Die plan was om in hierdie skrywe breedvoerig te reageer op Ingrid Glorie se prikkelende en leersame bespreking van De slavernij in Oost en West – Het Amsterdam-onderzoek (Voertaal, 7 Januarie 2021).
In gebiede so uiteenlopend soos vandag se New York, Suriname, die Antille, Indië, Ghana aan die weskus van Afrika en tot onder in die Kaap de Goede Hoop, skryf Glorie, “herinneren plaatsnamen, straatnamen en monumentale forten aan de macht en invloed die Amsterdam hier eens had”.
Nodeloos om te sê was dit weens Nederland se rol in slawehandel, onder die beheer van die Verenigde Oostindische Compagnie (VOC) en West-Indische Compagnie (WIC), ’n rol wat later in Suid-Afrika deur die Britte oorgeneem is.
Na aanleiding van Kate Ekama se hoofstuk in die boek oor slawerny aan die Kaap, herinner Glorie ons nou: “De banden tussen Kaap de Goede Hoop en Amsterdam waren sterk; zo was Jan van Riebeeck, tussen 1652 en 1662 de eerste commandeur van de Kaap, uitgestuurd door de Amsterdamse Kamer van de VOC. Een opmerkelijke bevinding van Ekama in dit hoofdstuk is dat de Kapenaren in Van Riebeecks tijd vooral naar het westen keken voor de toevoer van slaven (...). Ná 1658 zou de VOC zich echter meer gaan richten op de slavenhandel in de Indische Oceaan.”
Dié gebruik van “mensehandel” is in 1834 formeel deur die Britte afgeskaf, maar slawe hier aan die Kaap sou eers ’n verpligte vierjaar-“vakmanskap” moes voltooi voordat hulle hul vryheid behoorlik in 1838 kon bekom. Opvallend dan: In die hoogty van die onlangse Black Lives Matter-opstande is juis “plaatsnamen, straatnamen en monumentale forten” wat Brittanje met slawerny verbind, deur protesgangers geteiken. Maar oor Nederland skryf Glorie: “In Amsterdam zijn de sporen van het slavernijverleden minder zichtbaar.”
Dit tref my toe dat dit in Kaapstad presies ook só is dat – met die uitsondering van, sê maar, die standbeeld van Van Riebeeck en sy vrou, Maria, en die slawelosie waar Adderley- en Waalstraat mekaar ontmoet – “de sporen van het slavernijverleden minder zichtbaar” is.
Hierop sou ek dan in my oorspronklike artikel-idee wou uitgebrei het, maar ook uiteindelik ’n draai gegooi het by nóg ’n nuwe boek waarin Nederland en Amsterdam se historiese bande met Suid-Afrika op ’n ander wyse ter sprake kom.
Dié boek is vars van die drukpers: Pitch battles – sport, racism and resistance deur Peter Hain en André Odendaal (Rowman & Littlefield). Sowel Hain as Odendaal het uit eie reg ’n verhaal om te vertel: Hain is ’n gebore Suid-Afrikaner wie se ouers weens apartheid na Engeland uitgewyk het, waar hy ’n bekende teenapartheidstryder geword het en nou ook bekend as ’n politikus is; Odendaal is ’n sporthistorikus wat in die ou dae die wêreld van wit sportbevoorregting agtergelaat het om nierassige krieket onder die Sacos-vaandel te gaan speel.
In Pitch battles word onder meer gefokus op die rol van die Nederlandse Anti-Apartheidsbeweging (AABN) en hoedat Amsterdam in 1987 vir ’n week lank (onder aanvoering van die stad se burgemeester, Ed van Thijn, ’n ywerige ondersteuner van die teenapartheidsbeweging) ’n “apartheidsvrye sone” geword het. Dit was die week in Desember van dié jaar toe die Culture in Another South Africa- (CASA-) konferensie hier gehou is.
Hiertydens het ’n groep skrywers, musikante, kunstenaars, akteurs, filmmakers, fotograwe en kultuurwerkers uit Suid-Afrika die geleentheid gekry om gedagtes uit te ruil met landsgenote in ballingskap en ook ander internasionale bondgenote. “Tens of talks, exhibitions and performances took place as the South Africans ‘took over’ the royal theatre and opera, the discos and the restaurants and the city hall and parliament,” haal Hain en Odendaal uit Evelyn Groenink se Incorruptible oor die dood van drie struggle-helde aan. “It was truly,” (uit Campschreur en Divendal se Culture in another South Africa) “‘a mix of exiles from all over the world’ and ‘insiders’ working and living in South Africa”.
Dié “mix” het die beste in klank en woord ingesluit: musiek deur die Jazz Pioneers, Basil Coetzee, Jonas Gwanga, Abdullah Ibrahim en Dolly Rathebe; verhoogstukke deur Percy Mtwa, Mbongeni Ngema en Athol Fugard; en die stemme van skrywers soos Nadine Gordimer, Lewis Nkosi, Don Mattera, Mandla Langa, Breyten Breytenbach en Njabulo Ndebele.
“Every piece played or enunciated by the resistance artists and musicians present became part of the heartbeat of the revolution,” aldus die medeskrywers van Pitch battles. En ek sou dan ’n vergelyking in my oorspronklike artikel getref het tussen die “battle”, of stryd, om apartheid ongedaan te maak teenoor die stryd om te verseker, soos die redakteurs van De slavernij in Oost en West – Het Amsterdam-onderzoek dit stel, dat die ophaal van dié geskiedenis “moest gaan over de manieren waarop het slavernijverleden doorwerkt in het heden, inclusief de strijd over de omgang met het verleden”.
Maar nou is daar eers ’n ander, dringende(r) stryd wat “in het heden” in beide Nederland en Suid-Afrika, soos in die res van die wêreld, gevoer word, te wete die stryd teen die COVID-19-pandemie. Die jongste getal infeksies en sterftes [ten tyde van hierdie skrywe] het my laat besluit om eerder hierop te fokus: in Nederland altesame 878 263 gevalle en 12 411 sterftes; in België (665 223 en 20 122); in Suriname (7 064 en 138) – en in Suid-Afrika ’n verstommende 1,25 miljoen gevalle en reeds 33 579 sterftes. En dan die vergelyking tussen Amsterdam (54 121 infeksies en 549 sterfgevalle) teenoor Kaapstad waar daar tans 25 000 aktiewe gevalle in die metropool-gebied is (met altesame meer as 150 000 infeksies sedert die begin van die pandemie in Maart verlede jaar) en net die afgelope week nagenoeg 140 bevestigde COVID-19-begrafnisse (terwyl dit ook in berekening gebring moet word dat sommige van diegene wat in die stad aan COVID-19 sterf, veras word, in private begraafplase ter ruste gelê word en ander se oorskot na hul geboorteplekke in ander provinsies vervoer word).
Wanneer hierdie pandemie sélf eendag ter ruste gelê is en ons landsgrense weer vir besoekers oopgestel word, sal Amsterdammers en Kapenaars ’n rustige, dog indringende, gesprek kan hê oor wat laasgenoemde by eersgenoemde kan leer oor hoe om die stad se eie “sporen van het slavernijverleden” meer sigbaar te maak. Dit is nou afgesien van die jaarlikse Klopse-optogte met Keizergracht, Adderley- en Waalstraat langs om die vrystelling van die slawe te vier.
Maar ook dan ’n gesprek oor hoedat Kaapstad se inwoners hulself nie slegs behoort te herinner aan die (onsmaaklike) “macht en invloed die Amsterdam hier eens had” nie, maar eweneens hoedat Amsterdam gedurende apartheid verhoë vir Suid-Afrikaanse kunstenaars geskep het om die Kaapse jazz- en ghoemaklanke, beïnvloed deur die slawe uit die Ooste en die Weste, oor die gragte van die stad te laat weerklink.
Buro: MvH