Aus Tebza speel harte warm op die Nasionale Kunstefees

  • 0

Die persoon wat Aus Tebza bekendgestel het aan die gehoor voor haar eerste optrede by die Nasionale Kunstefees, het as inleiding twee baie interessante opmerkings gemaak:

  • Ten eerste word Suid-Afrikaans jazz oorheers deur mans.
  • Ten tweede is daar ’n ongeskrewe reël konvensie in die jazzwêreld dat ’n kunstenaar wat dit “gemaak” het, aangespreek word as “bra”. Dink maar aan bra Vusi Mahlasela of bra Hugh Masekela.

Die vraag is dus: Wat noem ’n mens een van die min vrou wat dit máák in Suid-Afrikaanse jazz? Sy antwoord? Ons noem haar sommer antie!

Ná sy inleiding het die “antie” onder groot gejuig die verhoog betree.

Aus Tebza is ’n imposante figuur.

Sy is groot, in alle opsigte.

Sy is téénwóórdig op daardie verhoog.

“Molo!” groet sy toe en vra dadelik: “Is dit wat julle in die aand ook sê? Waar ek vandaan kom, groet ons ‘Dumela!’”

En toe begin die pret.

Aus Tebza is die verhoognaam van Tebogo Sedumedi, wat in Krugersdorp grootgeword het. Sy het op 15-jarige ouderdom reeds geweet dat sy eendag haar eie groep wou lei, maar het eers haar skoolgeld betaal deur vir 12 jaar vir Hip Hop Pantsula (ook bekend as HHP) die baskitaar te laat brom.

Dis egter nie al nie. Op haar CV staan groot name saam met wie sy ook al opgetree het: Simphiwe Dana, Bucie, Wouter Kellerman, Proverb, en Laurie Levine.

Daardie enorme 6-snaarbaskitaar kan die vloere laat dreun, maar noudat sy ’n solokunstenaar is, steel sy ook die kollig met haar stem.

In 2019 het sy bekendheid verwerf toe haar liedjie “Ngeke Ngiphinde” deur verskeie oorsese radiostasies opgeraap is.

Sy sou in 2020 haar album Motheo by die Nasionale Kunstefees bekendstel, maar die inperking weens die pandemie het ’n stokkie daarvoor gesteek.

“Is dit nie lekker om weer tussen mense te wees nie?” het sy vir die gehoor gevra en het daarvoor ’n deeglike applous ontvang. Sy geniet duidelik die interaksie met die gehoor en sê ook op ’n stadium dat sy nooit bloot as “opnamekunstenaar” sou wou bekendstaan nie.

Haar musiek is moeilik om te beskryf. Op die verhoog is die jazz deeglik hoorbaar, maar die etiket “Afropop” word soms aan haar toegedig.

Dalk neig sy na wêreldmusiek.

My geliefde, wat nie hou van jazz nie, geniet Aus Tebza se musiek. Tog, na my oor is die jazzritmes duidelik, en sy is immers een van die groot name op die Nasionale Kunstefees se jazzprogram.

Aangesien Aus Tebza 12 jaar lank deel van HHP was, is haar filosofie steeds dat ’n kunstenaar, soos ’n baskitaar, veel beter klink as deel van ’n groep. Sy gee daarom ook geleentheid aan die lede van haar groep om te skitter.

Neo Joshua Mabena was op saksofoon.

Gewoonlik is die hoofkitaarspeler redelik prominent tydens ’n opvoering, maar Ngwato Mapalakane word ’n bietjie oordonder deur die teenwoordigheid van Aus Tebza. Tog doen sy moeite om seker te maak dat die gehoor ook van sy talent bewus is.

Ntsiki Ntsele se klavier en klawerbord is pret.

Josiah Musuwo is op tromme.

Lebo Moalusi en Angel Mboweni is die agtergrondsangers.

Aus Tebza se musiek is sag op die oor en is ’n maklike oorgang na jazz met ’n Suid-Afrikaanse klank.

Haar vertonings by die fees word moontlik gemaak deur die Fonds Podium Kunsten uit Nederland en Pro Helvetia, ’n Switserse fonds.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top