Bafana se "brose" reis na brons

  • 0

.....

Selfs al het pres. Cyril Ramaphosa nie na Du Plessis verwys toe hy “die kinders van demokrasie” se prestasies in sy staatsrede verlede week ingesluit het nie, is dit die einste Du Plessis wat ons daaraan herinner dat Suid-Afrikaners oor die spesiale vermoë beskik om die hoogste sport te bereik ten spyte van al die negatiwiteit waardeur ons daagliks omring word.

.....

In Oktober 2021 het hierdie Voertaal-bydraer - opgegroei in ’n wêreld versot op rugby - homself op die gebied van sokker begewe deur ’n Nuusvinke-bydrae te lewer met die opskrif Belgiese Broos maak Bafana minder broos.

Die artikel was ’n pryslied vir die Belgies-gebore sokkerafrigter Hugo Broos, wat toe slegs vyf maande lank in sy pos as nuwe breier van Suid-Afrika se nasionale span was, maar al reeds getoon het dat hy groot planne met Bafana Bafana het. Dit sou van die begin ’n dapper daad wees wat teen die algemene (lae verwagtinge) indruk van die span ingedruis het.

Hahahaha, het mense sinies gelag, probeer jy maar met Bafana!

Oorwinnings om te kon kwalifiseer vir die 2022-Sokkerwêreldbekertoernooi was egter die rede vir die optimisme van daardie tydperk, twee jaar en drie maande gelede – hoewel die span gedurende die toernooi toe nie eens verby die groepfase gevorder het nie.

Steeds was dit ’n gróót sprong verder as hul nie-kwalifisering vir die vorige twee wêreldbekertoernooie in 2014 en 2018. In 2010, met Suid-Afrika as gasheerland, het die span darem in die openingswedstryd hul ondersteuners rede vir feesviering gegee deur met 1-1 gelykop teen die magtige Mexiko te speel. En al sou hulle in dié geval ook nie anderkant die groepfase uitkom nie, kon hulle deel in die suksesvolle aanbieding van die toernooi, wat vir die eerste keer ooit deur die wêreldbeheerliggaam vir sokker (Fifa) aan die vasteland van Afrika toevertrou is.

Sedertdien was dit grotendeels treurmare (en maer jare) vir Bafana Bafana en het die span jammerlik, dog met rede, ’n onderwerp van bespotting geword - spesifiek omdat die nasionale vrouespan, Banyana Banyana, hulle telkens in die skadu gestel het. Ter verdediging van die span moet gesê word dat dit in ’n sekere opsig ’n geval is daarvan dat appels met pere vergelyk word, dié dat van ons manlike sokkerspelers verwag word om dieselfde hoogtes te bereik as die vrouespan, of die Springbokrugbyspan of ons Proteakrieketspan of die gholfspelers wat gereeld internasionale toernooie wen. Waar kom die idee vandaan dat Suid-Afrika in elke sport waaraan deelgeneem word ewe goed moet vaar?

Die denke oor Bafana en die prentjie wat deur hulself oor hulself geskets word, het wel stadig maar seker begin verander met Broos se aanstelling twee jaar gelede – en in die besonder noudat Bafana Bafana se prestasies die afgelope maand by die Afcon-toernooi in die Ivoorkus die tonge behoorlik laat klap het.

Nou sing almal ’n ander deuntjie oor die span, wat dit wonderbaarlik kon regkry om derde te eindig, terwyl hulle beslis meer as een geleentheid gehad het om tot in die eindstryd te vorder. Die groot gesprekspunt was dat weinig ’n sokkerkenner dit verwag het dat Bafana deur die groepfase na die laaste sestien spanne sou deurdring.

Nóg minder het voorsien dat hulle in die top sestien-uitspeelwedstryde die toernooi-gunstelinge Morokko, wat in 2022 se sokkerwêreldbekerskouspel in ’n halfeindstryd uitgedraf het, met 2-0 sou klop. Hierna het hulle in ’n kwarteindstryd teen Cape Verde gespeel en nogeens verras deur (ná ekstra tyd én ’n senutergende strafdoelstryd) die selfs meer onwaarskynlike te bereik: ’n halfeindwedstryd om vir ’n plek in die Afcon-finaal mee te ding.

’n Plek in die finaal was hulle helaas nie beskore nie, maar eweneens het dit van hul teenstanders Nigerië gekos om nie slegs staande te bly vir die oorspronklike 90 minute (plus beseringstyd) nie; ook in dié geval is 30 minute ekstratyd, sowel as nóg ’n naelskouende strafdoelstryd vereis om ’n uitslag te bepaal. Die Nigeriërs het wel daarin geslaag om Bafana verby te steek eindstryd toe.

Maar die kragmeting tussen die Suid-Afrikaners en die “super-arende” kon net sowel die Afcon-finaal vóór die werklike eindstryd gewees het, gemeet aan die afwagting vooraf. Dieselfde sou waarskynlik oor die mededinging om die derde plek gesê kon word, waartydens Bafana dit reggekry het om die Afcon-bronsmedalje voor die neuse van die Demokratiese Republiek van die Kongo weg te raap - óók ná ’n strafdoelstryd - en boonop het die Bafana-kaptein, Ronwen Williams, hierna die toekenning as beste doelwagter by die toernooi ontvang.

Strykdeur die toernooi was dit die kalmte van Hugo Broos wat opgeval het, terwyl die afrigters van teenstanders soos afkophoenders langs die veld opgetree het en toeskouers se monde van verbasing oopgehang of hul kop weens teleurstelling laat sak is. Broos kon uiteindelik hierdie week met sy’ kop omhoog by die aankomsaal van die OR Tambo-lughawe instap, waar opgewonde ondersteuners - en opportuniste politici - hom en sy span ingewag het.

Broos en sy span se Afcon-hoogtepunt staan nou trots langs ander onlangse uitblinker-oomblikke vir Suid-Afrika, wat begin met die Springbokke se verowering van die Rugbywêreldbeker vir ’n ongelooflike vierde keer in Oktober verlede jaar; toe Dricus du Plessis se verowering van ’n wêreldtitel in die UFC-gemengde gevegskuns; en op die gebied van vermaak, die jong musieksensasie Tyla se ontvangs van ’n Grammy-toekenning verlede naweek.

Selfs al het pres. Cyril Ramaphosa nie na Du Plessis verwys toe hy “die kinders van demokrasie” se prestasies in sy staatsrede verlede week ingesluit het nie, is dit die einste Du Plessis wat ons daaraan herinner dat Suid-Afrikaners oor die spesiale vermoë beskik om die hoogste sport te bereik ten spyte van al die negatiwiteit waardeur ons daagliks omring word.

Wat in dié opsig nie buite rekening gelaat moet word nie, is dat Hugo Broos die Afcon-toernooi aangepak het met ’n Bafana-groep wat (met die uitsondering van een of twee spelers) almal op tuisbodem hul sport beoefen, terwyl die ander deelnemende spanne groot getalle spelers ingesluit het wat vir oorsese spanne speel of van kindsbeen af daar woonagtig is.

Die spreekwoord “local is lekker” kan nou aangepas word na “local is (ge)lo(o)fwaardig”. En hierop kan ons ’n Belgiese bier drink.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top