Bokke gaan landwyd met die beker spog

  • 0

Suid-Afrikaners kan die 2019-rugbywêreldbekerkampioene van Donderdag tot volgende week Maandag op verskillende plekke in die land te siene kry nadat hulle Engeland die afgelope naweek op ’n verrassende wyse kafgedraf het.

Die Bokke se eerste trofeetoer vind Donderdag in Pretoria, Johannesburg en Soweto plaas. Vrydag is hulle in Durban, Saterdag in Oos-Londen, Sondag in Port Elizabeth en Maandag sluit hulle die landwye toer in Kaapstad af.

Die toer sluit busparades deur die onderskeie stede se strate in en eindig by die Kaapstad-stadion waar die spelers met die Webb Ellis-trofee omhoog om die veld sal stap nadat hulle deur Kaapstad se strate beweeg het.

Die Springbokke het wêreldwyd lof ontvang vir hulle prestasie nadat hulle die Engelse geklop het, wat by verre die gunsteling was om die beker te wen.

Die enigste suur druiwe was van randgroepe soos ver-regses en die populistiese EFF. Die EFF se woordvoerder, Mbuyiseni Ndlozi, het op Twitter gal gebraak teenoor die wittes in die span.

Hy is egter gou op sy plek gesit deur twitter-gebruikers, selfs deur mense wat vir die EFF gestem het. Hy is onder andere uitgeskel as toksies en negatief.

Hy het egter Maandag sy tirade voortgesit en gesê hulle sal nie weer geflous word deur die slaappille van die rugby-euforie nie. Hy sê hulle sal beter doen as hulle ouers en stel nie belang in eenheid sonder gelykheid nie.

Die sanger Steve Hofmeyr het, nes die EFF, besluit om die rassekaart te speel en die geleentheid te gebruik om president Cyril Ramaphosa by te kom omdat hy soos die Bokkaptein, Siya Kolisi, ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen het om saam te werk in eenheid.

“Kom ek vertaal: Laat die Siya-inspuiting jou verlam sodat jy nie sal terugbaklei as ons jou grond onder jou gat kom uitgryp omdat jy blank is nie,” het Hofmeyer getwiet.

Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief ’n beroep gedoen om groter samewerking onder alle Suid-Afrikaners.

“Laat die welwillendheid wat die sukses in Jokohama vir ons gebring het, ons inspireer om skouer aan die wiel te sit en die uitdagings waardeur ons in die gesig gestaar word op ekonomiese, politieke en sosiale gebied aanpak,” het die president gevra.

Die Bokke se droomoorwinning in Japan is afgesluit met nog ’n paar veertjies in die hoed op die wêreldverhoog toe Rassie Erasmus aangewys is as afrigter van die jaar, die Springbokke as span van die jaar en Pieter-Steph du Toit as die speler van die jaar.

..............

Lees ook 

SA het Bokkoors

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top