Terwyl Suid-Afrika se inperkingsregulasies stadig maar seker verslap word, met vlak drie wat begin Junie ingetree het, is die COVID-19-pandemie nog lankal nie onder beheer nie, met kenners wat maan dat die ergste nog op pad is vir Suid-Afrika.
Die land se grense bly meestal gesluit, wat beteken dat niemand sommer die land mag verlaat of mag binnekom nie. Talle Suid-Afrikaners in die buiteland sukkel steeds om terug te keer huis toe, en hoop dat die vlak 3-regulasies vergunning vir hulle sal maak.
Één so ’n Suid-Afrikaner is Misha van Schalkwyk, wat tans gestrand is in Viëtnam en nie kan terugkeer Suid-Afrika toe nie.
Misha vertel meer oor haar ervaring.
Misha, jy is van Suid-Afrika – hoekom bevind jy jou tans in Viëtnam en waar in Viëtnam is jy? Hoe lank is jy al daar?
Tydens my laaste jaar op universiteit het ek begin droom daaroor om na Viëtnam te toer ná my studies. In die proses het ek besluit om my meestersgraad te doen, so my trippie was met drie jaar uitgestel. Gedurende die meerderheid van my studies het ek ook deeltyds of voltyds gewerk. Ek het op 21 Februarie 2020 in Viëtnam arriveer vir ’n breuk na my studies en werk van sewe jaar, so tans is ek al meer as drie maande in die land. Ek is in Da Nang, Viëtnam se derde grootste stad.
Hoe is die situasie rakende die virus tans in Viëtnam?
Viëtnam is reeds telkemale geloof vir die manier waarop die land die tempo van infeksie van die virus kon beheer, ook met geen sterftes tot op hede. Aangesien die aantal COVID-19-gevalle tydens die inperking gedaal het, is sekere reëls in dele van die land stelselmatig gelig. Tans is die getal aktiewe gevalle baie laag, met oor die 300 mense wat reeds genees het. Sekere voorsorgmaatreëls geld steeds en ’n groot aantal toeriste-aantreklikhede is ontoeganklik.
Jy wil graag terugkom Suid-Afrika toe – hoekom?
Ek wil graag terugkeer na Suid-Afrika aangesien ek slegs as toeris in Viëtnam is, maar onder die omstandighede is my “travel bug” redelik geblus. Ek is ook alleen hier, en wil veral in hierdie tyd van onsekerheid by my geliefdes wees. Ek moes onlangs my visum verleng om in Viëtnam te kan aanbly, en sal binnekort weer moet betaal vir ’n verdere verlenging as ek teen Julie steeds nie kan terugkeer na Suid-Afrika nie.
Julle is ’n groep Suid-Afrikaners wat wil terugkom Suid-Afrika toe, reg? Hoeveel mense is julle ongeveer?
Ons was oorspronklik ongeveer 120 Suid-Afrikaners wat wou terugkeer. Vandat die situasie weer begin normaliseer het in Viëtnam en sommiges wat hier gewerk het weer kan voortgaan, het die getal basies halveer.
Hoekom kan julle nie tans terugkom Suid-Afrika toe nie?
Aangesien Suid-Afrika se grense tans gesluit is, word internasionale vlugte nie toegelaat nie. Viëtnam se internasionale lugdiens is ook steeds gesluit, so ons kan nie die land verlaat tensy dit deur ’n repatriasievlug is nie.
Hoe is julle besig om te werk te gaan om terug te kom? Julle het onder andere ’n petisie begin. Wat is julle plan van aksie?
Daar was al twee petisies om die aandag van die Suid-Afrikaanse regering en die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) meer te vestig op die repatriasie van hul burgers in Viëtnam. Ongelukkig is die situasie nie iets waaroor ons veel beheer het nie; ons is heeltemal afhanklik van die regering vir ’n bekostigbare terugkeerkans na Suid-Afrika. Ons groep is konstant in kontak met die Suid-Afrikaanse ambassade in Viëtnam vir enige terugvoering van ’n moontlike repatriasievlug. Deur verskillende groepe op Facebook en WhatsApp deel ons inligting en bied advies waar moontlik. Die Home away from home-groep is ook tans besig om met die repatriasieproses van Suid-Afrikaanse burgers wêreldwyd te help, so ons is ook in kontak met hierdie groepslede.
Hoe beïnvloed hierdie krisis jou emosioneel; hoe bly jy positief?
Die situasie waarin ek my bevind is frustrerend, aangesien ek niks kan doen wat dit sal verander nie. Om konstant op hoogte te bly van enige vordering en kort-kort teleurgesteld te wees na belowende nuus is baie uitputtend. Deur hierdie roller coaster van gebeurtenisse en emosies leer ek wel baie van myself. Ek bly positief deur die geleenthede in my omstandighede raak te sien, probeer fokus op dit waaroor ek wel beheer het, en tel elke dag my vele seëninge. Ek is ook baie gelukkig om op die oomblik spesifiek in Viëtnam te wees, waar die mense se omgee en vriendelikheid soos dié van familie voel en ek juis nou kan leer uit die positiewe gesindheid waarmee hulle uitdagings trotseer.
Wat is jou grootste vrese en bekommernisse oor hierdie globale krisis?
Ek is die meeste bekommerd oor waarnatoe hierdie krisis mense mag dryf uit paniek en desperaatheid. Ek is ook bekommerd oor die rimpeleffek van die virus op die ekonomie, en die gevolge daarvan spesifiek op Suid-Afrika. Ek bly wel glo dat ’n baie groter mag in beheer is van alles op die aarde, so probeer my bekommernisse plaas op Hom.
- Foto's: verskaf
Lees ook
"Ek het positief getoets vir COVID-19": ’n Suid-Afrikaner in Washington, DC
Buro: MvH