’n Kuier op Calitzdorp op Route 62 is veel meer as net ’n Karoo-wegbreek of besoek aan die portstylwyn-hoofstad van die land. Dis om jou longe vol skoon Karoo-lug te trek, jou lippe en tong te bederf met die beste kos en wyne – waarvan heelwat van Portugese kultivars – en jou pas te verslap, skryf Maryke Roberts.
Ek lees op ’n sakewebwerf dat al meer jonger families van die stede na Calitzdorp verhuis, omdat hulle ’n meer heilsame familie-omgewing soek. Wie wil nie hê hul kinders moet nog kaalvoet krieket in die straat speel; honde wat stertswaaiend saamdraf en blaf; ’n vriendelike wuif van jou buurman, terwyl jou buurvrou aan die ander kant van haar varsgebak met jou deel nie?
So baie van die sjefs, restauranteienaars, kokke en kelners wat ook hier huis- of opskietrestaurante geopen het, is deel van dié groot trek na die platteland toe.
Die dorp se kerkklok is wyd te sien en te hoor en dis ongelooflik hoe ’n mens later wag vir die gerusstellende dong, dong, om elke kwartier, halfuur en uur aan te kondig, waar ook al jy op die dorp kuier.
Die kerk in die middel van die dorp is ’n ware baken en ’n mens leef al om die kerkklok se slaan.
Ons het al in daardie kerk ongelooflike orreluitvoerings deur dr Noël-Jean Creil bygewoon, by die stasie by die destydse jaarlikse Portfees gekuier en historiese wandelings deur die dorp met ingeligte en begeesterde gidse gedoen, maar elke keer as ons terugkom, wag hier iets nuuts.
Vir ons mees onlangse kuier in die Klein Karoo, bespreek ons nie soos oudergewoonte plek in die dorp nie, maar eerder op ’n pragtige plaas, Danielskraal Farm.
Danielskraal is geen gewone plaas nie. Hier kan jy bly en vergeet van die wêreld, in die swembad dryf (as die ganse jou toelaat!) of in die koelte van die stoep of sitkamer skuil. Smiddae maak die windpomp se lemme vir jou Karoo-musiek.
Normaalweg sou die pragtig-gerestoureerde plaashuis wat uit 1836 dateer, met kristal en ou silwerware en historiese breekgoed, die aangewese plek wees om vir ’n paar dae van skreeuende alarms, jillende buurkinders en blaffende honde weg te kom en net daar om die kaggel, die kombuis en die reusestoep te kuier.
Vandat jy van die grootpad afdraai op pad na Danielskraal Farm weet jy hier wag iets besonders.
Maar dan sou jy uitmis op al die lekkerbekplekke wat Calitzdorp bied. Ek weet van verskeie opskietrestaurante en meer gevestigde plekke, maar vir hierdie besoek sonder ek my nuutste gunstelinge uit.
En – anders as wat ’n mens dalk sou reken – is dit nie net variasies op Karoo-tjoppies en skaapboud of roosterkoek met appelkooskonfyt nie. Die kosstyle en -geure is so uiteenlopend en wyd soos die Heer se genade – soos my een vriendin altyd opmerk as woorde haar ontbreek oor presies hóé wyd.
Ek is verbaas toe ek rondvra oor die nuutste plekke en van Koreaans tot Indies onder dié hoogtepunte uitgesonder word. Voeg daarby nie net lekker wyne nie, maar ook brandewyn en whisky wat hier gemaak word en jy is in vir ’n ding.
Ek kan nie anders as om die woorde van die befaamde C Louis Leipoldt wat ek eens op LitNet gelees het, weer op te roep nie: “Die brandewyn wat jy die lekkerste vind, is die soort wat met jou die beste sal akkordeer. Moenie geïmponeer word deur etikette of advertensies nie; maak jou eie keuse volgens jou eie smaak. En behandel daarna jou keuse met liefde en verstand” (Die Burger, 31 Maart 2009). Hy was nie verniet een van ons bekendste joernaliste en digters nie, maar ook bekend as smulpaap, wat baie mal was oor die kos wat hy hier aan die suidpunt van Afrika kon geniet.
Dis die trilogie van sy boeke wat in Leipoldt’s Food & Wine vervat is: Leipoldt's Cape Cookery, Culinary Treasures en Three Hundred Years of Cape Wine, wat my opnuut laat besef het hóé lief die man regtig vir spys en drank was, en ek verwys dikwels terug na sy skrywes vir insae.
Sy patriotisme oor die produkte vanuit die Afrika-grond styg ook sommer in my op toe ons op ’n soel Vrydagaand op die stoepie van ’n hoekhuisie skuins oorkant die kerk sit.
Bedags is dit net nog een van die oulike Victoriaanse huisies op Calitzdorp, maar sommige aande wapper vlaggies vrolik in die briesie, musiek speel saggies om jou enkels op die sementstoep en Sunhee Baek van Sunnyshuis wie se lewensmaat Ed Holding ’n PGA Meester is, word dan kelner, gasheer en algemene geselsman. Een na die ander disse word uit die kombuis aangedra. Dis delikate geure met deurskynende ryspapier wat boepens staan van vars produkte en blomme uit haar bure se tuine.
Sy is vele dinge in haar beroepslewe, maar dis in haar Koreaanse kookkuns wat haar ware liefde lê, vertel sy tussen gange deur. Sunhee en Ed het heel toevallig op Calitzdorp beland nadat die Goudstad vir jare hul tuiste was.
Sunhee se liefde vir Afrika is vervat in ’n boek My Romantic Africa en dis soos die geure jou betower dat jy opnuut dankbaar staan vir waar jy woon. Dis ook verblydend om te sien dat vars produkte wat ons soms as eg Suid-Afrikaans eien, baie meer universeel is as wat ons wil glo.
Sunhee van Sunnyshuis se kos is nie net heerlik nie, dis mooi en al haar bestanddele kom uit bure en vriende se tuine. Bedags is haar huis net nog een van die Victoriaanse huisies in die middedorp, maar sommige aande word dit ’n Koreaanse kookkunshemel.
Ons kulinêre reis duur voort op die Wesoewer-grondpad wat later soos ’n haarnaald weer terugloop in Calitzstraat dorp toe, want Saterdagoggende is al wat leef en beef by The Accidental Baker op die 11 hektaar-organiese plaas, Lenies Hof.
Ook hier is antieke tegnieke en graan uit die omgewing die ster van suurdeegbrode, wat in allerhande geure en vorms kom. Mo en haar man Steve Lewis het in 2017 hier op ’n klein lappie grond ’n holte vir hul voete gevind. Mo kon nie goeie tuisgebakte brood op die dorp vind nie en het sommer self begin bak – vandaar die gepaste naam as “The Accidental Baker”.
Dié Nederlanders werk deur die week op hul plasie, maar Mo maak ook die mooiste denimklere en saam is daar ook wonderlike vlugtige olies wat hulle onder Still Pure Naturals verkoop. Wat begin het as brood vir hul gesin, het toe later uitgebrei na brood vir familie en vriende en vandag is hul ontbyt, opskietrestaurant en terras baie gewild. Dis Saterdagoggende van 08:30 tot 14:00 oop en dit wat jy nie daar met sterk koffie verslind nie, gaan saam huis toe – en meer. Die uitsigte oor die berge en wingerde saam met kombucha of liplekker koek of tert is net die manier om jou Saterdag te begin.
Geen besoek aan Calitzdorp sal volledig wees sonder ’n ontbyt of varsgebakte suurdeegbroodjie met kimchi en kaas op nie.
En natuurlik is Mo en Steve altyd reg vir sports!
Sou jy by een van die wynplase soos Axe Hill gaan wynproe het, dalk voëls gekyk het by die Nelsrivierdam of net in die natuur wou ontspan, gaan jou maag skree vir middagete en dis dan wanneer jy indraai by Gary Lawson se restaurant Under the Peppertree, want ja, jy het reggeraai, dis onder ’n reusepeperboom waar jy buite kan sit.
Under the Peppertree se lekker Koreaanse kos.
Dis skuins ná die middaguur dat ons aan die anderkant van die reusepeperboom parkeer en Gary ons op die klein voorstoepie verwelkom.
Die windjie stoot die lang dun arms van die boom soos reuse-lang, benerige vingers deur die lug. Die wynrooi en goue gordyn staan bol in die deuropening. Terwyl Gary ons kos berei – ook Koreaans, maar soveel anders as Sunhee s’n – loer ons deur die boeke te koop. Uit die kombuis kom die reuke van gestoomde vark dumplings en Koreaanse gebraaide hoender.
Tussen ons koservarings deur gaan ons terug na Danielskraal vir luilekker middae op die gemakstoele langs die swembad, waar die lyne tussen slaap en wakkerwees salig verdwyn. Laatmiddag bring ’n koel windjie lafenis teen die somerhitte en maak musiek in die windpomp se sinklemme. Ons deel die swembad met ’n groep ganse waarvoor ons maar lugtig bly, maar daar is plek vir ons almal. Dis plaas op sy beste!
Die outydse rose (die enigste rose wat nog na roos rúík soos my oorlede moedertjie dit altyd beskryf het) se bedwelmde reuk meng met meubelpolitoer en boeke en ek verbeel my die handgeborduurde linne ruik na vrede. Want dis wat ek ervaar as ek saans my kop daarop neerlê.
Soggens is ons ligdag op die reusestoep met koffie en kyk ons hoe swaeltjies op die koedoehorings kom sit en goggas in die lug vang. Een oggend speel een van hulle vir etlike minute met ’n gansveertjie wat hy in die lug mee opvlieg, los en dan weer vang terwyl dit in sirkels grond toe dartel. Ek kan nie dink dat ek al ooit ’n voëltjie só sien speel het nie en natuurlik voel ek soos die spesiaalste mens op aarde!
Nog mense wat hier in die Karoo kom veilige vesting vind het, is die nuwe eienaars van Die Dorpshuis. Ampie Rossouw het Pretoria se stof van sy voete afgeskud en Divan Roos het Gqeberha vir Calitzdorp verruil. Ampie is ook die bestuurder en Divan die sjef.
Die Dorpshuis is al net so deel van die dorp as die kerk en hoofstraat, Divan Roos (sjef) en Ampie Rossouw (bestuurder) het hier kom vrede vind.
Die plaas waar Calitzdorp vandag geleë is, is in 1831 aan JJ en MC Calitz toegeken en in 1924 is die spoorweglyn voltooi en in 1937 het elektrisiteit so saam met ’n nuwe sementpad na Oudtshoorn gekom. Die Dorpshuis in die hartjie van die dorp is al vir lank deel van die geskiedenis en bied akkommodasie en heerlike tradisionele kos aan. Dink lamsrak met wortelpuree en geroosterde babagroente en arancini; botterskorsie, kekerertjie en quinoa stapel met geroosterde babagroente en roketblare. Die hoender- en chorizo-pasta lyk net so lekker.
Die gebou dateer uit die laat 1800’s en jy kan binne of buite sit. Daar word ook brood gebak en allerhande interessanthede is binne te koop, waaronder lekker ingelegde produkte.
Dis net die plek om die lewe te sien verbygly. Ons stop ’n paar maal daar vir ’n glas wyn en asemskep tussen die lekker ontdekkingstogte deur en loer ook een maal daar in nadat ons by die oulike museum gekuier het. Die wynlys is net plaaslike wyne en dis ’n wonderlike geleentheid om die beste van die Calitzdorp-streek te proe.
Maar ons hoogtepunt daar op die blinkgepoetste stoep is ’n kos-en-wyn-pasmaat-ete met die Nels van Boplaas Familie Wingerde. Om saam met dié bekende gesin om die tafel as’t ware brood te breek is ’n ware belewenis. Die spyskaart vir die aand is spesiaal bedink om elke wyn tot sy reg te laat kom.
By Die Dorpshuis kuier ons saam met die Nels van Boplaas Familie Wingerde en elke dis – van die ryk mossels tot Karoo-skenkel – is met die wyne gepasmaat. Ons sluit af met ’n heerlike skeut brandewyn.
Nagereg is Boplaas-whisky en crème brûlée en natuurlik eindig die aand met ’n ruim skeut van Boplaas se bekroonde 17 jaar-oue brandewyn. Dis natuurlik net as ode aan Leipoldt, vertel my geliefde met ’n knipoog, terwyl hy sy neus diep in die boepensglas druk.
Dis toe inderdaad iets meer tradisioneel – die Karoo-lamskenkel – wat op die tong gesmelt het, wat dié aand my gunsteling was, veral omdat dit fluweelsag pas saam met die Boplaas Gamka Reserve 2020, ’n versnit tussen Syrah en Touriga Naçional.
Dié oesjaar is nie net my gunsteling nie, maar ook dié van die beoordelaars van die Michelangelo International Wine & Spirits Awards s’n, wat aan dit ’n goue medalje besorg het.
Ons laaste aand op die dorp kuier ons by The Kombuis in een van die oulike systraatjies in ’n ou nagmaalhuisie.
Die spyskaart op ’n swartbord lok jou van buite af aan – dis nou as die reuk van rajma masala nog nie jou neus verlei het nie.
Pieter Erasmus woon en werk al vir baie jare in Indië as juwelierontwerper en het met die pandemie eers hier in die Karoo sy batterye kom herlaai. Sy huisie is ’n toonbeeld van eenvoud, maar kleurvol en verwelkomend. Dit sit knus tussen ander ou huisies en kyk uit op die kerktoring. Sommige dae van die week kook hy Indiese kos en sit jy in die vierkanttuin met liggies wat uit die bome vir jou knipoog en verbeel jou dis iewers op die Indiese platteland.
Die binnehof met sy laventel en grasskerms versluier die kombuis vanwaar die Indiese musiek oor die kospotte draal en met kardomyn en uie en joghurt dans.
Die Indiese kos by The Kombuis laat jou sommer trane in die oë kry oor ’n Indiese reis. Pieter se restaurant is in een van die dorp se nagmaalhuisies ingerig.
Die hoenderkerrie, bombay aloo en raita is só eg Indies my oë skiet vol trane van verlang na ons Indiese reis net voor Covid die wêreld kom onderstebo maak het. Met elke nuwe dis wat hy voor ons neersit, vertel hy van watter streek in Indië dit kom, maar hoe hy hou van room en joghurt in al sy disse.
Pieter reis nou tussen Indië en die Karoo, maar sê “’n mens is meer híér” as jy die Huisrivierpas afdraai en die dorp aan haar voete sien.
’n Mens verstaan hoekom Pieter van The Kombuis sê “’n mens is meer híér” as jy die Huisrivierpas afdraai en die dorp aan haar voete sien of uitkyk oor die vlaktes.
Die paraffienlampe neffens ons borde dans kaalvoet oor die tafel elke keer as ’n briesie die palmtakke bo ons koppe en die malvas langs ons tafel roer.
Op die rakkie by die voordeur staan van sy tuisgemaakte blatjang en ander ingelegde lekkernye en ons neem ’n hele paar potjies huis toe om die herinneringe te laat voortleef as ons tuis is.
Ander eetplekke wat nou al deel van die dorp se kulinêre geskiedenis is en wat jy nie kan misloop nie, is:
- As jy van die Kaap se kant op die R62 by Calitzdorp inry, is Die Bakhuis @ Axe Hill op jou linkerkant net die plek vir ontbyt, middagete of varsgebak om in die motor te verorber as jy nie kan vertoef nie.
Terwyl jy oor die olyfbome in die rivierbedding na die kerktoring in die verte kyk, tiekiedraai die reuke van varsgemaalde koffie met varsgebakte brood wat in die bakoondjie gebak word, en in die oop pizzaoond smeul die kole gereed vir die volgende lekkerbekpizza.
Die ontbyte is nie jou gewone spek en eiers nie. Dink aan ’n boere-ontbyt met lamsrib en boerewors; of die omelet met salami, olywe, tamatie, mozzarella en tuisgebakte brood. Of my gunsteling: die biltongbroodjie op ’n bakoondrolletjie met dijon-mosterd, mozzarella en gekaramelliseerde uie.
- De Krans se proelokaal en bistro en afhangend van watter tyd van die jaar jy kom kuier, kan jy lekker appelkose of druiwe pluk. Die kelder se wyne is beskikbaar en jy kan lekker onder die grasgroen prieel sit of binne langs die proelokaal. Die spyskaart het van tot lekker burgers, tot vars slaaie en die heerlikste snoekkoekies en gepluisde vark en koolslaai. As jy lus is vir peusel, probeer die kaasbord met koue vleise, olywe en brood.
De Krans se proelokaal en bistro is ’n heerlike kuierplek en afhangend van die seisoen waarin jy daar kuier, kan jy appelkose of druiwe ook pluk vir huis toe neem.
- As daar rugby is of as jy saam met ’n lekker groep vriende is, is die ou stasiegebou nou die lekkerste plek vir drankies.
- Moet ook nie enige van die wynkelders in en om die dorp misry nie. Die wyne van hierdie streek is anders as wat jy in die Kaap proe; die wynmakers is dikwels ook die eienaars van klein lappies grond en die droogte is dikwels só erg dat dit ’n wonderwerk is die wingerde oorleef en lewer sulke pragtige, bekroonde wyne. Beplan jou roete keurig: in die dorp is daar Boplaas Familie Wingerde, De Krans en Calitzdorp Cellar.
Buite op die Wesoewer- en Calitzpad is Axe Hill, Du’SwaRoo verder aan, en nader aan Groenfontein is Peter Bayly. Elkeen van hierdie wynplase het ’n unieke aanbieding in portstylwyne en ook Portugese kultivars, maak ook ander wyne.
Buro: MvH> Woorde: Maryke Roberts
> Foto’s: Clifford Roberts