Jana Luther

Jana Luther het in die letterkunde en leksikografie gestudeer en in 1991 ’n meestersgraad met lof aan die Randse Afrikaanse Universiteit behaal. Van 1991 tot 1993 is sy as jeugboekredakteur verbonde aan Tafelberg-Uitgewers, waarna sy oorskuif na Tafelberg se woordeboekafdeling wat in 1996 by Pharos ingelyf word. Sy is verantwoordelik vir die eindversorging van talle Pharos-publikasies, onder meer die Ekonomiese en Bedryfswoordeboek, die eerste uitgawes van Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom en Skryf Afrikaans en die 2002-uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls, terwyl sy as vryskutvertaler, -redigeerder en -proefleser vir NB-Uitgewers se fiksie- en niefiksieafdelings werk en as subredakteur in Die Burger se nagkantoor. Sy was medesamesteller van New Words / Nuwe Woorde en mederedakteur van die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Woordeboek (waarvan die redaksie met ’n SAVI-woordeboekprys bekroon is) en die Pharos Afrikaans-Engels-Engels-Afrikaanse Kernwoordeboek. Van 2004 tot 2006 is sy uitgewer van Pharos Woordeboeke, en van Januarie tot September 2007 subredakteur by Huisgenoot. In Oktober 2007 sluit sy haar by Pearson aan, waar sy ’n nuwe woordeboekafdeling tot stand bring. Sy is samesteller van die HAT Afrikaanse Skoolwoordeboek en Sakwoordeboek (2009), en van die Longman-HAT Engels-Afrikaans/Afrikaans-Engelse Basiswoordeboek, Skoolwoordeboek en Sakwoordeboek (2011) en werk tans as redakteur aan die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (die HAT).

Woorde wat dinge en gebeurtenisse vasvang

Jana Luther Academisch 2021-12-22

"Jaarliks in Desember maak woordeboeke, taalgenootskappe, webblaaie, noem maar op, een ná die ander hul ‘woord van die jaar’ bekend. Soms val die eer ’n nuutskepping te beurt; soms ’n ouer woord. Woorde wat dinge en gebeurtenisse vasvang wat op die jaar hul stempel afgedruk het."

Luister bo kibbel bou inklusiewe akademiese gemeenskappe

Jana Luther Academisch 2021-04-22

"Luistertaal behels dat mense met verskillende taalagtergronde hulle eie taal praat en skryf en mekaar verstaan terwyl hulle reseptiewe taalvaardighede ontwikkel en strategieë oefen om die ander taal volledig(er) baas te raak."

Top