Op 18 Mei 2022 is die tweede gesprek oor die skep van blougroen stede deur #cocreateSANL en die Craft + Design Institute aangebied. Die reeks ondersoek wyses waarop stede die blou omgewing, naamlik water, op ’n groen, ekologies verantwoordelike manier kan gebruik en beskerm.
Die eerste gesprek het ’n teoretiese raamwerk verskaf. Die tweede het gepoog om praktiese voorbeelde van suksesverhale toe te lig wat as verwysingsraamwerke vir verdere ondersoek kan dien.
Kompartementalisering – waar die onderskeie dissiplines en rolspelers nie genoegsaam met mekaar praat nie – is veral as ’n probleem uitgesonder en praktiese gevalle is gesoek om positiewe voorbeelde te toon waar samewerking wel ’n verskil gemaak het.
Die gesprekke vind plaas onder die vaandel “Creative Exchange” en die hutsmerke #cocreateSANL en #cocreateDESIGN word gebruik, want die Nederlandse konsulaat in Kaapstad borg die gesprekke, terwyl Kaapstad se Craft + Design Institute die reeks bestuur.
Africa Melane was weer die onderhoudvoerder en Sebastiaan Messerschmidt, konsul-generaal van Nederland, het oudergewoonte afgeskop.
Messerschmidt het begin deur kompartementalisering soos volg te verduidelik: Die ingenieurs gesels met mekaar op LinkedIn, die gemeenskappe praat oor hulle probleme op sosiale media, dus is die rolspelers oor ’n bepaalde probleem nie in gesprek met mekaar nie.
Sy droom, die idee om na water te kyk deur die lens van ontwerp, is om al die rolspelers bymekaar te bring sodat idees uitgeruil kan word en daar saam na oplossings gesoek kan word. Eindverbruikers moet vroeg betrek word. Hulle moet eienaarskap kan neem, want dan word ’n projek volhoubaar, want dit word onderhou.
Messerschmidt gee toe dat dit soms moeilik is, want ons praat nie altyd mekaar se taal nie. Ingenieurs het hulle eie terme en woorde. Beleidmakers verwoord weer hulle idees om seker te maak ander beleidmakers sal hulle ondersteun. Die eindverbruiker se woorde, dikwels emosioneel, om te verduidelik wat hulle nodig het, is weer gans anders. #CoCreate probeer dus gesprekke fasiliteer wat die onderskeie rolspelers van mekaar se idees sal laat bewus word sodat gesprekke tussen hulle kan plaasvind.
Erika Elk, die groep- uitvoerende hoof van die Craft + Design Institute, wat medeverantwoordelik is vir hierdie praatjies, verduidelik toe dat verstedeliking in Afrika baie vinnig toeneem. Dit plaas enorme druk op die stedelike infrastruktuur, want droogtes en vloede het ’n baie groter impak wanneer soveel mense op ’n betreklik klein terrein woon.
Juis daarom is beplanning en samewerking nodig. Dit is een ding om in ’n munisipale kantoor te sit en idees uit te dink. Die vraag is egter hoe ’n mens daardie idees versoen met die eindverbruikers se behoeftes, anders is dit baie moeilik om enige program volhoubaar te bestuur.
Daarom het die instituut begin soek na projekte wat in Afrika werk om as voorbeelde te gebruik om Afrika-oplossings te vind vir ons kontinent se probleme.
Die vier sprekers is gekies omdat hulle reeds betrokke is by projekte waar verskillende rolspelers en dissiplines saamwerk om doelwitte te bewerkstellig.
Geoffrey Tooley
Geoffrey Tooley is ’n ingenieur. Hy werk vir eThekwini-munisipaliteit en is veral gemoeid daarmee om die stad se riviere en opvangsgebiede te bestuur. Hy poog inderdaad om soveel gemeenskappe en rolspelers as moontlik te betrek.
Tooley sê vir ’n ingenieur is dit dikwels makliker om suiwer wetenskaplik na ’n saak te kyk en van die natuur en die mense te vergeet. Dit is egter ’n fout. Hy en sy span het bewys hoe belangrik integrasie is.
Hy vertel toe van ’n gemeenskap wat gekla het oor ’n onooglike afvoersloot wat deur hulle woongebied loop. Hulle wou hê dat die stad die water in ’n pyp moet plaas en die pyp moet toegooi.
’n Pyp sou ’n tydelike oplossing bied, maar is riskant. Pype blokkeer as hulle vol rommel gestop word. Dan kry ’n mens vloede.
Ondervinding het geleer hoe meer ’n mens met natuurlike waterweë sukkel, hoe moeiliker raak dit om daardie waterweë te bestuur ten tye van ’n ramp. Daar is ’n Zoeloe-spreekwoord wat die probleem mooi raakvat. Dit sê as jy water skuif, gaan dit terug na waar dit was. Hulle sien dit in Durban: As jy ’n rivier se vloei verander, sal dit oor ’n tydperk heen weer terugkeer na die oorspronklike loop. En dan word infrastruktuur beskadig.
So, terug na die gemeenskap wat ’n pyp wou hê. Ná vele gesprekke het dit duidelik geword dat hulle eintlik ’n mooi omgewing soek om in te ontspan.
Die uiteinde was dat die stad en die ingenieurs met die gemeenskap saamgewerk het om die rivierloop te rehabiliteer en die omgewing te omskep in ’n gemeenskapsvriendelike park. Nie net die natuur is in ag geneem nie, maar ook die gemeenskap.
Die ingenieurs het nie al die antwoorde gehad nie, die gemeenskap ook nie. Maar toe die verskillende rolspelers in gesprek tree, het sake rigting gekry.
Africa Melane vra hom toe: Nou goed. As julle so goed doen, hoekom die oorstromings in Durban?
Tooley se antwoord was dat daar 350 mm reën in ’n baie kort tyd geval het – en dit op grond wat reeds deurdrenk was. Die reënval was dus ongekend en ongehoord. Dit het gewoon die stelsel oorweldig.
Maar belangriker nog: Dit is ook so dat nie al die waterweë reeds gerehabiliteer is nie. Die uitheemse plante in riviere veroorsaak dat die water opdam, want allerlei gemors en grond haak daaraan vas. Meer nog, sulke plante groei vinnig en het ’n vlak wortelstelsel. Tydens ’n vloed spoel meer sand, opdrifsels en gemors daarin vas en die water dam op. Skielik gee die vlak wortels mee en daardie hele wal water word ineens losgelaat. Dis wanneer daar dikwels gevaar ontstaan.
Dieselfde gebeur wanneer duikweë geblokkeer word – dan sal die water ’n ander roete vind, en dan is dit dikwels deur mense se huise.
Die belangrikste ding is dus om water te respekteer. Sulke praatjies is nie bloot mooi broodjies nie. Hy en sy span het bewys dat vir elke rand wat hulle op rehabilitasie spandeer, hulle tussen R1,20 en R1,80 aan skadebeheer spaar. Dit, sê Tooley, is egter baie konserwatief en met direkte bewyse.
Mense begin dit sien en hulle kry dus nou makliker samewerking, maar die munisipaliteit het nie volle beheer oor al die grond nie. Slegs 25% van die grond is onder munisipale beheer, nog 25% is in privaat besit en 50% is stamgrond. Al hierdie mense moet dus inkoop.
Stuart Dunsmoore
Stuart Dunsmoore is ook ’n ingenieur en is betrokke by die rehabilitering van die Jukskeirivier se bolope. Die Jukskeirivier ontspring in Johannesburg en kronkel deur verskeie formele en informele nedersettings voor dit in die Krokodilrivier uitvloei. Dié rivier vorm uiteindelik die suidelike grens van die Nasionale Krugerwildtuin.
Talle mense kla oor die besoedeling in die rivier – enige iets van rou riool tot chemiese stowwe wat deur fabrieke gestort word, kom gereeld in die Jukskeirivier voor.
Dunsmoore sê hy is trots daarop dat die gemeenskappe self begin betrokke raak by die rehabilitasie van die rivier. Hy en sy span het saamgewerk om aan mense te verduidelik dat oorstromings en ander probleme verminder of voorkom kan word as die rivier beter behandel word.
Hy sê dit is noodsaaklik dat kenners vroeg in enige projek betrokke moet raak. Ingenieurs word dikwels ingeroep wanneer daar reeds ’n probleem is, maar dit sou beter wees om van die begin af betrokke te wees. So ook met ander kenners. Daarom is dit belangrik dat al die verskillende rolspelers reeds by die beplanning van enige projek ingesluit moet word. Ingenieurs is goed met wat hulle doen. So ook ander kenners, soos landskapargitekte, op húlle gebiede. En uiteindelik wil die gemeenskap hê dat in hulle behoeftes voorsien sal word, want dit is hulle wat die hulp nodig het.
Dunsmoore sê as die gemeenskappe langs die bolope van die Jukskei kan insien dat riviere beskerm moet word, sou ’n mens vir ander gebiede “hoë ambisies kan koester” .
Volgens hom doen privaatontwikkelaars en belastingbetalers rééds baie. Hulle pomp geld in ontwikkeling in en betaal belasting, dus is dit soms moeilik om hulle aan boord te kry by bepaalde projekte, maar dit is moontlik wanneer die voordele uitgespel word.
Die staat doen nog nie veel om om mense aan te moedig om ekovriendelik te werk nie. Sou daar groter bystand en aansporings wees, sou diegene wat genoeg geld het, makliker bydra tot die omgewing – wat weer die gemeenskappe sal baat wat minder geldelike hulpbronne het.
Hy sien reeds hoe baie ontwikkelaars te werk gaan om onafhanklik van munisipale water en krag te wees. As dit reg bestuur word, sal daar dan meer hulpbronne vir die owerhede wees om aan minderbevoorregte gemeenskappe te voorsien.
Tarna Klitzner
Tarna Klitzner is ’n landskapargitek en akademikus. Die lens waardeur sy kyk, is een wat ’n gesonde omgewing beoog. Hoe skep ’n mens dit?
’n Goeie landskapargitek kyk na water bo en onder die grond, die grond self, die geologie onder die grond en hoe mense met al hierdie vlakke in interaksie tree.
Daarom is verhoudings belangrik.
Dikwels is daar ’n privaatkliënt wat iets beoog, of ’n nieregeringsorganisasie wat goeie idees het, maar hulle is nie noodwendig kenners nie. Hoe meer mense kan saamgesels om ’n probleem aan te spreek, hoe beter. Sy stem dus saam dat dit goed is om baie vroeg reeds ’n multidissiplinêre span te betrek.
Die Mitchells Plain Hospitaal is ’n goeie voorbeeld. Hulle is gevra om te help ontwerp aan ’n stelsel wat reënwater van die parkeerplekke af in pype na die see sou laat wegvloei .
Hulle het egter navorsing gedoen en besef die omgewing – ’n sandvlakte en Kaapse fynbos bo ’n natuurlike en enorme grondwaterreservoir – vra iets anders.
Die sand en die plantegroei het ’n natuurlike manier om die water se vloei te vertraag en dan te laat wegsyfer in die grond – so word die ondergrondse watertafel gevoed.
Hulle het derhalwe voorgestel dat putte gebou word en dat die water na die natuurlike plantegroei herlei sou word.
Die werk moes nog steeds korrek gedoen word met behulp van ingenieurs en ander kenners, maar uiteindelik is ’n omgewingsvriendelike oplossing gevind wat veel beter is as die oorspronklike idee.
Die Mitchells Plain Hospitaal-projek kon van die begin af korrek beplan word, maar dikwels is daar historiese probleme wat aangespreek moet word.
Die Kaapse Vlakte, waarheen duisende mense verskuif is tydens apartheid, moes drooggelê word met kanale. Die kanale is nou steeds daar en skei die verskillende woonbuurte.
Die kanale het ook ’n groot ekologiese impak. Die Kuilsrivier was voor die massaverskuiwings ’n reeks kuile, nie ’n standhoudende rivier nie. Nou, vanweë die water uit die kanale, loop die rivier regdeur die jaar. Dit het die ekologie van die rivier onherroeplik verander, iets wat waarskynlik nie maklik weer terug sal verander kan word nie.
Maar wat maak ’n mens met die kanale – byvoorbeeld dié tussen Manenberg en Gugulethu? Hulle is onooglik en besoedel. En skei gemeenskappe van mekaar
Kan daardie kanale dalk ontwikkel word om mense te verbind eerder as te skei? Kan dit byvoorbeeld as hardlooproetes gebruik word?
Liz Day
Liz Day is ’n varswaterekoloog. Sy poog ook om met ’n groot aantal mense – ook wetgewers – saam te werk om verandering te weeg te bring.
Soos Klitzner beplan en ontwerp sy nie net ingrepe rondom oppervlakwater nie, maar poog ook om vleilande, strande en grondwater te verbeter.
Een van die groot probleme is dat water-“gedrag” seisoenaal is. Gemeenskappe weet dikwels nie van die water wat naby die oppervlak is nie. Dan kom die reënseisoen en daar is oorstromings. Hoekom? Juis omdat daar nie van kenners gebruik gemaak is om die omgewing deeglik te karteer voor ontwikkeling begin is nie.
Meer nog: Een bepaalde plek se waterprobleme kom dikwels van ander plekke af, of een gemeenskap se probleme kan ander gemeenskappe laer af in die rivier, of die grondwater, beïnvloed. Dink aan riool wat gestort word.
Dit is daarom belangrik dat enige gemeenskap moet verstaan dat hulle sal baat by ’n inisiatief om die omgewing se waterkwaliteit te verbeter, anders sal daar nie ’n rede wees om deel te neem aan enige projek nie.
Sy voel ons moet nou as gemeenskappe visionêr kan kyk en vra: Hoe kan ons seker maak dat ons oor 50 jaar nog hier kan woon?
En ook: Hoe kan ons seker maak dat ons gemeenskappe rondom waterbestuur kan saamsnoer en nie bloot verdere verdeling veroorsaak nie?
Sy sê dat daar byvoorbeeld dikwels konflik kom wanneer ekoloë ’n ruimte wil bewaar en mense eintlik daar wil uithou, terwyl die gemeenskap self dit eerder wil ontwikkel om byvoorbeeld met hulle honde te kan gaan stap.
Die uitdaging is dus om wel te kyk na voorbeelde wat gewerk het en ander dan só te ontwikkel en te rehabiliteer dat die gemeenskappe, maar ook die omgewing, daarby sal baat.
Die pad vorentoe
Die geskiedenis wys ons moet verwag om nog vloede te kan trotseer – of beter nog, om die ergste graad daarvan te kan voorkom. Ongewoon swaar reën, soos wat in Durban geval het, gaan weer voorkom.
Hoe kan ons ontwerptegnieke gebruik om seker te maak ons werk na ’n oplossing wat die minste moontlike skade sal veroorsaak?
’n Paar punte is genoem.
- Die onderskeie dissiplines en die gemeenskap moenie in insolasie werk nie.
- Die probleem is egter dat almal verskillende opleiding het. Hulle praat nie mekaar se taal nie. Die ideaal sou wees as studente van verskillende dissiplines reeds op universiteit bewus gemaak kan word van die uitdagings en die voordele om in ’n multidissiplinêre span saam te werk.
- Meer kan ook gedoen word om ambagte te skep wat die natuur, en veral water, sal kan bevoordeel.
- Waterweë moet onderhou word, net soos paaie en ander infrastruktuur onderhou moet word.
- Iemand moet verskillende rolspelers, privaat en openbaar, se reaksie op probleme koördineer. Meer uitheemse plante in rivierlope kan byvoorbeeld verwyder word indien die privaatsektor, nieregeringsorganisasies en die staat of munisipaliteit sou begin saamwerk.
- Privaat maatskappye en individuele grondeienaars is dikwels bereid om saam te werk as almal sou saamwerk. Hulle wil egter sien dat hulle iets terugkry uit hulle beleggings. Daardie iets hoef nie geld te wees nie, maar dit moet bewysbaar wees – soos ’n rivierstelsel wat duidelik beter funksioneer.
- Privaat maatskappye het dikwels fondse en nieregeringsorganisasie het weer toegang tot ander fondse. Kan hierdie fondse saam benut en korrek bestuur word tot almal se voordeel?
- Data moet ingesamel word en, baie belangrik, aan verskillende rolspelers beskikbaar gestel word.
- Uiteindelik moet mense daarby baat; gemeenskappe moet waarde sien in die rehabilitering en onderhouding van ons omgewing.
- Maak van die begin af seker die kenners en die eindverbruikers is betrokke en in gesprek met mekaar. Deel die kennis en maak seker die betrokke projek word goed en reg bestuur.
In het korte: Begin stadiger. Oordink die probleem. Deel inligting met ander en werk na ’n langtermynplan, nie bloot ’n vinnige oplossing nie.
- Alle grafika verskaf.