De inleidende tekst met de opzet van de gesprekkenreeks over de literaire erfenis van Breyten Breytenbach is opgenomen in de eerste aflevering (https://voertaal.nu/breyten-schrijven-8-breytenbachs-lyriek-door-de-blik-van-dichters-conversatie-met-joan-hambidge/). Telkens leg ik de gespreksgenoten vijf vragen voor over hoe zij zich in hun dichtwerk verhouden tot de lyriek van Breytenbach.
...
Ewe aangrypend is Breytenbach se hantering van die sterflikheidsgegewe, wat van die begin af ’n sentrale plek in sy oeuvre beklee, in wese naamlik as ’n soort Siamese tweeling van lewensdrif en kreatiwiteit.
...
YT: Bernard, is in het lyrisch werk van Breytenbach voor jou een afzonderlijke bundel of zelfs een esthetische fase aan te wijzen die om een specifieke reden jouw uitgesproken voorkeur geniet? De schrijver heeft in drie omvangrijke delen zijn verspreid gepubliceerde bundels samengebracht: Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964-1975, Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975-1983 en Die singende hand. Versamelde gedigte 1984-2014. Welke Breytenbach is voor jouw dichterlijke loopbaan betekenisvol gebleken? Verkies je het vroege werk of de ‘late style’ in Breytenbachs lyriek? Zou je zelf gewagen van een bepaalde literaire invloed, dus een moment of zelfs een gedicht dat jouw dichterschap in enigerlei mate mee heeft gestuurd?
BO: Hoewel enkele gedigte van my voorheen in literêre tydskrifte gepubliseer is, was dit eers in 2007, my twee-en-vyftigtigste lewensjaar, dat ’n solodigbundel uit my pen die lig gesien het. Voor die verskyning van daardie bundel, Onbedoelde land, het ek as bewonderaar en verorberaar, en nie as beoefenaar nie, met die digkuns omgegaan. Aan dié liefhebbery kon ek as onderwyser, dosent en literator ruim uiting gee – en Breyten Breytenbach se werk telkens iewers betrek. Ek onthou dat ek, destyds in 1990, ’n artikel te lese gekry het oor hoe om jongmense – eerder aangevuur deur amoreuse drifte en drome – se guns vir digkunsstudie te wen: maak liefdespoësie die tematiese fokus. In die eerstejaarsmodule, wat ek op die spoor hiervan ontwikkel het, het Breytenbach-verse soos ’nagmaal’ en ‘Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif’ – laasgenoemde naas die twaalfde-eeuse veerpentoetsgeskrif ‘Hebban olla vogala…’ – boegbeeldplekke ingeneem. Die reaksie het bewys dat die artikelskrywers ’n punt beetgehad het. ’n Drietal studente het byvoorbeeld een oggend aan my kantoordeur kom klop om te sê hulle voel in daardie poësieklasse asof hulle rolle vertolk in die film Dead Poets Society. My fassinasie met Breytenbach se digkuns het nie opgehou by vroeë werke soos bogenoemde nie. Sedert 1992 had ek die voorreg om resensies oor nege verdere publikasies van hom te skryf, tot en met op weg na kû uit 2019. Reken hierby die oorsig oor die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse digkuns tussen 1960 en 2012 wat ek tot die 2015-uitgawe van Perspektief & profiel. ’n Afrikaanse literatuurgekiedenis kon bydra, en waarin ek onder meer kon uitwys waarom aan Breytenbach ’n sentrale posisie toegeken word wat die Afrikaans poësiesisteem van die tweede helfte van die twintigste eeu betref, en dit behoort begryplik te wees waarom ek geen fasevoorkeur(e) met betrekking tot sy digterskap koester nie. Die ganse Breytenbach-oeuvre bly my boei – al weerklink daar weinig in die twee bundels op my digterskerfstok (die tweede, Nootvat. Kwashaal. Stapel., het in 2021 verskyn) wat direk aan enige van sy gedigte herinner. ’n Gedig uit laasgenoemde bundel van my wat die naaste aan so iets kom, is waarskynlik ‘Apostroof’. Dit het ’n herbesoek aan die woning van die oorlede ouers as tematiese gegewe. Grepe soos die volgende daaruit eggo iets van Breytenbach se alombekende, tematies verwante vers ‘die hand vol vere’:
Die huis-met-baie-buitekamers,
daardie lushoftuin van julle,
daardie hoeweskaalse boerdery met al wat leef,
is net vir hou bestem solank onthou nog klou.
[...]
Die kleinkinders – húlle sou ek rond wou wys,
op daardie werf se verlede tyd,
sy spore waan en werklikheid.
[...]
Nooit gaan hulle stoepgesit met julle kry nie
onder die prieel bloureën.
Nooit die Ke a leboha-koor van die skooltjie uit die buurt
wat Kerstyd kom sing, afwag saam met julle nie.
YT: Naast de expliciete maatschappijkritische poëzie zijn er de gedichten waarin de verbeelding van Afrika vorm krijgt, de vele liefdesgedichten, de lyriek waarin verval, verrotting en de dood bepalende motieven zijn, het nomadische Middenwereld-discours, de Zenboeddhistische gedichten. Is er een facet in Breytenbachs poëzie dat je met bijzondere belangstelling of affiniteit hebt gelezen?
BO: Ek vind dit moeilik om ’n bepaalde faset van Breytenbach se oeuvre bo ander uit te sonder vir bewondering of waardering. Aspekte soos dié wat jy noem kom, in transformerend-variërende en wisselwerkende manifestasies, eintlik vanuit die staanspoor in sy werk voor, sodat sy oeuvre as ’t ware ’n fugale aard aanneem. Hein Viljoen praat in sy bespreking van Breytenbach se literêre bydrae in Perspektief en profiel van ’n “swerfjoernaalagtigheid” as kenmerk daarvan. En tog kan ek nie anders as om met instemming te hoor wanneer poësieliefhebbers van hom praat as die waarskynlike prins van minnedigters in Afrikaans nie. Sy poëtiese hofmakery neem, soos dit groot digwerk betaam, bowe-persoonlike implikasies aan; dit verteenwoordig ’n nimmereindigende reis op weg na die geliefde, soos na die volgende bestemming, soos na die gespieëlde self toe. Ewe aangrypend is Breytenbach se hantering van die sterflikheidsgegewe, wat van die begin af ’n sentrale plek in sy oeuvre beklee, in wese naamlik as ’n soort Siamese tweeling van lewensdrif en kreatiwiteit.
YT: De schrijver heeft zich uitgedrukt in beschouwende en lyrische teksten. Daarnaast hield hij publieke toespraken, schreef zijn Notes from the Middle World, de trilogie met ’n Seisoen in die paradys, The True Confessions of an Albino Terrorist en Return to Paradise. De literaire genres waarin de schrijver zich uitsprak en een beeldrijk universum creëerde, zijn onlosmakelijk met elkaar verbonden, wat ook over het schilder- en tekenwerk kan worden gezegd. Welke teksten kunnen jou begeesteren en welke leeservaring verbind je met particuliere teksten in het oeuvre?
BO: As motief staan die dood nêrens so dwingend op die voorgrond as in sy 2019-bundel op weg na kû nie – met ’n verhewigde kreatiwiteitsdrif as reaksie daarop. Alles word tot digkuns daarin verwerk en omgewerk. Selfs motto’s word as digwerk aangebied, en waarin eie en ander se woorde moeilik ontwarbaar raak. Dieselfde geld die NOTAS wat agterin die bundel aangebied word, soms ter verklaring van aspekte van die gedigte waarvan hulle die nommers dra, maar heel dikwels funksionerend as voortdigtings op daardie verse. ’n Web van aangehaalde en weerklinkende tekste, ook van eie skepping, en in meerdere tale, strek deur die bundel. Voeg hierby die vervaging van literêre genregrense, asook die deurspekking van die bundel met visuele kunswerke. Dis die héle Breyten Breytenbach, pseudonieme en al, foto’s van homself en sy vriende/geliefdes en al, woord- en beeldende kunswerke en al, wat die leegte voor ons oë vol kom dans. Een van die gedigte daarin (7.8.3) dra die titel ‘cantus firmus’ – ’n term wat dui op ’n musikale struktuur waarin ’n bepaalde melodie as basis dien vir ’n polifoniese komposisie. Die sterflikheidsgegewe is die “cantus firmus” van hierdie bundel, die digkuns die polifoniese uit- én kontrawerking daarvan, ’n bemoeienis waarvan eintlik sy ganse oeuvre getuig. Om ’n omvangryke, diepsinnige digwerk soos hierdie bundel onder oë te neem, is geen geringe onderneming nie. Tog voel ’n mens telkens ryklik beloon deur die poging daartoe. As leser meegesleur om óók steeds nuut te word téén die niet in; aangespoor om op “die lang sterwensgang na Kû, die koebaai” soos die groot Duitse skrywer Goethe te bly vra na “Mehr Licht!”, en te bly “negeergenereer” (aanhalings uit gedig 8.3).
YT: Hoe heb je zelf het werk van Breytenbach leren kennen? Welk beeld bewaar je van de kennismaking en is het in de loop van het leesparcours eventueel gewijzigd? Welke rol dicht je Breytenbach toe met betrekking tot het Afrikaans, dat hij een “bastertaal” noemde – een creoolse taal en vooral als een taal van Afrika zag?
BO: Ek het, as die seun van ’n senator wat die destyds bewindhebbende Nasionale Party in die Suid-Afrikaanse parlement verteenwoordig het, in my hoërskooljare wel al kennis geneem van Breytenbach en ander “rebelse, volksvreemde Sestigers” soos hy. Sy digwerk self het ek egter eers tydens my universiteitstudiejare teen die middel-1970’s van naderby leer ken – juis die tyd toe hy weens die gebruik van ’n vervalste paspoort en vir die werwing van aktiviste vir verbode politieke weerstandsorganisasies in hegtenis geneem en tot tronkstraf veroordeel is. Hoe tegelyk waarlik inheems én waaghalsig vernuwend het die Afrikaans in sy skryfwerk egter nie vir my en my medestudente geklink nie! Die wyse waarop ’n (breër!) volkse trant hande vat met verbluffend vindingryke, dikwels surrealistiese beelding en talle vorme van taalontginning en -skepping, het ons laat regop sit voor ons dosente en lessenaars. Breytenbach het jare later, in ’n 1999-essay opgedra aan die voormalige politieke opposisieleier Frederik van Zyl Slabbert, self iets vertolk van die indruk oor die groeigeskiedenis én -moontlikhede van Afrikaans as kreoolse taal, as merker van ’n “baster”-identiteit, wat sy skryfwerk op ons as jongmense gemaak het – daardie op soek gaan “na sekerheid, tweeslagtig omtrent [die self] [...] maar altyd besig om te verander, met eie morele vermoëns, besig om die begrip van die self te kreoliseer, altyd aangewys op wording en die onbekende (en dalk daarom met ’n verskerpte gewaarwees van vernietiging en van sterwe?)”. Vandaar dat ook Breytenbach se leidende versetrol teen meer onlangse praktyke in Suid-Afrika waardeur die waarde en hoëfunksies van onder andere Afrikaans as inheemse taal misken word, vir my tot besonderse inspirasie dien; nie net as Afrikaanse literator en ouer nie, maar ook as digter, soos talle gedigte uit my twee bundels getuig. In die eerste strofe van gedig 6.9 uit Breytenbach se op weg na kû lui dit: “wanneer jy die moedertong / in my mond laat verdor / neem jy die wêreld weg / verduister jy my geheue / maak jy dat ek as vreemdeling / en sonder ’n eie paar skoene / die toekoms moet ondergaan / wat ek nie meer fatsoeneer nie / nog net interpreteer / nie betree nie”. As weerklankvoorbeeld haal ek een van die stapelbrokke uit die gedig ‘Vere bly van voëls’ uit my mees onlangse bundel aan:
Daarsonder
raak kontreie naamlose aarde
was daar nooit ’n ou Transvaal
en ’n voël daar bo se treurmare nie
maar die geblaf van die verlede
die honde van apartheid
is nimmer te paai
anders as in voëlverskrikkerlose
Afrikaans nie[.]
YT: Kun je in een paar zinnen het grensverleggende en zelfs de iconische betekenis van de dichter Breytenbach onder woorden brengen? Of anders gezegd: hoe zou je zelf voor toekomstige lezers van Breytenbach, in Zuid-Afrika en elders, de poëzie aanbevelen?
BO: Dit is welbekend dat, naas die twee bundelpublikasies van die buitelands gebore Peter Blum in die 1950’s, dit veral die “inheemse” Breytenbach se werk is wat, op sowel tematiese as verstegniese terreine, ingrypend nuwe koerse vir veral die Afrikaanse digkuns in die tweede helfte van die twintigste eeu verken het. Waar Blum ’n “inkommer”-rol in hierdie verband kon speel, het Breytenbach as ’t ware die “uitkomkanse” aangedui. Sy literêre deurvorsing en bevraagtekening van die (Suid-)Afrikaanse geskiedenis en politiek het lesers hier te lande én wêreldwyd in staat gestel om kennis te maak met die belewenisse van ’n “albino terrorist”. Daarby het sy meedoënlose selfondersoek die wyse verryk waarop ons verstaan hoe identiteit gevorm en omvorm (kan) word, asook wat die funksies van kuns is. Nie verniet is sy werke in talle tale vertaal en bestaan daar ’n omvangryke (en steeds groeiende) getal vakkundige studies oor sy werk nie. Ook is dit, soos onder meer die navorser Louise Viljoen al aangetoon het, geen oordrywing om hom as ’n literêre vaderfiguur vir talle ander (Suid-)Afrikaanse digters sedert die 1960’s te bestempel nie. Ewe seer is sy internasionale aansien ’n groeiende een. Hy is ’n veelsydige kunstenaar waarvan sowel die woord- en skilderkunswerke belangrike bydraes tot die kontemporêre kunstewêreld in die breë verteenwoordig.
Lees ook:
Breyten schrijven #11: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Antjie Krog
Breyten schrijven #9: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Alfred Schaffer
SteedsDink in die Karoo met LitNet Akademies: Bernard Odendaal

