Barbara Hepworth in Palais_de_Danse_1963
In 2010 het die BBC Four-film, The Art of Cornwall, met James Fox as aanbieder, berig dat die St Ives-kunstenaars “voortgegaan het om van die opwindendste kuns van die 20ste eeu te produseer [...] vir ’n paar betowerende jare was hierdie plek so bekend soos Parys, so opwindend soos New York en oneindig meer progressief as Londen.”
Foto: Press TSI 2022
Die program het die lewens en werke van die sleutelfigure en hul bydraes ondersoek om St Ives vanaf die 1920’s as ’n belangrike sentrum van Britse kuns te vestig. ’n Eeu later is dié Cornwall-kusdorpie steeds bekend as kunstenaarshemel.
Foto: Clifford Roberts
Nie alleen is elke vierde winkeltjie op die promenade ’n galery met kunswerke of interessante beeldhouwerke nie, die kunsverenigings is groot en elke tweede kerksaal is vol kuns, met kunstenaars wat diens doen. Maar dis ook die dorp met ’n volwaardige Tate-galery – die Tate St Ives, waartoe jy gratis toegang met jou Tate-kaart kan kry.
Die Tate St Ives het in Junie 1993 sy deure geopen en binne ses maande meer as 120 000 besoekers ontvang – 50 000 meer as die jaarlikse besoekerstal wat verwag is. Sedertdien verwelkom die galery jaarliks gemiddeld 240 000 besoekers.
Foto: Clifford Roberts
In hierdie moderne galery is daar vyf uitstallings onder die “Modern Conversations”-hofie, wat vyf kunstenaars uitlig wat met moderne kunswerke van St Ives en Wes-Cornwall geassosieer word: Alfred Wallis (1855–1942), Marlow Moss (1889–1958), Barbara Hepworth (1903–1975), Partou Zia (1958–2008) en Bob Law (1934–2004).
Barbara Hepworth in Trewyn Studio, St Ives, 1958_Photo_Michel_Ramon
Dis Barbara Hepworth, wat vir bykans 40 jaar in St Ives gewoon en gewerk het, se spesiale uitstalling daar, getiteld Art & Life, wat ons vir ure betower het. Jy kan ook by haar vorige woning en ateljee – tydens haar leeftyd bekend as Trewyn Studios – gaan rondstap en sien waar sy en haar man, Ben Nicholson, met die uitbreek van die oorlog in 1939 hul intrek geneem het. Sy het hier op 75-jarige ouderdom in ’n brand gesterf.
Dis vandag die Barbara Hepworth Museum en Beeldhoutuin en val ook onder die Tate se bestuur. Die laaste werk waarmee sy besig was voor haar dood, is ook te sien.
Foto: Clifford Roberts
Buite die Tate St Ives moet ek eers verpoos: Die galery is by die see en só ontwerp dat die branders weerkaats in die reuseruite van die galery. Dit maak die galery op sigself ’n kunswerk – een wat elke oomblik van die dag saam met die natuur en haar buie verander.
Ek is verbaas om te sien hoe vol die galery is. Die interessante rondleidings vir ander werke is dalk die rede, maar selfs die teekamer en geskenkwinkel is besig. Almal wil hul siele vir ’n paar kosbare ure voed, voor die aanslae van die lewe weer soos branders oor jou begin breek.
Die oulike brosjure oor haar werk gee goeie agtergrond. Dit beskryf haar as “een van die mees invloedryke Britse kunstenaars van die 20ste eeu. Sy was aan die voorpunt van internasionale, moderne kuns, diep-geestelik en passievol-betrokke by politieke en tegnologiese verandering.”
Foto: Press TSI 2022
Hepworth is in 1903 in Wakefield, Yorkshire gebore. “Haar werke openbaar ’n unieke visie van kuns en lewe, wat haar belangstellings in musiek, dans, wetenskap, ruimteverkenning, politiek en godsdiens integreer met persoonlike gebeurtenisse en ervarings,” lees ek terwyl ek deur die ruimtes vol natuurlike lig stap om haar werke te gaan besigtig.
“Hierdie uitstalling bied byna vyf dekades van haar beeldhouwerke, skilderye, tekeninge, afdrukke en ontwerpe aan. Hepworth het die moontlikhede vir beeldhouwerk en kuns se doel binne die moderne samelewing uitgebrei. Deur in beide abstraksie en figurasie te werk, gee baie van haar kuns uitdrukking aan ons verhoudings met mekaar en ons omgewing, en hoe kuns ons persepsies van die wêreld kan weerspieël en verander. Hepworth het St Ives as haar ‘geestelike tuiste’ beskou.”
Teen een van die mure is geskryf dat sy in 1968 gesê het dat sy St Ives so diep liefhet. “Dit sal elke dag ’n inspirasie wees as ek wakker word en werk toe gaan.”
Die uitstalling bied ’n kykie na sketse, argiefmateriaal en kunswerke wat min gesien word, en ook 50 beeldhouwerke uit haar versameling. Dis aanvanklik by The Hepworth Wakefield uitgestal, maar vir die plaaslike Tate aangepas om die Cornish-konteks in te sluit en te wys hoe groot die streek op haar kuns en uitdrukking ingewerk het.
Barbara Hepworth - Curved Form (Trevalgan) 1956. Courtesy of the British Council Collection. Photo © The British Council.JPG
Ek hoor hoe een gids aan ’n ander besoeker verduidelik: “Dit beklemtoon hoe die area se ruwe landskap en hegte kunsgemeenskap belangrike bronne van inspirasie geword het. Hierdie plaaslike verbande is duidelik in die titels van baie sleutelwerke, soos Curved Form (Trevalgan) (1956) en Sea Form (Porthmeor) (1958), terwyl haar betrokkenheid by die wyer wêreld van internasionale gebeure verken word deur werke soos Disc with Strings (Moon) (1969), miskien geïnspireer deur vooruitgang in ruimteverkenning, en Single Form, onthul in 1964 voor die Verenigde Nasies-gebou.”
Barbara Hepworth, Disc with Strings (Moon) 1969 © Bowness
Ek het nie besef ek sou eendag in die tuisdorp én in ’n uitstalling staan van die beeldhouer van die mooie standbeeld wat ek in 2009 in New York voor die VN afgeneem het nie. Single Form (ter nagedagtenis aan Dag Hammarskjöld) is in opdrag van die Jacob en Hilda Blaustein Stigting geskep en bring hulde aan die VN-sekretaris-generaal Dag Hammarskjold wat in 1961 in ’n vliegongeluk oor Zambië gesterf het.
Foto: Press TSI 2022
Met ons besoek aan dié land ’n paar jaar gelede het ek opgelees dat ’n monument en klein museum hierdie gebeurtenis eer en in 1997 by die Unesco Wêrelderfenisgebied onder die “Kultuur”-hofie gevoeg is. Dis naby Ndola, suid van die Simon Mwansa Kapwepwe Internasionale Lughawe geleë.
Die reuse-bronsstandbeeld met ’n ronde gat bo, wat op ’n marmervoetstuk gemonteer is, was nog altyd die onderwerp van bespreking en hoewel vele interpretasies onder kenners bestaan, het Hepworth glo net verklaar: “Tydens my werk hieraan het ek Dag Hammarskjöld se idees van menslike en estetiese ideologie in gedagte gehou en probeer om ’n simbool te vervolmaak wat die adellikheid van sy lewe sou weerspieël, en terselfdertyd vir ons ’n motief en simbool sal wees van beide kontinuïteit en solidariteit vir die toekoms.”
Barbara Hepworth - Bicentric Form 1949. Tate
Haar fassinasie met die menslike vorm verduidelik sy in 1970 as volg: “Die vorms wat van kleins af vir my besondere betekenis gehad het, is die staande vorm (wat die vertolking is van my gevoel jeens die mens wat in landskap staan); die twee vorme (wat die teer verhouding van een lewende wese naas ’n ander is); en die geslote vorm, soos die ovaal, sferiese of deurboorde vorm (wat soms kleur insluit) wat vir my die betekenis-assosiasie van gebare in landskap vertaal, in die rus van ’n moeder en kind, of die gevoel van die omhelsing van lewende dinge, hetsy in die natuur of in die menslike gees.”
Barbara Hepworth, Sketches of costume designs of ‘Jennifer’ and ‘Mark’ with a blue background. © Bowness. Photo ©Tate (Matt Greenwood)
Die uitstalling strek oor verskeie vertrekke en laat stap die besoeker saam deur haar lewe en ontwikkeling as kunstenaar van haar studies by die Leeds School of Art in 1920, haar reise deur Europa, haar lewe in Londen in die dertigerjare, tot waar sy met ’n gesin begin het.
Foto: Press TSI 2022
Die oorgang van figuurwerk na abstrak is duidelik te sien, maar haar liefde vir die menslike figuur bly konstant tot uiting kom in haar werk.
Die uitstalling hou jou vir lank besig en tussen elke vertrek stap ek terug na die voorportaal, gaan ervaar die see wat ru teen die kus aangejaag kom en branders kwaai teen die rotse breek. In die halfmaan met kussings op sit mense en gesels, bespreek ander kunstenaars se werke en wag vir die volgende rondleiding.
Foto: Press TSI 2022
Hoe wonderlik om 13 000 km van ons huis in ’n kusdorpie – waar ons geliefde kunswerke ons mure versier – in ’n galery in ’n ander kusdorpie te staan en ook deur kuns betower te word.
En soos Pablo Picasso verklaar het: “Painting is just another way of keeping a diary.” Want hierdie besoek aan die Tate St Ives en die Hepworth-uitstalling is deel van ons reisdagboeke.
- Vir kurator Chris Stephens se inleiding tot Barbara Hepworth besoek: https://www.tate.org.uk/art/artists/dame-barbara-hepworth-1274/introduction-barbara-hepworth.