
Alfred Schaffer (Foto: Izak de Vries)
Alfred Schaffer is pas aangestel tot die leerstoel in kreatiewe skryfkuns in die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch. In sy nuwe hoedanigheid spring hy weg met ’n bibliofiele publikasie, Overdrive. Schaffer verduidelik dat die boek bestaan uit nukleêre poësie. Radioaktief! Dit is nie die eerste keer dat hy ’n bibliofiele bundel die lig laat sien nie. In 2016 het byvoorbeeld die pragbundeltjie Postuum. Een lofzang in die Slib-reeks van Uitgeverij den Boer verskyn.
Overdrive, wat ook as e-boek beskikbaar is, is baie kunstig uitgegee deur Opwenteling, ’n kleiner uitgewery wat aandui dat hulle gedigte “met smoel” uitgee (https://opwenteling.nl/uitgeverij). Die bundel is gepubliseer in die Opwenteling-reeks genaamd De Kreeftafslag. Hierdie reeks word so beskryf: “Bij De Kreeftafslag brengen bekende dichters hun a-typische werk uit. Experimenteel, non-conformistisch, verborgen schrijfsels uit de onderste la.”
Twee kreatiewe video’s van gedigte uit Overdrive is te siene op YouTube: https://youtu.be/1mIH5f1r2Y8 en https://youtu.be/g4OgB_5Jr8Q.
In hierdie tyd van oorlog, klimaatskrisis en KI-bekommernisse bied Alfred Schaffer se nukleêre gedigte, ten minste met die eerste oogopslag, ’n broodnodige digterlike oopskryf en andersoortige blik op hierdie angstige tyd. Ons staan op die drumpel van groot omwentelinge wat ons nog nie behoorlik kan peil nie. Miskien moet ons Overdrive gaan lees, want die woorde van belangrike en talentvolle digters soos dié van Alfred Schaffer lei ons as lesers na nuwe verwondering en nuwe gewaarwordings.

