Die eerste woordeboek vir Kaaps, ’n projek waaroor wyd berig word, is onlangs in ’n paneelbespreking van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam verken en die klem is ook geplaas op die verskuiwende dinamika van verskillende variante van Afrikaans.
Die gesprek, asook verskeie skrywersonderhoude en simposia, is op die amptelike YouTube-kanaal van die Zuid-Afrikahuis terug te kyk.
Margriet van der Waal het die gesprek gelei oor die woordeboek, ’n drietalige publikasie wat Kaaps, Afrikaans en Engels insluit. Die projek is gesetel in die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), en twee kollegas wat nou betrokke is by die maak van die woordeboek, Quentin Williams, direkteur van die Sentrum vir Meertaligheid en Diversiteit aan die UWK, en Donovan Lawrence, ’n taalkundige, hoof van die UWK se Departement Afrikaans en Nederlands en lid van die woordeboek se advieskomitee, het vir eers Van der Waal se vrae beantwoord. Twee van die al hoe groter wordende aantal kunstepraktisyns wat vandag werksaam is in Kaaps, die skrywer en illustrasiekunstenaar André Trantraal en Quintin Goliath, bekend as Jitsvinger, het aan die gesprek deelgeneem.
Trantraal is onlangs deur die ATKV bekroon vir sy Afrikaanse kinderboek Keegan en Samier: die sokkerfiasko. Jitsvinger, ’n bekende rapper en hip-hopper in Kaaps wat betrokke was by die wyd-erkende verhoogwerk Afrikaaps, en ’n voorvegter vir die erkenning van Kaaps is, het ook aan die gesprek deelgeneem. Karin Benjamin, ’n dosent in Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad en ’n kommunikasiespesialis, het by die geleentheid vertel van haar navorsing oor Afrikaanse spoken word waarin Kaaps van kernbelang is.
Nasionale aandag aan Kaaps
Die rol en erkenning van Kaaps is verlede maand op die nasionale agenda geplaas toe president Cyril Ramaphosa in sy Erfenisdagtoespraak na die woordeboekprojek verwys het. Hy het die projekspan lof toegeswaai en gesê hierdie belangrike werk sal bydra tot die Suid-Afrikaanse erfenis en opskryf van die geskiedenis, en dat dit ’n trotse mylpaal vir die talle sprekers van Kaaps is.
Op ’n vraag oor die reikwydte en voorkoms van Kaaps het Lawrence daarop gewys dat Kaaps hoofsaaklik in die Kaapse Skiereiland gepraat word.
“’n Mens moet dit baie mooi verstaan. Dit word nie slegs hier gepraat nie. Dit gebeur ook dat Kaaps gepraat word in ander dele, aangrensend, byvoorbeeld op die Weskus of in die Boland.”
Persepsies oor Kaaps is soms problematies, want dit kan soms lei tot veralgemenings, soos om dit te beskryf as ’n etnolek en dan te sê bruin mense praat Afrikaans, het hy gesê.
“Dit is ’n stelling waarvoor mens moet versigtig wees, want die veralgemening kan baie maklik daaruit vloei dat alle bruin mense Afrikaans praat of dat alle bruin mense wat in die Kaap woon, Kaaps is.”
Die woordeboekmakers wil reg laat geskied aan die volle omvang van Kaaps en daarmee saam die gebruikspraktyke en kontekste van woorde, het Williams gesê. Die omvang van die woordeskat wat in die woordeboek opgeteken en beskryf gaan word, hang nou saam met waar hulle hul data kry en hoeveel woorde hulle kry. Dit sluit die verskeidenheid en gebruikskontekste van Kaaps op die Kaapse Vlakte in, maar soos genoem, ook wyer, het hy gesê.
Van der Waal wou by Williams weet of daar verskillende menings bestaan oor wie se vorm van Kaaps nou éintlik Kaaps is, iets wat dan van belang sou wees by die skep van hierdie woordeboek.
Die woordeboekmakers is in ’n interessante situasie, omdat baie van die woorde wat algemeen bekend is in Kaaps, verskillende spelwyses het. So byvoorbeeld word “innie” ook as “ini” of “inni” gespel, het hy gesê.
“Dit word deur verskillende sprekers van Kaaps oor die Skiereiland en oor die land gebruik. En dit is een van die uitdagings vir ’n woordeboekmaker: Hoe beskryf ons dit?”
Williams bestempel die woordeboek in aantog as ’n beskrywende korpusprojek, ’n drietalige woordeboek wat uit ’n verskeidenheid van databronne saamgestel word. Gevolglik sluit die woordeboekprojek se fokus allerlei tekste en kontekste uit die lewe van sprekers van Kaaps in.
Die woordeboekmakers wil ook bydra tot wat Williams noem die debat oor die standaardisering van die ortografie (spelling) van Kaaps.
“Ons is nog nie daar nie, maar ons hoop om daardie debat oop te maak.”
Die woordeboek sal ook ontwikkel word om kennis van die historiese wortels van Kaaps te verruim, het hy gesê.
Twee denkskole oor Kaaps
Lawrence het daarop gewys dat daar twee denkskole oor Kaaps bestaan.
“Dit gaan hier oor die onderskeid wat getref word tussen ’n dialek en ’n taal. Een denkskool wil graag Kaaps as ’n selfstandige taal beskou. Volgens ’n ander denkskool is daar in enige taal variante, of variëteite soos dit ook genoem word.
“Daardie variëteite word onderskei aan die hand van ’n hele reeks veranderlikes. Dit hang af van waar die taal gepraat word, of dit kan afhang van wie die taal praat en op grond daarvan het ’n mens dialekte, etnolekte en sosiolekte. Die uitgangspunt van die sosiolinguistiek is egter dat enige en alle variante van daardie taal, insluitend die standaardvariant, gelykwaardig is. So daar is nie ’n variant wat beter is as die volgende een nie.” Kaaps, die standaardvorm, Oranjerivierafrikaans en Griekwa-Afrikaans is dus gelyk. “En wat die sosiolinguistiek predik en graag wil sien, is wat ons noem ’n gelykevlakbenadering waar ons van die standpunt af uitgaan dat elkeen van hierdie variante, insluitend die standaardvorm, ewe veel bestaansreg, en ook eweveel vorm en funksie het.”
Daar was vir ’n baie lang tyd die idee dat ’n dialek of ’n variant soos Kaaps byvoorbeeld net vir sekere kontekste, veral informeles, geskik is, het hy gesê.
“Dit is iets wat baie vinnig besig is om op sy kop gekeer te word, daardie persepsie wat bestaan by mense wat dink Kaaps is nie goed genoeg om byvoorbeeld in die klaskamer gebruik te word nie.
“Ons sien deesdae word daar al hoe meer in Kaaps geskryf. Daar is al hoe meer jeugverhale, romans en gedigte wat in Kaaps geskryf word. Ons het al hoe meer sepies op TV wat in Kaaps is; ons het ’n koerant wat in Kaaps geskryf word. In drama en teater, orals staan Kaaps sy plek vol en dis vir ons belangrik, want dit help met die destigmatisering van Kaaps. Kaaps moes vir ’n lang tyd onder stigmatisering gebuk gaan. So dis absoluut só dat mens moet verstaan dat Kaaps gelykwaardig aan al die ander variante van Afrikaans is.”
Lawrence is verheug oor die aandag wat verskillende variante ontvang, ook toenemend op tersiêre vlak. Dit blyk ook uit die hoeveelheid navorsing wat in hierdie verband gedoen word.
“Ons is verskriklik trots op hierdie (woordeboek)projek, en ek dink nie dit kon op ’n beter plek gebeur het as spesifiek die Universiteit van Wes-Kaapland nie, gegewe ons geografiese konteks.”
Jitsvinger daag stereotipes uit
Van Jitsvinger is ’n onlangse musiekvideo gewys van een van sy snitte, “Graasies”, (vanaf ongeveer 18:00 in die gesprek op YouTube), ’n verwysing na die durend gewilde Grasshopper-skoene, waarna hy as “steeds ’n groot staple op die Kaapse Vlakte” verwys. Die skoene is vir hom iets wat belangrik is “van die skoolbanke af tot die kerk, dis in elke faset van my samelewing”. Hy noem dat ’n baie negatiewe stereotipe rondom die skoene bestaan, mense wat dit het oor “tomboys” en “gangsters” en armoede.
In sy werk as musiekkunstenaar daag hy die wanindrukke uit waarvolgens mense ander as bendelede tipeer, al die negatiewe konnotasies oor bruin mense, of dit nou oor taal of skoene is, het hy gesê.
Die geskiedenis van Kaaps
Watter rol kan Kaaps hê in die regstelling van apartheidsdenke, en die regstelling ten opsigte van ’n prekoloniale tyd, om dit duideliker te stel, en daardeur daaraan aandag en eer te gee waar dit verdien word? het Van der Waal gevra.
Hiervoor is die etimologie van woorde, en dan spesifiek vir hierdie woordeboek, belangrik, het Williams gesê. Daar is hedendaagse woordbetekenisse, maar ook verder terug, spesifieke etimologieë wat van (minstens) die 1500’s dateer en hy het die voorbeeld van “aweh” genoem.
Williams wil graag deur middel van die woordeboek ’n verskynsel te bowe kom wat hy die nawerking van “apartheidslinguistiek” noem. Daarvolgens is gefokus op die behoud van ’n bepaalde ideologie rondom Standaardafrikaans. Dit is dus nodig om aan te hou om hierdie navorsing krities te bekyk. Hy wil graag sien dat Kaaps sy sprekers permanent bemagtig – mense moet in en deur Kaaps kan leer en daardeur abstrakte en gedekontekstualiseerde kennis kan begryp.
De demokrasie van Kaaps
Van der Waal wou graag by Jitsvinger, Trantraal en Lawrence hoor hoe hulle Kaaps beskou ten opsigte van die veeltalige Suid-Afrikaanse werklikheid. Wat kan amptelike erkenning van Kaaps vir Suid-Afrikaanse tale beteken?
Vir Jitsvinger is Kaaps baie demokraties, want dit weerspieël Suid-Afrika se diversiteit.
Hy het dele van Kimberley genoem as voorbeeld, dat iemand van daar af groet in twee tale meer as net Engels.
“Nou Kaaps doen dieselfde ding, maar hulle noem nie wat hulle praat Kaaps nie. So ons is al klaar cousins in daai, al klaar op dieselfde golflengte. Ons moet ’n slag beginne reflect oor die nuwe dispensasie van ’n diverse South Africa. Maar waar vind daai plaas? Vir my vind dit plaas in Kaaps waar dán gooi ons ’n Engelse taal in, dán gooi ons Xhosa, Fanagalo daar in. En ons is all-inclusive in hoe ons praat. Deesdae kom nou ook Namawoorde in. Dis wat ek voel, dis die lewendige kant van Kaaps, political én kreatief.”
Erkenning onder ’n jonger geslag
Watter werk moet nog gedoen word sodat Kaaps daardie funksie as ’n publiekstaal in Suid-Afrika buite die spraakgemeenskap van Kaaps byvoorbeeld sou kon gaan vervul? het Van der Waal gevra.
Vir Trantraal ís daar erkenning nou vir Kaaps, veel meer as wat dit vroeër die geval was in sy ervaring. Die projek om Kaaps te verbreed, en aandag aan die standaardisering van Kaaps deur middel van die woordeboekprojek, meen hy is al op sigself genoeg, dat dit harde en ingewikkelde werk gaan verg op ’n groot skaal.
Die werk in en met Kaaps is belangrike aanvoorwerk vir ander variante van Afrikaans, het Lawrence benadruk. Dat net soos wat iemand glo dat hul manier van praat groter erkenning behoort te kry, net so voel iemand in Gqeberha, het hy verduidelik. Hy bespeur iets van ’n minderwaardigheidsgevoel omdat studente se manier van praat nooit regtig gelegitimiseer is nie. “So as dit eindelik in ’n woordeboek beland, soos Kaaps byvoorbeeld nou, dan gee dit daai nodige identiteit en status.”
Ook vir Williams is die rol van Standaardafrikaans nie iets wat moet wegval nie; dit gaan om daartoe bý te dra.
Benjamin stem saam dat dit nie gaan oor verplasing nie, maar oor verruiming en verryking van Afrikaans.
Trantraal werk tans aan ’n nuwe grafiese roman en het uit die verhaal wat hy daarvoor aan die skryf is, voorgelees. Die verhaal se werkstitel is “Die wêreld draai al aan” en dit het raakpunte met wat Jitsvinger had oor persepsies en simboliek wat geheg word aan iets soos skoene. (Luister na die voorlesing by om en by 43:25–49:44.)
Trantraal het die verhaal toegelig: Dit gaan oor James, ’n agtjarige in die tagtigerjare, en speel af in Bishop Lavis en dan later Mitchells Plain wanneer sy familie trek. Daarin word vertel van hierdie kinderkarakter wat in moeilike omstandighede arm grootword, en die verhaal plaas hy dus in ’n baie spesifieke werklikheid en tyd en tydvak, het hy vertel.
Van der Waal eien die waarde van so ’n verhaal dan dat Trantraal die verhaal juis so spesifiek lokaliseer, ’n karakter skep en vir hom ’n gesig gee en dit daardeur universele raakvlakke vind.
Van der Waal het verwys na die hip-hopwerk Afrikaaps wat wyd ten tonele gevoer en ook verfilm is. Sy het verwys na ’n toneel in ’n dokumentêr daaroor waar rappers ’n skool besoek en Kaaps praat en die effek van die herkenning en erkenning daarvan op die leerders in ’n ruimte waar dit tot op daardie stadium so ongeveer as verbode behandel is. “Dit is so tekenend eintlik van die verhouding tussen Afrikaans en Kaaps, hoe dit institusioneel werk,” het sy gesê.
Jitsvinger het genoem hoedat juis hierdie erkenning en ’n interaktiewe benadering kinders groter selfvertroue gee en dat dít iets is wat ’n mens wil sien.
Van der Waal het die belangrikheid van hierdie werk benadruk. Sy het verwys na die erkenning van Trantraal vir sy boek Keegan en Samier: die sokkerfiasko. Vir haar dui dit op ’n institusionele besef van die belangrikheid om die geleefde ervaring van sprekers van Kaaps te erken.
“Wel, wat interessant is, is toe LAPA my genader het om ’n kinderboekreeks vir hulle te skep wat nou op die ou einde Keegan en Samier geword het, was ek nie aanvanklik geïnteresseerd daarin nie, want hulle wou dit in Afrikaans hê, en dis wat die boek toe die ou einde geskryf in was, Standaardafrikaans,” het Trantraal gesê. Vir hom sou dit eerder die ideaal wees om kinderboeke in Kaaps te skryf. “Om fair te wees met LAPA, ek het dit nie opgebring met hulle nie. Ek het soort van aangeneem dat hulle dit nie in Kaaps sou wil doen nie. Dis ’n boekie vir jong kinders en hulle wou graag gehad het dit moet deel word van die kurrikulum. En die hele idee was om dit te kan pitch vir skole.”
Trantraal sê Kaaps word steeds gestigmatiseer, en nie net deur mense wat nie Kaaps magtig is nie.
“Dis nie net iets wat mense wat nie Kaaps praat aan dit attach nie, dit word geattach deur onsself as sprekers, ek sal dan maar sê hoofsaaklik bruin mense wat die taal praat.”
Hy het vertel oor ’n kinderboek met Kaaps in wat ’n opdragwerk was vir ’n dokter wat met vroeggebore babas werk.
“By die launch het ek ’n bietjie van ’n voorlesing gedoen uit die boek en agterna toe vertel die dokter vir my dat van die verpleegsters het nie gehou van die gedigte nie. Maar sy sê toe dis nie slegte kritiek oor die gehalte van die werk nie, maar die táál. Omdat dit in Kaaps geskryf is. Dít was die probleem vir hulle, want hulle voel nie regtig daai taal is wat hulle praat nie. Dis wél die taal wat hulle by die huis praat en met hulle kinders praat en hulle kinders in grootmaak, maar hulle voel dit moenie geskryf wees nie, dit moenie geskryf wees op daai manier nie.”
Trantraal sluit aan by die ander deelnemers dat persepsies oor Kaaps verander moet word.
Hy het Ludwig Wittgenstein aangehaal wat gesê het die grense van sy taal is die grense van sy wêreld. “En as ’n mens jou eie taal beskou as iets minderwaardig ... dit sê iets van ’n beknopte selfopvatting.”
Van der Waal het dit waarvan Trantraal vertel het, as baie onthutsend beskryf en oor die persepsies wat daaruit blyk. Sy het die hoop uitgespreek teenoor Williams dat juis dit wat hulle met die woordeboek doen, dié soort van persepsies hopelik ook sal aanspreek en mense laat sien “dis nie net ’n dialek of ’n variant nie, dis ’n taal, volwaardig en dit kan in al daai funksies gebruik word.”
Benjamin het Kaaps teengekom as ’n vorm van weerstand teen dit wat tot die hoofstroom gereken word. En al sou spoken word-werke hoofstroom wees, is dit nie gekanoniseer nie, het sy gesê. Vir haar navorsing sal ’n Kaaps-woordeboek van groot belang wees. Sy het verwys na digters soos Veronique Jephtas en gesê hulle “praat ... poësie, hulle digkuns is in Kaaps”. Benjamin het beklemtoon dat Kaaps “absoluut ’n sosiaal-politieke funksie het” en as betrokke literatuur geld.
“Jy sien byvoorbeeld Adam Small het in Kaaps geskryf. Daar waar hy meer politiek betrokke was, was dit in Kaaps gewees. Ander, soos (SV) Petersen het dit ook gedoen. En jy vind dit weer byvoorbeeld by Blaq Pearl. Sy het ook vir my gesê dit hang af waarvoor jy skryf. Vir spoken word is dit vir haar belangrik hoe dit klink. Jy skryf nie vir die blad nie, dit moet gespreek word. Jou hart klink op jou tong. As jou hart Kaaps is, dan klink dit op jou tong. In spoken word is dit heel belangrik en ek dink dat spoken word, rap en hip-hop ’n heel belangrike funksie het, en vir die validering van Kaaps.”
Verskuiwende persepsies
Hoe belangrik is dit dat Kaaps nader aan die hoofstroom beweeg in die bestaande kulturele velde in Suid-Afrika, of hoe belangrik is dit dat Kaaps sy eie, nuwe ruimtes oopmaak in die kulturele wêreld, byvoorbeeld met spoken word waarin Standaardafrikaans nie so sterk aanwesig is nie? het Van der Waal gevra.
Minder as 15 jaar gelede, toe Trantraal pas in Kaaps begin skryf het, het dit vir hom anders gevoel as wat dit nou voel en hy sê dit het in ’n ongelooflik kort bestek gegroei om iets te wórd.
Hy herinner hom toe sy broer Nathan besig was om sy debuutwerk Chokers en survivors te voltooi en dat sy redakteur by Kwela, Lindsay van Rensburg, gesê het hy moet gewoon voortgaan met Kaaps.
“Dit was ’n oomblik van ’n toestemming gewees, van sê oukei die persoon wat fortunately daar was, het nou die insig gehad om vir ons te kon sê doen dit soos dit, dis die regte way om dit te doen.” Sonder om afbreuk te doen aan werk van skrywers aan die orde van Adam Small, Peter Snyders en andere, was juis die gevoel van toestemming vanuit die oord van ’n gevestigde uitgewery ’n persoonlike keerpunt in sy verhouding met Kaaps.
Oor die institusionele ruimtes wat vergroot en Kaaps toenemend insluit, noem Benjamin dat die Nobelprys vir letterkunde verruim is met die toekenning daarvan aan Bob Dylan en dat sy seker is dat dit so iets vir spoken word gaan wees – die woordeboek beteken Kaaps en Kaapse gedigte kan toenemend ontsluit word. Dit word reeds in Nederlands vertaal.
“As jy iets wil verander, moet jy jou eers verset. Pas ná verloop van tyd as dit gekanoniseer is, is die verset nie meer so nodig nie, miskien.”
Van der Waal noem toe dat daar dan ’n periode van normalisering miskien volg.
Benjamin: “En dit is tog wat ons almal wil.”
Kaaps en hoër funksies
Watter planne en projekte sal ook bedink moet word om te sorg dat die sosiaal-ekonomiese gegewe van ’n groot deel van Kaaps se sprekers nie gaan verhinder dat mense toegang kry tot hierdie fantastiese nuwe produksies in Kaaps wat gepubliseer gaan word of die films wat gemaak gaan word nie? het Van der Waal gevra.
Williams het verwys na Ramaphosa se Erfenisdag-toespraak en het die hoop uitgespreek oor volgende stappe wat die normalisering van Kaaps in hoër kontekste sal inhou.
Hy het genoem dat die oorgrote meerderheid Kaapssprekers werkersklasmense is. Dit is belangrik dat taalbeleide verder ontwikkel word, dat Kaaps ontwikkel word vir onderrig en leer, ook wat betref die ekonomie.
Lawrence het benadruk dat die ontwikkeling van Kaaps en die woordeboek daaroor gaan om “alle Afrikaanssprekendes, en ek praat van almal, se repertoires uiteindelik uit te bou.
“’n Groot deel van Afrikaanssprekendes sê hulle verstaan nie Kaaps nie of dis net ’n gemengery tussen Afrikaans en Engels of wat ook al. Daar ís houdingsveranderings, die tipe goed wat moet plaasvind, maar dit gaan daaroor uiteindelik om die onderwyser wat voor die klas staan te bemagtig met verskillende variëteite.
“So as jy ’n onderwyser is, jy moet die standaardvariëteit hê en jy moet darem van jou niestandaardvariëteite soos Kaaps of Namakwalands of watter variëteit ook al se name hê wat jy kan gebruik voor die klas. Dis iets wat op verskeie vlakke en in verskillende fasette aangespreek behoort te word.
“In die onderrig van Afrikaans as ’n vak self, dáár moet ’n hele paar verskuiwings ook plaasvind sodat ons uiteindelik by ’n punt kan kom waar jy wat hulle noem ’n multidialektiese benadering van taal in onderrig het.
“Met ander woorde waar jy vir ’n outjie kan sê: ‘Luister, skryf vir my vandag ’n opstel in Standaardafrikaans’ en môre kan jy vir hom sê: ‘Skryf nou vir my ’n opstel in Kaaps’, sodat die kind die idee kan verstaan en die onderwyser ook verstaan dat al twee daai variante gelykwaardig is en al twee kan ewe effektief gebruik word om ’n opstel te skryf, of ’n gedig of wat ook al.”
Lawrence benadruk die werk aan die drietalige woordeboek is “definitief ’n stap in die regte rigting, maar saam met dit lê daar harde werk voor nog”. Daarmee saam moet ou, geykte vooroordele en houdings en persepsies rondom die niestandaardvariëteite soos Kaaps afgebreek word.
Benjamin is dit eens met Lawrence en Williams en het gesê hoe meer jy aansluit by ’n kind of ’n student, hoe beter sal die leerproses wees, of dit akademies is of op laerskoolvlak.
“As jou eie taal gewaardeer word, sal jy ook beter ander tale ook kan gaan leer.” Sowel sy as Van der Waal stem saam dat die nodige selfvertroue belangrik is om die leerproses te fasiliteer. Die ontwikkeling en institusionele aanvaarding van Kaaps sal help om die stigma wat daaraan gekoppel is, af te breek.
Williams het die hoop uitgespreek dat die woordeboek sal help om persepsies van Kaaps te verander en die negatiewe houdings daaroor sal afbreek en dat die woordeboek as ’n daadwerklike model gaan dien vir ander variëteite van Afrikaans.
Lees en kyk ook op Voertaal, LitNet en LitNet Akademies:
Die eerste Kaaps-woordeboek: ’n onderhoud met Quentin Williams
Kaaps is the future of Afrikaans (Quentin Williams)
US-taaldebat 2021: Ek is Afrikaaps (Blaq Pearl)
“Geskryf in ons eie taal” (Blaq Pearl)
André Trantraal gesels oor die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans Skrywersresidensie 2020
S.V. Petersen se tydskrifverhale (Steward van Wyk)
Die tydsgees in die kuns (Peter Snyders)
Buro: MvH