Bosasa gee glo miljoene vir Zuma se stigting

  • 0

Angelo Agrizzi
Bron: YouTube

Die voormalige bedryfshoof van Bosasa, Angelo Agrizzi het sy verdoemende getuienis voor die Zondo-kommissie oor staatskaping Maandag voortgesit.

Hy het getuig dat daar maandeliks R300 000 aan die Jacob G Zuma-stigting betaal is en dat die kontantbedrag aan die destydse voorsitter, Dudu Myeni, oorhandig is. Agrizzi het getuig dat hy die kontantbedrag self verpak het. Agrizzi het vertel dat hy soms teenwoordig was wanneer die geld oorhandig is en sê hy het veral opgemerk dat dit altyd ’n kontantbetaling was. Dit is Agrizzi se derde week in die getuiebank.

Agrizzi het ook getuig dat Bosasa sowat R1 miljoen aan mediakonsultante betaal het om die skade aan Bosasa se beeld weens negatiewe publisiteit te hanteer. Hy het die name van Benedicta Dube en Stephen Laufer genoem. Die konsultante moes ook joernaliste, wat Bosasa en sy bestuur in ’n swak lig gestel het, in onguns bring. Hy het getuig dat dié joernaliste gedreig en geïntimideer is.

Die joernalis Adriaan Basson het op Twitter gesê Agrizzi se getuienis bevestig dit wat hy al jare lank vermoed het.

Volgens Agrizzi het Bosasa se baas, Gavin Watson, oud-president Jacob Zuma basies opdrag gegee om die destydse ondersoek na ongerymdhede by Bosasa te stop. Hy het vertel dat Watson na die Nkandla-skandaal persoonlik aan hom gesê het hy het R300 000 aan Zuma gegee. Watson se besoek aan Nkandla was glo kort nadat die onthulling gekom het dat dit R250 miljoen gekos het om die oud-president se private woning op te knap.

Een van die joernaliste, Pinky Khoabane, wat vir The New Age gewerk het en wie se naam ook deur Agrizzi genoem is, het Maandag met ’n stortvloed kommentaar op Twitter losgetrek om haarself te verontskuldig nadat haar naam by die Zondo-kommissie deur Agrizzi genoem is.

Sy het Agrizzi daarvan beskuldig dat hy ’n rassis is wat sy kollegas die K-woord genoem het. Sy beweer ook Agrizzi het gesê hy sou die negatiewe beeld van Bosasa kon regruk met die hulp van joernaliste soos Basson.

Basson ontken die bewerings wat Pinky Khoabane teenoor hom maak en sê op Twitter sy verkondig leuens oor hom op haar blog.

Die persoon wat volgens Agrizzi die ontmoeting tussen Watson en Zuma by Nkandla gereël het, was Dudu Myeni, die uitvoerende voorsitter van die Jacob Zuma-stigting. Sy is glo R300 000 per maand betaal wat vir die Jacob Zuma-stigting bedoel was.

Watson het volgens Agrizzi se getuienis voor die kommissie vir Myeni ’n duur handsak gekoop en dit in Agrizzi se teenwoordigheid vir haar gegee met R300 000 kontant daarin. Die R300 000-betalings is glo daarna elke maand aan haar betaal.

Agrizzi het getuig Bosasa het sowat R2,5 miljoen in een jaar spandeer aan al die spesiale geleenthede wat hulle vir Myeni gereël het.

Intussen het die media die naweek berig dat die eerste amptenare van die departement van korrektiewe dienste (DKD), wat by die Bosasa-korrupsie betrokke was, reeds teen die einde van volgende maand in hegtenis geneem kan word.

Rapport het berig die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is besig om ’n klagstaat voor te berei en werk tans deur ’n forensiese verslag oor die korrupsie.

Lees ook:

’n Video wys sakke en sakke vol omkoopgeld

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top