Clos Malverne: Oos, wes, tuis nie bes in hierdie geval

  • 0

Die heuwels lê groen in die verte in die pragtige Devonvallei waar Clos Malverne sy tuiste het.

Die westekant van Stellenbosch het sy eie unieke terroir, wuiwende velde en wingerde tot teen die voete van die heuwels. Mense reis van alle uithoeke in die wêreld om ’n paar magiese dae in die Devonvallei buite Stellenbosch te kuier. Ons val vir drie dae soos wafferse buitelanders by Clos Malverne vas.

“Iewers in die wêreld sak die son nou,” verklaar my geliefde toe hy die vonkelwynprop die lug inskiet. Dit plons op die plaveisel onder ons stoepie en voor die kosbare vloeistof kan oorloop, vul hy ons glase. Dis Sauvignon Blanc, ongewoon vir vonkelwyn. Die vars, koue appels terg op jou tong en die nasmaak talm vrugtig.

Ses huisies, elkeen met ’n druifkultivar se naam, sit tussen die plante met uitsigte oor die dam en wingerde op Clos Malverne-wynplaas in die Devonvallei. Jy kan amper sien hoe jou toekomstige glas wyn se druiwe groei!

Ons is in die middel van ses huisies waarvan daar heel gepas kultivarname op die voorkant pryk, Merlot, Malbec, Sémillon, Cinsaut, Pinotage en Chenin - kultivars waarvoor die plaas bekend is.

Die huisie met sy eie stoepie en kuiergedeelte is lekker ruim.

Michelle, gasvryheidsbestuurder, het flussies vertel dat Seymour Pritchard die 10 hektaar-plaas Malvern Heights in 1969 by kolonel JW Bellingham gekoop het, wat die plaas vernoem het na die golwende heuwels rondom Malvern in sy geboorteland, Engeland.

Dis koel in die somer en soel in die winter en daar is geen beurtkragprobleme nie.

Toe die wynmaakgogga Seymour in die middel tagtigerjare gebyt het, het baie mense nog na Frankryk gekyk as die episentrum van die wynwêreld. Hy het toe ’n bietjie Franse flair by die naam gevoeg en dit na Clos Malverne verander, omdat die opstal op die plaas aan ’n clos in Frankryk herinner.

Die wynportefeulje het iets vir elke smaak.

Draai die horlosie 40 jaar aan en die wynlandgoed het ’n uitgebreide wynreeks wat nie na Frankryk hoef te kyk vir enige inspirasie nie. Clos Malverne se wingerde is geleë op twee afsonderlike eiendomme, elk gekies volgens graad van variëteitsverwantskap met die spesifieke grondtipe. Dwars-in-die-Weg het 11 hektaar onder wingerd: Cabernet Sauvignon, Merlot, Shiraz en Sauvignon Blanc. Clos Malverne se 12 hektaar-wingerde wat aanplantings het van Pinotage, Merlot, Cabernet Sauvignon en Shiraz.

Met ’n lekker peuselbord van die restaurant kan jy heerlik by jou huisie of langs die swembad ontspan.

Wynmaker IP Smit spog met die Clos Malverne Sauvignon Blanc- en Chardonnay-witwyne, Cabernet Sauvignon/Shiraz, Cabernet Sauvignon/Merlot, Merlot en die Le Café-rooiwyne. Daar is ook ’n vonkelwyn, die Sparkling Brut, en die Ellie Cap Classique. Jy kan ook die Devonet Merlot Pinotage of drie geblikte wyne, die Heron’s Nest Rosé, Shiraz of Sauvignon Blanc, geniet.

Die bekende wynmaker, Suzanne Coetzee van Nuiba Wines-faam, huur nou kelderspasie op die plaas en het ’n paar opwindende verwikkelinge in haar mou.

Voortfreflik

Daar is ’n restaurant met glasruite wat oor die wingerde en berge uitkyk, en ’n sielsalige spa waar al die week se stres uit jou skouers masseer word.

Die restaurant op die plaas bedien ontbyt, middagete en aandete.

Vinke vlieg heelmiddag tot op die wingerd naaste aan die swembad en verdwyn vir ’n wyle agter die lae muurtjie. Wanneer hulle weer hul verskyning maak, is dit met bekke vol groen koringblare wat behendig in stroke afgeskeur is. Om nes te bou, natuurlik. Hulle verdwyn iewers tussen die boomtakke in die verte in na een van die vele damme in die omtrek. Dis nie lank nie of een is terug. Ons teug gelate in stilte aan ons borrels.

Daar is ook verskeie wyn-en-kos-pasmaats beskikbaar.

Die saligheid van die vallei al in ons kuite en die naweek het skaars begin.

Die bekende wynmaker, Suzanne Coetzee van Nuiba Wines-faam, huur nou kelderspasie op die plaas en het ’n paar opwindende verwikkelinge in haar mou.

Op die hoofpad jaag karre van en na die Devonvallei Hotel en House of JC Le Roux. Maar ons is vasgemessel op ons stoepie. Vir nou is die wingerde, voëls en reusebome vir ons genoeg vermaak.

Michelle het genoem dat Vrydagaande by die restaurant “Date night” is met pizza en wyn, maar ons het met vriende ’n afspraak by die glanssjef Bertus Basson se restaurant Spek & Bone. Oudergewoonte kyk my maat na die beurtkragskedule om te verseker dat ons nie koud stort nie. Dan onthou ons Michelle se woorde dat hulle danksy sonpanele en batterye beurtkragloos is. Hemels!

Spek & Bone is in ’n oulike binnehoffie agter die historiese Oom Samie se Winkel. Die kaggeltjie knetter gesellig, die wyne is uitsonderlik en die kos natuurlik uit die boonste rakke. Hier word klein bordjies bedien, wat gaste aanmoedig om saam te eet.

Spek & Bone is in ’n oulike binnehoffie agter die historiese Oom Samie se Winkel. Die kaggeltjie knetter gesellig, die wyne is uitsonderlik en die kos natuurlik uit die boonste rakke. Hier word klein bordjies bedien, wat gaste aanmoedig om saam te eet. Met rookmetodes, gepiekelde produkte en interessante kooktegnieke verander die kombuisspan vaal disse in meesterstukke. Ek kan nie besluit of die gnocchi met blomkool, shiitakesampioene, Dalewood Huguenot-kaas en sprietuie, of die Abalobi-geroosterde vis, kool, tonkatsu en XO, of die Abalobi-rouvis-taco met mielie, pynappel en gepekelde jalapeño my gunsteling is nie.

Saterdagoggend word ons wakker met ’n misreëntjie wat oor die vallei hang. Ons maak lekker moerkoffie en klim terug in die bed met ons boeke. Ai, die wonder van nie jou wekker hoef te stel nie - dis naweek - en bo teen die landgoed wag die restaurant met ontbyt. Geen skottelgoed, geen gekopkrap oor wat jy gaan eet nie.

Ilse Schemers se IS Art-kunsgalery in Dorpstraat bied tans Susan Grundling se uitstalling Plants matter too aan. Die opening is opgevrolik met potte vars blomme.

Daar is altyd iets aan’t gebeur in Stellenbosch en ons kies koers na Ilse Schemers se IS Art-kunsgalery in Dorpstraat waar Susan Grundling uitstal. Die naam van die uitstalling het my gelok, Plants matter too, en dit was juis op ons stoepie by Clos Malverne waar die plante en wingerde in die windjie gewieg het wat my opnuut laat besef het hoe magtig die kalmerende invloed van dié lewende groen is.

Die groen van laat lente op Stellenbosch is deel van die genot van ons besoek, veral as dit die historiese NG Kerk so mooi omraam.

Die stukkie pad dorp toe is omsoom met grasgroen akkerbome. Hierdie tyd van die jaar – daardie vakuum tussen lente en somer – is die groen ’n ander intensiteit as die res van die jaar. Dis asof die nuwe blare ná die winter wil seker maak jy kyk hulle nie mis nie; dis amper neongroen.

Op pad dorp toe kom ons verskeie fietsryers teë, maar ek beny hulle nie die rit nie. Die misreëntjie is heerlik as jy voor ’n kaggel sit of kuns kyk met ’n glas vonkelwyn in jou hand, minder lekker as jy koud en nat op ’n fiets sit. Links draai die pad uit na Middelvlei Wynplaas waar ons al verskeie braaibroodjie- en braaifeeste saam met hul bekroonde wyne geniet het.

By die galery is die gasspreker Elizabeth Gunther: “Hoe is dit dan dat Susan Grundlingh se uitbeeldings van plante so getrou aan realiteit blyk te wees, maar terselfdertyd tóg die grense van die sigbare by verre oorskry? Dit is asof elke plant, tak, blaar of blom ’n teenwoordigheid anders as bloot sy ‘plantheid’ het.

“So is dit dat die kragtigheid van hul teenwoordigheid ’n plantgesetelde ervaringsvermoë suggereer, wat die blote visuele beskrywing van hul mooiheid verander in ’n tweerigting gesprek, ’n uitruil van uitdrukking tussen mens en plant en uiteindelik tussen kunswerk en betragter. Die verhouding tussen plant en mens blyk nie noodwendig eensydig te wees nie,” vertel sy.

Sy sluit af met die woorde: “Die skilderye wys ons dat die kunstenaar die gewigtigheid van wat dit beteken om te sorg en om te gee, aanvaar het en dat dit kan bydra tot insig en kennis van haar onderwerp. Sy deel hierdie begrip met haar betragtersgehoor en nooi ons uit om ook hierdie donker, skynbaar geslote ruimte van plante-bewussyn te betree.”

Ons stap uit op straat waar die akkerbome trots in hul neongroen staan, water in die leivore kabbel en blombeddings die strate omsoom.

Ons is vroegmiddag terug in die Clos Malverne-restaurant vir ’n kos-en-wyn-pasmaat-ete en smul aan beespasta met room en sampioene, gepluisde vark-springrolletjies en vis met groente. By elkeen van die gange is daar ’n bypassende wyn en die luiheid van naweek en goeie wyn sit ons lywe vol.

Namiddae is mos vir kaartspeel en boeklees. Ons kyk hoe die voëls verbyvlieg, die windjie later die bome se blare deurmekaar waai en nie lank nie of ons is onder die duvet met musiek in ons ore, vas aan die slaap. Laatmiddag gaan die alarm af: Ons het ’n lekker spabederf bespreek. Hoe heerlik om in jou japon en pantoffels in die verhitte spakamer te wag voor jou behandeling.

Die uurlange massering haal vir oulaas die laaste knope uit ons spiere en ons is lomerig terug in ons kamer. Dit begin vroegaand weer reën. Ons teug aan Clos Malverne Cabernet Sauvignon/Shiraz in die mooiste wynglase en luister musiek voor ons regmaak vir ete.

Die restaurant op die plaas het ook ’n lekker aandete-spyskaart, maar een van ons ou gunstelinge, De Cameron, het kalf-afval waarvoor my geliefde sy voortande sal gee. Omdat ons dit so min raakloop, besluit ons om te stort en uit te gaan. Die aand is van korte duur: Ons warm kamer en reusetelevisie roep. Ons kyk fliek, smul aan die lekker sjokoladetjies en tee wat in ons kamer vir ons uitgepak is, en slaap weer soos dooies.

Sondagoggend herhaal ons die koffie-en-boeklees-ritueel.

Toe ons opry restaurant toe vir ontbyt en ook om die sleutel af te gee, bad twee kolganse in ’n poeletjie langs die plaveisel wat oornag volgereën het. Die wêreld is skoongewas en die dag wink helder.

Op die dorp is daar ’n straatmark in Dorpstraat en lewendige musiek blêr vanuit ’n platejoggie se stalletjie, waar hy elke langspeelplaat sorgvuldig met ’n lappie afvee voor hy die volgende liedjie speel.

Die chai latte

“Dis net as mens die lewe stadiger benader wat jy hierdie lieflikhede raaksien en ten volle ervaar,” kom dit ewe filosofies van my geliefde toe hy sy chai latte na sy lippe lig nadat hy die oulike boompatroontjie wat die barista op die skuim geteken het, goed bekyk het.

Dis danksy die drie sielvolle dae op ’n mooie wynplaas dat ons die lewe stadiger benader, dink ek by myself. Ek verstaan heeltemal hoekom mense van oraloor Stellenbosch se drumpel deurtrap.

Gaan kuier ook by:

Nie ver agter Clos Malverne nie is die afdraaipad na Louisvale – The Art of Chardonnay aan die voete van die Bottelary Heuwels, waar die indrukwekkende onthaallokaal se struktuur wat aan ’n bolletjie deeg herinner, onbelemmerde uitsigte oor die vallei bied.

Nie ver agter Clos Malverne nie is die afdraaipad na Louisvale – The Art of Chardonnay aan die voete van die Bottelary Heuwels, waar die indrukwekkende onthaallokaal se struktuur wat aan ’n bolletjie deeg herinner, onbelemmerde uitsigte oor die vallei bied.

Vir deftige wyne met ’n unieke storie is Aaldering, verder in die pad af, dalk net die regte kuierplek.

As jy ’n bierliefhebber is, oorweeg ’n kuier by Wood Mill waar jy met Stellenbrau-biere en iets lekkers te ete saam met vriende kan kuier.

Kitsfeite

Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top