek het probeer om bewegings en gebare te gebruik wat beweging kan skep in ’n klein spasie. Die koreografie van hierdie projek het my manier van dink oor beweging en stories vertel baie uitgedaag.

Kirstel Paterson [hoofdanser van Kaapstad se balletgeselskap], hoe was voorbereiding vir die Stabat Mater anders as ander dansprojekte? 

Dit was baie kort kennisgewing – ons het net drie weke gehad om die dans te leer. Maar ons was gereed om enigiets te doen om weer te kan dans! Dit was vir ons almal ’n nuwe ervaring – om vir drie weke te repeteer oor Zoom. Dit was baie frustrerend met tye, wanneer die internet te stadig was of die musiek nie gesync het nie. Mthuthuzeli was gelukkig ’n wonderlike koreograaf en deurentyd so vriendelik en geduldig.

Erik Dippenaar, artistic director van Camerata Tinta Barocca, het die musiekbegeleiding behartig en ook die kamerorrel bespeel. (Foto: Wyrd Films)

Die studio het eenders gevoel as ’n verhoog. Maar ons was so lanklaas op die verhoog dat ons byna vergeet het hoe om afstand te peil. En Dewet was ook met tye (gemasker) op die verhoog en tussen ons, wat ook iets was om aan gewoond te raak! 

Wat het voorbereiding behels as danser?

Ek en my mededansers het elkeen alleen voorberei en apart met Mthuthuzeli gewerk ter voorbereiding. Dit het natuurlik baie uitdagings gebring wat internet konneksies en tyd aanbetref, maar Mthuthuzeli is ’n wonderlike en geduldige koreograaf.

Ons het so ’n week voor die verfilming vir die eerste keer saam met die orkes en sangers gerepeteer. Daardie dag was ek totaal oorweldig. Ons moes gewoond raak daaraan om met maskers aan te oefen. Nie net kan mens nie lekker asemhaal nie, maar dit blokkeer ook jou laer periferiese uitsig/beeld.

Op die dag van die verfilming kon ons gelukkig ons maskers afhaal, omdat almal in die vertrek hulle s’n aangehad het, en ons op die dansvloer natuurlik 1,5 tot 2 meter van mekaar af gebly het. In my agterkop het ek besef ek is blootgestel, so ek stel my familie ook bloot. Maar ek moet sê almal in die span het ontsettend hard gewerk om seker te maak almal is veilig. Ek was enduit net baie dankbaar vir die geleentheid om te kon saam werk met mense wat iets wou skep in ’n moeilike tyd.

Die dag van die finale repetisie, asook die verfilmingsdag met al die musikante en sangers in die vertrek was werklik ongelooflik. Ons het elke beweging ’n paar keer oorgedoen, wat ook vir ons baie vreemd is – op die verhoog het mens net een kans en as jy ’n fout maak, moet jy om dit werk. Om die danse te herhaal het ons natuurlik ook baie moeg gemaak, maar ons was net so dankbaar om weer te kan dans. 

Ons het almal die produksie as baie emosioneel ervaar – hoe was dit vir jou as danser?

Dit was inderdaad ’n baie emosionele ervaring – eerstens omdat Stabat Mater as ’n gesang so ’n ongelooflike storie vertel, maar tweedens ook net omdat ons vir so lank daarna gehunker het om weer te kan dans.

Die orkeslede het agter op die verhoog gestaan, maar tydens die verfilming het kameras ook nader aan hulle beweeg, en dis ’n sleutelelement in die produksie. (Foto: Wyrd Films)

Daar was ’n baie spesiale energie in die vertrek. As ek nou na die finale produk kyk, neem dit my terug na die tyd in my motorhuis waar ek moes voorberei en die tyd toe ek in totale afsondering moes leef en dans. Dit laat my ook net besef waardeur ons as ’n land en die hele mensdom is die laaste jaar.

Ek was veral emosioneel die dag van verfilming, en ook toe ek die eindproduk die eerste keer sien. Die musiek is regtig besonders. Ek was van die begin af so dankbaar om weer te kan dans en weer hoopvol te wees vir die kunste.

Dewet van Rooyen [kameraregie en kinematograaf, Wyrd Films], was hierdie produksie ’n uitdagende ervaring vir jou as kinematograaf en die een wat kameraregie behartig het?

Die een groot uitdaging was beslis die spasie waarin ons moes werk, en veral om dit te laat voel asof daar geen mure is nie. Om nie die geografie van die vertrek te wys nie. Ons wou hê dit moet geïsoleerd voel, asof die kunstenaars in donkerte gehul is. Ons moes seker maak die beligting verklap nie die ruimte nie, en die aantal hoeke waaruit ons kon skiet was natuurlik ook beperk. Ek was die enigste een wat baie naby aan die kunstenaars kon kom met ’n bewegende kamera om die vloeiende en dinamiese ervaring te probeer skep.

Ons het elke beweging ’n paar keer verfilm – elke keer vanuit ’n ander hoek. Die verskillende beeldmateriaal het dit moontlik gemaak om iets saam te stel wat die kyker intrek. Dit was ’n lang en moeilike dag, maar baie verrykende ervaring.

Ek sou ook nooit kon gedink het dat ons met so min fisieke kontak so baie kon uitrig nie.

Henrike Kovats het die kontrabas bespeel. (Foto: Wyrd Films)

Hoe was die naproduksieproses? 

Dit was vir my baie belangrik dat ons ’n ervaring skep wat die kyker ’n ware gevoel gee van wat daai dag binne die studio gebeur het. 

Die kontinuïteit was iets waarop ek die heeltyd moes konsentreer. Ons het elke beweging ’n paar keer opgeneem met drie tot vier verskillende kamers, wat ons dieselfde inhoud gee, maar uit verskillende hoeke. Ek kon natuurlik ook nie ’n noot van die musiek sny nie, want dit was vooraf opgeneem.

Dit het my weke geneem om die eerste snit van elke beweging saam te stel. Nie net is dit belangrik om die dansers in “sync” te kry nie, maar ook moet elke tegniek reg lyk. Elke strykstok wat beweeg, moet op noot gebeur; die een wat sing moet in fokus wees op die regte tyd. Ek het ongelooflike respek gekry vir die dansers se tegniese vaardighede – hulle was byna altyd op tyd en in gelid.

Ek dink dit het gehelp dat ek self musiek verstaan (ek speel klavier), en om te weet waarheen die musiek op pad is, het my baie gehelp. Om op die regte element te fokus op die regte tyd – die sanger, instrument en/of beweging – was belangrik.

Die grootste les in die proses? 

Daar moes baie vinnig ’n vertrouensverhouding ontstaan tussen die verskillende partye. Matthew, Erik en Debbie moes ons vertrou om dit wat in die vertrek gebeur vas te vang. Dit aan ons toe te vertrou. Dis nie ’n verhoog nie, eerder ’n stel op ’n verhoog. Ons moes die kyker nader bring aan die ervaring.

En dan was daar natuurlik die tydfaktor. Ons het net een dag gehad om alles te verfilm. Ek, Erik en Matthew het vooraf die verskillende bewegings bespreek, asook die hoeke wat die fokus van elke beweging is, maar die tyd het nie toegelaat dat ons na die verfilming van elke beweging kan terugkyk na die beeldmateriaal nie. So dit was eintlik onmoontlik om vir Matthew, die regisseur, ’n idee te gee van hoe dit sou lyk. Hy moes my net eenvoudig vertrou.

Brittany Smith, sopraan van Kaapstad Opera. Hulle het ook in repetisies maskers gedra as hulle nie gesing het nie. (Foto: Wyrd Films)

Selfs te midde van talle uitdagings het ons in die paar weke wat ons aan Stabat Mater gewerk het, ’n wonderlike saamwerk-energie en vertroue ervaar. Dit was vir almal betrokke ’n wonderlike rykdom om saam met kreatiewe mense van verskillende velde te werk, maar ook doodgewoon net heerlik om weer sáám te kan werk – as een span, aan een projek, in een vertrek.

Die woorde van Toni Morisson het deurentyd by my opgekom: “This is precisely the time when artists go to work. There is no time for despair, no place for self-pity, no need for silence, no room for fear ... That is how civilizations heal."

Ons dans, ons sing, ons skep.

Dís hoe ons heel word en heel bly.

Buro: MvH
  • 0
Top