Woorde wat dinge en gebeurtenisse vasvang

  • 0

Jaarliks in Desember maak woordeboeke, taalgenootskappe, webblaaie, noem maar op, een ná die ander hul “woord van die jaar” (WVDJ) bekend. Soms val die eer ’n nuutskepping te beurt; soms ’n ouer woord. Woorde wat dinge en gebeurtenisse vasvang wat op die jaar hul stempel afgedruk het.

Party, veral niewoordeboeke, vra nominasies. Soos LitNet, wat in 2013 sy eerste WVDJ-kompetisie hou en sedertdien elke jaar vra, wanneer die ou jaar op sy rug lê: Watter Afrikaanse woord het jou vanjaar ontstel of geprikkel? Watter woord som, volgens jou, hierdie jaar die beste op?

In 2013 was dit e-tol, gevolg deur beurtkrag, die hutsmerk (#), staatskaping, fopnuus, grondonteiening en droogte. Verlede jaar se wenner, COVID-19, het niemand verras nie. Nou is LitNet se WVDJ antivakser. Lees die aankondiging hier.

Woordeboeke en woordeboekuitgewers gaan effens anders te werk. Party roep ’n komitee byeen. Nuwe woorde en nuwe betekenisse wat gedurende die jaar in die woordeboek opgeneem is, word bespreek. Ook ouer woorde. Eers word ’n langlys opgestel. Uit die langlys word ’n kortlys gekies. Die kortlys baar die WVDJ. Soms besluit die komitee self, maar meer dikwels word ’n openbare stemming gehou: op die internet, in die sosiale media. Op Twitter gons dit:

Op Facebook plaas Pharos, die woordeboekafdeling van NB-Uitgewers, dié jaar ’n besonder lang kieslys.

 

Antie Rona loop voor, maar in 2021 is SA’ners vir die “nuwe normaal” hartlik sat. Die vier kandidate wat die meeste stemme trek, is virusvoos, pandemie-pê, maskerpouse en kokonkoors.

Pharos se woord van die jaar is virusvoos.

In ander lande word ewe flink voorstelle geïn en gestem. Die groot woordeboeke, dié met baie en gereelde gebruikers, soos Oxford (die OED) en die Amerikaanse Merriam-Webster (M-W) gaan deegliker, wetenskapliker te werk. Anders as hier, waar Afrikaans se grootste mediahuis nie taalnavorsers in sy korpusse toelaat nie en taalkundiges met versoeke om verskillende aspekte van eietydse taalgebruik te mag ondersoek tevergeefs by koerante, tydskrifte en webblaaie aanklop, neem taalkundiges in die Engelse wêreld hulle vrye toegang tot die reusagtige woordkorpusse waarin hulle hedendaagse taalgebruik ontleed en voortdurend monitor hoe taal verander, as vanselfsprekend.

Die data wat oor die wêreld heen vir Engels ingesamel word, tesame met Engelse woordeboeke se bewysgebaseerde benadering, sorg vir belangrike insigte, nie net in taal en taalgebruik nie, maar ook in ons tyd. Deur dop te hou hoe taal verander, sien ons ook hoe ons lewe die hele tyd verander.

In Nederland en België (in België saam met die VRT, die Vlaamse Radio- en Televisiediens) laat die Groot woordenboek van de Nederlandse taal, die “Dikke Van Dale”, jaarliks sy gebruikers vir twee woorde stem: een vir Nederlands en een vir Vlaams. Terwyl ek skryf, is dié stemmery nog aan die gang. Op elke kortlys is daar 15 kandidate.*

Van die woorde wat op die Nederlandse én die Vlaamse lys verskyn (ek verafrikaans die spelling), is boosterprik (ons sê “opvolginenting”), deltavariant, deurbraakinfeksie en grotsindroom (angs by iemand wat ná ’n lang isolasie weer die samelewing betree).

Onder die eksklusief Vlaamse kandidate is tweedehandse lug (wat iemand vóór jou in- en uitgeasem het in ’n ruimte waar geen luggie trek nie) en knaldrang (by virusvoses wat voel hulle gaan op ’n slegte dag nog van hul kop af raak en ontplof).

Op die Nederlandse lys staan onder meer pandemokrasie (’n demokrasie wat weens die pandemie verander), prikpolarisasie (vir die bekgevegte tussen pro- en anti-inenters wat die res van ons wil laat knal) en QR-samelewing (waarin vir toegang tot baie plekke, eersdaags, ’n skandeerbare QR-kode vereis gaan word as bewys dat ons teen die virus ingeënt is).

In Duitsland is die Duitse Taalvereniging se WVDJ die meervoudsvorm Wellenbrecher (golfbrekers – in Afrikaans sou ons dalk van “dolosse” kon praat – vir al die stelle maatreëls teen die koronagolwe wat bly kom).

Die OED en M-W se keuse was vroeg al bekend. Hulle vra nie stemme nie; ons lees blogs en laai verslae af. Verlede jaar was in die brandpunt die naam van die virus, die name van die eerste variante daarvan, die siekte wat dit veroorsaak, en woorde vir die pogings om die siekword te bekamp (dink aan masker, grendeltyd, elmbooggroet, afstandskepping, afstandsamelewing, afstandsgesprekke).

Vanjaar is ’n nuwe fase in die pandemie betree: 2021 was die jaar van entstowwe, soos blyk uit vax, Oxford se WVDJ, en vaccine, WVDJ van Merriam-Webster.

Woordeboeke pas hul definisie(s) van vaccine entstof – aan. Ons moet dit hier ook doen om nou se nuwe entstof in te sluit: entstowwe wat boodskapper-RNS (bRNS) bevat – genetiese materiaal wat genetiese inligting oordra – en nie net meer ’n dooie of verswakte vorm van ’n virus, soos ons dit voorheen geken het nie.

Vaccine en sy aangepaste definisie is in die aanlyn woordeboek van Amerikaanse Engels vanjaar 600% meer kere as in die vorige jaar nageslaan. M-W sê oor sy keuse: “Die belowende mediese oplossing vir die pandemie wat ons lewe in 2020 op sy kop gekeer het, het in 2021 ook ’n politieke argument en bron van verdeeldheid geword. Die grootste wetenskapverhaal van ons tyd het ook die grootste debat ontlok.”

* * *

Die woord vaccine – in Afrikaans vaksien of, verouderd, vaksine – kom van die Latynse woord vacca, vir ’n koei. Dit is ’n betreklik nuwe woord. Vaksien is die eerste keer in die 1880’s gebruik toe die medikus Edward Jenner mense teen pokke begin beskerm het deur hulle in te ent met ’n preparaat van die mikroörganisme wat pokke by beeste, veral by koeie – koeipokke – veroorsaak. Met sy Latynse wortels is vaksien ewe welkom in Afrikaans. Om van “vaksien”, “vaksineer” en “vaksinasie” te praat, is heeltemal in orde, maar terwyl Engels kreatief speel met die korter vax-, hou ons teksredakteurs, die hekwagte(rs) van die gestandaardiseerde vorm van Afrikaans in ons koerante en tydskrifte, streng by inenting. Ook in die talle nuwe afleidings en samestellings met dié woord: inenters, pro-inenters, anti-inenters, inentingskoers, opvolginentings, inentingskaarte, inentingspaspoorte ...

* * *

Die Australiërs – met hulle liefde vir rymsleng, dikwels tong in die kies – sorg vir ’n bietjie speelsheid, al snap ons nie altyd die Aussies se woordspelings so goed nie. Die woordeboek wat algemeen as die gesaghebbende bron van Australiese Engels beskou word – en wat ook ’n oog op Engels in Nieu-Seeland hou – is die Macquarie Dictionary. Dié se WVDJ 2021 is strollout, ’n skertsende verwysing na die beweerde stadige “rollout” van Australië se inentingsprogram.

Ander vondste op Macquarie se kortlys:

  • brain tickler – die “kieliestokkie” wat in jou neusholte vir Covid toets, maar dalk voel of dit na jou brein op pad is.
  • dignity suit – ’n kledingstuk met ’n ritssluiter of knope agter, wat voorkom dat die draer daarvan sy of haar klere uittrek op plekke waar dit liewer nie moet nie, soos mense met demensie en Alzheimerlyers soms doen; ’n “waardigheidspak” wat sorg dat jy tussen ander mense jou waardigheid behou.
  • dump cake – ’n koek gebak van ’n resep wat die bakker toelaat om al die bestanddele in een bak te dons.
  • front-stab – ’n oop en bloot tenakoming van iemand; teenoor ’n agteraf rugstekery.
  • porch pirate – ’n rower wat rondgaan op die loer na pakkies wat ’n afleweraar dalk op die stoep los van iemand wat nie tuis is nie.

Die meeste kortlyste bevat ook woorde uit ander domeine as die pes.

Die Collins English Dictionary verwys na climate anxiety (klimaatangs), metaverse (metaversum; ’n voorgestelde weergawe van die internet wat driedimensionele virtuele omgewings insluit) en neopronoun (vir deesdae se nuwe, geslagsneutrale, niegenderspesifieke voornaamwoorde; Donovan Lawrence van die UWK skryf op 10 Desember in Beeld se rubriek “Woordewisseling” daaroor).

Collins se WVDJ is NFT, ’n afkorting wat staan vir non-fungible token. Iets wat “fungible” is, is vervangbaar. As dit “non-fungible” is, is dit dus “onvervangbaar”, “uniek”. Vir token bied Pharos se Engels-Afrikaanse woordeboek as ekwivalente onder meer aandenking, teken of bewys. ’n NFT, waarvan ons al hoe meer hoor, is ’n digitale bewys dat ’n digitale voorwerp, soos ’n prent of ’n versamelkarakter in ’n speletjie (google “Axie”), die oorspronklike is. Net soos ’n handtekening op ’n skildery of op ’n rugbytrui of -broekie in die werklike wêreld ’n bewys is dat jy die ware jakob sien en nie ’n afdruk of ’n vervalsing nie.  

Dictionary.com se WVDJ is allyship (bondgenootskap), maar in ’n nuwe betekenis: as die rol van iemand wat haar of hom vir die insluiting van gemarginaliseerde mense op alle terreine beywer, nie as ’n lid van so ’n groep nie, maar in solidariteit met die stryd van gemarginaliseerde mense – as ’n medestryder.

Die Cambridge Dictionary se woord van 2021 is perseverance (deursettingsvermoë; volharding).  Gekies vanweë die groot aantal trefslae in Februarie, toe NASA se klein verkenningstuig Perseverance op Mars geland het, maar ook omdat dié woord die onverskrokke gees van mense oral in die wêreld vasvang. Gewone mense wat uithou en aanhou ten spyte van 2021 se vele uitdagings.

* Redaksionele nota: Voertaal se Nederlandse korrespondent, Milton Webber, berig: "Die Van Dale-woordeboek het pas die Woord van die Jaar 2021 bekend gemaak. En dit is ... prikspijt. Van Dale in België het ’n ander woord gekies. Hul woord van die jaar is knaldrang." Lees die volle berig hier.

Lees ook:

Taal en zorg: een wereldwijd probleem

Vra die veearts: Is daar ’n verskil tussen ’n dierenarts en ’n veearts?

Zuid-Afrikahuis-bespreking: Kaaps baan weg vir gelyke hantering van alle Afrikaanse variëteite danksy komende woordeboek

Studio SASNEV | Hoe sien buitelandse diplomate Afrikaans?

  • 0
Top