#AmINext
In solidariteit en meelewing met hul tuisland het ongeveer tweehonderd Suid-Afrikaners op Sondag 8 September op Damplein in Amsterdam gedemonstreer teen geslagsgebaseerde geweld en xenofobie. Elani Willemse doen verslag.
Op 2 September 2019 is die naam van Uyinene Mrwetyana in die kollektiewe geheue van Suid-Afrika geëts.
Haar wreedaardige verkragting en koelbloedige moord het die afgelope week die kommerwekkende statistieke van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika onder ’n vergootglas gelê, en oor die hele land heen tot grootskaalse verontwaardiging en protes gelei. Minder as ’n maand nadat Suid-Afrika Vrouedag gevier het, laat Mrwetyana se dood, asook die bekendmaking van talle ander vroue en kinders wat gedurende Vrouemaand onder soortgelyke omstandighede deurgeloop het, die internasionale gemeenskap gons.
Genoeg is genoeg
Die demonstrante op Damplein was in swart geklee. Hoewel die protes vreedsaam en in goeie gees plaasgevind het, was die boodskap universeel: vroue oor alle kleur-, taal- en kulturele grense heen is keelvol. Keelvol vir geweld, verkragting en diskriminasie op grond van geslag; keelvol om in vrees te leef; en keelvol om in die steek gelaat te word deur die instansies wat daargestel is om hulle te beskerm. Dat kwessies rondom diskriminasie en geweld op grond van geslag, seksualiteit, ras, taal of kultuur in die een-en-twintigste eeu steeds debatteer word, is volgens die skare onaanvaarbaar.
Volgens organiseerder Keö Borejszo is Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon nie vrygespreek van hul verantwoordelikheid om op te staan teen die ongeregtighede wat steeds in Suid-Afrika plaasvind nie. Sy meen dat die verantwoordelikheid om bewusmaking te bevorder juis op diegene berus wat uit Suid-Afrika kon verhuis en beter lewens in die buiteland kon bou. “Ons moet altyd bewus bly van ons bevoorregte posisie om uit daardie omstandighede te kon ontsnap,” meen sy.
Dryfkrag vir verandering
Verskeie sprekers neem die megafoon oor, en deel hul persoonlike ervaringe van molestering, verkragting en geweld. Daarna volg ’n oomblik van stilte vir Uyinene, en vir bokskampioen Leighandre Jegels, wat ten spyte van menigte pleidooie aan die polisie oor haar vrees vir haar kêrel, deur hom doodgeskiet is. Ook vir Jesse Hess, wat vol hoop nadat sy ’n radiokompetisie gewen het, saam met haar oupa vermoor is. Ook vir Janika Mallo, Lynette Volschenk, Meghan Cremer en die talle slagoffers wie se name nié die nuushooftrekke in die media gehaal het nie.
In daardie oomblik van stilte, vanuit die verte, asof die noodlot dit so bestem het, klink ’n straatmusikant se doedelsak met die melodie van “Amazing grace, how sweet the sound”.
Die stilte word verbreek deur ’n geesdriftige “Amandla” [“Power!” ‒ MvH, Voertaal] en word beantwoord met ’n kragtige “Awethu!” [“Ours!” ‒ MvH, Voertaal]* vanuit die skare. Die demonstrante sing krete van bemagtiging en ’n roepe na aksie. ’n Roepe na eenheid en samewerking vir ’n beter toekoms. ’n Roepe dat Uyinene se dood nie tevergeefs was nie, maar eerder die dryfkrag vir die verandering wat so broodnodig in vandag se samelewing is.
Oor die grense heen, verby die heuwels van die land, klink die roepstem van die vroue luid en kragtig: ons mag dalk ver wees, maar ewig bly ons Afrika.
...........
* Die anti-apartheid slagspreuk, “Amandla! Awethu!”, beteken “Power to the People!” [MvH ‒ Voertaal]
Lees ook
Buro: IG