Die Nederlandse Taalunie en die Universiteit Utrecht wys: Waar luistertaal aanvaar word, is alle kombinasies van tale, taalvariëteite en dialekte moontlik.
...
Luistertaal is ’n vorm van asimmetriese, meertalige kommunikasie wat luister sowel as lees omvat. Dit behels dat mense met verskillende taalagtergronde hulle eie taal praat en skryf en mekaar verstaan terwyl hulle reseptiewe taalvaardighede ontwikkel en strategieë oefen om die ander taal volledig(er) baas te raak.
...
In Junie 2020 stel ’n sportkommentator in Nederland sy vrae in Fries; die bestuurder van ’n sokkerspan antwoord hom in Nederlands. In November 2019 stap ’n professor in Stellenbosch by ’n boekwinkel in en groet die kassiere in Engels; sy reageer in Afrikaans. In beide gevalle weet die gespreksgenote vooraf dat die een die ander se taal verstaan. Desondanks lei beide onbenullige episodes tot ’n moddergooiery.
Op Twitter sê sommige luisteraars na die Nederlandse radioprogram dis asosiaal om mekaar in verskillende tale aan te spreek. Toe hierdie twiet (dit bevat robuuste taal):
Frysk is net asosjaal, Frysk is ús memmetaal https://t.co/JXj5d9euv6 pic.twitter.com/4o7ONGSbZV
— Omrop Fryslân (@OmropFryslan) June 16, 2020
In Suid-Afrika wend die geïrriteerde professor hom ook tot Twitter en hou die kassiere as toonbeeld van taalonverdraagsaamheid voor.
This morning in a bookshop in Stellenbosch:
Me: Good morning
She: Waarmee kan ek help?
Me: I need stationery
She: Is jy die Prof van die Vrystaat?
Me: No, I'm DJ Black Coffee
(now you know why black people sometimes flip because of language intolerance)— Jonathan Jansen (@JJ_Stellies) November 26, 2019
Tog is die gebruik van twee of selfs meer tale in een gesprek nóg ongevoelig, onverskillig nóg ongewoon. Uit navorsing in die gesondheidsorg-, opvoeding-, boubedryf-, vervaardiging- en ander sektore blyk dit telkens: Luistertaal word met vrug in verskillende kontekste en situasies gebruik, byvoorbeeld tydens mediese ondersoeke, in klaskamers, op konstruksiepersele, op straat. Dikwels ad hoc, onbewustelik, sonder reëls, sonder afspraak, sonder om ’n naam daaraan te gee.
In die taalkunde word meertalige kommunikasie tussen twee mense wat die een die ander se taal (nog) nie voldoende bemeester het om dit self te kan praat nie, maar wat mekaar verstaan, “lingua receptiva” (reseptiewe – ontvanklike – meertaligheid) genoem. In Nederlands het Jan ten Thije, professor van Interkulturele Kommunikasie aan die Universiteit Utrecht, lingua receptiva “luistertaal” gedoop.
Luistertaal is ’n vorm van asimmetriese, meertalige kommunikasie wat luister sowel as lees omvat. Dit behels dat mense met verskillende taalagtergronde hulle eie taal praat en skryf en mekaar verstaan terwyl hulle reseptiewe taalvaardighede ontwikkel en strategieë oefen om die ander taal volledig(er) baas te raak. Dit maak dit vir sprekers van verskillende tale moontlik om in wedersyds verwelkomende, ondersteunende gemeenskappe opgeneem te word en bied in meertalige samelewings en hedendaagse meertaligheidsdebatte, waarin doeltreffende kommunikasie en onderlinge begrip so noodsaaklik is, nodige perspektief.
Waar luistertaal aanvaar word, is alle kombinasies van tale, taalvariëteite en dialekte moontlik, mits elke gespreksgenoot reeds oor ’n mate van reseptiewe kennis van die ander taal(vorm) beskik.
Ten Thije onderskei drie luistertaalvlakke:
- Tussen verwante tale, soos Duits-Nederlands, Nederlands-Afrikaans-Kaaps, Zoeloe-Xhosa, is luistertaalkommunikasie sterk aan te beveel. ’n Mens sien dit in TV-reekse soos The bridge, waar Sweedse karakters Sweeds en Deense karakter Deens praat en mekaar verstaan. Hierdie vorm van luistertaal kan ontwikkel word tot op ’n vlak waar dit spontaan kom.
- Luistertaal word ook met groot sukses aangewend deur sprekers van tale wat minder verwant is, soos Frans-Nederlands, of Engels-Afrikaans, waar die gespreksgenote die een die ander se taal begin leer of gereeld daaraan blootgestel word.
- Die derde vlak waarop luistertaal gebruik kan word, sien ons byvoorbeeld wanneer iemand van Frankryk Nederlands praat met ’n spreker van Afrikaans, wat op haar beurt in Engels antwoord. Hier verstaan die sprekers dus nie mekaar se moedertaal nie, maar wel mekaar se tweede taal goed genoeg.
In die Europese Unie met sy 27 lidlande en 24 amptelike tale is luistertaal lank reeds ’n bruikbare laevlak-alternatief vir Engels, veral in informele situasies. Dit kan nie naastenby alle kommunikasieprobleme oplos nie, maar dit is ’n interessante en relevante toevoeging.
Ook die Nederlandse Taalunie beskou die gebruik van luistertaal as ’n manier om sprekers van verskillende tale nader aan mekaar te bring, en terselfdertyd as wegspringplek om die kennis en beheersing van die ander taal verder te ontwikkel. Wanneer jy ontvanklik met taal werk – jou volledig daarvoor oopstel terwyl jy lees en luister – word die produktiewe vaardighede – praat en skryf – ook gestimuleer en word enige vrese om die ander taal te gebruik, oorkom.
Toe die Taalunie, in samewerking met die Universiteit Utrecht, op 1 April Luistertaal-etalage. De potentie van luistertaal in onderwijs, professionalisering en samenwerkingsverbanden, publiseer het, was dit dus geen Aprilgrap nie. Die verslag van 60 bladsye (laai dit hier af), is ’n uitstalkas, ’n vertoonvenster, wat die potensiaal van luistertaal en verwante begrippe onder die aandag bring. Deur verskillende inisiatiewe, aanvangsprojekte, vennootskappe en navorsing in die kollig te plaas, word daar geïllustreer hoe luistertaal reeds met sukses in werkplekke, skole en ook universiteite gebruik word.
In luistervriendelike skole word allerhande aktiwiteite ontwikkel waarby leerders met verskillende taalagtergronde saam take uitvoer, elk hulle eie taal gebruik, en saam sukses behaal. Tydens lesse praat onderwysers soms Nederlands en die leerders ’n dialek, soms andersom. Deur sulke oefeninge word die leerder – en die onderwyser – bewus van taal en van hoeveel ’n mens kan verstaan as jy jou volledige taalregister oopmaak, die geleentheid kry om jou taal met ’n ander taal te vergelyk, dit met die ander taal in verband te bring, jou taal met die ander taal te verbind. Kinders leer woorde en strukture in mekaar se tale herken terwyl hulle in hulle eie taal antwoord en formuleer. So ontwikkel hulle speel-speel eie taalleerstrategieë en ’n positiewe ingesteldheid teenoor ander tale.
’n Luistervriendelike skool reageer op veeltaligheid deur alle tale wat in die skool gepraat word, te verwelkom, te waardeer, dit op die een of ander manier, hoe gering ook al, te probeer gebruik. So word die kulturele agtergrond van elke leerder en onderwyser erken. Taalvriendelike skole ontwikkel ’n taalplan wat almal – leerders, onderwysers en ander personeel – betrek om ’n inklusiewe taal- en kultuurvriendelike omgewing daar te stel. Kinders met toegang tot ’n taalvriendelike leeromgewing weet hulle word aanvaar en waardeer vir wie hulle is. Bowenal word geen kind – ooit – gestraf omdat sy of hy by die skool haar of sy (moeder)taal praat nie.
By die Universiteit Utrecht (UU) kan studente in die programme taalkunde, Nederlands, Duits, Frans, Spaans, Italiaans, en inligtings- en kommunikasiewetenskappe reeds uit meer as 80 vakke kies waarin luistertaal gebruik word. Hierdeur word die toeganklikheid van dié kursusse vergroot. Studente wat oor voldoende reseptiewe kennis van die onderrigtaal beskik (dit verstaan en kan lees), word toegelaat om produktiewe take (praat en skryf) in Engels of Nederlands te verrig. Deelnemers aan hierdie kursusse word “luistertaalstudente” genoem.
In November 2019 brei die universiteit dié program na internasionale studente en medewerkers uit en vir die akademiese jaar 2020-21 word twee internasionale luisterstudente, uit Indië en Portugal, tot die universiteitsraad verkies, want die UU het hom daartoe verbind om in hierdie dekade veeltalige deelname van al sy studente, dosente en ander personeel in beheerliggame op alle vlakke (afdelings, departemente, fakulteite, die universiteitsraad en administratiewe dienste) te beveilig en te bevorder en verskillende veeltalige kommunikasiemetodes vir plaaslike en internasionale studente te verken en te fasiliteer. Luistertaal in die besonder, maar ook Engels as lingua franca, vertaling, transtaling, tolking en kodewisseling (wisseling tussen tale, byvoorbeeld in ’n sin) – al hierdie middele word in oënskou geneem, beproef en ondersoek om vas te stel hoe elkeen as ’n onderdeel van die UU se taalbeleid in verskillende kursusse benut kan word ten einde tot ’n inklusiewer internasionale akademiese gemeenskap in Utrecht by te dra.
Inheems? Uitheems? Van ’n kibbelry daaroor is daar hier geen sprake nie. Vir studente van oral wat geen ander komvandaan as hulle geboorteplek het of meer ken nie, maak die UU deure oop sodat hulle mekaar se tale én die taalrykdom en diversiteit wat hulle eie herkoms bied, kan ontdek, ervaar en leer verstaan.
Sou ek darem trots gewees het as dit my alma mater was.
Nog leesstof:
Gulikers, Emmy, Jan ten Thije en Mieke Smits. 2021. Luistertaal-etalage: De potentie van luistertaal in onderwijs, professionalisering en samenwerkingsverbanden. Den Haag: Taalunie. https://taalunie.org/publicaties/197/luistertaal-etalage-de-potentie-van-luistertaal-in-onderwijs-professionalisering-en-samenwerkingsverbanden-inventarisatie-en-beschrijving.
Günthe, Mirjam. 2020. Luistertaal. Neerlandistiek: Online tijdschrift voor taal- en letterkunde. 26 Junie 2020. https://neerlandistiek.nl/2020/06/luistertaal-2.
Jansen, Mathilde. 2013. Luistertaal in Limburg. NEMO Kennislink. 7 Junie 2013. https://www.nemokennislink.nl/publicaties/luistertaal-in-limburg.