- Alle foto’s verskaf deur Nadia de Kock
Toe die geleentheid hom voordoen vir ’n reis na die Russiese Arktika, het ek nie ’n oomblik gehuiwer nie. Arktika is een van dáárdie woorde wat my onmiddellik op ’n verbeeldingsreis stuur. Dit laat my hunker na afgesonderde stiltes, ysige koue en die belofte van die noorderligte. Ek is ook nuuskierig oor ’n leefwyse waarmee ek nie bekend is nie: oorlewing in ’n ekstreme klimaat. Terloops, die naam Arktika het sy ontstaan in die Grieks vir beer. Dit verwys na twee konstellasies in die noordelike sterrehemel: Ursa Major (Groot Beer) en Ursa Minor (Klein Beer). Die grondgebied van die Arktiese Sirkel word deur agt lande gedeel: Rusland, Noorweë, die VSA (Alaska), Swede, Kanada (Yukon en die Noordweste), Denemarke (Groenland) en Ysland (die eiland Grimsey).
In Maart 2020 gaan ek en sewe medereisigers, almal vroue, Rusland toe. Ons ouderdomme wissel van 47 tot 75. Vir maande voor ons vertrek berei ons voor, nie heeltemal seker wat in die Arktika op ons wag nie. Ons koop dik drielaagsneeubaadjies, termiese onderklere, kouse en mussies. Ook waterdigte stewels en handskoene, en kopligte vir in geval ons in ’n sneeustorm iewers heen moet sukkel.
Nadat ons twee dae lank deur Moskou warrel, vlieg ons Murmansk toe. Toe ons op die Aeroflotvlug sit, loer ek onderlangs na my reisgenote en wonder of hulle halfbenoud is oor wat voorlê. Ek sien blink oë en ek dink nee wat, ons is almal gereed vir hierdie avontuur.
Aeroflot self is al ’n avontuur in die kleine. Ek het stories gehoor van sitplekke wat los is en onverwags terugval op die skoot van die persoon in die volgende ry, van kajuitbagasieluike wat nie dig sluit nie, en – báie erger – van noodlandings in mielielande. Die vliegtuig is egter modern en nuut en die vlug sonder voorval.
Murmansk is die grootste stad binne die Arktiese Sirkel met ’n inwonertal van ongeveer 300 000. Van hier af is dit nog twee ure se ry deur ’n sneeulandskap na die klein Lovozero, waar ons gashere, Mike en Tanya, op ons wag.
Lovozero lê op die walle van die Virmarivier en het ’n bevolking van ongeveer 3 000. Ons spandeer vier dae hier en bly in twee goedtoegeruste houthutte, met behoorlike verhitting en uitsigte oor die wit landskap onder sneeuglans waaroor ons later weer sal droom. Op ons program is sneeumobiel- en poolhondtogte en ’n aurorapiekniek. Ons besluit teen die yshengel, iets waaroor ek nou spyt is. Ek het nog nooit visgevang nie; ek kon net sowel nou geleer het hoe.
Elke oggend ná ontbyt tree ons aan by Mike se basis, ’n vertrek langs die eetvertrek, waar hy ons een-een in ons sneeupakke inhelp. “One, two,” tel hy wanneer ons ons bene in die pype druk en “One, two” help hy ons om ons arms in die moue te kry. Hierna trek ons sneeustewels aan en trek Mike balaklawas oor ons koppe. Nie sy óf Tanya se Engels is vreeslik goed nie, en ons kommunikeer meesal met eenvoudige sinne en gebaretaal.
Die eerste dag ry ons vir vyf ure lank die wildernis in op sneeumobiele. Twee van ons ry alleen en drie het passasiers, en ons maak beurte. Na ’n onsekere begin gaan dit makliker. Later ruil ek en my passasier om en bestuur sy. Ons het omtrent 20 treë gery voordat sy beheer verloor en ons in stadige aksie omval. Mike is toe al ’n hele ent vooruit en my grootste bekommernis is om die swaar sneeumobiel op te tel voordat hy sien. Twee van die ander vroue ry agter ons en kom help ons optel, maar nie voordat Mike ons mis, omdraai en na ons kom soek nie. Met ’n broek en ’n bril vol sneeu klim ek weer op die sneeumobiel en ry verder.
Later ry ons oor die gevrieste Lovozero-meer, ’n plek van mites en legendes. Ons stop so drie of vier keer om ons bene te rek en na die stilte te luister. Dít is oorverdowend, en dít is waarvoor ek gekom het.
Voordat ons omdraai en huis toe gaan, lei Mike ons op ’n nou paadjie, met bome dig teenaan, tot by ’n ravyn, waar ons afklim. Hier seil ons op ons boude in ’n sneeusproei af tot onder. Die rivier in die ravyn is gevries en op die walle lê ’n dik laag sneeu. Dit is ’n pragtige plek. Terwyl ek al hoe dieper in die sneeu wegsak, wonder ek hoe ons uit die ravyn gaan uitkom.
Die blyk dat daar nie ’n manier is om uit die ravyn getoor te word nie. Ek het gehoop dat daar vorentoe ’n plekkie is waar ’n mens doodluiters kan uitstap, terug na jou wagtende sneeumobiel toe. Maar nee, ons moet opklim waar ons flussies afgegly het. Die sneeu is diep en ek is maar 1,6 meter lank. Ek sit later so deeglik vas dat Mike ’n tou gaan haal en ek so te sê uitgetrek word. Uiters onelegant.
Die sleetog agter poolhonde aan is onvergeetlik, en te kort na ons smaak. Die rit oor die uitgestrekte sneeuveld, met die enigste klanke dié van blaffende honde en hul hanteerder, ’n vrou, se aanmoediging, sal ek altyd onthou. Die vrou staan agter ’n mens op die slee en dit klink asof sy skree: “Diva, diva!” Een van ons reisgenote, ’n entoesiastiese hondeliefhebber, staan eers vir ’n rukkie met toe oë voordat sy by ons in die groot slee terugklim. “Dit was ongelooflik,” sê sy. Agter haar blaf en spring die honde; hulle wil hardloop.
Die tweede aand in Lovozero gaan soek ons die noorderligte. Ons ry in Mike se tuisgemaakte slee na ’n tipi ver van die dorp en sy ligbesoedeling af, waar ons ’n piekniek gaan hou met brownies en tee om ons warm te hou terwyl ons wag dat die aurora haar verskyning maak. Die sleë kan as houtbokse op ski’s beskryf word, met rendiervelle binne en, belangrik, geen vere nie. Dit gee ’n wilde gestamp af en ek leer vinnig om my agterstewe effens te lig ten einde in een stuk by die piekniekplek aan te kom. (Terug in Suid-Afrika sien ek die groot blou kolle op my bobene. Ek besef dat Mike se slee die skuld moet kry. Dit was vir my makliker om so soort van in- en uit te val as om te probeer inklim. Weer as gevolg van my gebrek aan lengte.) Ons is egter ongelukkig – die wolke pak saam en ons kans om die noorderligte te sien, verdamp.
Op ons voorlaaste aand is weervoorspellers positief dat ons vanaand wel die noorderligte sal sien. Ons pak dus weer die stamperige rit aan na ’n tipi, hierdie keer nader aan Mike se basis. Hierdie keer ook met sjerrielikeur om die –21 grade Celsius mee te troef. Ons geluk hou – terwyl ons in die tipi by die vuurtjie sit en gesels, roep ’n reisgenoot van buite af: “Julle, die ligte is uit!”
Mense sê die ligte is beter op foto’s wat met ’n stadige sluiterspoed geneem is as in die werklikheid. Dalk is dit so – ek het nie opgelet nie. Om die ligte bo my te sien dans bring my in voeling met iets op ’n ander vlak, iets onsigbaar maar dáár, iets wat ’n glimp van haarself kom offer het. My oë begin brand; ek sou hierdie belewenis so graag met my kind wou gedeel het. ’n Groot verlange vou my toe, maar terselfdertyd voel ek bevoorreg. Die heelal se gunsteling. Ek glo almal voel so wanneer hulle die noorderligte sien.
Ons het geen planne vir ons laaste dag nie. Drie van ons groep gaan na die “sneeudorp” Kirovsk, wat ’n ondergrondse labirint van ystonnels en ’n klomp ysbeelde huisves. Kunstenaars van oor die Arktika maak die beelde, gebaseer op ’n aktuele tema waarop jaarliks besluit word, en versier die gange en kamers in die labirint met veelkleurige liggies.
Die res van ons dwaal met ons kameras deur Lovozero. Ons is op soek na dorpenaars wat Engels kan praat, en hopelik ’n klomp stories.
Waar beter as in ’n kroeg? Ons doen navraag by ’n klein winkel, ek tik “bar” in my slimfoontoepassing, die vriendelike bestuurder lees die vertaling en beduie pad-af. Die tweede winkel, die een waarheen ons beduie is, lyk belowend met bottels vodka uitgestal en ’n plastiektafel en twee stoele teenaan die winkelrak; die “kroeg”, dink ek, ’n sonderlinge watergat. Ek tik my sinnetjie op my foon en dog die winkeleienaar kry ’n oorval toe sy dit lees. Nee! Njet! Sy verkoop nie glase drank nie, net toe bottels. Ek gooi nie sommer tou op nie, en hoop sjarme gaan die knoop deurhaak. Sy is egter so ferm dat ek verbouereerd begin verduidelik dat ons elkeen net ’n klein glasie, ’n halwe glasie selfs, vodka wil hê. Ons wil net daar sit en die atmosfeer indrink. Maar njet, en die vrou begin vir my aggressief lyk.
Druipstert is ons daar uit. Net buite die winkel kom ’n ou man in ’n lang jas en wolmus, met ’n kierie aangestap. Hý behoort darem te weet waar die dorpskroeg is. Ons stap nader en groet, en ek tik weer op my foon. Bingo. Hy weet presies waarna ons soek en wys ons moet hom volg, wat ons doen. Terug by dieselfde winkel in. Ewig hoopvol reken ek dat ons kanse op ’n glasie vodka aansienlik verbeter het omdat ons nou in die geselskap van ’n local is, maar moenie glo nie. Die vrou se gesig vertrek sommer toe sy ons sien en sy jaag ons almal, die senior burger inkluis, by haar winkel uit.
Mike maak ons laaste aand in die Arktika onvergeetlik. Hy braai buite, in die sneeu, vir ons hoender. Ons smul ook aan krappote uit die Barentsee en kuier tot laatnag oor ’n bottel vodka. Ons is later baie vrolik en smee vriendskapsbande met die Russe. Ek wonder soms wat Mike van ons gedink het: ’n groep middeljarige vroue wat hom kom oorval het, saam vodka drink en grappe maak, en nie so fiks en mobiel is soos sy deursneeklant nie.
Soos die lewe, bestaan reiservarings uit oomblikke wat helder uitstaan. Ek dink terug aan ’n koue nag onder die noorderligte met gedempte Russiese manstemme iewers agter my. Later sit ek op die sneeumobiel en kyk hoe twee mans met kopligte aan oor donker sneeuvelde loop en soek na my verlore handskoen. En ek onthou hoe ek gevoel het terwyl ek hierdie mooi gebaar gadeslaan.
Buro: MvH