Laatwinter in ’n historiese dorp, waar die sagte skaduwees die kurwes van Kaap-Hollandse argitektuur troetel, rook by ou vuurherde uitwarrel en jy varsgebakte brood uit ’n ou buite-oond kan koop, is ’n spesiale tyd. Die Bolandse dorp Swellendam is Suid-Afrika se derde oudste en dateer uit 1745. Die pragtige argitektuur, onbelemmerde natuurskoon en bekroonde wyne maak dit beslis ’n gewilde kuierplek, skryf Maryke Roberts.
Die dorp is ook pas as die 2020-naaswenner in die kykNET-joernaalprogram Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie aangewys.
Jy kan net dink hoe die trekkers 275 jaar gelede moes gevoel het toe hulle daar in die pragvallei hul ossewaens en perdekarre uitgespan het en besluit het om te bly. Vandag is leivoortjies voor afgewitte huisies met klein geweltjies of gietysterkrullewerk op die stoep, wat agter klein houthekkies waghou, knus langs mekaar ingeryg. Reusebome gooi lang skaduwees in die somer en in die winter staan hul kaal takke hoog teen die blou lug om elke stukkie son in koue hoekies in te laat.
Swellendam is in 1745 gestig as ʼn onderlanddrosdistrik om die Stellenbosch-landdrosdistrik kleiner te maak. Dié distrik het al groter geword namate meer boere hulleself verder oos van die Hottentots-Hollandberge gevestig het.
Die dorp is op 15 November 1747 vernoem na die Kaapse goewerneur, Hendrik Swellengrebel, en sy vrou, Helena ten Damme.
Ons draai van die N2 af, skaars twee ure buite Kaapstad, en ry skrams teen die dorp verby, om by Jan Harmsgat Historic Farms and Country House, 25 km buite die dorp, te gaan oorbly.
Laatwinter is die plase weerskante van die pad die mooiste blokkies groen en bruin en geel waarop wollerige skape wit polkadots maak. Agter hulle hou die berge wag, terwyl sirkels en draaie en patrone van die trekkers, spilpunte en ploeë herinner aan die natuur se siklus van saai en bewerk en oes en rus.
Die Jan Harmsgat Historic Farms and Country House soos vanuit die lug gesien.
Ons draai by Jan Harmsgat in. Dit word deur Oena Escapes bestuur en Jaco Badenhorst, die eienaar, se handdruk is ferm en sy glimlag breed en verwelkomend.
Die werkende plaas van 680 hektaar is soos ’n ware tuiskoms met sy 10 eksklusiewe kamers en een wittebrood-suite. Ons kamer is groot, knus onder ou bome ingewortel en ek voel hoe die moegheid uit my skouers begin verdwyn toe ek die bad se krane oopdraai.
Die potjie met rosies uit die tuin en die briefie daarby wat ons welkom heet, vertel van al die dinge wat ons op die plaas kan doen: bergfietsry, stap, onder die bome sit en lees en natuurlik van en na die restaurant stap waar die sjef se verleidelike geure jou neus laat juig.
Hierdie stoele en sambreel lok jou om heelmiddag daar in die sonnetjie by Jan Harmsgat Historic Farms and Country House te sit en lees (en ’n uiltjie te knip).
Op die wildritte in die namiddag of vroegoggend sien jy op die naburige plaas, Laastewater, swart wildebeeste, grys reebok en bakoorjakkalsies en ’n magdom voëls.
Met die wild- en skemerkelkieritte geniet jy lekker Jan Harmsgat Historic Farms and Country House wyne op die koppie.
Op die spierwit waslappie by die bad is ’n takkie spekboom met ’n oulike kaartjie by wat sê: “Met liefde van ons tuin na joune.” Die kaartjie verduidelik dat spekboom die lug suiwer en dat jy dié klein takkie in jou eie tuin kan gaan plant en dat dit maklik sal groei.
Die spekboomtakkie wat jy kan huis toe neem by Jan Harmsgat Historic Farms and Country House.
Dis sulke klein dingetjies wat mens opval en bybly lank nadat jy reeds terug is tuis.
Na ’n warm bad en ’n glas yskoue Amelia MCC gaan sit ons voor die kaggel in die restaurant. Die tafels word een-een beset en gou is daar ’n lekker atmosfeer waar almal aan die plaas se wyne teug. Die plaas produseer sewe enkelwingerdvariëteite en ’n nie-oesjaar-MCC.
Amy Kleinhans-Curd, Mej Suid-Afrika 1992, is mede-eienaar en direkteur van Jan Harmsgat en dit verklaar die restaurant se naam, Just Amy. Die plaas se vonkelwyn, die Amelia MCC, is ook na haar vernoem. Amelia is haar doopnaam.
Die historiese Just Amy-restaurant by Jan Harmsgat Historic Farms and Country House.
Dié brut rosé is ’n 80/20-versnit van chardonnay en pinot noir. Die etiket vertoon ’n pragtige skildery wat Amy geverf het. Die vonkelwyn was twee jaar op die moer en het haar groot geduld geleer, het Amy met die bekendstelling vertel.
Die groot swart vleuelklavier by die reusevenster is blink gepoleer en Niel Rademan, musikant, vervaardiger en seremoniemeester van formaat, se fluweelsagte stem vul elke hoekie van die restaurant terwyl sy vingers sorgeloos oor die klawers gly. Hy maak draaie in België, Amsterdam en Parys voor hy op die platteland tussen windmeule en tulpe gaan draai. Sy r’e rol pragtig met Piaf en Brel en Aznavour, en as jy jou oë toemaak, kan jy glo jy sit iewers in ’n Europese straatkafee.
Ons smul die hele naweek aan sjef Josia Conradie se lekkerbekkighede terwyl sy vrou, Christelle, met haar pragtige Franse aksent, as restaurantbestuurder na ons omsien.
Granate, druiwe en pekanneute, in daardie volgorde, sorg vir die plaas se landbou-inkomste. Die wingerde bestaan uit chardonnay, chenin blanc, sauvignon blanc, cabernet sauvignon, shiraz, pinotage en pinot noir. Teen die muur hang toekennings deur Tim Atkins, die Platter’s-wyngids en Michelangelo-toekennings. Pinotage is die plaas se vlagskip en die eerste oesjaar was 2014.
Die plaas pak hul eie granate vir die uitvoermark van die 38 hektaar granate in produksie en die wynmaker, Lourens van der Westhuizen van Arendsig, maak die wyne. Hy wys vir ons die chardonnaywingerde en vertel trots dat die bekroonde Methode Cap Classique-landgoed, Graham Beck, hier Chardonnay koop.
Ons gaan stap vroegoggend tussen die pekanneut- en granaatbome deur en swenk later na die olyfboorde om die graf van pres Hermanus Steyn te gaan besoek.
Ons ry later in die wildkykvoertuig, en Francois Prins Manning, die gasvryheidsbestuurder, vertel dat lente vir hom die mooiste tyd op die plaas is, want die granaatbome is dan in volle blom en dis asof die reuk en onskuld van lente jou in alle baldadigheid wil oorrompel.
Ons ry later in die wildkykvoertuig, en Francois Prins Manning, die gasvryheidsbestuurder, vertel dat lente vir hom die mooiste tyd op die plaas is.
Daar staan ’n groot wildebeesbul vir ons kyk. Hy staan amper bo-op die klein heuweltjie langs die pad. Dis nog koud; mis lê in die laerliggende dele van die plase om ons. Die warm asem trek by die bul se neusgate uit en maak klein stoomwolkies om sy bek. Die vroegoggendson omlyn hom in goud en hy pronk so trap-trap skeef na die een kant toe; dan versigtig weer terug.
Net op plaaspaaie kry jy hierdie padtekens wat soos pure plaas voel!
Met ons terugkeer vra Francois of ons ’n piekniek onder die pekanneutbome wil geniet, maar ons moet dorp toe – daar is nog so baie om te verken en natuurlik is daar wynproe by die twee ander plase ’n katspoegie van Swellendam.
Ons eerste bestemming is Sijnn Wines by Malgas, die enigste Wyn van Oorsprong Malgas. By Hooggenoeg staan 10 kraanvoëls en pik in die lande waar klein groen spikkels die donkerbruin grond ophelder. Hul lang stertvere en die fyn veertjies op hul koppe beweeg liggies in die windjie. Ons ry by die afdraai na die De Hoop Natuurreservaat verby en ’n klomp beeste met wit en toffiekleurige vlekke wei rustig saam met die voëls.
Aalwyne teen ’n klipmuur by Sijnn Wyne.
By die Malgas Dop Shop brand daar ’n vuurtjie binne en jy weet almal maak reg vir die toeriste wat nou weer mag kom kuier.
Teen die hakiesdraad wat plase omhein, sit skaapwolletjies en stukkies tolbos aan die hakies vas. Ek het al gesien hoe skape weerbarstig deur die heinings beur vir daardie stukkie groen gras aan die anderkant van die draad.
Dis net verby die laatontbyt-uur toe Charla Bosman, die wynmaker by Sijnn Wines en Charla Haasbroek Wyne ons by die motor kom ontmoet. Teen die klipgebou wat amper deel van die natuur geword het, groei die oranjerooi aalwyne in ineengestrengelde plante teen die muur en die son maak patrone op die olyfgroen, sappige, krullende blare.
Charla Bosman, die wynmaker by Sijnn Wyne.
Ons stap ’n entjie tussen die wingerde op en kyk ver op teen die Breërivier, en sy verduidelik hoe die vars water ’n gedeelte van die jaar afkom in die rivier voor die soutwater van die see later begin opstoot.
Dis amper ongelooflik om te dink dat wingerde in hierdie klipperige wêreld hoog bo die Breederivier oorleef.
Die plaas behoort aan David en Rita Trafford van die bekroonde Stellenbosch-wynplaas De Trafford. Toe hulle in 2000 die eerste maal in Malgas kom kuier het, was hulle mal oor die indrukwekkende grond en het onmiddellik begin soek na ’n geskikte plaas om wingerde te plant. David is ’n gekwalifiseerde argitek en lid van die gesogte Kaapse Wynmakersgilde.
Charla het in 2014 as assistentwynmaker aangesluit, nadat sy in 2012 haar studie by die Universiteit Stellenbosch voltooi het. Sy het oeste by Kanonkop en Tokara voltooi en toe die wynwinkel by Die Oude Bakerij in Stellenbosch behartig voor sy ’n oes in Margerum in Kalifornië voltooi het. Fred Fismer is die assistentwynmaker wat ook bemarking en verkope hanteer.
Vandag is sowat 22 hektaar onder wingerd en die vlagskipreeks sluit onder meer ’n Sijnn-rooiversnit, Sijnn-wit en Sijnn-saignée in. “Ons het ook onlangs begin om enkelkultivars te bottel en het nou ’n shiraz, cabernet sauvignon en touriga nacional,” vertel sy terwyl ons in die kelder rondstap.
Die kelder is ’n pragtige klipgebou wat David ontwerp het en wat deel word van die veldklippe.
Die wingerde lê net 15 km van die see, en die seeklimaat is lekker warm, maar in die somer kom daar vars briesies van die oseaan om die wingerde af te koel. Die grond is klipperig en hou nie baie water nie en dwing die wingerde se wortels om diep te gaan water soek, daarom word alle wingerde as bosstokke gekweek. Die reënval is maar 350 mm per jaar.
“Ons hou van die natuurlikste manier moontlik, in die wingerde en in die kelder. Hier is geen groot pompe en elektroniese toerusting nie; ons werk met ’n sagte hand,” vertel sy, terwyl sy vir ons die Sijnn-wit skink. Ons geniet dit saam met gebakte hoender en bros aartappels.
Charla sê die warm klimaat het hulle gelei om Mediterreense en suid-Europese variëteite te plant wat in die koeler klimaat groot kompleksiteit en elegansie verleen. Die plaas het in 2007 sy eerste oes gehad en maak vandag baie klein hoeveelhede wyn.
Die plaas het, soos reeds genoem, 22 hektaar onder wingerd, en so 2,5 hektaar olywe. Hulle het chenin, viognier, roussanne, verdelho, petit manseng, syrah, mourvedre, touriga nacional, trincadeira, cabernet sauvignon, tempranillo, barbera en grenache geplant.
“Dis Malgas-wyn hierdie,” vertel sy toe ons die 2016-rooi proe. Charla verduidelik dat die alluviale neerslae op ’n Bokkeveld-skaliebasis ’n unieke druif lewer.
Dis nie net ons wat die wyne geniet nie – die gerespekteerde Britse wynskrywers Tim Atkin, Jancis Robinson en James Molesworth het onder meer in Decanter en Wine Spectator die landgoed se wyne besing. Die Sijnn-syrah 2011 spog met 5 sterre, en die Sijnn-rooi 2013–2015, Sijnn-wit 2011–2017, Sijnn touriga nacional 2012–2014, Sjinn-syrah 2014–2015, Sijnn CWG/AWA 2014 en Sijnn Free Reign 1st Edition almal met 4,5 sterre in die Platter’s se wyngids.
Nederland en België is van hul grootste uitvoermarkte.
Charla vertel ons van Potberg in die De Hoop Natuurreservaat se aasvoëls wat baie oorsese toeriste lok. Jy stap vir ’n halfuur deur die renosterveld tot by ’n reuse-houtplatform, hoog teen die kloof. Die kransaasvoëls (Gyps coprotheres) is só goed gekamoefleer dat dit vir die blote oog lyk soos kalksteenklippe wat oral tussen die fynbos in die klowe lê. Die aasvoëlkolonie staan tans op 103 broeipare.
Op pad terug Swellendam toe ry ons verby ’n werkershuisie langs die pad. Op die klein stoepie staan ’n kruiwa vol vuurmaakhout, rof en oneweredig gekap, maar jy weet watter behae daardie vlamme op ’n koue aand gaan bring.
Ons ry later die oggend in dorp toe om die dorp se historiese geboue te gaan besigtig en ek moet lag toe ons om ’n draai kom en ’n bakkie met ’n reusagtige goudbruin boerboel ons verbysteek. Die reusehond se kop lê gemaklik op die bakkie se hoë kap en sy ore en los bekvelle wapper in die windjie. Sy oë gaan kort-kort toe en dié prentjie van genot én vrede maak sommer jou hart ligter. Hy hap af en toe oopbek en my man lag en sê dis nou bekke vol wind daardie!
Die pad kronkel teen die voete van die Langeberge wat bonkig op die aarde staan en van ver lyk asof dit met donkergroen fluweel oorgetrek is. Soos die son oor die voue en heuwels gly, verander die kleure van ligter na dieper groen en dit herinner aan ’n wye romp om ’n jong meisie se enkels.
Op die dorp vang my oog die enorme swart plastiekletters teen ’n wit kerkmuur: “Jesus is Lord”, en jy kan amper die desperaatheid aanvoel oor die omstandighede in die wêreld vanweë die Covid-pandemie-regulasies en mense se behoefte om aan iets vas te klou om staande te bly teen die lewe se aanslae in tye soos dié.
Bee Things-heuningprodukte is een van my vriendin se gunstelinge en ons moet koop en saamneem Kaap toe.
Die indrukwekkende NG Kerk, wat in 1911 gebou is, is een van my gunstelinggeboue op die dorp. Die argitekte was FW en F Hesse van Kaapstad, en die boumeesters die firma Moon en Ledbury. Die kerkgebou is argitektonies volgens ’n eklektiese mengsel boustyle beplan. Die gewels is barok, die vensters goties, die koepel Oosters, terwyl die toring ’n replika is van ’n bekende toring in België en gebou is met massiewe geelhoutbalke afkomstig uit die gesloopte kerk. Die gebou weerspieël ook Kaaps-Hollandse kenmerke.
Die dorp se pragtige NG Kerk.
Die ringmuur om die kerk en kerkhof is in 1840 gebou. Die kiaathoutvoorhekke en die boogpoortjie by die pastorie se ingang is nog oorspronklik.
In Voortrekstraat is daar die gewone dorpsbedrywighede rondom die poskantoor, bank en supermark, maar waar die straat ’n draai maak terug na die N2 se kant toe, na die tweede afdraai van die hoofpad, is daar oulike klein koffie- en geskenkwinkeltjies. Kaapse karre met fietse agterop of op die dak staan in rye geparkeer en jy kan amper tot op die straat hoor hoe lekker word daar oor ontbyt gekuier, met vars plaaslug in jou longe.
Die koddige standbeeld in Voortrekstraat, lok baie mense vir selfies.
Rustige ritte op jou fiets deur die dorp se strate met inloer by koffiewinkels klink soos my tipe naweek.
Ons eerste stop is by The Country Deli at Spiershuis waar Sonja Rossouw en Evelyn Spogter my help om ’n bos tulpe van Flora Jubilee buite die dorp uit die emmer te haal. Ons koop sterk cappuccino’s en sien hoe mense inkom vir brood, eiers en blomme, en jy kan dink hoe die reuk van varsgebakte brood, eiers en spek nou hul bure se monde gaan laat water.
By The Country Deli at Spiershuis glimlag Sonja Rossouw en Evelyn Spogter vir my met lieflike brood.
By The Country Deli at Spiershuis roep ’n bos tulpe van Flora Jubilee buite die dorp om uit die emmer gelig te word.
Ons los die motor voor die Drostdymuseum en stap deur die strate. Inperking het die museum vir ’n ruk gesluit gehou, maar ons bekyk die geboue van buite.
Ek moet ’n foto neem van die oulike klein Mayville, deel van die museum, wat regs langs die Bukkenburg Pottery is.
Ons moet later by Olivedale Privaatwingerde naby Buffelsjags wees en besluit om sommer by Jan Harmsgat se sustereiendom, wat ook deur Oena Escapes bestuur word, in te loer. Die historiese geboue is pragtig gerestoureer en die klein kapelletjie met sy kloktoring natuurlik menige bruid se droom. Die geboue met hul 1800–1860-argitektuur herinner jou aan vervloë dae toe vroue met kappies en lang rokke sekerlik by herehuise soos dié op Rotterdam vergader het vir borduurwerk en tee uit fyn porselein. Dis ook ’n gastehuis.
Die toneel by Olivedale Privaatwingerde lyk soos ’n outydse olieverfskildery.
Verder af tussen die plase deur kry ons twee seuns wat ou motorbande met krom stokke aanrol. Dit lyk kompleet asof hulle die bande bestuur, en met ons ruite af ry ons stadig agter hulle in die grondpad. Ek hoor hoe een met sy lippe ’n ligte enjinluiergeluid namaak. Ai, die vrede van die platteland; die luukse om nie iewers hoef te wees nie; opsy te staan vir verkeer en geraas en besoedeling nie!
Plaaspaadjies onder ou bome deur, heinings waaragter beeste rustig wei, alles deel van die saligheid van die platteland.
Carl van Wijk skuif die reusedeur van die stoor oop. Dit huisves Olivedale se proelokaal, kelder en verouderingskelder.
Die oopplan proelokaal en verouderingskelder gee jou die hele wynmaakprentjie in een oogopslag.
“Welkom in die wêreld van geen pretensie,” groet hy. Ons stap in en die klassieke musiek omvou ons. Hy kan die vraag op my gesig sien en sê toe hy nou lekker goed op dreef was met die wingerde, het hulle gevra: “Nou wat van musiek?” en sedertdien speel daar altyd musiek in die kelder.
“Dit doen baie vir my siel en ek glo dit doen iets aan die druiwe,” vertel hy.
Die een hoek, waar hy ook sy rekenaar neergesit het, is vol ou skilderye, antieke meubels en pragtige ou Persiese matte op die vloer. Alles aan jou kuier hier is ’n verrassing en soveel anders as wat jy verwag as jy die plaasstoor van buite bejeën.
Carl is so deel van die rustigheid hier, soos die Janfrederik wat soggens vroeg buite in die boom roep. Hy het ’n ou werkershuisie vir homself omskep, waar hy omring is deur sy boeke, die stilte, die maanlig, en nie ver van sy voordeur nie, die rivier. Hy beskryf homself as ’n “slow hand” en hou nie van die woord “ek” nie – alles hier word as “ons” aangepak, want sukses is spanwerk.
Hy is mal oor die natuur en glo daaraan om saam met haar te werk – en noem dit ’n verlengstuk van sy persoonlikheid. “Ek wil nie ’n ‘organies’-etiket om my nek hang nie, want dis nou ’n mode of gier en ek hou nie van modegiere nie.”
Hy het so ’n paar jaar gelede vir Jolene Calitz le Roux, voorheen ’n wynmaker op Bonnievale, aangestel, want, vertel hy, “die wyn wat ek maak, is te manlik – jy weet, daardie leerstoel-dik-sigaar-klassieke-musiek-soort-van-wyn”. Hy het ’n vroulike element in die kelder gemis en sê die petite Jolene was net die antwoord.
Carl wys ons die verouderingsvate, die groot tenks waar die magiese van die natuur en wetenskap en mens bymekaar kom om hul wyne te maak. “Dis nie ’n kelder hierdie nie, dis ’n universiteit. Hier is 18 kultivars op ons plaas en niemand anders kan ons help met ons wingerde nie. Die terroir is die baas hier; nie ons nie.”
Abe Beukes is die derde lid van die wynmaakspan, wat as konsultant sy insette tot Jolene en Carl se kundigheid toevoeg.
Olivedale behoort aan ’n groep Belgiese sakemanne en Carl en die meeste van die wyne word daarheen uitgevoer.
Carl vertel terwyl hy die wyne oopmaak om solank asem te haal voor ons proe, dat hy niks anders as wynmaak wil doen nie. Dis waar hy op sy gelukkigste is.
“Ek is verslaaf aan die wetenskap; elke klein detail is vir my belangrik. Hoe meer van wetenskap ons te wete kom, hoe fyner kan ek luister na wat die plante vir my sê.”
Daar naby Swellendam het hy kom rus vind, toe hy hierdie stuk grond raakloop. “Hier was niks nie. Voorheen is hier vir 150 jaar wyngemaak, maar die verkeerde kultivars is geplant en dit was baie klam.” Die voordeel vir hom as wynmaker en wingerdboukundige was juis dat die grond vir jare braak gelê het. Hy kon die regte kultivars met die regte grondtipes pasmaat en toe vir twee jaar grondvoorbereiding en restourasie van die ou geboue begin onderneem.
“Die grond op die plaas is die span se universiteit, want hier word elke dag nog geleer. Die plaas is een verhaal van hoe die natuur tot haar aanvanklike glorie herstel word. Die grond, temperatuur en hoogte bo seespieël sê aan my wat ek moet plant,” sê hy.
Olivedale het carinag, grenache, shiraz, malbec, mourverdre, tannat, touriga nacional, temperanillo, petit verdot, rousanne, chardonnay, semilion, verdelho, roussane muscat, weiser riesling, viognier en sauvignon blanc. En dan voeg hy met ’n knipoog by: “En ’n bietjie hanepoot vir stoutwees!”
Van die bekroonde wyne by Olivedale Privaatwingerde wat ons kon proe.
Daar is 5 600 stokke per hektaar geplant, in plaas van die gebruiklike 3 300 stokke elders in Suid-Afrika. “Dis wat die grond vir my gesê het. Die voordeel van iets uit niks bou, is dat jy dinge van die begin af kan reg doen.”
Hul wynreeks bied waarliks iets vir almal en hy en sy twee kollegas kan lekker eksperimenteer. Hy sê hulle het die luukse van keuses en kan die beste versnitte maak wat nêrens anders gemaak word nie. Hulle maak ook nie die beste enkelkultivars nie, maar eerder die beste versnitte waarna daardie kultivars hul beste kan bring. Hy glo ook hul wingerde is die gelukkigste wingerde in Suid-Afrika, omdat elkeen ’n individu is. Druiwe word natuurlik gefermenteer – geen swael word bygevoeg nie. Die witwyne word nie aan hout blootgestel nie, slegs dopkontak.
Olivedale het vier reekse: Inspiration of Nature; Respect for Nature; Masterpiece of Nature en Mystery of Nature, wat almal verskillende pryse het. In 2018 het die ISWC hul chardonnay as een van die vyf beste chardonnays in die wêreld aangewys.
Olivedale en Sijnn is amptelik deel van die nuwe Agulhas Wyndriehoek-roete.
Ons kattebak is propvol platteland toe ons drie dae later weer op die N2 terugry. Ons harte is egter nog voller van al die plattelandse gasvryheid wat ons daar gesmaak het.
Kitsfeite
- Vir ’n lekker dag in die natuur, gaan verken die Bontebok Nasionale Park so ’n paar kilometer buite Swellendam. Meer inligting by https://www.sanparks.org/parks/bontebok.
- Bespreek jou bederfverblyf by Jan Harsmgat by www.oena.co.za.
- Bespreek jou wynproe by Olivedale Privaatwingerde by https://olivedalewines.com.
- Besoek Sijnn Wyne se webwerf om ’n proe te reël: https://www.sijnn.co.za; of bestel hul wyne in Nederland en België by onderskeidelik Martijn Verkerk by Smaragd Wijnen, info@smaragdwijnen.nl en by Michel Tossins by Michel@vinotheek.be.
- Meer oor Swellendam-toerisme op hul Facebook-blad: https://www.facebook.com/SwellendamTourism.
- Bespreek vir die begeleide Aasvoël-stap by die De Hoop Collection-opstal. Daar kan ’n maksimum van 10 gaste per stap gaan en ’n minimum van twee gaste en almal moet ouer as 12 jaar wees. Bespreek by De Hoop Collection by (021) 422 4522, info@dehoopcollection.co.za of besoek www.dehoopcollection.co.za.