Boeken uit het Huis: Joubert en McLeod gesels oor geskiedenis en verhale

  • 0

Twee gewilde skrywers van historiese romans, die Suid-Afrikaanse skrywer Irma Joubert en die Surinaamse skrywer Cynthia McLeod, het onlangs oor hul boeke gesels met die joernalis en vertaler Ingrid Glorie, wat nou betrokke is by die groter bekendstelling van Afrikaanse boeke en skrywers in die Lae Lande. Joubert se Nederlandse vertaler, Dorienke de Vries, het op haar beurt van hul samewerking vertel.

Irma Joubert (Foto: Liné Loff)

Die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam het die gesprek aangebied as deel van sy skrywersreeks Boeken uit het Huis. Die uitsending daarvan kan op die Zuid-Afrikahuis se YouTube-kanaal gekyk word, asook die ander gesprekke in die reeks.

Joubert is in Suid-Afrika en Nederland bekend om haar gewilde historiese romans en het onder andere oor haar mees onlangse roman, Een thuis in Afrika (in Afrikaans heet dit Na ’n plaas in Afrika) gesels. Hierdie boek het gevolg ná Hildegard (Immer Wes) en Het meisje uit het verscholen dorp (Mentje – Kind van die Pas-Opkamp).

McLeod is bekend om onder meer die historiese roman Hoe duur was de suiker? wat verfilm is. Vir haar lê die vertel van verhale oor en uit die geskiedenis haar na aan die hart.

Toegang tot die geskiedenis

’n Stelling van die Amerikaanse historikus Barbara W Tuchman in haar boek A distant mirror resoneer met McLeod oor haar ervaring van die geskiedenis in Suriname.

Tuchman het geskryf dat ’n volk wat geen toegang tot die bron van sy geskiedenis het nie, ’n selfbeeld kry wat op mite en stereotipe gegrond is.

Destyds was die hele koloniale argief net in Den Haag in die Nationaal Archief, en met die inligting wat beskikbaar was in Suriname kon sy net tot sowat 1900 in die geskiedenis teruggaan. Tuchman se woorde kon McLeod by nabetragting elke dag aan ’n Surinaamse lyceum ervaar waar sy onderwyser was en waar mense min oor hul geskiedenis wis of daarin belang gestel het.

Hoewel die meerderheid Surinamers ’n slawerny-agtergrond van mishandeling en uitbuiting het, is die mening gehuldig dat dit gewoon goed was dat die tydperk al lank reeds verby was, het sy verduidelik.

Toe sy self ’n leerling in Suriname was, was die onderwys alleen dié van Nederland. In lesse oor die Surinaamse geskiedenis het die onderwerp van slawerny so te sê nie aan bod gekom nie en die vernaamste Surinaamse geskiedenis het in daardie tyd gehandel oor goewerneurs en die onenighede tussen die koloniste en die jag van soldate op marrons, slawe wat tóé as alleen maar as boosdoeners en slegte mense gekenskets is. Nederland se geskiedenis was hoofsaak.

In haar omgewing, hetsy tuis of op skool, is nooit oor die slawerny van vroeër gepraat nie en vrae daaroor is nie aangemoedig is nie. Sy het wel daarin bly belangstel en het haar telkens die lewe van ’n tot slaaf gemaakte mens probeer voorstel, het sy gesê.

In 2000 was navorsing in Suriname prakties onmoontlik, omdat dit ingevolge koloniale wette verbode was dat argiefstukke ná 100 jaar nog in Suriname kon bly, het sy gesê.

Sy het haar in die onderwys as ’n Nederlandse leerkrag bekwaam. In Nederlandse literatuurgeskiedenis is wel oor slawerny, verhoudinge en relasies gepraat en sy het aan haar leerlinge vertel dat hulle relasies tog meer moes wees as al die uitbuiting en mishandeling. Sy het dan dikwels die vraag gestel: Hoe dink hulle het húlle dan ontstaan? Deur haar vraag kom die geskiedenis vir hulle toe oor as iets heel digby. En sodoende het hulle dan wel begin belangstel en vrae gestel. Haar Surinaamse leerlinge se nuuskierigheid het trouens daartoe aanleiding gegee dat sy begin skryf het.

Weergawes van die verlede

Wat was waar van al die verhale en mites wat vertel is?

Om hierdie vraag te probeer beantwoord, moes McLeod die bronne in die Nationaal Archief in Den Haag kon raadpleeg. Die aanlynomgewings van vandag het toe nog nie bestaan nie, en sy was boonop in Suriname.

In 1975 het die land sy onafhanklikheid van Nederland gekry. McLeod se eggenoot is as ambassadeur na die Europese Unie afgevaardig en dit het haar die geleentheid gebied om uit Brussel te kon reis na Den Haag om bronne te raadpleeg.

Historiese feite verweef met ’n romantiese en/of spannende verhaal is uiteraard ’n mooi manier om mense by hul geskiedenis uit te bring, het sy gesê. In haar beskouing van historiese fiksie is daar nie reëls of voorskrifte nie; die outeur bepaal self hoe groot of klein die gehalte van historiese feite in die werk is. By een gaan dit meer om die sfeer en die tydgees, terwyl vir ’n ander die feite en die historiese figure presies weer te gee is. Die outeur moet nie alleen die geskiedenis goed ken nie, maar ook die omstandighede, die gewoontes en veral ook die denkpatrone van die tyd.

Hoe weet ’n mens wat die norme en waardes van die tyd was?

In die Nationaal Archief het McLeod talle amptelike dokumente deurgewerk, dus geen persoonlike briewe of ontboeseminge nie. Tog het dit haar geluk om insig te kry in die algemeen aanvaarde opinies van destyds.

Eenvoudig was dit nie, want ook met argiefstukke moes sy ag slaan op wie dit geskryf het. En sou die hedendaagse leser dan steeds dieselfde menings huldig of sou so iemand tot ’n teenoorgestelde gevolgtrekking kon kom?

Slawerny in beeld

In die middel van die 18de eeu in Suriname was slawerny ’n gegewe, mense het geleef in en met daardie sisteem, het sy gesê. Niemand van daardie tyd kon hul Suriname voorstel sónder ’n slaaf nie. As voorbeeld het sy genoem dat die wêreld van ’n swart kind wat gebore is op ’n plantasie in Suriname in 1750 oor die algemeen nie groter kon wees as die plantasie met al sy reëls en werksaamhede nie. Die lewensverwagting van daardie kind was om op daardie plantasie te werk en die kind sou gehoop het om dit met alle gemak en veral sonder veel straf te kon doen.

Vandag lyk dit of iedereen in Nederland polities korrek wil wees, en die populêre slagspreuke ondersteun dit. Vryheid is die hoogste goed, is die mening van iedereen. Daarom is vele jongmense met ’n Surinaamse agtergrond veral woedend oor alles wat met slawerny te make het, het sy gesê. Hierdie hedendaagse beskouings oor die destydse lewe in Suriname sou vir die algemene beskouing en maatskappy in daardie tydperk as ’n radikale standpunt oorgekom het, het sy verduidelik.

Oorlogstrilogie

Die beeldsending van Boeken uit het Huis was op 25 November, dieselfde datum waarop Suriname in 1975 onafhanklik geword het. McLeod se pa, Johan Ferrier, het die eerste president van dié onafhanklike land geword, het Glorie gesê.

Sy het sowel McLeod as Joubert lof toegeswaai vir hul historiese verhale en genoem sy vind by heelwat van wat McLeod gesê het aansluiting vir die gesprek met Joubert.

Joubert is tevore genooi na onder meer ’n gesprek in die Zuid-Afrikahuis by die verskyning van die Nederlandse vertaling Het meisje uit het verscholen dorp, die boek oor Mentje, ’n Nederlandse meisie wat tydens die Tweede Wêreldoorlog eers vir maande onderduik gesit het in ’n dorp wat in die bosse op die Veluwe gebou is. Daarna het sy die Slag van Arnhem meegemaak. Die dorp bestaan nog altyd in die bos by Nunspeet en ’n mens kan dit besoek.

Glorie het ’n oorsig gegee van die trilogie waarvan Een thuis in Afrika deel is.

Het meisje uit het verscholen dorp is die tweede deel van die trilogie wat begin het met Hildegard. Dit is die verhaal van ’n Duitse vrou wat as jong meisie weens die Bolsjewiste uit Rusland moes vlug. Die Tweede Wêreldoorlog het sy in Berlyn meegemaak en kom dan uiteindelik tot rus in Duits-Suidwes-Afrika (Namibië). Een thuis in Afrika is dan die laaste boek van die trilogie oor drie karakters.

Die jong seun Charles word tydens bombardemente op Londen na ’n tante in Skotland gestuur. Later reis hy na die destydse protektoraat van Betsjoeanaland, die huidige Botswana.

Oswald, Hilgard se stiefseun, veg as Duitse soldaat op die Oosgrens en beland as krygsgevangene in die Siberiese kamplewe. Lank nadat die oorlog in die Weste afgesluit is, kry hy die kans om na Berlyn terug te keer. Hy keer toe in 1950 terug uit Rusland.

Ilse Hess, vrou van Rudolf Hess, word betrek in die verhaal oor die tweede in bevel ná Hitler wat met ’n vliegtuig in die geheim na Skotland gevlieg het in ’n poging om met die Verenigde Koninkryk vrede te sluit.

’n Belangrike toneel in elkeen van die drie boeke is wanneer ’n dogtertjie van Hildegard, Ester, op ’n skip op pad na Kaapstad aan tafel beland by Mentje en Charles, almal op weg na ’n nuwe plek, Afrika. Hulle spreek af dat hulle mekaar oor tien jaar weer sal sien. Hierdie reünie vind dan plaas in Een thuis in Afrika.

Geskiedenis en onderwys

As onderwyser het McLeod se leerlinge haar geïnspireer om historiese romans te skryf. Ook Joubert was ’n onderwyseres. Sy het Afrikaans en geskiedenis gegee. Het haar leerlinge haar op soortgelyke manier geïnspireer? het Glorie gevra.

"Weet jy, Ingrid, om doodeerlik te wees, ek was nooit gemotiveer om historiese romans te skryf nie. Ek het eintlik nie geweet ek gáán skryf nie. Maar toe ek met pensioen gaan, toe vra al my vriendinne nou wat gaan jy nou doen? Want ek is ’n baie besige mens. En ek sê, man, ek sal skryf. En toe ek nou met pensioen is, toe moet ek begin skryf.

“Nou, die maklikste vir my as gevolg van my passie vir geskiedenis is juis om historiese romans te skryf. Die verhale is klaar daar, jy vertel net 'his story', 'history'. En dit is waar ek begin het.”

Wat sy wel van haar leerlinge geleer het, is om die geskiedenis só aan te bied dat hulle dit kan sien, hoor en verstaan, en dit dus beter sou kon onthou. Deur die geskiedenis eintlik te dramatiseer, het die geskiedenis vir hulle lewend geword.

“As jy net bly by al die datums en die veldslae, dan word dit dooie geskiedenis. Dis wat ek miskien in die onderwys geleer het van geskiedenis aanbied en dis wat ek in my boeke doen.”

In haar verhale kom heel gewone mense voor en baie keer vertel die skrywer vanuit die perspektief van ’n kind. Watter effek wil sy daarmee bereik? wou Glorie weet.

"Ek probeer juis om die geskiedenis oop te maak, toeganklik te maak. Die geskiedenis was nie datums en soldate nie, dit was enkelmense op die veldslag, op die parade, of andersins vroue en kinders en bejaardes wat moes tuisbly en die effek wat dit op hulle gehad het. Dís waarom ek skryf vanuit die perspektief van byvoorbeeld ’n kind. ’n Kind het ’n wonderlike perspektief. So byvoorbeeld hoor Charles en sy maatjies Hitler gaan hulle miskien aanval. En toe bou hulle hul eie bom. Dis mos wat ’n kind sal doen, nè? So, van ’n gebeurtenis wat baie ernstig is, sal ’n kind ’n ander perspektief hê. En ’n kind hanteer ook trauma amper beter as ’n volwassene. Hulle kan nog ontsnap in hulle koppies. Die volwassene is te gebind. Maar dan wil ek ook skryf uit die oogpunt van vroue, want ek weet hoe dink ons, watter emosies ervaar ons. So ek wil my inleef in die geskiedenis. Dis waarom ek gewone mense gebruik.”

Romantiek en liefde

Glorie is aan ’n optrede van McLeod op Winternachten herinner waar sy gesê het dat sy baie gehou het van die romantiese aspek van Gone with the wind. En daarin sien Glorie ook ’n ooreenkoms met die werk van Joubert, wie se werk volgens haar ook nooit sonder ’n vleugie romantiek is nie.

Dit is wel nie deurentyd die geval nie, het Joubert gesê, en dat daar in die verhaal van Mentje geen romantiek is nie, maar wel liefde is.

“En dit is vir my die belangrikste, dat daar liefde is tussen broers en susters, of tussen die mense in die kamp wat mekaar lief gehad het, bygestaan het, of daar is mettertyd ’n kameraadskap wat ontwikkel het.”

As daar ’n vleugie romantiek inkom, is dit maar eintlik ’n suikerlagie, het Joubert gesê. “Jy weet die Engelse sê mos “just a spoonful of sugar helps the medicine go down”. Dis daardie suikerlagie wat die gruwel van die oorlog beter oordra of meer verteerbaar maak. Dit vorm natuurlik ook kontras, nè. Die geweldige kontras tussen die gruwel van die oorlog en die romantiese suikerlagie daaromheen.”

Glorie het aangesluit by iets wat McLeod gesê het, dat ’n mens nie net jou geskiedenisfeite moet ken nie maar werklik voeling moet hê vir die tyd sodat jy as leser kan saamloop in die strate van ’n verhaal en alles daar moet kan sien, ruik en hoor. Joubert is dit met McLeod eens.

Joubert het vertel sy het die verhaal van Charles gaan haal uit haar kinderjare waar haar pa ’n voorman gehad het op die boerdery wat as kind uit Londen na die Skotse platteland ontruim is. Hy het daar by sy bejaarde tante gaan woon en ná die oorlog het hy na Suid-Afrika gekom.

“Dit is die verhaal wat ek wou vertel. Maar om dit te kan doen, moet ’n mens natuurlik die feite kry. So ek het navorsing gaan doen. Dit is eintlik maklik deesdae om die feite te kry. Daar is 1,5 miljoen kinders ontruim uit Londen, hoofsaaklik, ook uit Liverpool en die ander groot stede na oral in die wêreld. Ook na die dominiums, na die Britse platteland, maar ook na Skotland. Daardie feite kon ek maklik kry, maar ek soek méér as net die feite.”

Navorsing in Skotland

Joubert het verskeie bronne geraadpleeg om die verhaal van die nodige emosie te voorsien en het onder meer saam met haar oudste seun, die politieke joernalis Jan-Jan Joubert, besoek gebring aan Eaglesham, ’n dorpie op die Skotse platteland.

“Wat ek nie besef het nie, is die mense in Skotland praat nie Engels nie, hulle praat Skots. Nou as ’n mens ’n gehoorprobleem het, en iemand praat ’n bietjie ’n vreemde taal, sukkel ’n mens geweldig. Met my gehoorprobleem moet ek na mense se monde kyk om te sien wat sê hulle. En dan moet ek skryf. Maar nou hou die mense aan met praat en ek kan nie onthou wat hulle alles sê nie, so ek moet skryf. So ek moet áfkyk en skryf en dan hoor ek niks. Jan-Jan is ’n joernalis, en hy het daar gesit en so vinnig as wat hy kan, geskryf. Hy het later die vrae gevra, want hy verstaan wat hulle sê, wat ek nie gedoen het nie. En daarom vra hy toe die vrae. En hy skryf die antwoorde en hy dink die volgende vraag uit – hy het geweet wat ek wou weet.”

Hulle is vergesel deur ’n gids na onder meer waar Rudolf Hess sy noodlanding uitgevoer het. Vir haar is Hess ’n vreemde figuur, iemand wat, hoewel hy Hitler se tweede in bevel was, ’n solovlug al die pad van Duitsland tot by Skotland onderneem het, waar hy toe ’n noodlanding moes uitvoer.

“Hoekom sou hy wou gaan vrede maak in 1941 in Engeland? En hoekom het hy nie hulp gehad nie? En dis hoekom ek besluit het om sy verhaal te skryf. Maar vir sy verhaal kon ek nie in sy kop inkom nie. Hy's ’n geweldig geslote persoon; daar's baie feite oor hom beskikbaar, maar niks insig nie. Niks oor wie die mens self was nie. Ek het dit nogtans so geskryf.”

Russiese verhale

Haar uitgewer, Madri van der Walt, het toe vir haar gesê daar is geen hart in hierdie storie nie en stel toe voor sy gebruik sy vrou, Ilse Hess. Daar's bitter min bekend oor haar, maar dit wat wel bekend was, kon sy navors. En sy het op Netflix afgekom op ’n dokumentêre reeks, Hitler's inner circle, waarin elke program oor die een of die ander Nazi-leier gegaan het. Sy het veral belanggestel in hul vrouens, en dit blyk dat Ilse Hess ’n tipe outsider in daardie kring was.

“So sy het op die ou end ’n baie sterk karakter uitgekom wat my baie geïnteresseer het; dís hoe ek op Ilse Hess gekom het.”

Glorie het gevra na die verhaal oor die karakter Oswald, die soldaat aan die Oosgrens wat vir jare in Siberië moes oorleef.

Reeds as kind het Joubert oor die Siberiese kampe in Rusland gelees en het verwys na ’n gewilde boek van vroeër, Die snydokter van Stalingrad.

Dit is geskryf deur ’n Duitse oorlogsjoernalis wat self aan die Oosfront was en wat deur die Russe ernstig gewond is en die swaarkry, die gruweldade van die oorlog geken en aan eie lyf gevoel het. Hy is Heinz Günther, wat beter bekend is as Heinz G Konsalik.

“Ek het ’n Duitssprekende ouma uit Duitsland gehad wat gesê het dit (waaroor Konsalik geskryf het) is waar, dis wat die Russe gedoen het. Ek het later gesien maar eintlik het almal hierdie gruweldade gedoen, elke volk, nè. Maar dit het my belangstelling begin prikkel.”

Haar seun het vir haar ’n boek in die hande gekry met die titel After Stalingrad – seven years as a prisoner of war. Sy het gesê dat dit die memoires is van ’n Duitse soldaat wat by Stalingrad was, gevange geneem is, wat op die dodemars deur die koue sneeuvelde van Siberië was en wat die kampe oorleef het. Sy wou weet wat hulle elke dag geëet het, hoe hulle woonplek gelyk het en waar hulle geslaap het. “Al daardie tipe goed sê die feite nie vir jou nie. Dit is belewenisse soos hierdie (After Stalingrad) of soos in Konsalik se boeke wat tot die hart spreek.

“Onder sy eerste boeke is Die snydokter van Stalingrad en Skerwe van die ysterkruis, wonderlike boeke vir daardie tyd. Maar eintlik as jy hulle vandag lees, dan sien jy dit is baie oordrewe, maar bevat goeie inligting.”

Europa en Afrika 

Glorie het genoem dat net soos in Joubert se eerste groot suksesroman, Het meisje uit de trein, begin die drie dele van die oorlogstrilogie in Europa en eindig in Afrika.

Waar kom haar belangstelling vir die Europese geskiedenis vandaan?

Toe sy op hoërskool was, het ’n geskiedenisonderwyser se behandeling van die kurrikulum aan die hand van wêreldkaarte haar geleer om meer globaal na die geskiedenis te kyk, het sy gesê. “Dis is vir my interessant om te kyk na hoe mense in dieselfde tyd, maar op verskillende plekke, gereageer het op gebeure. Hoe het hulle gedink?”

Twee groot globale gebeure waarmee sy in haar boeke werk, is die twee wêreldoorloë.

“Ná die Tweede Wêreldoorlog het geweldig baie Europeërs na Suid-Afrika geëmigreer juis omdat hier nie oorlog was nie. Ons het wel ’n bietjie gely onder die Tweede Wêreldoorlog, maar die groot oorloë, die vernietiging, was nie hier nie. Hier was ’n beter toekoms.”

Wat is vir haar die voor- en nadele daaraan verbonde om ’n trilogie te skryf? het Glorie gevra.

’n Voordeel ag sy dat jy jou karakters en die omstandighede leer ken, en ook die leser leer haar karakters ken en wil weet wat volgende gaan gebeur. ’n Trilogie se tweede boek, en veral die derde boek, verkoop homself. Dit het amper nie publisiteit nodig nie, het Joubert gesê.

“Dis moeilik as ’n mens skryf oor karakters en jou boek is klaar, om afskeid te neem van hulle. Mens word tog immers lief vir die karakters. Mens leer die karakters ken.” ’n Uitdaging aan só ’n trilogie is die “geweldig goeie beplanning, want as jy begin met een boek dan moet jy weet waarnatoe gaan die boek”.

Rondom vertaling

As vertaler is De Vries goed vertroud met Joubert se taal en styl en vertaal haar werk in Nederlands sedert haar eerste historiese roman in Nederlandse vertaling, Het meisje uit die trein, verskyn het. Sy beskou dit as ’n groot voordeel vir die samewerking tussen vertaler en outeur as hulle vas saamwerk en het gesê dit bring daarmee saam ’n standhoudendheid in die stem van die vertaler én die skrywer in die vertaling.

Haar eerste vertaling van Joubert se werk het geluk omdat sy Joubert se Afrikaans as toeganklik ervaar het en daarmee saam omdat Joubert ’n gebore verteller van verhale is wat van ’n lekkerlees-ervaring hou. Die feit dat sy in Joubert se verhale nie voor ingewikkelde gelaagdhede gestel is wat woordgebruik en tematiek betref nie, het haar die moontlikheid gebied om die verhaal in lekker lopende Nederlands om te sit. Terselfdertyd het sy haar daarop gerig om getrou aan die teks te bly, en veral aan Joubert se stem.

Toe Joubert na Nederland gekom het vir die promosie van haar boeke, het die ontvangs van haar werk, die gesprekke en gehore by boekgeleenthede bygedra tot die groeiende vertroue wat Joubert gekry het in De Vries se vertaling en in die uitgewer, Mozaïek.

De Vries het vertel dat hul samewerking veral intensief was met die vertaling van Tolbos en Het meisje uit de verscholen dorp. By die vertaling van Tolbos was dit ’n uitdaging om dit vir die Nederlandse leser só oor te bring dat dit begryplik en spannend bly sonder dat die verhaal deur uitleg onderbreek word. Vir die Nederlandse mark is daarom ’n inleiding daaraan toegevoeg wat die historiese en politieke agtergrond verhelder. By Het meisje van de verscholen dorp was dit eintlik andersom, het sy gesê. Joubert het daarin oor ’n grotendeels Nederlandse konteks geskryf. En die totstandkoming van hierdie boek en die vertaling daarvan was ’n projek op sigself gewees, het De Vries gesê en ag dit ’n unieke verhaal oor samewerking tussen outeur en vertaler. Sy het dit altyd baie waardeer dat Joubert oopstaan vir haar aanbevelings.

Wat sy aan Joubert se verhale en taal veral sterk vind, is hoe sy daarin slaag om die juiste register te hê as die hoofkarakter ’n kind is. Daardeur groei die leser saam met die karakter en identifiseer dan des te sterker met die verhaal. Vir haar versterk dit wat Joubert met haar boeke beoog, naamlik ’n meelewende leeservaring oor gewone mense wat teen wil en dank deur die geskiedenis meegevoer word.

Kulturele erfgoed van Suriname vandag

In die gebruiklike vraetyd aan die einde van die gesprek het McLeod laat blyk dat in die jare sedert sy begin navorsing doen het oor Suriname, die situasie met betrekking tot toegang tot bronne ingrypend verander het. Die hele Surinaamse koloniale argief is gedigitaliseer en teruggegee aan Suriname, waar ook ’n argief gebou is wat iedere Surinamer vandag kan besoek.

Glorie het gevra na die huidige stand van kulturele erfgoed in Suriname.

Dit ís daar, maar die geboude erfgoed word deur die owerheid tot nou toe swak onderhou, het McLeod gesê. Daar is wel sekere instansies wat baie doen om die geboude erfgoed in stand te hou, en ’n deel van die ou binnestad van Paramaribo is byvoorbeeld op die Wêrelderfgoedlys van Unesco. Die Surinaamse owerheid het egter weinig geld en sal dus weinig doen wat betref die bewaring van Surinaamse geboue, maar gelukkig is daar sekere organisasies wat hul bes daarvoor doen, het sy gesê.

Een só ’n voorbeeld, en waarby sy betrokke is, is die huis van Elisabeth Samson, ’n uitsonderlike figuur uit die geskiedenis van Suriname in die 1700’s oor wie sy uitgebreid geskryf het en lank nagevors het vir haar historiese roman De vrije negerin Elisabeth, gevangene van kleur. Sy het vertel dat dié huis een van die oudstes in Suriname is. Tot 2012 was dit ’n owerheidsgebou, maar weens onvoldoende onderhoud is die ministerie wat daar gesetel was, na elders geskuif. Die gebou het ’n tyd lank leeg gestaan. McLeod het met die hulp van ’n stigting daarin geslaag om die gebou te koop. Danksy ’n skenking van die Nederlandse Postcode Loterij word dit nou gerestoureer. Volgens McLeod sal dit ná anderhalfjaar daar uitsien soos dit was in die tyd toe Samson geleef het.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top