Boeke-vat in Utrecht

  • 0

Tydens ’n kuier by vriende in Nieuwegein in Nederland onlangs is ons die Saterdagoggend vroeg met ’n piekniekmandjie na Utrecht om die stad met ons eie skipper van die gragte te gaan besigtig. Ná sowat twee uur is die mans terug huis toe. Ek en Sanet wou nog ’n bietjie rondhang. Sy wou my die biblioteek en ’n paar boekwinkels wys.

Wanneer ek saam met my gesin reis, koek hulle dikwels om my en haak dan skielik by my in om my slinks by boekwinkels verby te stuur. Hulle weet my voete kan nie vanself verbystap nie. Hulle weet tyd staan vir my stil in boekwinkels. En hulle weet hulle moet dikwels help dra  wanneer ek voor te veel versoekings swig.

Dié Saterdag was anders. Sanet is een van my boekevriendinne. Ons het jare gelede saam by Pretoria se stadsbiblioteekdiens gewerk. Hulle woon al 18 jaar in Nederland, maar kom kuier gereeld in Suid-Afrika, en ek kry altyd ’n kinderboek- of kinderboekverwante cadeau. Só het sy byvoorbeeld al my Piet Grobler-versameling mooi help uitbrei. ’n Hoogtepunt vir my is wanneer sy dan my geskenk vir my voorlees. Dikwels gaan haal ek dan ook ’n paar ouer titels van die rak en lees ons dit vir mekaar, voor ons na voëls of ander diere met wieletjievoete sit en soek. Danksy haar is Piet se Schoenbek en Vuurtorenbeer en die Nederlandse weergawe van Franciscus en die diere op my rak. Ek het Lampje ook in Nederlands besit nog voor dit in Afrikaans vertaal is. Ander gunstelingprenteboekcadeaus is Vos en Vis van Daan Remmerts-deVries en De Boebalas van Nancy Bosmans. Met ons aankoms in Nieuwegein was my cadeau Het grote Fiep kijkboek.   

Maar terug strate toe. Soos ons pad-af stap en ek my bes probeer om nie die fietsryers te veel te irriteer nie, hoor ek dat Dick Bruna ’n Utrechter was en dat die Nijntje Museum ook ’n besoek werd is. Nijntje is Bruna se wit konyn (konijntje), beter by ons bekend as Miffy, of destyds toe die Bruna-boeke nog meer geredelik in Afrikaans beskikbaar was, Kleintjie. Dan is ons by Broese, ons eerste stop – ’n tweeverdiepingboekwinkel met ’n restaurantjie op die tweede vloer. Die mat voor die deur sê “Welkom bij Broese”, en onderaan “stapels leesplezier”. Ons hang nie voor by die volwasseneboeke en dergelike rond nie. Stap reguit agter na die groot kinder- en jeugafdeling toe.

Ek vat aan Ruspje Nooitgenoeg van Eric Carle, Het leven van een loser van Jeff Kinney, Het complete onmisbare survival-gids van Lottie van Katie Kirby, en onthou dat Zelda Bezuidenhout se Afrikaanse vertalings van die eerste twee Lottie Brooks-boeke ook pas gepubliseer is. Asof hulle vriende is wat gegroet moet word, raak ek kort-kort aan ’n boek. Sanet vertel dat die Nederlanders “alles” vertaal en ek sien dadelik rye en rye van Andy Griffiths en Terry Denton se boomhuisboeke ook raak. Die Australiërs se Treehouse-boeke is by ons die Boomhuis-boeke. Die Nederlanders het besluit dis De waanzinnige boomhut-boeke. Almal wat dié lekker boeke ken, sal saamstem dat hulle vertaling in die kol is.

My hand reik uit na Die Goorgomgaai, wat in Nederlands De Gruffalo gebly het. Dankie, Philip de Vos, “Goorgomgaai” is ’n lekkerder woord. Ek blaai deur Kom mee Kees deur Loes Riphagen en giggel vir die padda met ’n bobbejaannaam. Ek onthou dat die kinders vir wie ek Vrydagmiddae voorlees, ook altyd so lekker giggel vir Max Velthuijs se paddaboeke. Veral Padda is verlief of Kikker is verliefd. “’n Padda en ’n eend, huh-uh,” sal hulle sê en giggel. Ek sien Annie MG Schmidt se Ik ben lekker stout, en Janneke Schotveld en Annet Schaap se Superjuffie. Amper swig ek, maar nee, ek is hier om Piet Grobler se Een stoet Afrika op bezoek en Dan Auta te soek.

Die vriendelike vrou wat pas baie geduldig ’n seuntjie gehelp het om ’n boek te vind, draai na ons. Is ons van Suid-Afrika? Sy hoor ons praat Suid-Afrikaans. Sanet verduidelik in Nederlands en ek vra haar oor my Piet-boeke. Hulle het nie Dan Auta nie, maar sy vind die stewige blou boek vir my. Hieperdepiep hoera! Dan vra sy of ek Jaco Jacobs se boeke ken en toe ek entoesiasties antwoord, trek sy weg en is dit dadelik duidelik dat sy een van Jaco se grootste aanhangers is. Sy’s gek oor sy boeke. Ek neem foto’s van die twee boeke tans in voorraad daar: Over een zombiefilm en gelukkige getallen en Een meisje met vleugels, en neem my voor om Jaco te laat weet. Ons gesels nog. ’n Mens sou sweer ons is ou vriende. Ek koop my boek en ’n paar poskaarte deur bekende illustreerders en natuurlik ook ’n paar van Nijntje. Sanet koop skelm vir my twee boeke: Een lui Letterland van Anne Steenhoff en Waarom je kinderboeken moet lezen zelfs al ben je oud en wijs deur Katherine Rundell. Wys of nie, dit bly inspirerend om te lees hoe om kinders aan die lees te  kry.

Ons stap uit en om die hoek, verby Meneer Potter Stadscafé en Restaurant en by die Neude weer regs. Die baie kleurvolle, moderne kunswerk van woorde op die ou gebou vang jou oog dadelik. Ons lees “Bibliotheek”, “boeken boeken boeken”, “silence”, “omnibus”, “kunst & kultuur”, “Lectori salute” en meer. Wat sou “multatuli" beteken? Ons staan met ons rug na Neude – een van Utrecht se bekende pleine – voor die Utrecht Biblioteek, of die bieb. Die biblioteek en Broese sit dus rug teen rug in dieselfde gebou, eens die ou poskantoor.

Natuurlik gaan ons in, en ek kyk onmiddellik op. Ons is in ’n baie indrukwekkende saal met ’n baie hoë gewelfde plafon. Vanaf twee verdiepings, met wat soos galerye lyk, kan ’n mens na onder kyk. Ons stap deur die saal, op met ’n roltrap, en draai regs in by die kinderafdeling, waar ’n reuse Nijntje ons begroet. Op kussings sit ’n ma en lees vir haar dogtertjie. Ons blaai deur ’n baie mooi prenteboek, Ik geef je mijn hart deur Pimm van Hest. Ons stap deur en,  aangespoor deur Jaco Jacobs se aanhanger in Broese, gaan soek ons sy boeke. Ons vind die twee titels by Broese in voorraad plus Een mooie dag om in een boom te klimmen. Hulle word op die rak uitgestal en nog foto’s word geneem. Langs Jaco se rak is vier fietse wat jy al lesende kan sit en trap om jou foon se battery te laai! Praat van multitasking! In een hoek is ’n plakkaat wat waarsku dat hierdie ruimte vir kinders gereserveer is, en dat diegene wat wil werk of studeer, liefs ’n ander plekkie in die bieb moet gaan soek. Ons stap deur die ander afdelings, en gaan dan weer met ’n roltrap op. Bo wys Sanet my ’n lesingsaal, teater en Noda – die bieb se eie restaurant, wat ek uitwerk reg bo Broese se restaurant moet wees, omdat dit ook op die Oude Gracht uitkyk.

Maar, “Ons moet aanstap, want daar is nog wat ek jou wil wys,” sê Sanet. Ons stap weer langs die grag af, verby die Winkel van Sinkel, en net aan die ander kant van die Stadhuisbrug stop ons by De Utrechtse Kinderboekwinkel. Kan hierdie dag beter word? Nog ’n baie vriendelike vrou wil weet of sy ons kan help. Sy het ongelukkig ook nie Piet se Dan Auta nie, maar ons is welkom om rond te kyk. Wat ons natuurlik doen. Weer groet ek ’n paar bekendes en weer soek ons Jaco se boeke. Dié keer kan ons vier titels vir die foto uitpak. Hulle het Dingen die ik niet over schapen wist ook in voorraad. My oog val op ’n reeks wat ek nie ken nie: Carry Slee se Juf Braaksel-reeks. Ek kan my net voorstel wat Kobus Geldenhuys daarmee sou doen.

Die tyd stap aan, maar daar is blykbaar nog een winkel wat ek móét sien. Ons stap oor die Stadhuisbrug en koes-koes vir die fietse reguit af in die pad. Ná so tien minute is ons daar. Paper Moon, ’n Engelse kinderboekwinkel met nuwe sowel as tweedehandse boeke. Te veel vriende om te groet. Ek wil aan almal vat, raak skoon kortasem, maar party is toegeplak. Hulle is regte versamelaarsitems. Net links van die ingang val my oog dadelik op The three golden keys van Peter Sis, die boek wat ek jare tevore in Praag deur my vingers laat glip het. Dit was te veel krone. En weer is dit my nie beskore nie. €45 is meer as R900! Dis geen wonder dis so hoog op die rak uitgestal nie. Ek kon nie eers daaraan vat nie. Ek groet ander helde: Maurice Sendak, John Burningham, Tove Jansson, Brian Wildsmith, Ludwig Bemelmans, Shel Silverstein, Anthony Browne en baie ou uitgawes van Alice in Wonderland. Ek koop nog poskaarte en kaartjies en vertrek weer sonder The three golden keys.

Wat ’n dag! In die bus op pad huis toe beplan ek my boodskap aan Jaco, en dié aand stuur ek vir hom foto’s en vertel hom van ons uitstappie. Die volgende oggend vroeg is daar ’n boodskap van hom. Hy het nog nie eers sy eie kopie van Een meisje met vleugels nie en dis vir hom baie lekker nuus dat ek sy boeke raakgeloop het. Hy gaan daarmee sosiale media toe en ’n ruk later hoor ek van Piet Grobler. Hy vertel dat hulle einde Julie ook Utrecht toe gaan.

Ek moes die Maandag teruggaan Utrecht toe voor ons die volgende dag ons terugtog begin het. Ek moes vir Vossie ook die bieb en Broese gaan wys. Ek moes vir Jaco ’n kopie van Een meisje met vleugels gaan koop. Dis ’n ander dame wat my help, maar sy vra of dit ons is wat die Saterdag ook daar was. Haar kollega het haar vertel dat daar iemand van Suid-Afrika was wat Een stoet Afrika op bezoek gekoop het en vir Jaco Jacobs ken. Dis duidelik dat sy en haar kollega ook, soos ek, skrywers as superhelde sien. Ek noem aan haar dat Piet Utrecht aan die einde van die maand besoek, en sy vra dat ek hom laat weet om te kom boeke teken. Graag gedaan.

En dankie, Sanet. Vyf sterre vir Utrecht.

Naskrif
  • Ek het intussen ’n boodskap van Piet ontvang: “Mission accomplished.”
  • Jaco het nou ’n kopie van Een meisje met vleugels.
  • My dogter, Christine, het van Praag af hier aangekom met The three golden keys as vroeë verjaardaggeskenk aan my van Sanet. Sy het ’n plan met Christine “bekokstoofd”. Dis geen wonder ek is so oor “daai boek waarvan ek so gehou het” uitgevra tot ná ons al terug by die huis was nie.
  • En … Multatuli is die skuilnaam waaronder Eduard Douwes Dekker Max Havelaar geskryf het.
Lees ook:

Jan De Kinder se kinderboeke in Afrikaans: ’n resensie

Philip de Vos en Piet Grobler gesels oor Tokkelossiebossie en ander dol gedoentes

SA-illustreerders: Piet Grobler

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top