Door het oog van de dichter is de titel van een gesprekkenreeks over de literaire nalatenschap van Breyten Breytenbach (1939-2024) en de impact op het schrijverschap van hedendaagse Afrikaans-, Engels- en Nederlandstalige dichters. Op 24 november 2026, twee jaar na het overlijden van Breytenbach, verschijnt de bundel Postumiteiten voor Breyten in Zuid-Afrika, waarin de dialogen worden gebundeld. Het huldigingsboek wordt gepresenteerd op de vooravond van het internationaal symposium “Inter-Breyten. Breytenbach in context” (26-27 november 2026, Universiteit Gent: https://voertaal.nu/oproep-voor-referaten-inter-breyten-breytenbach-in-context/).
In een tweede deel van de huldigingsbundel met dialogen komen Breytenbach-vorsers aan het woord. Ook die bijdragen worden de komende weken voorgepubliceerd op Voertaal.
Tot op heden zijn afleveringen gepubliceerd met de dichters Joan Hambidge, Alfred Schaffer, Marlise Joubert, Antjie Krog, Louis Esterhuizen, Bernard Odendaal, Ilse van Staden, Andries Bezuidenhout, Diana Ferrus, Hein Viljoen, Pieter Madibuseng Odendaal, Klara du Plessis, Charl-Pierre Naudé, Nkateko Masinga, Erwin Mortier, Marius Crous, Gilbert Gibson, Heilna du Plooy, Alwyn Roux, Kleinboer, H.J. Pieterse, Zandra Bezuidenhout, Churchil Naudé, Tom Dreyer en Cas Vos.
De inleidende tekst met een toelichting bij de opzet van de gesprekkenreeks over de literaire erfenis van Breyten Breytenbach kan hier worden gelezen: https://versindaba.co.za/2026/01/21/yves-tsjoen-postumiteiten-voor-breyten/. In totaal komen veertig dichters aan het woord. De gespreksgenoten ontvangen allen dezelfde vijf vragen over hoe zij zich in hun schrijfwerk verhouden tot het oeuvre van Breytenbach. Vandaag is Neil Cochrane aan het woord, samen met Alwyn Roux samensteller van de bloemlezing Merang (Naledi, 2025).
...
Handhaaf ’n poëtika van horisonne en nie grense nie.
...

...
Sy gedigte is soos gebede vir almal wat moeg en belas is in ’n wêreld van banale oppervlakkigheid en verkrampte denke.
...
YT: Neil, is in het lyrisch werk van Breytenbach voor jou een afzonderlijke bundel of zelfs een esthetische fase aan te wijzen die om een specifieke reden jouw uitgesproken voorkeur geniet? De schrijver heeft in drie omvangrijke delen zijn verspreid gepubliceerde bundels samengebracht: Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964-1975, Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975-1983 en Die singende hand. Versamelde gedigte 1984-2014. Welke Breytenbach is voor jouw dichterlijke loopbaan betekenisvol gebleken? Verkies je het vroege werk of de ‘late style’ in Breytenbachs lyriek? Zou je zelf gewagen van een bepaalde literaire invloed, dus een moment of zelfs een gedicht dat jouw dichterschap in enigerlei mate mee heeft gestuurd?
NC: Dit is ’n besonder moeilike vraag en ek is huiwerig om my antwoord tot slegs één fase of styl te beperk. ’n Panoptiese digter soos Breytenbach oefen genuanseerde invloede uit en waarskynlik ook gedurende verskillende stadia. Dit maak vir my meer sin om Breytenbach se werk in terme van verskillende modusse te beskou. Afhangende van my emosionele en kognitiewe ingesteldheid verkies ek soms een modus bo die ander. Miskien vind ek tog die meeste aanklank by sy verse wat lig werp op ’n wyer sosiopolitieke wêreld en ’n indringender aktivistiese rol speel, maar selfs sy politieke verse is gelaai met liriese kragdadigheid. In dié opsig is ‘bid vir Hanoi’ (Oorblyfsels, 1970) vir my ’n hoogtepunt, want dit bied so ’n genadelose en ironiese ontmaskering van die smartlike gevolge van oorlog wat dikwels in die naam van “goddelike/Goddelike?” ideale gevoer word. Dit is opvallend hoe paradokse, konkrete beelde en die voortsnellende ritme gesamentlik die spreker se digterlike versetdaad bekragtig:
[…]
bid vir hulle wat verstik aan bitter rook
vir hulle wat in donker hole
wegkruip vir die singende blink engele
van die dood
(engele dik gebuik met huil en vuurbomme)
(70,000 ton in die lente van Maart 1967)
bely die kinders wat soos bloederige biefstukke
die modder kom besoedel
bid vir die besmettes met hulle melaatsheid
bestry deur skroeiende magnesiumjellie
die pes-swangeres wat skarrelend
haasgate grawe
weg van die genesende kartets
vir die gelowiges verseël
onder die puinhope van pagodas
vir die ongelowiges skreeuend
geïnterneer in huisies vlees
[…]
Die pynlik akute toepaslikheid van ’n gedig soos ‘Palestina, Israel’ (‘Verspreide gedigte’ in Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964-1975, 2001) is nog dwingender as mens die huidige situasie in die Midde-Ooste in gedagte te hou. Die gedig is byna visioenêr en die derde strofe herinner mens dadelik aan die soort inhoud en diskoerse wat deel uitmaak van huidige nuusdekking oor die gebeure:
[…]
uit die radio hier bevelvoerders se ritselende verslae
woorde sprekende van dood
statistieke temperature
woorde wat vreet sonder enige honger
die fladderende afwesige woorde
uit die aasvoëls se hemelse woonplekke
die woorde soos patroondoppe met die reuk van swael
woorde wat stink soos wanneer klank uitgebrand is
in Sinai
[…]
YT: Naast de expliciete maatschappijkritische poëzie zijn er de gedichten waarin de verbeelding van Afrika vorm krijgt, de vele liefdesgedichten, de lyriek waarin verval, verrotting en de dood bepalende motieven zijn, het nomadische Middenwereld-discours, de Zenboeddhistische gedichten. Is er een facet in Breytenbachs poëzie dat je met bijzondere belangstelling of affiniteit hebt gelezen?
NC: Na my mening is poësie en spel onlosmaaklik verbind en dit is juis dié element wat my belangstelling prikkel. Daar is ’n legio speletjies wat digters kan speel, maar uiteindelik gaan dit om hoe goed jy die speletjie speel. Die gevaar bestaan altyd dat spel bloot om spel kan gaan en nie veel kommunikeer nie. Ek stel meer belang in ‘n digverweefde en gekombineerde spel met intertekste, klanke, beelde en versbou. Een van die beste voorbeelde bly steeds vir my Opperman se Komas uit ’n bamboesstok (1979).
In Breytenbach se poësie is dit die geskakeerde aard van die spelelement wat my opval. Spel bekragtig telkens die idee van moontlikhede wat so ’n sterk wesenstrek van sy digterlike werkwyse is. In ’n gedig soos “woordkasteel” (Die huis van die dowe, 1967) word frases uit Afrikaanse volksliedjies, gesprekstaal en ander tale soos Duits, Frans en Engels gekombineer om ’n betekenisdraende geheel (letterlik ’n woordkasteel) te skep.
In ‘oggendlied’ (Kouevuur, 1969) staan kinderlike verwondering en skerpsinnige waarneming voorop en deur behendige intertekstuele skakeling met Paul van Ostayen se “Marc groet ’s morgens de dingen” word die Breytenbach-vers sprankelend nuut sonder enige sprake van klakkelose nabootsing:
[…]
Môre mier jou jeukerige moesie van die nag,
môre dam met damvisse, môre bok, sê môre os,
môre palmboom en groen gebeentes in die lug!
môre besef
[…]
’n Ander permutasie van spel is verskillende variasies op dieselfde basispatroon. ’n Oortuigende voorbeeld hiervan is die kunsteoretiese kragtoer ‘hoe om ’n gedig te skryf onder vrugteboom in die reën’, ‘ek skryf ’n gedig onder vrugteboom in die reën’ en ‘die gedig onder vrugteboom in die reën’ (Die huis van die dowe, 1967). Hierdie drieluik sluit aan by ander digterskapsgedigte van Breytenbach wat vir my baie beteken en my elke keer laat prewel: “Ag, ek wens ek kon só ’n gedig skryf.” Ek wil ook ‘ars poetica’ (Die huis van die dowe, 1967) uitsonder – ’n reeks fragmente wat telkens die digproses en aard van digterskap op ’n bondige en sefironiserende wyse verwoord:
woorde is beuls van stilte, van ruimte:
want die sywurm spin in waarheid
sy sekreetste bene
duim vir duim uit
Breytenbach se besinnings oor digterskap dien as ’n noodsaaklike handleiding vir almal wat hulle met die digkuns besig hou.
’n Ander faset van sy digkuns wat tot my spreek is sy kompromislose verwoording van prekêre menslikheid en onafwendbare verganklikheid. Betreffende dié aspek wil ek die volgende voorbeelde noem: ‘vrou kom uit die boord langs ’n pad’, ‘aandmense’, ‘die gekweste primaat’ en ‘asiel’ (Kouevuur, 1969) asook ‘begrafnis in Lanciano’ (Oorblyfsels, 1970). ’n Ander gunsteling is ‘luistervink’ (Kouevuur, 1969) wat sekerlik een van die roerendste ballingskapsverse in die Afrikaanse letterkunde is:
[…]
maar ek onthou nie,
liedere het vervaag,
gesigte sê niks,
drome is gedroom
en soos in die wierhare van ’n vrou in liefdesoeke
verlaat jy jou in ’n skuifelende massa anonimiteit
van vroegverouderde rewolusionêre,
van digters sonder taal en blinde skilders,
van briewe sonder tyding net soos seë sonder getye,
van hulle wat stik in die kindsheid van verlange,
van hulle wat geeste oproep uit die wierook,
landskappe optower uit die tonge,
die wete van die self opgooi
[…]
YT: De schrijver heeft zich uitgedrukt in beschouwende en lyrische teksten. Daarnaast hield hij publieke toespraken, schreef zijn Notes from the Middle World, de trilogie met ’n Seisoen in die paradys, The True Confessions of an Albino Terrorist en Return to Paradise. De literaire genres waarin de schrijver zich uitsprak en een beeldrijk universum creëerde, zijn onlosmakelijk met elkaar verbonden, wat ook over het schilder- en tekenwerk kan worden gezegd. Welke teksten kunnen jou begeesteren en welke leeservaring verbind je met particuliere teksten in het oeuvre?
NC: Ek was baie gelukkig om inspirerende en ruimdenkende dosente op universiteit te kon hê. Proff. Elsa Nolte, Heinrich Ohlhoff en Piet Roodt (beide ouddosente aan die Universiteit van Pretoria) het die boeiende eksperimentele letterkunde van die Sestigers vir my ontsluit en natuurlik het tekste van Breyten Breytenbach sterk gefigureer. Vir die eerste keer is ek bekendgestel aan kunsstrominge en filosofiese denkrigtings soos die surrealisme, ekspressionisme en eksistensialisme en hoe dit in die werk van die Sestigers tuishoort. Dit is veral die verhale uit Katastrofes (1964) wat ’n blywende indruk op my gelaat het. Ek dink spesifiek aan verhale soos ‘die boenk’, ‘fascistiese pampoen’, ‘selfmoord 2’ en ‘Staatsbesoek’. Ek sou later dieselfde verhale as deel van my kurrikulumbeplanning insluit en met groot vreugde die uiteenlopende reaksies van studente op hierdie vreemde tekste meemaak. Ek hoop dat ’n jonger generasie dosente ook hierdie verhale met studente sal behandel, want selfs vandag verteenwoordig dit steeds ’n keerpunt in die Afrikaanse letterkunde en bied dit baie om oor na te dink.
YT: Hoe heb je zelf het werk van Breytenbach leren kennen? Welk beeld bewaar je van de kennismaking en is het in de loop van het leesparcours eventueel gewijzigd? Welke rol dicht je Breytenbach toe met betrekking tot het Afrikaans, dat hij een “bastertaal” noemde – een creoolse taal en vooral als een taal van Afrika zag?
NC: My eerste kennismaking met Breytenbach was op hoërskool. Sy gedig ‘die tweegeveg’ was een van die voorgeskrewe gedigte in standerd 9 (graad 11 vandag) en het so ver verwyderd gestaan van al die behoudende gedigte wat ons in die klas behandel het. Om eerlik te wees was die voorgeskrewe literêre aanbod op hoërskool maar saai en ek dink nie dat dit vandag veel beter is nie. Gelukkig het ek Duits as derde taal geneem en kon my veel beter skaar by die gedigte van Rilke, Grass en Brecht (ook danksy my uitmuntende Duits-onderwyser, me. Wiida Lynn wat vir baie jare verbonde was aan Die Hoërskool Wonderboom). Dan was daar ook die voorgeskrewe roman, Der Richter und sein Henker van Dürrenmatt – ’n teks vol eksistensiële angs en moord. So anders as die vervelige “probleemromans” in die Afrikaansklas.
Gelukkig was iemand destyds wys genoeg om ‘die tweegeveg’ in te glip. Dié gedig se inkanterende ritime, meesterlike klankpatrone en klanknabootsing het iets wakker geskud in my ontvanklike tienergemoed. Vir my was hierdie nie net nog ’n gedig soos al die ander nie, maar ’n towerspreuk wat my bewus gemaak van hoe belangrik klank en ritme in die poësie is. Ek het vir die eerste keer bewus geword dat poësie die kuns van die oor is en berus op ’n primordiale en intuïtiewe krag veral as dit hardop gelees word. Daardie derde strofe van ‘die tweegeveg’ is gewoon magistraal:
[…]
Kleng jaa tjeng tjang tjeng kleng
Ai joei tsji tsjan bik sjoeing tjôrrr
Fuut tjeng wam kieng oo sssip
Hû klang klang tjing sssip
Hû merde tjong fuut kleng jaa
Sjoeing klub kieng konk hoender dirr
Rrruf tjang tijenk wam aaa sssip
Kak tjeng kleks zem zem ung ha
Dikwels begin ’n gedig met ’n enkele frase wat soos ‘n oorwurm in jou brein draai en draai. Vreemd hoe sulke frases byna sonder uitsondering klankryk en ritmies is. Dié essensiële kenmerk van poësie word raak in ‘leestekens’ (Plakboek, 1975) verwoord:
[…]
repeteer is om die ritueel volume te gee
óm ritme
daarom word die skandlyn in die vers herhaal
gode moet gepaai word tog
beswering van die onbekende
ritme is ’n inkantasie
Later op universiteit het ek op ’n intenser wyse met Breytenbach se omvangryke oeuvre kennis gemaak en weereens was dit ’n openbaring wat in ’n groot mate bewerkstellig is deur ’n uitstekende dosent, naamlik prof. Karen de Wet. Ek het besef dat verbysterende klankspel maar een soort verstomming is as mens met sy poësie te make kry. Natuurlik is daar soveel ander wat vereis dat jy leesroetes telkens moet aanpas. Ek moet erken dat ek sommige van sy verse (veral dié in Lotus, 1970) steeds moeilik vind om te verstaan en dat ’n konvensionele leesstrategie dikwels onvoldoende is, maar mettertyd het ek ’n soort oplossing gevind. Dit is eintlik eenvoudig en behels gewoon dat jy afstand doen van ’n neurotiese en gedwonge neiging om te wil interpreteer. Nee, benader moeilike gedigte eerder met ’n oop gemoed en laat dit oor jou spoel soos ’n seebrander. Jy sal verbaas wees hoe bevrydend nuwe insigte hulself dan aanmeld.
Breytenbach het herhaaldelik die moontlikhede van Afrikaans as poëtiese taal verruim. Hy was ook betreffende taalvernuf ’n meesterlike verkleurmannetjie. Hiervan getuig die talryke voorbeelde van taalspel en woordgimnastiek in sy oeuvre. Sy onteenseglike bydrae tot Afrikaans is in sy poësie te vind en dit is so ryk dat dit verby die grense van kategoriese etikette strek, want die Afrikaans in sy digkuns is een van moontlikhede – liefdestaal, versettaal en skeptaal.
YT: Kun je in een paar zinnen het grensverleggende en zelfs de iconische betekenis van de dichter Breytenbach onder woorden brengen? Of anders gezegd: hoe zou je zelf voor toekomstige lezers van Breytenbach, in Zuid-Afrika en elders, de poëzie aanbevelen?
NC: Volgens my is die digterlike genialiteit van Breytenbach seldsaam en ongeëwenaard. Sy werk is ’n oase vir almal wat erns maak met die poësie, want dit illustreer op ’n allesomvattende manier hoe goeie poësie lyk. Sy gedigte is soos gebede vir almal wat moeg en belas is in ’n wêreld van banale oppervlakkigheid en verkrampte denke. Sy poësie het nog altyd in die teken van moontlikhede (ek gebruik dié woord baie) en verruiming gestaan in terme van taal, beelde, tematiek en verstegniese elemente. Oorkoepelend gaan dit om ’n verruimende blik op die wêreld wat jy bewoon en dit is veral dié aspek wat toekomstige digters en lesers in gedagte behoort te hou. Handhaaf ’n poëtika van horisonne en nie grense nie. Breytenbach stel dit self so mooi in ‘stukkende gedig’ (Die ysterkoei moet sweet, 1964):
[…]
want ander wêrelde ander moontlikhede eksisteer mos
’n wit boot dryf oor die blou see met die son in sy seile
iewers swem iemand onder water tussen muwwe ryke
iewers skoffel iemand met ’n groen hoed op tussen rose
iewers sleep ’n koets sy stofstreep deur ’n kloof
iewers skyn die aalwyne
iewers ruik mens vars koejawels
iewers loop mense in ’n paadjie oor ’n rand
[…]
Breytenbach se digkuns benadruk kreatiewe waagmoed, vryheid en bevryding, maar dit veronderstel ook ’n bevrydende manier van lees deur ’n bevryde leser wat hom of haar oopstel vir moontlike teenstrydighede en teenstrydige moontlikhede.
Dit is nie ’n geval van gaan na die mier en word wys soos die Heilige Skrif predik nie. Gaan eerder na maître Breytenbach en word wyser.
Lees ook:
Breyten schrijven #33: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Cas Vos
Breyten schrijven #32: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters, conversatie met Tom Dreyer
’n Gesprek met die gesprekvoerder #1: Yves T’Sjoen oor sy belangstelling in Breyten Breytenbach

