Bewerings van korrupsie laat Ace yskoud

  • 0

Die beleërde sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, wat van grootskaalse korrupsie en staatskaping verdink word, laat hom nie van stryk bring deur die swaard wat oor sy kop hang nie.

Magashule wat deur sommige kommentators beskryf word as die mees korrupte politikus in die land het Maandag ’n groot groep protesgangers van die studente-organisasie Cosas in Gauteng by Luthuli-huis toegespreek en onderneem dat die ANC hulle griewe ernstig sal opneem.

Hy ontken steeds al die bewerings teen hom en dreig diegene wat sulke bewering maak met hof-aksies. Eerste in sy visier is Pieter-Louis Myburgh, skrywer van die boek, Gangster state – Unravelling Ace Magashule’s web of capture, waarin onthullings gemaak word wat met meer getuienis as voorheen bevestig word.

Bewerings dat hy en president Cyril Ramaphosa in ’n hewige stryd gewikkel is nadat dit aan die lig gekom het daar is na bewering gepeuter met die ANC se kandidatelys vir 8 Mei se verkiesing, het die afgelope naweek in City Press verskyn.

Die ANC se kandidatelys wemel van Zuma-ondersteuners en mense soos Magashule wat van staatskaping en korrupsie verdink word.

Die ANC se kandidatelys is volgens verskeie politieke waarnemers ’n klinkklare teken dat president Ramaphosa se poging om van korrupsie in die party ontslae te raak veel moeiliker gaan wees as wat voorheen gedink is.

Dit is duidelik dat die president se opponente in die ANC nog lank nie die stryd gewonne gegee het na Ramaphosa se verkiesing as president nie. Daar word steeds hard agter die skerms gewerk om van hom ontslae te raak.

Ramaphosa se grootste ondersteuners soos die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, en die minister van Toerisme, Derek Hanekom, se name verskyn relatief laag op die lys ondanks hulle invloedryke posisies in die kabinet.

Die redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez, het in die eerste elektroniese uitgawe van die nuwe Vrye Weekblad geskryf  Magashule is die adder in Cyril se boesem. “Dié ou jakkals het die Cyriliete om elke hoek en draai ore aangesit. Hy is die koördineerder van die aanslag om Ramaphosa te saboteer, die generaal van die terugvegstrategie van die ANC-elemente wat hulle ná Ramaphosa se verkiesing buite die binnekring bevind het. Hy het openlik op ’n ANC-vergadering vroeg verlede jaar verklaar dat sy kant die ANC binne vyf jaar sou ‘terugvat’,” het Du Preez geskryf.

Du Preez beskryf die ANC se kandidatelys as “’n Ace-lys”. Hy voorspel dat dit Ramaphosa waarskynlik met ’n dislojale meerderheid in die parlementêre koukus gaan opsaal, terwyl verskeie provinsiale lyste ook deur kandidate van die terugvegters gedomineer word.

Dit wil voorkom of die enigste persoon wat Magashule in die stadium kan stuit die nuwe hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Shamila Batohi is.

Daar word berig dat sy die gebeure voor die Zondo-kommissie met valkoë dophou. Indien die NVG se ondersoekers hulle werk behoorlik doen na aanleiding van die verdoemende getuienis wat tans voor die Zondo-kommissie gelewer word, kan mense soos Magashule dalk voor die einde van die jaar in die hof wees waar hy sal moet verduidelik wat het van die miljoene rand geword terwyl hy premier van die Vrystaat was. Met Magashule uit die weg sal dit Ramaphosa se taak om stewiger beheer oor die ANC uit te oefen aansienlik vergemaklik.

Die ANC se verkiesingshoof, Fikile Mbalula, het intussen aangedui dat die party se omstrede nasionale en provinsiale kandidaatlyste steeds kan verander. Mbalula het die media toegespreek tydens die ANC se viering van net 30 dae voor die verkiesing op 8 Mei. Besware is teen sowat 30 ANC-lede wie se name op die lys verskyn, ingedien. Mbalula sê die feit dat die lys aan die integriteitskomitee gestuur is, is nie daarop gemik om partylede te viktimiseer nie.

Lees ook

Oor Myburgh, Magashule en die waarde van politieke boeke

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top