Amsterdam: wanneer ligkuns in die gragte skyn

  • 0

Die winteraand sak oor die stad. Die Januarie-lug is ysig en die glasdakbote staan reg. Dit is die laaste naweek van die dertiende Amsterdamse Ligfees, en die kunswerke is pas aangeskakel.

Ek stap langs die Herengracht toe ek my eerste installasie gewaar. Teen die wal skitter ’n reuse-koivis in die donker, skynbaar vasgevang in tyd. In die verte sweef ligwesens bo die water.

Les Voyageurs deur Cédric le Borgne – koivisse en mensfigure van gevlegte metaal – was ’n feeshoogtepunt. Lees verder oor die kunstenaar en sy ligkuns.

Een van Le Borgne se magiese skeppings hang stil oor die Herengracht.

Elke jaar vanaf November tot Januarie word Amsterdam in ’n stralende openbare museum omskep. As deel van Editie 13 is altesaam 27 werke deur kunstenaars van regoor die wêreld langs én op die historiese gragte uitgestal – ’n 6,5 km roete wat ek te voet verken het.

Walking in Amsterdam deur die Britse kunstenaar Julian Opie, vier staprituele. Hierdie jaar se fees het byna 10 000 treë behels. Lees verder.

Mind bridges is ’n besonderse kunswerk oor digitale afleiding. Dit is deur Jeroen Alexander Meijer in samewerking met 1300 Amsterdamse skoolkinders geskep. Lees verder.

Dié opeluguitstalling, met “Rituele” as tema, is pragtig. Sommige werke speel met kleur, soos In bloom, ’n reeks blomme in rooi en blou. Maar vele is sjampanjegoud – ’n stylvolle aanvulling tot die Kersliggies wat die winkelvensters, strate en waterweë versier.

In bloom deur Wilhelmusvlug bring hulde aan brose oomblikke van skoonheid en die rol van blomme in rituele. Lees verder.

Digby Centraal Station verbind Jun Ong se indrukwekkende Polaris-ster drie kenmerke van die stad: brug, water en kademuur. Lees verder.

Die meerderheid kunswerke is nie juis uitlokkend nie; die doel, na my mening, is eerder om te verhelder en te versag. Die fees nooi sy miljoen besoekers uit om “Amsterdam in die donker te herontdek” en slaag daarin om ’n vreedsame, dromerige atmosfeer te skep. Deur op feestelike nostalgie in te speel, bied hierdie fees iets seldsaam in ’n gewilde bestemming: kalmte en besinning. 

Mirror moon deur Arnout Meijer bestaan uit glasmane waarop werklike maanfases gegraveer is. Lees verder.

Ter viering van die stad se 750ste bestaansjaar, lui Edwin Baruch se Light gate ’n nuwe era vir Amsterdam in. Lees verder.

Die ligte is tans gedoof, maar Editie 14 open op 27 November 2025. Die volgende ronde fokus op nalatenskap – wat ons nalaat en hoe ons onthou wil word.

Die Nederlandse ateljee OSSO het Rush hour uit meer as 40 fietswiele gebou – ’n groot gloeiende horlosie wat Amsterdammers herinner om betyds te wees. Lees verder.

Die hipnotiese kunswerk Geometries to inhabit time is teen die NEMO-wetenskapsmuseum geprojekteer – een van drie wat Javier Riera in die Oosterdok vertoon het. Lees verder.

Boottogte bied ’n gewilde, toeganklike manier om die kunswerke te ervaar. Vind meer inligting op die feeswebwerf en beplan solank jou besoek.

 

  • Teks en foto’s: Imke van Heerden
This work was supported by the Engineering and Physical Sciences Research Council [grant number EP/Y009800/1], through funding from Responsible AI UK.

 

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top